Oor ‘n bord stomende New England clam chowder – koningskos – in Januarie 1976 in ‘n knus restaurantjie langs Harvard Square in Cambridge, Massachusetts, het ek die naam Nat Nakase die eerste keer gehoor.
My onkunde het ek probeer verbloem deur my soplepel neer te sit en stadig, baie stadig, aan my glas sterk Bloody Mary te teug. Ek kon Jim Thomson, kurator van Harvard se Nieman Foundation for Journalists, egter nie om die bos lei oor my verleentheid nie.
“You are not the first one”, het hy my darem effens gerusgestel.
Die waarheid was ongelukkig dat meer as een Afrikaanse Nieman Fellow voor en ná my soos ek in Cambridge opgedaag het sonder enige kennis van ‘n pynlike stukkie joernalistieke geskiedenis wat hul land van herkoms in so ’n ongunstige lig gestel het.
Ek kon net in stomme stilte luister terwyl Thomson die vlugtige buitelyne skets van die ontredderde swart voorganger van 1964 se stryd met die Suid-Afrikaanse regering oor ‘n paspoort, kort, stormagtige termyn as Nieman Fellow en uiteindelike selfdood deur uit ‘n New Yorkse wolkekrabber te spring.
Die middagete saam met Thomson was iewers in Januarie 1977. Sneeuvlokkies het neergesif toe ek uit die restaurant stap met my gedagtes in warboel en ‘n ongemaklikheid in die gemoed oor die pynlike storie wat hom 12 jaar tevore afgespeel het rondom die Nieman-genootskap waaruit ek soveel behae geskep het.
Dieselfde middag nog was ek in die leeskamer van die beroemde Widener-biblioteek waar ‘n mens enigiets van ‘n Guthenberg-Bybel tot my kollega Blaar Grobbelaar se boek oor Bram Fischer (in Afrikaans) kan vind. Oor Nat Nakasa het ek voldoende te lese gekry om my ongemak verder te stimuleer.
Sy storie was een van ineengestrengelde vurigheid, bitterheid, ambisie en ‘n talent met woorde wat vir hom ‘n pos by die prestigetydskrif Drum losgeslaan het. Sy ambisie van die oomblik was om, soos sy swart kollega Lewis Nkosi in 1962, ‘n sabbatsjaar by Harvard te gaan deurbring. Hy doen toe vir ‘n Nieman Fellowship aansoek, maar word teleurgestel: ’n wit kandidaat, Donald Prosser van Port Elizabeth, kry voorkeur.
Later word Prosser verhinder om te gaan. Nakasa kry sy kans. Toe kom die skok: hy word in blinde onbesonnenheid ‘n paspoort geweier. Ná ‘n hele opskudding verlaat hy woedend en ontnugter die land met ‘n eenrigting-uitgangspermit en Tanzaniese reisdokumente; hy sou dus nooit kon terugkeer nie.
Hy kom twee maande laat in Cambridge aan en raak toenemend gefrustreerd oor wit akademici se gebrekkige insigte rakende die Neger-kwessie en onbegrip vir die anderste belewenis van Suid-Afrikaanse swartmense. Hy verwerf ‘n reputasie van opstandigheid. By die gereelde Niemanseminare waar oor bier en kaas oor die politiek geginnegaap word, skree hy gereeld op gerespekteerde gaste en peper hulle met aantygings. ‘n Keer beland hy en ‘n sosiologie-professor in ‘n vurige bekgeveg wat ‘n volle twee uur duur.
Aan die einde van die Niemanjaar in 1965 verskuif hy na New York waar hy vir koerante soos die New York Times artikels skryf. Van sy ongedurigheid en nou ook diep verlange na sy geboorteland kan hy egter nie ontslae raak nie. Op 14 Julie 1965 spring hy in ‘n donker oomblik uit ‘n vriend se hemelhoë woonstel en val hom te pletter. Hy was net 28 jaar oud.
Nakase is sonder ophef in die Ferncliff Cemetery in Hartsdale, New York, begrawe in ‘n graf met net ‘n koper-merker. Miriam Makeba is darem teenwoordig om hom met ‘n afskeidslied te groet. Eers 30 jaar later, nadat onder andere jonger kollega Dana Snyman namens Huisgenoot die verlate graf gaan soek en opgespoor het, het die Nieman Foundation in 1995 ‘n grafsteen laat oprig wat eenvoudig lui: Nathaniel Nakasa May 12, 1937 – July 14, 1965. Journalist, Nieman Fellow, South African — 1038 (die nommer van die grafsteen.)
In 1997 word hierdie versoolde redakteur (dis nou die uwe) in sy nuwe bestuursrol voorsitter van die ou NPU (Nuusblad-Persunie) wat later omvorm is in Drukmedia SA. Met Dana Snyman se artikel en die oprigting van die grafsteen in New York nog vars in die geheue, begin die gedagte by my herleef om op ‘n manier erkenning te gee aan daardie skimagtige figuur uit die verlede teenoor wie ek sedert my Niemanjaar ‘n vreemde soort ereskuld voel.
In my voorsittersrede aan die einde van die jaar sit ek toe die voorstel op die tafel dat ons ‘n Nat Nakasa-toekenning in die lewe roep om onder meer onverskrokkenheid, integriteit, vreesloosheid, verbondenheid aan die waarheid en ander kernwaardes van die joernalistiek te bekroon, met die suggestie daarby dat die NPU en die SA Niemans daarin hande vat. My voorstel is met akklamasie eenparig aanvaar.
In 1998 is die eerste Nat Nakasa-prys op daardie grondslag aan Jon Qwelane toegeken. Die Redakteursforum en Sanlam vat nou hande in hierdie – mag ek maar hardop sê? – prysenswaardige onderneming.
Dat juis ‘n Afrikaanse joernalis uit wat daardie tyd ‘n stal van Nasionaalgesindekoerante was, agter die prys sit, sou dalk vir Nakase self en vir van die wenners deur die jare weens politieke afkeer laat ril het. Maar is dit nie tog ‘n pikante weerspieëling van die uniekheid van ons land en sy mense nie?
Naskrif: Die oorskot van Nakasa rus nou in sy tuisbodem. Sy kis is op 19 Augustus 2014 na Suid-Afrika teruggebring nadat dit uit die VSA gerepatrieer is. Hy is daarna op 13 September 2014 – 12 jaar en ‘n paar dae gelede – amptelik herbegrawe in die Heroes’ Acre in Chesterville, Durban, naby die plek waar hy grootgeword het. Sanef het , tot sy eer, daarin ‘n groot rol gespeel.