Jun 12, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Louis se 59ste. By hom is pa, Frik, en ma, Martie.
As daar ooit ‘n man uit een stuk was, was dit my goeie vriend Frik Nel (87) wat vanoggend in die hospitaal in Montana, Pretoria, oorlede is nadat n griepvirús sy hart aangetas het. Sy toegewyde vaderskap vir sy seun Louis (60) wat weens ‘n besering by sy geboorte spasties gelaat is, was veral vir al sy vriende – en daar is baie – altyd inspirerend.
Terwyl ek hier skryf, sien ek in my verbeelding vir die lenige Frik met Louis aan die arm oor die piekniekplek se gras aangestap kom. Pa en seun so saam was een van die bekende en geliefde gesigte van Sabiepark. Hoe dikwels het ek dit nie beleef nie, ook toe stygende jare dit vir Frik al ‘n toenemende uitdaging begin maak het om Louis orent te hou en self ook orent te bly. Dis sleg om te weet ek sal die twee nooit so weer sien nie.
Op 27 Junie 2023 was ek en Tokkie bevoorreg om by die gasvrye Frik en Martie se boshuis in Sabiepark by Jakkalsbessielaan die 59ste verjaardag van Louis, hul oudste, by te woon. By vrolike ballonne op die stoep het ons verjaardagkoek, koesisters en heerlike vleispasteitjies saam met die verjaardagman en sy ouers geniet terwyl bosgeluide om ons opklink.
Hoe gelukkig Sabiepark hom maak, is altyd op die blymoedige en altyd so dankbare Louis se gelaat te lees. Hierdie keer het hy des te meer van vreugde gestraal. Maar op sy 61ste sal sy pa – ‘n oud-brigadier in die veiligheidspolisie – nie daar wees om hom te ondersteun nie. Of Louis ooit weer daar sal kan kom, is ‘n vraag.
Ná die verjaardag het ek vir die twee toegewyde staatmakers Frik en Martie geskryf: “Ons kan maar net daarna streef om soos julle te wees – al skiet ons telkens te kort weens ongeduld, eie gerief, of wat ook al. Dankie, hoor.”
Dit is ‘n sentiment wat ‘n lang pad kom, want ons het die Nels ‘n kwarteeu gelede in Sabiepark leer ken saam met Louis en ook saam met Frederik, ‘n dapper kleinseun wat in sy jong lewe deur diep waters is, met meer as 15 operasies aan sy skedel op sy kerfstok.
‘n Toestand soortgelyk aan marmerbeensiekte, wat veroorsaak het dat sy skedelbeen te vinnig groei en dan drukking op sy brein veroorsaak het, het uiteindelik op sy 16de verjaardag onverwags skielik sy dood veroorsaak.
In Sabiepark was Frik en Martie se kleinkinders in hul kinderjare ou bekendes. Hulle het gereeld saamgekom. Die liefde wat hul oupa en ouma op hul oom Louis uitgestort het, het hulle ook op hulle uitgestort, op Frederik, Clarise, sy tweelingsuster, en Schalk, die kinders van hul jonger seun, Marius.
Die kinders was skoon begeesterd oor die plek. Vir Frederik was Sabiepark, in sy eie woorde, baie lief omdat dit hom die geleentheid gegee het om homself uit te leef in sy stokperdjie, skilder, sy gesin en die natuur “wat Jesus vir ons gegee het”. Ek glo hy is dood met wonderlike herinneringe aan Sabiepark – en nog wonderliker herinneringe aan sy oupa en ouma – in sy hart.
Watter goeie mense tref ‘n mens darem nie op hierdie ou aarde aan nie!
ONS GROET ‘n HEGTE SABIEPARKVRIEND

Dat ons nooit weer saam met Frik Nel in Sabiepark se piekniekplek ‘n laatmiddag-glasie sal klink nie, nooit weer saam om ‘n vuurtjie sal sit nie en nooit weer saam ‘n draai in die Krugerwildtuin sal ry nie, is ‘n sware gedagte. So kom en gaan die eras.
Frik en Martie en die Van Deventers was gelyktydige inkommers in Sabiepark sowat ‘n kwarteeu gelede. Dadelik is ‘n hegte vriendskapsband gesmee. Ons het mekaar se kinders en kleinkinders leer ken. Ons het ons besoeke so probeer skeduleer dat dit saamval. Ons het probleme gedeel en mekaar oor en weer raadgegee en bemoedig. Ons het saam kerk toe gegaan in Skukuza. Ons het gekuier. Vir ons was die Nels part en deel van die Sabieparkervaring en andersom.
Vanoggend vroeg is Frik in die hospitaal in Montana, Pretoria, oorlede. ‘n Griepvirus het eers sy niere aangetas en toe sy hart. Hy ws 87 en ‘n oud-brigadier in die veiligheidspolisie in ‘n onstuimige era.
Ons harte gaan uit na Martie, Marius en Louis, Clarise en Schalk.
FOTO: Die Van Deventers en Nels saam langs die Sabierivier in Sabiepark se piekniekplek.
Jun 11, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Mens word nooit te oud om te leer nie. Ek verwys nie net na nuwe tegnologie en so nie; ook oudag se dinge waarvan jy behoort te geweet het.
Wie ken die liedjie”Hitte titte pampoenpitte, het ‘n vrou met stywe litte; gee vir haar die pampoenpitte, stop haar in die leë dop.” Dit is die liedjie waarmee sy haar eerste klavierles begin het, vertel Christina Landman vandag in “Die Burger”.
Eerste keer dat ek daarvan hoor, moet ek bely. Maar sulke gebrek aan kennis hou ‘n mens nederig. Rede tot dankbaarheid.
Ek ken wel ‘n kinderliedjie waarin Doris Brasch sing van die “ou pampoen” wat op die ashoop lê saam met ‘n “stukkende skoen” en ‘n paar ander nikswerd-weggooigoed.
Toe ek jonk was, is dit plus-minus waar pampoen in my waardestelsel geklassifiseer was: as iets vir die ashoop. Die enigste pampoen wat in my kinderdae in my oë ‘n deugdelike funksie verrig het, was die ene wat tot Aspoestertjie se koets omgeskep was.
Trouens, my vooroordeel teen pampoen was so sterk dat ek in standerd 5 (graad 7) amper daaroor slae gekry het. Ons het van Durban Potchefstroom toe getrek en ek moes die middag met die trekkery by ‘n losieshuis eet. ‘n Bord boerekos is voorgesit met ‘n ruim skep pampoen. Dié het ek in my broeksakke geprop – het nooit besef dat ek later sou moes verduidelik watse yslike kolle op my broek uitslaan nie.
Eers toe ek na Tokkie begin vry het, en in Hertzogstraat 5, Bultfontein, haar ma, Marietjie, se voortreflike pampoen geproe het (ek het gedink ek eet heerlike patats!), het my gesindheid jeens dié nederige groente radikaal verander.
Ek eet deesdae graag pampoen, maar dat die pampoen ‘n sentrale plek in Breyten Breytenbach se poësie beklee, wis ek ook nie. Dit lees ek jare gelede ook in die “Die Burger” in die naweekbylae BY.
Sedert hy in sy bundel “Katastrofes” die eerste keer oor die fascistiese pampoen geskryf het, het dit so ‘n deurlopende Breytenmotief geword dat van sy vriende op sy verjaardag pampoendag vier, en dit ook gedoen het toe hy in die tronk was, is van die nuwe nuwe kennis oor Breyten wat ek in daardie artikel verkry het. (Ek het verder o.m. ook gelees deesdae reken Breyten “om ‘n pampoen vas te hou, is seker die naaste wat ‘n man kan kom aan die ervaring van swangerskap”. Ek is dadelik kombuis toe …)
Dié pampoenstories herinner my aan die enigste ander pampoengedig wat ek ken. Dit kom uit die pen van Hans du Plessis en is in 1976 geskryf toe ons saam aan die Harvard-universiteit in Amerika was. Die tema van Hans se gediggie was “Halloween” – die dag wanneer Amerikaners volgens tradisie, pampoenspoke maak deur pampoene uit te hol. Oë en haketande word dan in die skil uitgekerf. In flikkerende kerslig kan dit nogal spookagtig lyk.
Na aanleiding van die Halloween-tradisie het Hans ons dogter, Marisa, toe ‘n tengere drie, “pampokie” begin noem. Die naam het nogal ‘n ruk geklou – amper soos pampoen aan ‘n wolkombers!
Die Amerikaners maak darem nie net spoke van hul pampoene nie. Hulle maak ook ‘n smaaklike “pumpkin pie”. Dis liplek-lekker. Hulle hou verder allerlei pampoenfeeste, kies pampoenkoninginne en ding vuriglik mee oor wie die grootste pampoen kan kweek.
In my “Volksblad”-dae, onthou ek, was plattelandsde korrespondente nogal lief daarvoor om mense se groot pampoene af te neem en vir publikasie in te stuur. Surigheid was algemeen as so ‘n pampoenfoto nie die koerant haal nie.
Uit nog vroeër tye onthou ek die gewoonte om pampoene op ‘n plat sinkdak te pak – dalk om goed ryp te word, dalk om die dak te help anker. Ek weet nie.
Hier naby my op Melkbos het die gewoonte by ‘n mooi moderne huis in Charles Hoffestraat herleef. Twee pampoene het in ‘n stadium op die afdakkie by die voordeur gepryk.
