‘n Mens word nooit te oud om te leer nie. Ek verwys nie net na nuwe tegnologie en so nie; ook oudag se dinge waarvan jy behoort te geweet het.
Wie ken die liedjie”Hitte titte pampoenpitte, het ‘n vrou met stywe litte; gee vir haar die pampoenpitte, stop haar in die leë dop.” Dit is die liedjie waarmee sy haar eerste klavierles begin het, vertel Christina Landman vandag in “Die Burger”.
Eerste keer dat ek daarvan hoor, moet ek bely. Maar sulke gebrek aan kennis hou ‘n mens nederig. Rede tot dankbaarheid.
Ek ken wel ‘n kinderliedjie waarin Doris Brasch sing van die “ou pampoen” wat op die ashoop lê saam met ‘n “stukkende skoen” en ‘n paar ander nikswerd-weggooigoed.
Toe ek jonk was, is dit plus-minus waar pampoen in my waardestelsel geklassifiseer was: as iets vir die ashoop. Die enigste pampoen wat in my kinderdae in my oë ‘n deugdelike funksie verrig het, was die ene wat tot Aspoestertjie se koets omgeskep was.
Trouens, my vooroordeel teen pampoen was so sterk dat ek in standerd 5 (graad 7) amper daaroor slae gekry het. Ons het van Durban Potchefstroom toe getrek en ek moes die middag met die trekkery by ‘n losieshuis eet. ‘n Bord boerekos is voorgesit met ‘n ruim skep pampoen. Dié het ek in my broeksakke geprop – het nooit besef dat ek later sou moes verduidelik watse yslike kolle op my broek uitslaan nie.
Eers toe ek na Tokkie begin vry het, en in Hertzogstraat 5, Bultfontein, haar ma, Marietjie, se voortreflike pampoen geproe het (ek het gedink ek eet heerlike patats!), het my gesindheid jeens dié nederige groente radikaal verander.
Ek eet deesdae graag pampoen, maar dat die pampoen ‘n sentrale plek in Breyten Breytenbach se poësie beklee, wis ek ook nie. Dit lees ek jare gelede ook in die “Die Burger” in die naweekbylae BY.
Sedert hy in sy bundel “Katastrofes” die eerste keer oor die fascistiese pampoen geskryf het, het dit so ‘n deurlopende Breytenmotief geword dat van sy vriende op sy verjaardag pampoendag vier, en dit ook gedoen het toe hy in die tronk was, is van die nuwe nuwe kennis oor Breyten wat ek in daardie artikel verkry het. (Ek het verder o.m. ook gelees deesdae reken Breyten “om ‘n pampoen vas te hou, is seker die naaste wat ‘n man kan kom aan die ervaring van swangerskap”. Ek is dadelik kombuis toe …)
Dié pampoenstories herinner my aan die enigste ander pampoengedig wat ek ken. Dit kom uit die pen van Hans du Plessis en is in 1976 geskryf toe ons saam aan die Harvard-universiteit in Amerika was. Die tema van Hans se gediggie was “Halloween” – die dag wanneer Amerikaners volgens tradisie, pampoenspoke maak deur pampoene uit te hol. Oë en haketande word dan in die skil uitgekerf. In flikkerende kerslig kan dit nogal spookagtig lyk.
Na aanleiding van die Halloween-tradisie het Hans ons dogter, Marisa, toe ‘n tengere drie, “pampokie” begin noem. Die naam het nogal ‘n ruk geklou – amper soos pampoen aan ‘n wolkombers!
Die Amerikaners maak darem nie net spoke van hul pampoene nie. Hulle maak ook ‘n smaaklike “pumpkin pie”. Dis liplek-lekker. Hulle hou verder allerlei pampoenfeeste, kies pampoenkoninginne en ding vuriglik mee oor wie die grootste pampoen kan kweek.
In my “Volksblad”-dae, onthou ek, was plattelandsde korrespondente nogal lief daarvoor om mense se groot pampoene af te neem en vir publikasie in te stuur. Surigheid was algemeen as so ‘n pampoenfoto nie die koerant haal nie.
Uit nog vroeër tye onthou ek die gewoonte om pampoene op ‘n plat sinkdak te pak – dalk om goed ryp te word, dalk om die dak te help anker. Ek weet nie.
Hier naby my op Melkbos het die gewoonte by ‘n mooi moderne huis in Charles Hoffestraat herleef. Twee pampoene het in ‘n stadium op die afdakkie by die voordeur gepryk.
In die middel-80’s was die Van Deventers in Natal om die uwe se wortels te herontdek as ‘t ware. Ons besoek toe ‘n winkeltjie in die distrik Babanango, naby die poskantoortjie Silutshana, wat in jare her aan my Oom Martiens Maritz behoort het.
Die nuwe eienares is ‘n gul Zoeloevrou. Toe ek die naam Martiens Maritz noem, is sy skoon uit haar vel. Sy dring daarop aan dat ek ‘n geskenk moet aanvaar. Sy sleep toe ‘n leer nader, klim op die dak en kom met ‘n yslike kampioen-pampoen grond toe, wat sy in my hande prop.
“Hemel, vroumens, hoekom so groot?” wou ek nog keer. Nee, ek moet dit vat, omdat Martiens Maritz so ‘n goeie man was.
Laat ‘n mens ‘n pampoen nie vlak skat nie
Deel dit: