DANKIE, LOUISE

Ek glimlag van oor tot oor. Reken ek moet maar een van my laaste botteltjies wyn oopmaak en ‘n glasie klink om die mooie resensie deur Louise Viljoen op Maroelamedia van my reisverhaal “Na verre hawens” te vier.

Verlede week sou die bekendstelling gewees het op die MSC Orchestra op pad terug Kaap toe van Walvisbaai af. Raai wat het daarvan geword!

Ewenwel, ek sit nog so en peins oor die streep wat Korona ons getrek het met die ingrendeling en al sy tentakels toe ek die Facebook-boodskappie kry om by  https://maroelamedia.co.za/afrikaans/boeke/boekresensie-na-verre-hawens/ te gaan loer.

Daar is die resensie toe.

Vir Louise ek het laat weet ek is oorstelp en oorweldig.  Dis werklik ‘n pragtige resensie.

Sy noem dit o.m. “256 bladsye tjokenblok vol heerlike vertellings van ons skeepsreise oor 50 jaar heen.”

Wat my getref het, is dat sy die Bybelversie voor in die boek spesiaal vermeld: “Sommige mense het met skepe op die see gevaar, en op die groot oseane handel gedryf. Hulle het die Here se werk gesien, sy wonderdade op die diepsee … Hulle was bly toe dit kalm word en Hy hulle na die hawe toe lei waar hulle wou wees.”

So dikwels kyk mense daardie kapstokkie voor in ‘n boek mis, en so dikwels bevat dit ‘n besonderse stukkie pitkos.

Toe ek die versie in Psalm 107 (Nuwe Lewende Vertaling) raaklees, het ek dadelik geweet: dis nommerpas vir “Na verre hawens” bedoel.

My boek is ‘n uitnodiging om saam te reis.  Hierdie blog is ‘n uitnoding om die Van Deventers se  reise deur die oë van so ‘n  fyn waarnemer soos Louise Viljoen te geniet.  As die skakel om die een of die ander rede nie werk nie, tik net twee of drie van volgende die soekwoorde in: Maroela, Hennie van Deventer, Na verre hawens, Louise Viljoen.

Dankie, Louise,

 

 

LAMLENDIGE APOLOGIE

Brief in Die Burger.

Brief in Die Burger.

 

Ek verwys die uitgewer Tafelberg graag na die verskoning wat die Sondagkoerant Rapport oor sy dwalinge met die Bird Island-sage op 16 April 2019 prominent gepubliseer het.

“Ons het ‘n fout gemaak,” het die koerant ruiterlik erken. Sy verskoning was inklusief en berouvol. Dit het eksplisiet ook lesers en die naasbestaandes van Magnus Malan en John Wiley ingesluit.

Daarteenoor is die apologie van die primêre sondaars (saam met die opportunistiese outeurs) flou, onvolledig en ontoereikend.

Die uitgewers erken dat sy “ gewraakte stellings nie onafhanklik geveriëer (kon) word nie.” Maar in sy apologie – duidelik versigtig regstegnies geformuleer – word in dieselfde asem sy verskoning “net beperk tot mnr. Du Plessis”.

Onmiddelllik ontstaan die vraag: kon die “gewraakte stellings” rakende Malan en Wiley wel dan op enige wyse “onafhanklik geveriëer” word? Indien wel, word dit deksels goed verbloem.

Of sou die “verifikasie” steun op slegs die vae bewerings van die naamlose Mnr. X wat een dag voorbladnuus was en die volgende soos ‘n groot speld verdwyn het? Hoeveel beëdigde verklarings van sleutelmense verlang NB-uitgewers en Tafelberg dan nog om hulle van hul mistasting te oortuig?

Maar natuurlik: anders as Du Pessis is Malan en Wiley nie meer in lewe nie.

Voorts: ag die uitgewer die misleiding van derduisende lesers van so min betekenis dat hy hulle, anders as sy susterpublikasie Rapport, in sy oomblik van berou skoon vergeet?

Die onttrekking van onverkoopte eksemplare is ‘n gebaar – ‘n nogal sterk simboliese gebaar van skuldbekentenis – maar op die keper is dit in geldwaarde uiters gering teenoor die miljoene wat internasionaal ingehark is. Op biblioteekrakke wêrelwyd pryk die boek nog. Op die internet leef miljoene verguisende woorde. Wat gaan NB-uitgewers en Tafelberg doen om hierdie tsoenami van skade te beperk ?

(Die brief het vanoggend in Die Burger en Volksblad verskyn.) 

ARME PROTEAS!

Volkies se eerste krieketspan in 1957. Die uwe is tweeede van links agter.  Charles Bamberger is in die tweede ry in die middel. Pierre Lombard sit regs voor.

Volkies se eerste krieketspan in 1957. Die uwe is tweede van links agter. Charles Bamberger is in die tweede ry in die middel. Pierre Lombard sit regs voor.

Kom nou eers tot verhaal om ‘n straaltjie oor gisteraand se krieket by te dra. Het my laat dink aan die jaar 1957 toe ek tweede aanvangsbouler van Volkies op Potch was.

Ons speel teen Potchefstroom-Dorp. Een van sy aanvangskolwers is Harry Newton- Walker, groot Springbokstut van die 50’s. Wat het ek geweet van lyn en lengte? Afrigter het nooit ‘n woord oor so iets gerep nie. Ek kom maar ingedraf – taamlike lang aanloop – en slinger die bal (die “rooi pampoen” het wyle Dana Niehaus dit destyds genoem) min of meer in die rigting van die paaltjies.

‘n Boulbeurt was toe nog agt balle. Die heer Newton-Walker slaan die skraal donkerkop-skoolseun vir 4,6,0,6,6,4,4,6. Hoe miserabel kan ‘n mens voel, jou selfbeeld aan flarde (met jou nooi langs die veld) en jou brose gemoedjie verskeur met twyfel oor jou eie vermoe om ‘n tweede soortgelyke aanslag te stuit.

Die kaptein, wyle Charles Bamberger, vervang my gelukkig na daardie eerste rampspoedige beurt met draaier Pierre Lombard, later grootkop in die Spoorwee. Pierre boul die Van Deventer-verwoester toe pens en pootjies. Maar die skade was gedaan.

Ek is bitterlik jammer vir julle, arme Proteas (of Vroteas, soos Die Burger julle vanoggend noem).

EEN AAND 50 JAAR GELEDE …

Die media is, tereg, opnuut gaande oor die maanlanding 50 jaar gelede. Op 18 Julie 1969 het ’n totaal onverwante insident op Chappaquiddick-eiland die VSA se geskiedenis waarskynlik oornag op ’n ander koers gestuur. So meen historici. Ek skerp graag die geheue daaroor op.

Op daardie dag het ’n Amerikaanse lieflingseun, senator Edward (Ted) Kennedy, naamlik in skande tot ’n val gekom. Hy was die broer van o.a. die charismatiese JFK (pres. John F. Kennedy) en die jonger Bobby wat skynbaar ook onstuitbaar op pad Withuis toe was voordat hy op 6 Junie 1968, soos sy oudste broer, deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet is.

Die jong senator (37) het met ’n mooi verpleegster, Mary Jo Kopechne (28), van ’n jolige huisparty op Chappaquiddick weggery en met sy spogmotor, ’n deftige 1967-model Oldsmobile Delmont 88, van ’n bruggie af in ’n getypoel geplons. Hy het uitgeswem; sy het in die Olds verdrink. Die Kennedy-dinastie van Boston was in sy hart gewond.

Die Kennedy-storie was sensasioneel. Aansienlike uitdagings is aan koerante se goeie oordeel en kreatiwiteit gestel deurdat die politieke skandaal met sy sappige detail saamgeval het met die lansering van Apollo II op 16 Julie 1969 van Cape Kennedy af met kommandeur Neil Armstrong, Michael Collins en Edwin “Buzz” Aldrin aan boord. Die Apollo-driemanskap se taak was die voorheen ondenkbare: ’n bemande maanlanding; ’n epogmakende wệreldstorie. So ’n super-“sepie” met ’n voorste senator in die skurkerol beland darem ook nie aldag in ’n joernalis se skoot nie!