In die middel-80’s was die Van Deventers in Natal om die uwe se wortels te herontdek as ‘t ware. Ons besoek toe ‘n winkeltjie in die distrik Babanango, naby die poskantoortjie Silutshana, wat in jare her aan my Oom Martiens Maritz behoort het.
Die nuwe eienares is ‘n gul Zoeloevrou. Toe ek die naam Martiens Maritz noem, is sy skoon uit haar vel. Sy dring daarop aan dat ek ‘n geskenk moet aanvaar. Sy sleep toe ‘n leer nader, klim op die dak en kom met ‘n yslike kampioen-pampoen grond toe, wat sy in my hande prop.
“Hemel, vroumens, hoekom so groot?” wou ek nog keer. Nee, ek moet dit vat, omdat Martiens Maritz so ‘n goeie man was.
Laat ‘n mens ‘n pampoen nie vlak skat nie
Jun 11, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

In Die Burger lees ek vanoggend van die Fanny Blankers-Koen-Spele in Nederland. Ek wonder hoeveel mense leef nog wat, soos ek, die beroemde Fanny, Olimpiese kampioen in die 100 tree, in Maart 1952 op die Van Riebeeckfees in Kaapstad in aksie gesien het.
By die fees was ek teenwoordig as 11-jarige seuntjie in standard vyf aan die Hoërskool Port Natal (korrek) in Durban. Ons skoolgroep het per trein gereis en het by die Kenilworth-perderesiesbaan tuisgegaan.
Ons het indrukwekkende optogte en tablo’s gesien, en ook hoe Suid-Afrika se blitsige Daphne Hasenjager (nooiensvan Robb) Blankers-Koen in die 100 tree kafdraf. ‘n Menige sportgeleenthede was deel van die fees, onder meer die SA atletiekkampioenskap, wat as die proefwedstryde vir die Olimpiese Spele gedien het.
Twee Nederlandse kampioene, Blankers-Koen (foto) – sy is gedoop Francina – en Willie Slykhuis, het deelgeneem. Van Slykhuis onthou ek niks.
Die fees het drie weke lank (van 14 Maart tot 5 April, 1952) geduur. Op ’n terrein van 24 morg op die toe pas drooggelegde Kaapstadse strandfrontgebied, nou toe onder hoë geboue, was dit vier keer groter as die van die voorafgaande “Festival of Britain” in England. ‘n Optog van 1 500 deelnemers, 70 sierwaens, nege orkeste, en 400 perde in Adderleystraat is deur 300 000 mense gadegeslaan. ‘n Tydelike stadion, die grootste in daardie stadium ter wereld, het sitplek vir 50 000 mense op die feesterrein gebied.
Destyds was ek in standerd vyf (nou se graad sewe). Die “Hoërskool” was allesinsluitend – van standerd twee tot matriek. Vir die geleentheid het ek ‘n kleurbaadjie by Carl Fuchs, seun van Douglas Fuchs (die een met die stem) van die SAUK, geleen. Was maar kort in Port Natal voordat ons Potchefstroom toe is.
.
Van die die Kenilworth-renbaan is ons elke dag per voorstedelike trein (deesdae se Metrodiens) Kaapstad-stasie toe vir die feesverrigtinge op die voorstrandgebied (waar Naspers nou is). Al het ons so ver gekom, het ons een aand besluit om liewer in die stal te bly waar ons geslaap het. ‘n Kussing-geveg was ‘n aantrekliker opsie as die feesprogram. Seuns is maar seuns.
Jun 7, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
By ons bosplek in Sabiepark het ons baie bome. Een wat niemand kan miskyk nie, is die blinkblaar-wag-‘n-bietjie met sy glansende groen kleed. Maar pas op vir sy dorings! Hy heet nie verniet “buffalo thorn” in Engels nie; hy ken van gaffel. Dit is by daardie boom – en uit eie ervarings met sy geniepsig dorings – waar ek die titel gaan haal het vir ‘n nuwe boek waarvan ek Karen Cronjé se treffende omslagontwerp vandag met welbehae verklaar. Naledi, uitgewer van vier van my jongstes, is ook die uitgewer van “Wag-‘n-bietjie – Stories wat gryp”. In die boek is stories oor ‘n magdom onderwerpe soos dié wat ek graag ook hier op Nagkantoor aanroer – stories wat my “gegryp het”: oor koerante, politici, skrywers, die kerk, moorde en dies meer. Maar wag ‘n bietjie. Laat ek nie te veel uitlap nie. Ons praat van verskyning darem eers in Augustus / September.
(By Naledi se boekwinkel – https://naledi.co.za/boekwinkel/ – is nog drie van my vorige boeke by die uitgewer beskikbaar. Net “Koerantkamerade” is uitverkoop. Het jy al agtergekom hoe maklik dit is om hier ‘n boek aanlyn te koop?_
Jun 6, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Met die Bierklub van my Tukkiekoshuis, Kollege (deedae College), nou so in die kalklig weens ‘n prominente brief in Huisgenoot voel ek my genoop om ter wille van suiwer geskiedskrywing ‘n nadere kykie agter die skerms te verskaf.
In die brief – nogal die wenbrief met ’n prys van R300 – word op die kleurryke ampsmotor van die klub, ’n Morris Minor, gefokus. Die Morrissie het ook gedien as ons klub- kaptein in die laat 50’s, Ralph van Schoor, se studentekar. Ralph was benewens kaptein dalk die stigter van die klub, en het effens neergesien op die eufemistiese naam Bierklub. Hy het die naam Boozeklub verkies. Die leuse was: “Tee verdra geen onreg nie”.
Daardie jare was Tant Bella (die lang ontslape Hotel Belvedere in Kerkstraat) se “tee” ‘n gewilde verversing onder Kollegemanne. Vrydagaande het ons gewoonlik Tant Bella besoek. Ons kaptein (die blonde kêrel, regs voor op die spanfoto), het die septer geswaai. Omdat hy met twee beurse geseën was, kon hy bekostig om die drankies te koop op voorwaarde dat elkeen sy bek hou en drink wat hy kry. As ons kaptein sê rum is dit rum, al smag jou lyf in daardie stadium na tamatiesap! Desondanks het al die lede in mindere of meerdere mate stewige pilare van hul gemeenskappe geword, party stewiger as ander. Maar dit net terloops.
‘n Gesenkwaardige aand in die geskiedenis van die eerbiedwaardige (?) klub was in 1959 toe ook die eerste verjaardag van die Aula gevier is. ‘n Deftige okkasie. Die “Boozeklub” het daardie aand op die ou atletiekbaan (waar die Musaion nou staan) sy eie feestelikheid onderneem – minder deftig as die Aulastorie maar kwalik onoortrefbaar in vrolikheid.
Terwyl die tjello’s in die Aula tril, was ons klub naamlik versamel om ‘n taamlike kwota metiel-alkohol wat een van ons – ons kaptein – die middag uit ‘n Fisika (prakties)-klas verduister is. Of was dit dalk etielalkohol? Dit was in elk geval nie ‘n giftige of dodelike vloeistof nie.
Ons het die vreemde tee almal oorleef. Maar al het die konkoksie wat bestaan het uit die inhoud van die verduisterde flessies uit ‘n laboratorium en ‘n ruime byvoeging van Coke en ys ons nie doodgemaak nie, het dit wel ons gemoedere sterk beïnvloed. Ons het luidrugtig, uitdagend , waaghalsig, miskien roekeloos en – in een geval – selfs ietwat obseen geraak.
Destyds was aandpakke natuurlik “tradisionele drag”: Aandpakke met swart strikkies en stywe borshemde, party kunstig geborduur en so. Vroue het swiepende lang rokke gedra. Met pouse beweeg van die statige gaste, dusdanig geklee, toe na buite om Pretoria se verfrissende lentelug in te adem. Op daardie oomblik pak die drang een van die metiel-drinkers om van al sy klere ontslae te raak en Aula toe te storm met die kreet op sy lippe: “Wie ken my gat in ‘n vreemde stad?”
Of iemand later gesig en gat kon bymekaar bring, weet ek nie. Die deftige gaste was egter van verontwaardig tot getraumatiseerd en die owerheid allesbehalwe geamuseerd. Arme Kollege was weer in die hondehok as’t ware – geruime tyd nogal.
‘n Ander lid van die broederskap had ook sulke kaalnaelplanne, maar verdwaal en eindig toe met sy kaal bas in die stort op: ‘n goeie plek om heen te verdwaal met ‘n kaal bas. Net jammer hy het vergeet om eers ontslae te raak van sy nuwe “suede” skoene (is daardie “suede” en seemsleer dieselfde ding?) Hy kon nie weer sy “suedies” aantrek nie, buiten agter die beeste op hul plaas aan.
Lank voordat kapings en ontvoerings en die klas ding in Suid-Afrika alledaags geword het, het ‘n klompie lede van die klub een aand ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend, Jas Wasserman, uit die HF Verwoerd (nou Steve Biko) te gaan haal vir ‘n Fonteineparty.
Dit het vir nog ‘n gedenkwaardige aand gesorg.In ‘n stadium word hy die slagoffer van ‘n overwagte laagvat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery.
Die pasiënt is ‘n uur of wat later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp. Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat Jas in die middel van die nag uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!
Van die spannetjie op die foto oorleef na my wete nog net drie. Ons oorlewendes drink nou hoofsaaklik flouerige Skotse watertjies en ‘n wyntjie of twee. Skoon alkohol met coke? Is jy dan laf, vriend!