In Die Burger lees ek vanoggend van die Fanny Blankers-Koen-Spele in Nederland. Ek wonder hoeveel mense leef nog wat, soos ek, die beroemde Fanny, Olimpiese kampioen in die 100 tree, in Maart 1952 op die Van Riebeeckfees in Kaapstad in aksie gesien het.
By die fees was ek teenwoordig as 11-jarige seuntjie in standard vyf aan die Hoërskool Port Natal (korrek) in Durban. Ons skoolgroep het per trein gereis en het by die Kenilworth-perderesiesbaan tuisgegaan.
Ons het indrukwekkende optogte en tablo’s gesien, en ook hoe Suid-Afrika se blitsige Daphne Hasenjager (nooiensvan Robb) Blankers-Koen in die 100 tree kafdraf. ‘n Menige sportgeleenthede was deel van die fees, onder meer die SA atletiekkampioenskap, wat as die proefwedstryde vir die Olimpiese Spele gedien het.
Twee Nederlandse kampioene, Blankers-Koen (foto) – sy is gedoop Francina – en Willie Slykhuis, het deelgeneem. Van Slykhuis onthou ek niks.
Die fees het drie weke lank (van 14 Maart tot 5 April, 1952) geduur. Op ’n terrein van 24 morg op die toe pas drooggelegde Kaapstadse strandfrontgebied, nou toe onder hoë geboue, was dit vier keer groter as die van die voorafgaande “Festival of Britain” in England. ‘n Optog van 1 500 deelnemers, 70 sierwaens, nege orkeste, en 400 perde in Adderleystraat is deur 300 000 mense gadegeslaan. ‘n Tydelike stadion, die grootste in daardie stadium ter wereld, het sitplek vir 50 000 mense op die feesterrein gebied.
Destyds was ek in standerd vyf (nou se graad sewe). Die “Hoërskool” was allesinsluitend – van standerd twee tot matriek. Vir die geleentheid het ek ‘n kleurbaadjie by Carl Fuchs, seun van Douglas Fuchs (die een met die stem) van die SAUK, geleen. Was maar kort in Port Natal voordat ons Potchefstroom toe is.
.
Van die die Kenilworth-renbaan is ons elke dag per voorstedelike trein (deesdae se Metrodiens) Kaapstad-stasie toe vir die feesverrigtinge op die voorstrandgebied (waar Naspers nou is). Al het ons so ver gekom, het ons een aand besluit om liewer in die stal te bly waar ons geslaap het. ‘n Kussing-geveg was ‘n aantrekliker opsie as die feesprogram. Seuns is maar seuns.
Deel dit: