Die media is, tereg, opnuut gaande oor die maanlanding 50 jaar gelede. Op 18 Julie 1969 het ’n totaal onverwante insident op Chappaquiddick-eiland die VSA se geskiedenis waarskynlik oornag op ’n ander koers gestuur. So meen historici. Ek skerp graag die geheue daaroor op.

Op daardie dag het ’n Amerikaanse lieflingseun, senator Edward (Ted) Kennedy, naamlik in skande tot ’n val gekom. Hy was die broer van o.a. die charismatiese JFK (pres. John F. Kennedy) en die jonger Bobby wat skynbaar ook onstuitbaar op pad Withuis toe was voordat hy op 6 Junie 1968, soos sy oudste broer, deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet is.

Die jong senator (37) het met ’n mooi verpleegster, Mary Jo Kopechne (28), van ’n jolige huisparty op Chappaquiddick weggery en met sy spogmotor, ’n deftige 1967-model Oldsmobile Delmont 88, van ’n bruggie af in ’n getypoel geplons. Hy het uitgeswem; sy het in die Olds verdrink. Die Kennedy-dinastie van Boston was in sy hart gewond.

Die Kennedy-storie was sensasioneel. Aansienlike uitdagings is aan koerante se goeie oordeel en kreatiwiteit gestel deurdat die politieke skandaal met sy sappige detail saamgeval het met die lansering van Apollo II op 16 Julie 1969 van Cape Kennedy af met kommandeur Neil Armstrong, Michael Collins en Edwin “Buzz” Aldrin aan boord. Die Apollo-driemanskap se taak was die voorheen ondenkbare: ’n bemande maanlanding; ’n epogmakende wệreldstorie. So ’n super-“sepie” met ’n voorste senator in die skurkerol beland darem ook nie aldag in ’n joernalis se skoot nie!

Suid-Afrikaanse dagblaaie het, tot hul eer, deurgaans Apollo II prominenter hanteer. Selfs die respektabele Boston Globe van Kennedy se tuisstad in Massachusetts het egter – seker ná pynlike kopkrap – op Sondag 20 Julie Kennedy hoofberig gemaak en Apollo II onder die voulyn op die onderste helfte van die blad aangebied. Sy opskrif was: “Ted Kennedy escapes, woman dies as car plunges into Vineyard pond”. Die populệre Amerikaanse ponieblad Sunday News het niks teruggehou nie. Kennedy was sy voorblad vol onder die groot opskrif: “Teddy escapes, blonde drowns”. Die Maandag was die New York Times se aardskuddende banier, tereg, anders gefokus: “Men walk on moon”.

Vandag word net laasgenoemde onthou, Teddy en Mary Jo se dinge is vergete.

Deel dit: