Met die mis wat vinnig al hoe digter toesak, het die liewe Tokkie van Deventer gister die tweede keer in agt maande op haar gewone strandwandeling gruwelik verdwaal.
Sy het uiteindelik 10 km heen en weer gestap soos sy vergeefs ‘n baken probeer vind wat haar terug huis toe sal lei.
Ek het seker tien keer gebel: “Waar is jy”. Dan pleit ek: “Stap riviertjie toe” (Kleine Zout), ek kom haal jou daar.” Maar toe is is sy al weer in die teenoorgestelde rigting op haar spore terug Koeberg se kant toe. En duidelik al hoe onsekerder hoe sy haar weg gaan vind.
So paniekerig het die uwe begin raak, dat hy kierie en al die eerste keer in jare self die duine oor is om te gaan soek. Dan sien hy ‘n deinserige gedaante in die verte. By nadere ondersoek is dit iemand anders, nie Tokkie nie.
Uiteindelik bereik sy of vier strate noord van Penguin (dis Pelican, vir diegene wat Melkbos ken) teer onder haar voete. Sy stap deur die motorhuis die huis in net toe ek hygend, met kloppende hart en die droogste verhemelte wat ek in my ganse lewe kan onthou, van die see se kant die huis instrompel.
Wat bygedra het tot die spannende insident was dat haar selfoon se battery in die proses die gees gegee het. Pogings van ‘n kleinseun wat haar bewegings op sy skerm gemonitor het (slim kinders deesdae!), om haar te help koers hou, het dus nie vrugte afgewerp het nie.
Dit is die tweede keer in enkele maande dat Tokkie hier op Melkbos ‘n potjie met die mis loop. Op oujaarsdag 2025 – ons 59ste troudag – was sy ook in ‘n stadium dwalende in die mis met geen benul waar die huis is nie. Gister se verdwaalslag was erger – loshande die ergste in die 30 jaar dat ons hier woon .
Ek sit hierdie nie op om ‘n glimlag uit te lok nie, want dit was werklik geen grap nie. Dis aan die een kant ‘n waarskuwing hoe maklik en hoe vinnig so iets kan gebeur. Dis ook ‘n aanmaning om slaggereed te wees. Agterna het ons besef watter stappe beter sou gewees het as om self oor die duine te piekel met die uitgestrekte strand voor my in digte mis gehul. Rondom ons is immers jonger bure – om mee te begin.
Ek wil darem ook byvoeg hoe dankbaar ek was toe ek beweging by die motorhuis hoor – des te meer toe ek my vrou sien. Ek wou my eers kwaad hou, maar al my kwaadgeid het vinnig vermurwe.
En reken, nou dat ek een keer reggekry het om weer die duine oor te steek, wil ek dit regtig weer probeer – net wanneer daar geen mis in sig is nie.