Met die Bierklub van my Tukkiekoshuis, Kollege (deedae College), nou so in die kalklig weens ‘n prominente brief in Huisgenoot voel ek my genoop om ter wille van suiwer geskiedskrywing ‘n nadere kykie agter die skerms te verskaf.

In die brief  – nogal die wenbrief met ’n prys van R300 – word op die kleurryke ampsmotor van die klub, ’n Morris Minor, gefokus. Die Morrissie het ook gedien as ons klub-  kaptein  in die laat 50’s, Ralph van Schoor, se studentekar. Ralph was benewens kaptein dalk die stigter van die klub, en het effens neergesien op die eufemistiese naam  Bierklub.  Hy het die naam Boozeklub verkies. Die leuse was:  “Tee verdra geen onreg nie”.

Daardie jare was Tant Bella (die lang ontslape Hotel Belvedere in Kerkstraat) se “tee” ‘n gewilde verversing onder Kollegemanne. Vrydagaande het ons gewoonlik Tant Bella besoek. Ons kaptein (die blonde kêrel, regs voor op die spanfoto), het die septer geswaai. Omdat hy met twee beurse geseën was, kon hy bekostig om die drankies te koop op voorwaarde dat elkeen sy bek hou en drink wat hy kry. As ons kaptein sê rum is dit rum, al smag jou lyf in daardie stadium na tamatiesap! Desondanks het al die lede in mindere of meerdere mate stewige pilare van hul gemeenskappe geword, party stewiger as ander. Maar dit net terloops.

‘n Gesenkwaardige aand in die geskiedenis van die eerbiedwaardige (?) klub  was in 1959 toe ook die eerste verjaardag van die Aula gevier is. ‘n Deftige okkasie. Die “Boozeklub” het daardie aand op die ou atletiekbaan (waar die Musaion nou staan) sy eie feestelikheid onderneem – minder deftig as die Aulastorie maar kwalik onoortrefbaar in vrolikheid.

Terwyl die tjello’s in die Aula tril, was ons klub naamlik versamel om ‘n taamlike kwota metiel-alkohol wat een van ons – ons kaptein – die middag uit ‘n Fisika (prakties)-klas verduister is. Of was dit dalk etielalkohol? Dit was in elk geval nie ‘n giftige of dodelike vloeistof nie.

Ons het die vreemde tee almal oorleef. Maar al het die konkoksie wat bestaan het uit die inhoud van die verduisterde flessies uit ‘n laboratorium en ‘n ruime byvoeging van Coke en ys ons nie doodgemaak nie, het dit wel ons gemoedere sterk beïnvloed. Ons het luidrugtig, uitdagend , waaghalsig, miskien roekeloos en – in een geval – selfs ietwat obseen geraak.

Destyds was aandpakke natuurlik “tradisionele drag”: Aandpakke met swart strikkies en stywe borshemde, party kunstig geborduur en so. Vroue het swiepende lang rokke gedra. Met pouse beweeg van die statige gaste, dusdanig geklee, toe na buite om Pretoria se verfrissende lentelug in te adem. Op daardie oomblik pak die drang een van die metiel-drinkers om van al sy klere ontslae te raak en Aula toe te storm met die kreet op sy lippe: “Wie ken my gat in ‘n vreemde stad?”

Of iemand later gesig en gat kon bymekaar bring, weet ek nie. Die deftige gaste was egter van verontwaardig tot getraumatiseerd en die owerheid allesbehalwe geamuseerd. Arme Kollege was weer in die hondehok as’t ware – geruime tyd nogal.

‘n Ander lid van die broederskap had ook sulke kaalnaelplanne, maar verdwaal en eindig toe met sy kaal bas in die stort op: ‘n goeie plek om heen te verdwaal met ‘n kaal bas. Net jammer hy het vergeet om eers ontslae te raak van sy nuwe “suede” skoene (is daardie “suede” en seemsleer dieselfde ding?) Hy kon nie weer sy “suedies” aantrek nie, buiten agter die beeste op hul plaas aan.

Lank voordat kapings en ontvoerings en die klas ding in Suid-Afrika alledaags geword het, het ‘n klompie lede van die klub een aand ‘n meesterplan in aksie gestel om ‘n gehospitaliseerde vriend, Jas Wasserman, uit die HF Verwoerd (nou Steve Biko) te gaan haal vir ‘n Fonteineparty.

Dit het vir nog ‘n gedenkwaardige aand gesorg.In ‘n stadium word hy die slagoffer van ‘n overwagte laagvat. Die verband om sy vinger wat ‘n paar dae vantevore geopereer is, is skielik ‘n bloedige pappery.

Die pasiënt is ‘n uur of wat later bekwaam deur sy maters in sy bed teruggehelp. Die dokters het net die volgende oggend maar moeilik gesluk aan die storie van die nagmerrie wat Jas in die middel van die nag uit die bed laat val het, bo-op die stukkende vinger. En die aroma wat om hom gehang het, was beslis nie dié van eter nie!

Van die spannetjie op die foto oorleef na my wete nog net drie.   Ons oorlewendes drink nou hoofsaaklik flouerige Skotse watertjies en ‘n wyntjie of twee.  Skoon alkohol met coke?  Is jy dan laf, vriend!

Deel dit: