Op Saterdag 10 September 1966 – laas Donderdag 60 jaar gelede – is die vermoorde premier, dr.HF Verwoerd, in die Helde-akker in Pretoria ter ruste gelê  … en het ‘n logistieke nagmerrie hom in die koerantwêreld afgespeel wat in hedendaagse tye met onmiddellike vinger-op-die-sleutel-kommunikasie vir baie seker onbegryplik sal klink.

‘n Omvangryke operasie soos vantevore nooit was nie en, weens tegnologiese vooruitgang, vorentoe nooit weer sal wees nie,  is geverg om die die Sondagkoerant Die Beeld – voorganger van Rapport –  die Sondag betyds op straat te kry met bladsye vol foto’s van die somber geleentheid in Pretoria.

‘n Komplikasie was dat Die Beeld in die 60’s in drie sentra gedruk is:  Johannesburg, Kaapstad en Bloemfontein.   By die twee “buiteposte” was groterige spanne huursoldate van Die Burger en Die Volksblad Saterdae slaggereed om op voorskrifte uit Johannesburg omvangryke redaksionele en tegniese afronding te doen.

Die kopie vir die laaste paar nuus- en sportbladsye is per teleks uit Johannesburg versend of, soos in die geval van vars plaaslike sport, deur die betrokke twee dagblaaie se sportredaksies op hul ou Olivetti- of Remingtontikmasjiene geproduseer. Spanne subredakteurs  moes dit versorg, van opskrifte voorsien en met ‘n drukbuis in ‘n pyp  settery toe stuur. In die settery is die berigte in warm lood geset en in bladsyvorms gepak.

Foto’s was egter ‘n kwessie.  Van selfone was nog geen sprake nie – wat nog van die internet wat op die minimum sein kan werk, hipermoderne tablette, Whatsapp en dies meer.  Die heersende “snel”-aflewering was per landlyn – ‘n tydsame en wisselvallige proses. Die foto is pynlik stadig  kolletjie vir kolletjie op ‘n poskantoorlyn versend en op ‘n drom anderkant ontvang terwyl die nuusredakteur staan en trippel. Dikwels was die kwaliteit ver van wense.

Vir goeie dekking van die begrafnis van ‘n vermoorde premier sou so ‘n trapsuutjie-proses allermins deug. Om genoeg foto’s met impak so kolletjie vir kolletjie in Kaapstad en Bloemfontein te kry, was eenvoudig ondenkbaar.

‘n Klompie afdrukke in ‘n koevert was waarskynlik die doeltreffendste metode. Dit is daardie jare dikwels op die nippertjie as ekstra handbagasie in ‘n “informele koerier” – ‘n gewillige vliegtuigpassasier – se hand gedruk. Om die laaste vlug te haal, was al ‘n  uitdaging. Waar geen vlug was nie, was die uitdaging nog groter.

Maar eers moes die rolletjies film (sic) van die Helde-akker in Pretoria natuurlik by Die Beeld in Johannesburg kom vir ontwikkeling. Vir die operasie is ‘n meesterplan gesmee met onder meer drie motorfietse, ‘n helikopter en ‘n vliegtuig betrokke. ‘n Span van vyf verslaggewers en agt fotograwe moes, oog op die horlosie, haarfyn by ‘n uitdagende program hou.

Daardie begaafde nuusvrou die onstuitbare Rykie van Reenen was ‘n vername rat in die masjien. Selfs sy het in haar begrafnisrok by die Uniegebou agter op fotograaf Postma van Jaarsveld se motorfiets gespring vir ‘n hellevaart na die helde-akker, met haar begrafnishoedjie op die kop vasgedruk. Een sleutelfaktor in elke aspek van die operasie was immers tyd. Een glips met die sinchronisasie, een verlore konneksie, en die appelkar val om.

Fase twee breek ná die teraardebestelling aan. Al die films – Uniegebou s’n en Helde-akker s’n – moet deur die span fotograwe aan ‘n redaksielid by die hoofhek van die begraafplaas besorg word. Hy wag buite. Op sy beurt moet hy dit so vinnig as moontlik besorg by ‘n helikopter wat by die Fonteinesirkel (onbewus van ‘n nuwe naam) staan en opwarm. Maar skielik ‘n haakplek.  Toe die ontvanger die hoofhek bereik, gryp die polisie hom.  Hierdie bedryf is nie uitgeklaar nie.

Deur soebat en met die hulp van ‘n simpatieker offisier in uniform en ‘n polisiemotor voltooi hy, sopnat gesweet, sy sending. Nou vir ‘n blitslopie per Hell’s Angel-motorfiets Fonteine toe. Dis woerts-warts by rooi ligte verby. Die helikopter se skroef draai al toe hulle by die sirkel aankom.

In Johannesburg is die landingsplek ‘n parkeergarage. Nog ‘n redaksielid moet die kosbare pakkie daar optel. ‘n Nagwag met ‘n kierie weet egter van niks. Hy skop vas.  Gelukkig is dit een van daardie geboue met halwe bakstene wat by die hoek uitsteek. Die joernalis laat nie op hom wag nie; soos ‘n akrobaat is hy teen die muur op.

Die films bereik die tuisbasis en gaan direk donkerkamer toe. Onder die wakende oog van die veldheer Tobie Boshoff, nuusredakteur, word dit ontwikkel, foto’s afgedruk en genommer, en pakkies vir Kaapstad en Bloemfontein opgemaak.

Vir eersgenoemde had die SAL ‘n gerieflik geskeduleerde vlug. Vir laasgenoemde moes Tobie (Bossie) ‘n onkonvensionele plan maak. Hy kommandeer toe sy jongste broer, Pieter Boshoff, op – of eintlik Boshoff junior se rooi Mustang, pas uit Amerika ingevoer. Pieter en sy kar is oorgehaal vir die jaagtog  Vrystaat toe. Twee sakke sand in die kattebak moet die “swaai” neutraliseer.

Terwyl die pakkies met foto’s afgerond word, doen hy laaste ‘n “toetsdraai” om die blok. Opgeruimd gee hy die duime-op-teken. “Roger”.

Volgens berekenings sou hy 140 kilometer per uur moet handhaaf. Hy het. Dalk ‘n fraksie meer. Eers op die laaste skof, naby Brandfort (wat nou Winnie Mandela se naam dra), gewaar twee verkeersmanne in hul patrolliemotor onder ‘n boom die rooi gevaarte.  Te laat vir trane.

Die uwe was die aand in Bloemfontein in die hoofsubstoel. Ons sit in spanning op die fotopakkie en wag. Toe Boshoff in Voortrekkerstraat (nou Nelson Mandelarylaan) voor Die Volksblad stilhou, roep ‘n brandwag met die gang af:  “Hier’s die kar!”

Ek en my span huursoldate verrys ons soos een man uit ons stoele en drafstap met die trappe af om te gaan kyk en bewonder.  “Sjoe,” sê ons vir mekaar, “wat ‘n kar. Die Troskies kan gaan slaap.” (Ja, die broers Bill, later baas van die BMW-agentskap, en Boet, vervaardiger saam met Jamie Uys van treffers soos The gods must be crazy,  was toe al bekend om hul vuurwaens.) Toe’s dit terug lessenaars toe om ernstig te gaan koerant maak.

‘n Voertuig of twee van Bloemfontein se verkeerspolisie was gou op die toneel – met ‘n minder welwillende gesindheid.  “Hoekom dan so haastig?” wou die manne in uniform streng weet.   Op hul hakke daag die Brandfortmanne ook stomend op. Maar Boshoff is goed deur ouboet voorberei. Sy verduideliking word aanvaar. Almal staan gretig nader toe hy aanbied om die Mustang se enjin vir hulle te wys terwyl ons al by ons lessenaars vooroor gebuig sit en foto’s uitmerk vir die spesiale begrafnisbladsye. .

Een laaste amperse hik is daar wel. In die Kaap is digte mis, soos so dikwels.  Die Boeing begin omdraai. Verpletterende tyding. Net toe lig die wolke. “Kom land maar,” kom dit oor die radio in die beheertoring. Net betyds vir die eerste uitgawe.

(Schalk Pienaar, redakteur van Die Beeld, se boek Getuie van groot tye, Tafelberg, 1979, op sy sterfbed afgerond, was waardevol om die geheue oor die episode op te skerp.)

 

 

Deel dit: