SEE VAN SAND

IMG_8784 IMG_8783 IMG_8777 IMG_8756 IMG_8695Een woord was op almal se lippe van die oomblik af dat die MSC Musica op 26 April 2019 uit Durban weg is op sy driewekelange terugtog na sy tuiswaters in die Middellandse See: Suez.  Aan die skip se noordwaartse roete al langs die ooskus van Afrika op was avontuur, romantiek, geskiedenis en dalk, net dalk, ook ’n titseltjie gevaar. Die Midde-Ooste bly  maar ’n politieke kookpot.

Egipte se beroemde Suez-kanaal in die Sinai-skiereiland verbind die Middellandse See en die Rooi See vir 161 kilometer. Dit strek van die hawestadjie Suez aan die Golf van Suez, ’n vertakking van die Rooisee, via die “Bittermere” tot Port Said aan die Middellandse See, of andersom.  Die “Bittermere”, sowat 47 km van Suez af, was eers ’n enorme soutpan.  Vandag vorm dit die grootste watermassa in die Suezkanaal.

Die grootste deel van die epiese kanaalvaart, “ploeg” die skip as’t ware deur oseane van onherbergsame Arabiese woestynsand op allesbehalwe ‘n “brede rivier”. Dit is werklik net ’n kanaal, niks meer nie; op sy breedste net 225 meter wyd en net 24 meter diep. Kilometers ver moet eindelose klipmure die kruipende woestynsand in bedwang hou.

Omweë van duisende kilometers word daardeur uitgeskakel. Die roete tusen Europa en die Verre Ooste word ongeveer 40% korter as om die suidpunt van Afrika. In kilometer omgesit, beteken dit ‘n aardige afstand van  oor die 7 000 kilometer.

Om met dié vername lewensaar vertroud te raak, verg van nuuts af kennismaking met name soos die Golf van Aden (’n uiters belangrike waterweg vir olietenkskepe tussen Jemen en Somaliland op die vasteland van Afrika), die Golf van Aqaba, die Horing van Afrika, die Sinai-skiereiland en die Rooisee – name wat via vae herinneringe aan die vakke Geskiedenis en Bybelkunde in meeste se koppe vassteek.

Dinsdag 14 en Woensdag 15 Mei was ons “Suez-dae.” Dinsdag het die  bootverkeer deur die dag begin toeneem. Skielik is van die dekke af en deur patryspoorte gereeld bote waargeneem wat, soos die Musica, haastig op pad was na die hawestadjie Suez om ‘n gunstige plek in die volgende dag se konvooi te bekom.

Teen 14:30 het Tokkie 32 bote rondom die Musica getel.  Om die bote in ‘n halfmaan reg te maneuvreer, was vir die leek maar ‘n deurmekaar-besigheid.  In die skynbare harwar wou dit lyk of ‘n vragboot roekeloos  op die Musica se boeg afpyl. “Lunatic!” het die man langs my op die promenadedek, dek sewe, ontsteld uitgeroep en in ‘n taal voortgebabbel wat ek nie kon kleinkry nie. Sy vrese was gelukkig onnodig.  Die Egiptiese pilote wat die proses beheer, is nie onder ‘n eendvoël uitgebroei nie. Die prosessie – herinner nogal aan ‘n “Bloedrivier se walaer oppi water” – is sonder ongeval opgestel.

Toe die bote in die laatskemer hul liggies aanskakel, was dit rondom ons ‘n feestelike toneel. Party bure het soos helder verligte woonstelgeboue gelyk. Aan ‘n helder verligte boot kleef mos altyd romantiek, soos aan ‘n trein, al sou dit bedags bra bedremmeld lyk.  “Ek weet daar’s fees vanaand in menig verligte saal,  maar geeneen wat my mis by die dans en die dis ….”

Klein patrolliebootjies het soos vuurvliegies heen-en-weer tussen die skepe ge-zirts. Wat die doel was, was aan my onbekend.   Die teenwoordigheid van die polisie het tog nodig gelyk.  As ekself al hoe lank ‘n matroos op ‘n gehawende ou vragskippie was, sou die versoeking groot kon gewees het om in te duik en in ‘n paleisagtige plesierskip soos die Musica afleiding te gaan soek.

Die konvooi word deur ‘n militệre skip gelei. Ná hom sou ons skip nommer twee wees, het die nuus versprei. Sulke voorkeurbehandeling kom teen ‘n prys.  Die gewone koste vir gebruik van die kanaal is $426 000, beweer my Britse tafelmaaat, Chris Wakefield. Vir ‘n premie van $35 000 kan jy ‘n uitsoekplek bespreek – die duurste “tolpad”op die aardbol?

Oor ons te wagte Suez-ervaring het die Musica se kundiges ons vooraf met inligting gepeper.  Historikus Alison Hypher se boeiende lesings het die reuse-Teatro la Scala (1 700 sitplekke) byna volgepak. Ou kennis is opgeskerp. Heelwat wat nuut is, is bygeleer. Wat belangstelling aangewakker het, was ‘n groot kaart van daardie kontrei waarop ons vordering, eers in die Golf van Aqaba en daarna in die Golf van Aden, daagliks om 12-uur deur ‘n mooi jong vroulike offisier in ‘n wit uniform opgedateer. Sodat aankondigings in vele tale nie gedurig die rustigheid  versteur nie, is ‘n nuttige inligtingstuk in elkeen se voorkeurtaal by elke kajuit onder die deur ingestoot.

Die konstruksie was ’n ontsaglike taak. In April 1859 is die “eerste sooi” gespit. In November 1869 is die kanaal met ’n fanfare geopen. In daardie elf jaar is 75 miljoen kubieke meters sand uitgegrawe. Van die 1,5 Egiptiese wekers wat soos slawe gedryf is, is 120 000 dood. Die koste was ’n verbysterende 400 miljoen Franse frank.

Die bouer was Ferdinand de Lesseps, ’n briljante Franse diplomaat en kanaalbouer. Ál hoe meer skepe het die kanaal oor die jare heen gebruik. In die 1870’s is sowat 500 per jaar daardeur. Vandag is dit 18 000, met ’n gemiddelde van 50 per dag. Die maksimum is 76.  Baie dra kosbare vragte olie.

Wie in die geskiedenis wil delf, sal egter ver moet terugblaai. In die tyd van die Egiptiese faraos is al aanvoorwerk gedoen. Nadat hy Egipte in 1798 verower het, was Napoleon Bonaparte ook vuur en vlam. Ongelukkig is hy deur sy ingenieurs mislei met die bevinding dat die Rooisee minstens 10 meter hoër was as die Middellandse See.  Onnodige vrese vir katastrofiese vloede in die Nyl-delta het die plan gekelder. Uiteindelik was sluise, soos dié in die Panamakanaal, egter nie eens nodig nie.

Bootvaarders is berugte laatslapers weens die volop nagtelike jolyt.  Maar die Woensdagoggend toe die Musica se beurt aanbreek om agter ‘n hemelsblou vragskip van die NYK Line die kanaal binne te gaan, was lewe soos min op al wat ‘n dek is.  Fotograwe het op die geleiboot, die Salam 7, by die Musica se agterstewe gekonsentreer. Dié het soos ‘n besige hommelbytjie om ons gedraai ten einde die groot skip in kodetaal op die regte spoor te hou.  Agter hom kon ek vier bote in ‘n ry sien aankom, met ‘n gaping van sowat een kilometer tussen elk, asof ‘n onsigbare stuk garing hulle bind. Die voorste twee was knewels, hoog gelaai met vraghouers.

Die toneel oor die boeg heen was veral treffend. Ons wit skip se skerp neus tussen walle van geelbruin bruin sand aan weerskante van die blou-blou water het die illusie versterk van ‘n “sandbreker” wat sy weg deur ‘n ruwe woestyn oopbeur. Plek-plek lyk die oewers gevaarlik naby aan mekaar. ‘n Mens ys oor hoe moderne vliegdekskepe hul weg deur daardie smal gangetjies vind.

In sy inligtingstuk verklaar die Musica o.m. die volgende: “There is limited things to see along the way because most of the time we will sail on a narrow strip of water in the middle of the desert, but that is also the beauty of it.” Ek stem. Die vaart op die “narrow strip of water in the middle of the desert” is inderdaad die aangrypendste dimensie.

Op ons vaart van 10 uur (die gemiddelde is 11 tot 15 uur teen plus-minus 8 knope ofte wel 14 kilometer per uur) het ons darem veel meer as woestyn gesien. Vir eers was die kontras tussen oos- en wesoewer ‘n openbaring.  Danksy die magtige Nyl se lewegewende water was aan die westekant landbou, stedelike ontwikkeling, klein dorpies (elk met sy moskee met prominente minarette), lanings palmbome – ‘n palmwoud, volgens Tokkie – ‘n varswaterkanaaal, ‘n treinspoor vir die lengte van die  kanaal en allerlei monumente.

‘n Boeiende element was die botemengelmoes: allerlei grotes wat van die noorde kom en op strategiese plekke hul beurt by smaller dele moes afwag, veerbote wat gemeenskappies aan weerskante verbind, kragtige baggerbote wat oor ‘n boeg sand uitspuwe, gelei- en patrolliebote; ook  astrante klein visserskuitjies wat soms ‘n traagheid openbaar het om hul nette op te trek voor die reuse in aantog.  Die Engelse praat van “chicken” speel.

Halfpad deur die vaart, by die meer Timsah naby die groterige dorp Ismailia, sowat 85 kilometer van Suez, is waar die Rooisee en die Middellandse See amptelik ontmoet.   Dit is ook waar die noordwaartse en suidwaartse konvooie mekaar verbysteek, en ‘n nuwe piloot aan boord kom. Die “Halfway House”. Die verrassende is dat die bevolking van Ismailia, volgens die MSC se statistieke, groter is as dié van Suez: 700 000 teenoor 500 000.

Deurgaans word die kanaal se geskiedenis as politieke twisappel beklemtoon.  Militệre basisse, jeep-patrollies en waghuisies (nes dié in Suid-Afrika) kom gereeld voor.  ‘n Militệre helikopter het, seker maar net uit moedswillige magsvertoon, ‘n slag bitter laag oor die skip gedreun. “Lunatic!” het ek iemand hoor uitroep. Dit was dieselfde mede-passasier as die vorige dag.

Onder die gedenkstene staan uit: die eerste van ‘n AK-47 ter herinnering aan die Slag van Ismailia in 1973 in die Yom Kippur-oorlog,  nommer twee van ‘n Egiptiese werker met sy graaf, en nommmer drie die enorme Suezkanaaalbrug of Al Salambrug, ook bekend as die Mubarak-vredesbrug of selfs die Vriendskapsbrug, waar jy na sowat 112 kilometer, verbyvaar.

Die brug se afmetings is allesbehalwe te versmaai. Vir ‘n deurgangshoogte van  70 m vereis ‘n hoogte van 154 m en ‘n totale lengte van 3 900 m. Die brug is in 2001 voltooi met geld wat hoofsaaklik van die Japanse regering kom   Soos ons daar verby is, was Afrika regs en Eurasië links.  Op die oomblik is dit ‘n nuttelose, duur wit olifant! Die brug is weens veiligheidsredes deur Egipte gesluit.

Wat ek gemis het, was vir eers die een of ander gedenkteken aan seker die Suez se donkerste ure, in die Sesdaagse oorlog tussen Egipte en Israel in 1967 toe die kanaal deur gekelderde skepe blokkeer en met onontplofte ammunisie besaai is. Vyftien skepe langer as agt jaar is in die gebied van die “Bittermere” vasgekeer en skeepsverkeer tussen Europa en Asië het tot stilstand geruk.  Daardie skepe is deur die woestynsand so verrinneweer dat dit die naam “geel vloot” verwerf het. Net twee van die 15 was ná agt jaar nog seevaardig.

KONING VAN KWINKSLAE IS 80

Ollie (links) en HvD (regs) aan Die Volksblad se subtafel in die jare 60 . Wat 'n staatmaker was hy in daardie stoel nie!

Ollie (links) en HvD (regs) aan Die Volksblad se subtafel in die jare 60 . Wat ‘n staatmaker was hy nie in daardie stoel nie!

O liewe magtig, o allakragtig,  die Koning van Kwinkslae is  more tagtig!  Hartlik geluk, Ollie Olwagen, of Goëthe Olwagen , as ‘n mens nou formeel wil raak.

Olllie bereik more, 6 Junie, die magiese syfer waarvan Die Bybel so ‘n mooi woord spreek as hy die ouderdom onder loep neem.

 Ek het Ollie in die 50’s as sub by Die Volksblad leer ken. Hy was verstrooid maar briljant – ‘n kopskrywer (skrywer van opskrifte) soos ek nie weer na hom gesien het nie . Later by Huisgenoot is hy  met Naspers se Piet Cillié-prys vir kreatiwiteit vereer.  Hy was waarskynlik die kreatiefste Nasperser van sy era en het daardie prys  – ook groter erkenning – deur en deur verdien.

‘n Keer by Die Volksblad was op bladsy een vir absoluut net ‘n kort eenreëlkop plek vir ‘n stoepberiggie op die voorblad oor die prima ballerina Margot Fonteyn, wat ná ‘n opvoering onder die blomme toegegooi is. Ollie se skepping: “‘n Blom-Fonteyn”.

Moshe Dayan, die bekende Israelse politikus met ‘n oogklap, was lief vir oudhede. Bo ‘n artikel oor daardie voorliefde in Huisgenoot was Ollie se kop: “Moshe het ‘n oog vir oudhede”. Ene L Otto wen die Lotto. Ollie se kop: “Van K…erkmuis tot L…otto”.

Niemand kon in sy loopbaan by hom kers vashou as dit kom om met woorde te speel nie.  Ollie was inderdaad iemand met ‘n kop vir koppe … of, soos ‘n ander kollega dit gestel het, iemand wat sonder veel kopkrap goeie koppe kon skryf. Niemand kan steeds by hom kers vashou as hy op Facebook sy slimmighede uitstort en sy woordvaardigheid vertoon nie

Hy is die vader van Mieliestronk op CD –Rom – die so onontbeerlike hulp met skooltake wat derduidende kinders (en grootmense!) seker al moes geraadpleeg het. Hy is ook die vader van vele blokraaisels wat in SA publikasies verskyn.

Sy jongste missie is om wikipedias van senior oud-kollegas op die internet te plaas. Gaan kyk gerus na Ton Vosloo se wikipedia. Mooier kan daar nie wees nie.

Want daar is net een Ollie Olwagen. Punt.

OM “KLIPPIES” TE KOU

Spesiale prys!

Spesiale prys!

Prysenswaardig hoe “Suid-Afrikaans” die MSC Musica in sy eerste (en enigste) seisoen hier te lande vinnig geword het.   Die sprankelende Maria Tabada van Kroasië groet vriendelik in Afrikaans by die navraagtoonbank: “Goeie môre. Hoe gaan dit?”  In die informele eetplek Il Giardino bemark ‘n Italiaanse kelner geesdrigtig sy ware: “Lekker, lekker.  Ons gaan nou braai.  Baie lekker sangria.“

Op die wynlys was (totdat die bekostigbaarstes teen 15 Mei opgeraak het) J.C. le Roux, Roodeberg, Zonnebloem, Spier, Durbanville Hills, Zevenwacht, Douglas Green en andere; selfs die ou staatmaker Drostdyhof se Claret Select – teen $9 ‘n bottel loshande die goedkoopste wyn op die skip!  Bierdrinkers kon kies tusen Castle, Amstel, Windhoek en Heineken, later teen 20% afslag.  Klipdrift was, as spesiale aanbieding, teen $37,95 ‘n bottel beskikbaar – seker nie te erg as jy met Euro’s reis  – of soos hulle dit noem: oi-rous – nie, maar wat ‘n rand-en-sent-man nogal laar klippe kou!

Ook die Coca-Cola, Sprite en ander bygooigoedjies is in Suid-Afrika verpak.

In die informele eetplekke was produkte van Huletts, Clover, Heinz, Nescafè en dies meer. Op die spyskaart in die formle eetsale, die L’Oleandre en die Belle Epoque, was een aand onder meer “Frikkadels”, “Cape-Malay spiced salmon”, “Old Cape denningvleis” en “melktert”. Die denningvleis was nie soos ek dit by “Geelbek” in die Nasionale Weskuspark leer ken het nie, en die melktert wat ek vol bravade by my tafelgenote aanbeveel het, is aanvanklik met ‘n ander nagereg verwar.  Gelukkig was daar Suid-Afrikaners …

Daardie tafel bied ‘n tema op sy eie. Voor die die vaart het ek taamlik wyd op Facebook en elders Afrikaanse tafelmaats probeer werf. Sonder welslae. Uiteindelik was aan tafel 549 die volgende agt: Darren en Liesl Scraggs van Queensland, Australië; Russ en Pat Mason van Freeville, New York; Chris en Catherine Wakefield van Wiltshire, Engeland, en die Van Deventers van Melkbosstrand – die Verenigde Nasies in aksie.  Ons kelner was boonop Henri, ‘n raakvatter uit Madagaskar.

Darren en Liesl was voordansers. Hulle het elke liewe dansles bygewoon: mambo, bachato, cha-cha-cha, tarantella, tango, polka  – noem maar op. Vir een les – wat werklik deur impi’s uit Suid-Afrika aangebied is – het hulle neus opgetrek :  die Zoeloedans.

Pat wat presies soos die rooikop-aktrise Carol Burnett lyk en praat, het my verseker sy en Russ is nie verwant aan een van my Amerikaanse gunsteling-speurders, Perry Mason, nie. Ai tog, ‘n mens moet darem ook nie te veel verwag nie.

Ons was ‘n vrolike, joviale tafel. Om 25 aande net Engels te praat – in soveel variasies en aksente – kan egter veeleisend raak. Soms moes jy maar net dom saam glimlag. Watter verligting was dit dan nie as ek en Tokkie later ons onderlinge verskilletjies in kajuit 8102 in Afrikaans kon besleg nie!

HENNIE, ALIAS GARRY

Cappucinno met die Cornells.

Cappucinno met die Cornells.

Waar die Adriatiese kus van Montenegro en Kroasië ons voete op MSC Musica se vaart na Europa met sy natuurskoon onder ons uitgeslaan het, het die weldaad van twee wildvreemde Britte dit met hul ruimhartigheid gedoen.  Ons het langs die swembad, een van drie, oor ‘n koppie tee met die twee, Garry en Christine Cornell van Hayling Island, Hampshire, aan die gesels geraak. Ek bekla toe my lot oor ‘n selfoon wat ondanks voorsorg en die beloftes van die diensverskaffer geen sein wou optel nie.

Ek bemerk Garry loer vir Christine en Christine loer vir Garry. Die volgende oomblik verras die twee my met hul gulle aanbod.  ‘n Internetdiens is deel van hul toerpakket maar hulle gebruik dit nie. Ek kan dit met plesier kry as ek wil. Vinnig-vinnig is die MSCMusicahotspot gevind en verbind. Van daardie oomblik is my alias Garry Cornell. Skakel ek die rekenaar aan, groet Google my met ‘n “Hello, Hennie”.  Gaan ek na die Musica-toep is dit: “Hello, Garry”.

Hoop nie enige bedrog of verwante misdryf is gepleeg nie, maar glo darem nie so nie. Garry het immers vir die diens betaal. Die uwe het net die toestel verskaf – uit die goedheid van sy hart! Later stel ons vas dit is die dag, Donderdag 2 Mei,  Christine se verjaardag. Aan wyn sit die twee Cornells nie hul monde nie, maar ons het die verjaardag darem met sterk Italiaanse cappucinno gevier. Vir haar volgende verjaardag gaan ek vir haar ’n eksemplaar van ‘n beoogde reisboekie  Hampshire toe pos met ‘n vertaling van die relevante paragrawe. “Watch your mail box, Christine!”

Cappucinno met die Cornells het ‘n instelling geword.  Gewoonlik is dit die een wat verjaar wat die geskenk kry. Die ander kry koffie en koek. Hier het dit net mooi andersom gewerk – tot ewigdurende voordeel vir die ontvanger se lewenslange sug na kommunikasie met die buitewệreld.  Hoop Christine sal die Bybelse woord oorvloedig beleef dat dit beter is om te gee as om te ontvang!

Met die leer ken van mekaar hoor ek die storie dat Garry se Amerikaanse oupa se broer (of een) ‘n Amerikaanse slaaf was in diens van die beroemde Amerikaanse sirkusmaatskappy Barnums. Hy het teen elke moontlike teenstander geboks. Die van Cornell het hy sommer by die Amerikaanse universiteit met die naam gegaps.   Op ‘n besoek aan Londen het hy Barnums se stof van sy voete geskud en ‘n gedekoreerde Britse weermagheld geword. Sy storie word nou verfilm. My alias is nie van hier nie!

RAPPORT SIEN DIE LIG

Die Sondagkoerant “Rapport” se “mea culpa” aan sy lesers wat mislei is, die familie van die ontslape oud-minister Magnus Malan en oud-minister Barend du Plessis oor sy hantering van die beklaenswaardige Bird Island-boek en die nare versinsels oor ‘n georganiseerde gevroetel met bruin seuntjies, verteenwoordig ‘n waterskeidingsoomblik sonder weerga in die treurige sage tot dusver.  In die mediageskiedenis is so ‘n openbare boetedoening in ‘n koerant se hoofartikel uiters seldsaam.

Na agt maande is die Groot Leuen wat die oud-polisieman wat misdadiger geword het, Mark Minnie, en die oud-joernalis  Chris Steyn deur daardie skuldbelydenis en onvoorwaardelike apologie nou grootliks ter ruste gelê. Omtrent net die uitgewer, Tafelberg, en die oorlewende skrywer, Chris Steyn,  volhard in hul verdediging van die onverdedigbare boek.   Die waarheid haal hulle egter vinnig in.

Uit my binnekennis as koerantredakteur van die mense, die stelsels en die waardes van my era was die aansprake in die boek vir my oombliklik verregaande, absurd en verwerplik. Daarby het ek waarde geheg aan betekenisvolle verklarings soos dié van genl. Constand Viljoen namens die generaals – ‘n stuk getuienis wat deur dese en gene se oorhaastigheid om ou “apartheidsministers” by te kom, tot hul eie nadeel nie na waarde geskat is nie.  So is vingers sleg verbrand.

Rapport het op Sondag 4 Augustus 2018 verskyn met die banier-opskrif op sy voorblad: “Magnus Malan was ‘n pedofiel”.  Op Vrydag 10 Augustus was my eerste brief oor die onderwerp in die drie Afrikaanse dagblaaie onder die opskrif: “Sulke beswaddering is betreurenswaardig.”  Daarna het verskeie briewe uit my pen gevolg, o.m.  “Mnr. X het heelwat vrae om te beantwoord”,   “Waar staan die Bird Island-ondersoek nou?” ,   “Vyf spykers in ‘Bird Island’ se doodkis”,  en “O gits, kyk nou wat gebeur met Bird Island”.

Uit die geweldige reaksie sedert Sondag van mense oor die hele spektrum – veral van die betrokkenes en hul naastes, uit Weermag-geledere en uit die geledere van ‘n vorige geslag Naspersers – blyk waardering vir daardie briewe en hul rol  – hoe klein of groot ookal – in die finale diskreditering van Minnie en Steyn se boek. Vir my as oud-redakteur wat op die nastrewing van die waarheid en geregtigheid ‘n hoë premie plaas, was dit ‘n gewetensaak.  My eie reaksie is dat ek goed voel oor wat bereik is.

‘n Diepe dankbaarheid word ervaar dat ek op 78 nog gegun is om my beskeie deeltjie by te dra. Rapport verdien darem ook ‘n kloppie op die skouer vir sy eerlikheid en grootmoedigheid.

Ondanks al die onvriendelike, beledigende en selfs verguisende opmerkings wat oor die afgelope agt maande uit oningeligte oorde teen my opgestapel is, weerhou ek my daarvan om te kraai.  Soos Winston Churchill, volstaan ek maar met die woorde: “I have not always been wrong”.

