Nov 4, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Met my gedenkboekie “Koerant”.
Oor fotograwe wat vergeet het om vir kritieke oomblikke film in hul kameras te laai, is hartverskeurende stories in omloop. Manjifieke nuusfoto’s het op hierdie manier verlore gegaan; selfs loopbane is kortgeknip. Twee van Suid-Afrika se grootste vliegrampe het elk ook ‘n kameradrama opgelewer.
In my gedenkboekieen geskenkboekie “Koerant” – aan die vooraand van my 80ste verjaardag oor twee maande – vertel ek van ‘n paar sulke en ander kamera-konsternasies.
Een so ‘n krisis was ná die ramp op die Windhoekse lughawe JG Strydom in April 1968 toe ‘n Boeing van die SAL, die Pretoria, met die opstyging in die grond geboor het, met die verlies van baie lewens. Suid-Afrikaanse koerante het feitlik almal
vliegtuie gehuur om verslaggewers en fotograwe na die toneel te haas. Die Transvaler was geen uitsondering nie.
Laat die Sondagmiddag het sy span teruggekeer. Daar was nie baie tyd om foto’s te ontwikkel nie. Toe die nuusredakteur naderhand die fotograaf in die donker-kamer gaan soek, kry hy hom hande in die hare. Geeneen van die foto’s het uitgekom nie. Of lig in die kamera, of iets anders, maar daar was geen enkele opname nie.
***************************************************************
Om “Koerant” te bekom, is dit die enigste adres:
KOERANT E-BOEK
****************************************************
Die tweede was in Mei 1972, met die Republiekfees in Kaapstad, toe drie Mercuriusvliegtuie van die Suid-Afrikaanse Lugmag tydens ‘n formasievlug in digte mis teen Duiwelspiek vasgevlieg het. Elf offisiere en beman-ningslede het omgekom. Die eerste fotograaf van Die Burger was verstommend gou op die toneel maar – helaas – met ‘n kamera sonder film.
Omstreeks dieselfde tyd is ‘n Volksblad-fotograaf, Willem van der Walt, in Bloemfontein op eie versoek so in ‘n Lugmagvliegtuig vasgegespe dat hy amper halflyf kon uithang om skouspelagtige foto’s van ‘n massa valskerm-springers van die Valskermbataljon te neem.
Ná al die moeite is agterna dieselfde ontdekking ge-doen: geen film nie!
Willem word ook vir ander dinge onthou. ‘n Keer het ons die Kovsie-tamboernooientjies gaan afneem. Die voorste ry sit kruisbene. Dan sien jy tot doer. Willem waarsku: “Pas op, ons sien julle almal se broeke.”
Die Willem-storie wat die koek vat, is ‘n storie oor terte.
Hy en Daan Nortier is in die Suid-Vrystaat en die kollega voer ‘n onderhoud met die plaaslike leraar oor die een of ander fondsinsameling. Die gesprek boei Willem hoegenaamd nie. “Dominee,” val hy sommer met die deur in die huis, “waar’s die terte?” Die leraar was momenteel uit die veld geslaan. Toe antwoord hy, terwyl hy bloedrooi begin bloos: “Ag broertjie, hier is ‘n paar onderwyseressies maar hulle is nou met vakansie!”
‘n Jong kollega – ek onthou net ons het hom Mordegai genoem – het vir hom berugtheid verwerf deur ‘n waardige dame by ‘n geleentheid so aan te spreek: “Haai jy, ou tannie met die rooi rok, staan ‘n bietjie diekant toe.” Die “ou tannie” was niemand anders nie as mev. Lettie Fouché, Suid-Afrika se presidentsvrou!
Gepraat van die tamboernooiens se broeke. Dit laat my dink aan die ding wat Ken Oosterbroek (sic) van The Star oorgekom het. Die aspirant Mej. Wêrelde van 1993 het op die Johannesburg-lughawe aangekom. Oosterbroek, altyd op soek vir ‘n buitengewone hoek, was vir dié okkasie plat op die grond. Dit het nie net ‘n fees van manjifieke bene op sy negatiewe opgelewer nie, maar ook onthul dat Mej. Denemarke dalk ‘n bietjie Skotse bloed in haar are kon hê.
Want toe sy op daardie trappe verskyn, was onder die roekeloos kort mini niks meer as wat ‘n rasegte Skot glo by tradisionele geleenthede onder sy rokkie dra nie.
Die bewysstuk het later by die koerant op ‘n kennis-gewingbord verskyn. Dié episode het tot ‘n amperse opstootjie gelei toe ‘n jong verslaggeefster opdrag kry om te gaan vasstel of ander aspirante hul suidelike dele op soortgelyke wyse koel hou.
Gesteun deur al wat ‘n vroulike kollega is, het sy haar teen hierdie soort “seksisme” verset. Gemoedere was aan die brand en hetige memos het heen en weer gevlieg. Richard Steyn, destydse hoofredakteur, moes van die gholfbaan gehaal word om die vrede te kom herstel.
Oct 25, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Op 3 Januarie 2021 – ‘n bietjie meer as twee maande – word ek 80. Ietwat prematuur of nie, maak ek dit die onderwerp van vandag se blog. Hoekom, sal mettertyd duidelik word, hoop ek.
In die (amper) 80 jaar staan verskeie hoofelemente uit. Almal wat my ken, sal kan raai watter dit is. Buiten my naastes, is daar onder meer (plus-minus chronologies) Potch-Volkies, Kollege-tehuis, Tukkies, Harvard, Bloemfontein, Randburg, Sabiepark, die Krugerwildtuin, Melkbos en skeepvaarte, waaraan ek in die later jare verslaaf geraak het.
Van al die dimensies is my koerantverbintenis ongetwyfeld die onuitwisbaarste. Niks identifiseer my in dieselfde mate nie, glo ek, al het 24 jaar verloop sedert ek my kantoordeur aan die Heerengracht die laaste keer agter my toegetrek het.
Middel 2020 sou die noodlot egter ingryp. Media24 kondig ‘n ingrypende nuwe bedeling vir sy drukmedia aan. Ook Volksblad se ink droog op. Sy lewe as papierkoerant ruk ná 116 vrugbare jare tot stilstand.
Vir geen oomblik sou ek ooit kon droom dat hierdie trotse koerantgewel uit die hoofstroom sou verdwyn voordat ek die 80-baken bereik nie.
Die afskaling van my geliefde koerant waar ek 12 jaar redakteur was, was nie net volslae onverwags nie. Dit was ook ontugterend en ‘n moeilik verteerbare skok – ‘n sware verlies.
Vir my 80ste verskyn ‘n gedenkboekie met die titel “Koerant”. Dit is ‘n selfpublikasie met ‘n beperkte oplaag, versorg deur Coenie Nolte se De Novoboeke. In die boekie is die rou oor Volksblad se lot nog vars. Ek probeer nie my hartseer verbloem nie. Dit bied trouens die kapstok vir die boek.
Die rou is egter maar net die vlammetjie wat ‘n groter vuur aansteek. In ‘n stuk of 50 essays skryf ek darem nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekotes is opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor ander koerante en die koerantwese in die algemeen.
Noem ‘n aspek van my loopbaan – iewers steek dit kop uit. Moet dus nie verras wees nie as selfs onverwagte name soos Dallas, Anneline Kriel en Racheltjie de Beer in die bladsye van Koerant opduik.
Onder die jongste nuuswaardighede in my boekie is die roemlose aftog van die uitgewery Tafelberg rakende die snertboek oor “die seuns van Bird Island” en sy gruwelike beswaddering van eerbare leiers in die vorige bedeling. Van die aanvanklike onboetvaardigheid uit daardie oord het niks oorgebly nie.
Die sage was ‘n stukkie pynlike Persgeskiedenis waaroor ek my uit die staanspoor nie onbetuig gelaat het nie. Oor ‘n tydperk het ek agt koerantbriewe daaroor geskryf in Rapport, Die Burger, Beeld en Volksblad.
Dat my radar nie verkeerd was nie, is vir my hier aan die vooraand van my 80ste ‘n bron van vreugde. Ek draai daaroor nie doekies om nie. Nie almal wat die boekie onder oë kry, sal daardie hoofstuk met welgevalle lees nie – en dalk enkele van die ander hoofstukke ook nie. Ek maak nie ‘n moordkuil van my hart nie.
Die boekie verskyn in gedrukte formaat vir naaste familie, vriende en kollegas. Vir die grootste gros ontvangers bied ek dit as e-boek aan. Die skakel sal binnekort aan hulle bekend gemaak word.
Die aflewering is ietwat prematuur. Dit is met die oog op die einde-van-die-jaar-gewoel aan vele fronte. Dit is nog te meer die geval om my Volksblad-storie te vertel terwyl dit nog relatief vars is.
Aan al die lesers: lees die boek en klink saam ‘n glasie op 80 vervullende jare.
Jun 9, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Min Afrikaners wat die turbulente jare 80’s meegemaak het, sal die intensiteit van daardie familierusie in die aanloop van die politieke oorgang van 1994 ooit vergeet.
So venynig is die hervormingsgesindes deur weerstandiges toegetakel dat ‘n spitsvondige Engelse persman die “oorlog” beskryf het as ‘n “second Boer war – with Boers on both sides’”.
In hierdie “oorlog” was die Afrikaanse koerant in die spervuur. In vyandige oë is hy gesien as simbool van Afrikaner-oorgawe, en getakel met ‘n venyn wat nie tot woorde beperk was nie. Bloed het letterlike gevloei.
In Bloemfontein, Afrikaner-hartland, was dit eens so erg … of dalk erger. My perspektief op daardie veelbewoë jare het ek in 1998 op skrif gestel in “Kroniek van koerantman” – die eerste boek oor daardie era uit die pen van een van die redakteurs en ook een van die weinige tot dusver.
Uit ‘n tweede vername luisterpos lig ek in “Kroniek” openhartig die sluier oor die gisting en intense toekomsdebat binne die Afrikaner-Broederbond in daardie tyd, wat ek as lid van die uitvoerende raad intens meegemaak het.
De Novo Boeke het besluit op herpublikasie as e-boek in die geloof dat Kroniek 22 jaar na eerste verskyning nog relevant is vir die politieke narratief. Bestel by http://www.denovowebs.co.za/product/kroniek-van-n-koerantman/ Prys: R70
Uitgewer se kommentaaar: Hennie van Deventer se Kroniek van ‘n Koerantman is in vele opsigte kontemporêre geskiedenis ‒ ‘n kommentaarboek oor een van die interessantste en opwindendste tydperke in Suid-Afrika se veelbewoë politieke geskiedenis. Die Volksblad, met Van Deventer as redakteur, was in die turbulente jare 80 en 90 sterk verbind tot hervorming, geregtigheid en ‘n inklusiewe demokrasie. In die Vrystaat, konserwatiewe hartland van Suid-Afrika, het dit hom, en sy redakteur persoonlik, in die spervuur geplaas van akute regse venyn.
Die skrywer se interessante en onderhoudende staaltjies lig die sluier oor die dramas wat hulle oor nuusgebeure in koerantkantore afspeel, interessante vertellinge oor sy ervarings as lid van die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond en die hegte vriendskappe, maar ook heftige en bitter rusies met politici en openbare figure, dra by om Kroniek van ‘n Koerantman in alle opsigte ‘n baie lesenswaardige boek te maak.
In hierdie tyd van inperking en hofdramas oor regeringsregulasies en gewaande magsmisbruik deur die regering, word hewige diskussies en debatte op sosiale media en die Internet uitgespeel. Dit is daarom interessant om te lees hoe koerante soos Die Volksblad in die jare tagtig en negentig die kommunikasiekanaal was wat hierdie rol vervul het. !n sy huidige e-baadjie, is Kroniek van ’n Koerantman ’n egte winskopie teen net R70 per kopie.
Jun 8, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Wuif totsiens vir die tjek. Die gerespekteerde betaalmiddel sedert die 9de eeu al loop nou die pad van ander gister-goed wat nie teen moderne plaasvervangers die pas kon volhou nie. Soos die betroubare telegram, die Kerskaart en die minnebrief met langhand op papier gesit – boonop met ‘n vulpen.
As jy ‘n koerantmens was, soos die uwe, kan jy die teleksberig bysit. Daarvan het rieme elke dag elke koerantkantoor binnegestroom op rye teleksmasjiene wat onverpoosd soos masjiengewere knetter. Moenie die landlyn vergeet nie. Elke foto van elders het jou koerant dotjie vir dotjie via ‘n verre poskantoor bereik.
Op my eerste tjekboek aan die begin van die 60’s was ek, jong koerantman, trots soos ‘n pou. Het altyd gehoop om iemand te imponeer wanneer ek daardie kenmerkende plat boekie spoggerig uitpluk en met ‘n swierige “JH van Deventer” – die ene krulletjies en draaitjies, aldus my vrou – ‘n aankoop met vers en kapittel op die reghoekige stukkie papier beklink.
Myne was ‘n Volkskas-model met “arbeidsaamheid” as leuse en die hand op die ploeg as logo. Absa, my latere modern bank, is nou onder die voorlopers om die tjekboek goedsmoeds in die snippermandjie te gooi.
Ai tog. Maar dis soos hulle sệ: Omnia mutantur nos et mutamur in illis (“alle dinge verander en ons verander saam met hulle.”)
Nog ‘n nuttige papierproduk van ‘n vergange era was die telegram. Telegramme is al geruime tyd uitgedien. Al waar jy nog daarvan kry, is in netjiese pakkies met lintjies vasgebind, gewoonlik in ‘n embuia-“trousseau”-kis met bal-en-klou pote en koperbeslag. Saam met allerlei ander sentimentele kleinighede word dit daar as soewenier van bruide van toeka se groot dag bewaar.
Hoeveel telegramme jy gekry het – en van wie almal – was nogal ‘n statussimbool. Party was kort en kragtig: “seën op huwelik”. Ander kon nog al woordryke sedepreke bevat. Moes afsender ‘n fortuin gekos het.
Op die onthaal – dikwels in die kerksaal – het die seremoniemeester of een die telegramme voorgelees. Dit was deel van die bruilof ritueel, soos die sny van die koek en die werp van die kousband in die gehoor.
Grapjaste – gewoonlik die raseriges wat voor in die koor was wanneer “Ta Koek se hoenderhaan” vir die bedremmelde bruidegom aangehef word, het dikwels kamma-telegramme ingesmokkel. Een voorbeeld: ‘n fiktiewe vorige kệrel wat met doelbewuste dubbelsinnighede op vorige soete oomblikke saam met die verleë bruid sinspeel.
‘n Gewilde stoutetjie wat ek onthou, was sogenaamd van die bestuurder van die wittebroodhotel: “Spyt my om julle in te lig die spesiale bruid-suite het weens omstandighede buite ons beheer op die laaste oomblik onbeskikbaar geraak. Ek gee julle sommer julle ou kamer van vorige besoeke, as dit sal reg is met julle.”
Ou kamer? Vorige besoeke? Onthou, ek praat van ander tye. Die huweliksnag was veronderstel om werklik ‘n eerste te wees; nie sommer soos al vele nagte voor hom nie. Menige bruid het beetrooi gebloos.
Voorspel tot die huwelik was o.m. hartstogtelike briewe waarin die ontluikende liefde met toenemende vrymoedigheid verklaar is. “Liewe Bettie”, het in sulke briefies eers “liefste Bettie” en dan later “My enigste liefling” geword.
Op skool het spesiale “koeriers” sulke briefies ongemerk voor jou op jou bank kom neersit of pouse vinnig in jou sak gedruk. Party was op pienk papier met ‘n diskrete parfuumreuk. Jy kon dit nie gou genoeg oopskeur om elke soete woord van liefde en verlange in jou hart te vertroetel nie.
Party romantiese Romeos kon monumentale liefdesbriewe skryf. Een skrywer van ‘n gedenkwaardige brief was n passievolle jong Tukkie, Pikkewyn (Pik) Botha, rasieleier en latere minister van buitelandse sake. Sy rekord was ‘n brief van 90 foliovelle.
Die ontvanger van daardie gewigtige brief, netjies in ‘n pakkie opgemaak, was Helena Bosman, ‘n Matiestudent. Tere minnegediggies uit dieselfde oord was ook gereeld in haar posbus. Sy het in 1953 mev. Helena Botha geword.
Deesdae kommunikeer geliefdes dalk meer met haastige teksboodskappies en emoji’s, dalk nog in kodetaal. So raai ek maar.
