Abraham Gonidwe (35) , Malawiese tuinman, wat 10 jaar gelede by ons weg is met drome om sy eie ding te doen, het gister uit die bloute in sy silwer BMW 325i hier opgedaag. Sy drome is aan’t verwesenlik. Hy besit nou ‘n bou-onderneming.In sy arms was ‘n dogtertjie van 18 maande “Klein Tokkie” noem hy haar. Hy loop opgewonde van vertrek tot vertrek van “sy huis” en neem videos, verheug om al die ou bakens te herken, van die studeerkamerstoel waarvan die wiele gereeld sy aandag vereis het tot die foto’s teen die muur.
Hy praat met heimwee oor die tentfees van 2016: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag ssamgebondel in een fees op ons groot grasperk. Waaneer laas was ons op ‘n bootvaart, vra hy. En gaan ons nog elke winter Sabiepark toe?
Hy noem krom die name van my boeke se titels op, soos hy dit onthou: Praat-praat in Tamatiestraat, Flaters en Kraters … Hy wil weet hoe dit met die kleinkinders gaan, Jacob, Thomas en Christopher.
Laggend deel hy mee van ‘n skof in Bloemfontein: die ongeloof van mense as hy sê hy ken Hennie van Deventer, “he is my boss”.
Ons vra uit oor sy destydse meisie , Thoke. Sy is nog sy lewensmaat, die moeder van “Klein Tokkie”. Ons onthou hoe hy altyd vir Thoke foto’s gestuur het van sy kos en hy lag dawerend sy Abraham-lag.Nou moet hy gaan kyk hoe groot die aalwyne geword het wat hy destyds op die agter-sitplek van ‘n gedaan Unotjie hier aangery het. Hulle toring bo hom uit.
Hy is klaarblyklik trots op wat hy bereik het, maar gul gee hy ons die eer. Alles is te danke aan wat hy by ons geleer het, sê hy. Hy gee ons sy telefoonnommer. Bel hom enige tyd van die nag of dag, nooi hy. Vir enigiets: hulp met instandhouding, nood, enigiets.
Tokkie gaan haal ‘n hangertjie en ‘n sjokolade vir “Klein Tokkie”. Die hangertjie is voorlopig vir Thoke. Dan moet dit ook na “klein Tokkie”´.
Wat ‘n verrassing om die joviale Abraham na al die jare weer te sien. En hoe verfrissend was die weersiens nie vir ons almal nie.