Baie van die reaksie was in die vorm van private telefoonoproepe en e-posse. Ek beskou dit as persoonlik en vertroulik.  Ander was in die ope op Facebook en ander webbladsye. Daaruit herhaal ek graag ‘n verteenwoordigende seleksie omdat dit lig werp op wat eerbare mense dink.   Die kommentare word geredigeer om embarasserende persoonlike opmerkings ietwat te verdoesel of liefs weg te laat.

As lesers van die blog die versameling nietemin negatief as teken van ‘n gebrek aan nederigheid beoordeel, sal dit my spyt. Vir diegene vra ek by voorbaat om verskoning.

Klaar gepraat. Van hier af stel ek dan ‘n paar ander mense aan die woord:

Barend du Plessis: Ek beleef dit as een van die mooiste dinge wat ek in my lewe kon ervaar. Baie dankie.

Genl. Gert Opperman:  Jy was deurgaans ‘n steunpilaar; ek salueer jou, persoonlik en namens die Malan-familie!

Frans du Randt: Van meet af het jy sterk standpunt teen die gewraakte boek ingeneem. Talle van my ex-militêre kollegas en ek het groot waardering vir jou volgehoue standpunt teen die besoedeling van ‘n persoon se nalatenskap vir wie ons baie respek gehad het.

Inus Aucamp Hennie ook n warm klop op die skouer van my. Omdat ek Magnus goed geken en steeds in noue kontak met Barend is, het die sage my ook erg ontstel.Min dinge kan so vernietigend vir iemand se beeld wees. Dankie vir jou vreeslose optrede.Dalk n onredelike gedagte – moes die redakteur nie oorweeg het om te bedank nie ?

Guy Robertson: Baie geluk oud-persman Hennie van Deventer vir jou volgehoue druk en aandrang op op die waarheid en verantwoordelike joernalistieke beriggewing oor Bird-eiland. Hou aan met skryf, Hennie – solank jy kan sien. Tula Bula.

Tom Moodie: Dankie vir wat jy gedoen het en geluk met n netjiese brief Sondag in Rapport. Maar wat nou van Tafelberg Uitgewers? Gaan hulle skotvry kom.? In die finale instansie staan hulle tog Pa vir die korrektheid van die feite in die boek. Gaan hulle die ‘ lastereise’ optel?

Faan Hancke: Ware koerantmant in murg en been. Help om die pilare van die demokrasie regop te hou. Welgedaan!

Theresa Papenfus:  Wonderlike brief. Baie dankie Hennie! Wat jy gedoen het, was inderdaad dapper. En reg, uiteraard. Mens is skoon verlig.

Marius Britz:  Amper lus om te sê: Oom Hennie was toe al die tyd reg, al het sommiges hom verguis! Dit wys mens dat daar geen plaasvervanger vir ervaring en joernalistieke vernuf is nie!

Erdee van Huyssteen: Ja Hennie daar is nie n plaasvervanger vir deurdagte insig nie. Komplimente aan jou.

Kammie Strydom:  Mooi Hennie, ek glo aan die Nederlandse gesegde: ” die leuen hardloop snel , maar die waarheid agterhaal hom wel.”

Peet Simonis: Mense wat geregtigheid en waarheid wil verhef is jou baie dank verskuldig dat jy die lig bly fokus het op die beswaddering wat met Bird Island gepleeg is. Iemand moes die groter wordende hoop getuienis oor die drie manne se onskuld aan die groot klok bly hang en jy het daardie taak op jou geneem. As een van jou oud kollegas bedank ek jou daarvoor – jy laat ons skoner voel oor ons beroep wat deur die publikasie laagtepunt van Bird Island bevuil is.

Ollie Olwagen: Jy het mos van die begin af al die pot akkies ‘n myl ver geruik, Hennie, maar daar was ‘n paar baie slimmes op jou Facebook-blad wat erg “kwaad” was dat ‘n mens die boek kritiseer “sonder om dit eers te lees” (asof dit ‘n mens sou oortuig om die duidelik herkenbare stuk drek te glo). Ek wonder wat sê hulle nou.

Ten slotte: Soos Ollie kan ek ook maar net wonder.  Deur sekere mense word sedert Sondag in alle tale geswyg.