Kerskaarte was toeka se tyd ook ‘n groot ding. Vroeg in November het jy al begin lysies maak wie almal moet kry, en by skryfbehoeftewinkels begin rondkyk. In nederiger prysklasse was die meeste in pakkies van ses met onvanpaste sneeutonele op die voorblad en swak vertaalde Kersboodskappies binne.
Later het die prentjies meer gesifostikeerd en gevariëerd geword. Op party van die nuwer soort was plek om ‘n persoonlike boodskappie te skryf. Deftige mense het hul kaartjies laat druk: in goue of silwer letters met hul name en adresse in die een hoek soos op ‘n visitekaartjie.
Ingenome ontvangers het hul Kerskaarte graag op kaggelrakke en ander plat oppervlakke uitgepak. Ander ornamente, ook op die buffet, is vir die “Kersgety” na laaie geskuif om vir die verskeienheid Kerskaarte plek te maak. Sommige ondernemendes het tou of ‘n draad van hoek tot hoek in die sitkamer gespan. Hul Kerskaarte is dan wydsbeen daaroor gedrapeer om met die res van die kleurryke Kersversiersels saam te smelt.
Boontoe het ek verwys na vanmelewe se teleksmasjiene wat stil geraak het. Koerante word in doodse stilte in die soort steriliteit geproduseer wat ‘n mens gewoonlik met hospitaalteaters vereenselwig. Foto’s se pad is as’t ware van die kamera na die blad.
Nog iets wat ongetwyfeld vir altyd verlore is, was iets waaroor ek nogal ‘n sterk nostaklgie in my voel opwel. Uit afvalpapier in die drukkery is klein blokkies papier geknip waarop haastige boodskappies per bode vir kollegas gestuur is: “Mev. O. Kom gesels asb. HvD”
‘n Keer was by Die Volksblad ‘n kompetisie tussen redaksielede oor wat ek in my haas op so ‘n blokkie papier in my partikuliere soort snelskrif neergepen het. Die drie finaliste is vir my gebring om die wenner aan te wys. Ná ‘n ruk moes ek tou opgooi. Die drie moes die eerste prys deel. Ek het vergeet wat ek daar geskryf het en kon dit om die dood nie ontsyfer nie.
Apr 30, 2020 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Laat die byle huil, Paul Colditz van Bloemfontein! Die onderwysman mik nou om 50 dae aaneen te braai. So lees ek in Die Burger. Wat ‘n rein gedagte.
Grootte en intensiteit was eers my ware vuurplesier. Frekwensie het mettertyd ‘n oorheersender maatstaf van ware genot geword. In Sabiepark is ’n kampvuur ’n daaglikse heerlikheid. ‘n Stuk roetine soos opstaan of gaan slaap. Drie maande lank – 90 aande agtereen – lek die vlammetjies elke aand van ons lang hibernasie in die bos. Ja 90 aande, Paul!
Twee ekstra vuurmaakplekke is juis vir die doel by ons boshuis aangebou: een voor by die stoep; die ander agter, nader aan die eetkamer en die kombuis. By elk is ‘n verskeidenheid gedugte braaiers byderhand. Dit maak verskillende konfigurasies moontlik.
Elke braaier het ‘n naam wat op sy herkoms dui: bv. Neels se braaier en Manie se braaier. Neels Nothnagel was Johan se skoonpa. Hy is oolede. Manie Steyn van die Wes-Rand is ‘n dik vriend uit ons Tukkiedae in die jare sestig. Sy geskenk moes al die pad van Johannedsburg kom met my neef se groot 4 x4.
Om ’n braaiplek en ‘n braaier te kies, is deel van elke aand se ritueel. Nes die inspring in jou spesiale braai-“uniform” (ou klere deurtrek met rook en allerlei reuke). Die spuit van die nek, polse en enkels vir muskiete. Die aansteek van sitronellakerse en -fakkels.
Elke braaiplek het sy eie atmosfeer, sjarme en bekoring. Die keuse is soms ver van maklik.
Jesaja skryf soos ‘n ware vuurliefhebber: “Dis lekker. Ek is warm, ek geniet die vuur” [Jes. 44:16(b)]. Jesaja, ou maat, hierdie gryskop sekondeer sommer met albei hande in die lug.