Suid-Afrikaanse dagblaaie het, tot hul eer, deurgaans Apollo II prominenter hanteer. Selfs die respektabele Boston Globe van Kennedy se tuisstad in Massachusetts het egter – seker ná pynlike kopkrap – op Sondag 20 Julie Kennedy hoofberig gemaak en Apollo II onder die voulyn op die onderste helfte van die blad aangebied. Sy opskrif was: “Ted Kennedy escapes, woman dies as car plunges into Vineyard pond”. Die populệre Amerikaanse ponieblad Sunday News het niks teruggehou nie. Kennedy was sy voorblad vol onder die groot opskrif: “Teddy escapes, blonde drowns”. Die Maandag was die New York Times se aardskuddende banier, tereg, anders gefokus: “Men walk on moon”.

Vandag word net laasgenoemde onthou, Teddy en Mary Jo se dinge is vergete.

BEELDSKONE BAAI

Die Musica in die baai van Kotor.

Die Musica in die baai van Kotor.

Vreemde woorde in vreemde tale – “magnifico” in Italiaans, “imposant” in Frans, “wunderschön” in Duits en allerlei verwante uitdrukkings van verwondering  in ander tale –  het skielik vir my betekenis gekry waar ek, op die dek van die MSC Musica die intog in die Baai van Kotor – Boka Kotorska – meegevoer indrink.

Ek was seker dat vreemdelinge wat Afrikaans nie ken nie, sou verstaan as ek die ontvouende natuurskouspel in my taal as “verruklik” of “aangrypend” sou beskryf. Of selfs sou verstaan wat ‘n Engelse dame bedoel het met haar luide uitroep van “supercalifragilisticexpialidocious”, ‘n speelse skepping uit die musiekfilm Mary Poppins waarin Julie Andrews in 1964 haar rolprentdebuut gemaak het – ‘n woord wat jy in ‘n woordeboek vergeefs sal soek.

Vir baie van die 3 200 passasiers op die groot weeldeskip –  tonnemaat 92, lengte 293 meter, hoogte 59 meter, bemanning 950 – op sy noordwaartse terugtog ná ‘n somerseisoen van vier maande in Suid-Afrika was die mirakel van Ferdinand de Lesseps se Suezkanaal (vorige blog) waarskynlik die verwagte hoogtepunt.  Ander het gebrand om die ruïnes van die antieke Arabiese stad Petra in die teenswoordige Suidwes-Jordanië te gaan verken. Dit word as een van die sewe moderne wonders van die wệreld gereken.

Nou is almal se asems skoon weggeslaan deur hierdie onverwagte Noorweegse “Bergen” in die suide van Europa waar fjords en die Middellandse See mekaar as ‘t ware ontmoet: vier baaie van inkblou Mediterreense see, omring deur ruwe swart rotswande wat soos ‘n reuseskoenlapper sy vlerke oopvou voor die steeds groter besoekende plesierbote wat toenemend derduisende besoekers op die ou Balkanstaat Montenegro kom verlief maak.

Teen O8:00 het die plaaslike piloot aan boord gekom.  Van toe af kruie ons twee uur lank langsaam en versigtig deur ‘n reuse-S wat deur die vier skone komme, omring deur dramatiese swart pieke (monte negro), gevorm word. Eers daarna kon die MSC Musica anker gooi en die vrag passasiers met kragtige landingsvaartuie aan wal kom vir ‘n dag in een van die wệreld se mooiste ou historiese hawestadjies. Vir hierdie liefhebber van skeepvaarte bied die omgewing van die onvergeetlikste taferele wat hy in sy lewe van ‘n boot af aanskou het.  Dit is groots. Glo my.

Toe ons in Durban aan boord kom op 26 April 2019 is ons verras met dieselfde geskenk van die redery MSC as vir ons goue bruilof twee jaar gelede op ‘n vaart na Walvisbaai: ‘n ysemmer met ‘n bottel Moët et Chandon-sjampanje uit Frankryk (prys op skip: $75) en twee elegante glase met die MSC-logo daarop het in die kajuit gewag.  Alle lede van die MSC se “Seniorsklub” is so bederf. Vele proppe het dalk sommer die eerste aand al tussen Durban en Mauritius geklap. Ons goue voggies het ons vir ‘n spesiale goue oomblik gebệre.

Ons goue oomblik het daardie aand aangebreek.  Kan Moët et Chandom die kieskeurigste palaat (en die gees) ooit heerliker verkwik te midde van die beeldskoonste berg-en-see-tonele; om op dek 13 op die agterstewe van die Musica suinig-suinig daaraan te teug terwyl die huise van Perast en ander afgesonderde gemeenskappies in die verte al hoe kleiner word?  .