Apr 11, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Op die foto is prof. De Lange saam met lede van ‘n AB-afvaardiging voor Fort Namutoni in die ou Suidwes, voor onafhanklikheid. Van links is Chris Fismer, Piet Steyn, Peter de Lange en Johan Steenkamp. Die foto is in 1989 geneem. Die uwe was die fotograaf.
Groot van postuur was hy nie; maar ruim van gees en met ‘n geniale verstand. Sy nalatenskap was enorm. In die soeke na ‘n nuwe lotsbestemming vir die Afrikaner was hy in die jare 80 die voorklimmer teen ‘n steil berg wat plek-plek amper onbegaanbaar wou lyk. Met idealisme, dodelike logika en onwrikbaarheid het hy sy mede-Afrikaners in daardie invloedryke organisasie saam boontoe getrek.
Ek bring hulde aan prof. Pieter de Lange,oud-voorsitter van die Afrikaner-Broederbond, wat op 93 oorlede is. Hy was in die algemeen ‘n oopkop-Afrikaner; ‘n toegewyde onderwysman; ‘n uiters toeganklike akademikus en ‘n minsame mens, soos Gustaf Pienaar op my FB-blad tereg uitwys.
Van die RAU was hy ‘n skitterende rektor. Ek onthou hom ook as direksielid van die Nasionale Pers, altyd beredeneerd met fyn formulerings. Vergeet nie sy rol as voorsitter van die De Lange-kommissie van ondersoek na die onderwys nie.
Dit is egter as voorsitter van die AB wat ek hom die beste leer ken het danksy my voorreg om twee termyne onder sy uitnemende en besielende voorsitterskap in die uitvoerende raad van die AB te dien.
Sy woorde kom by my op: “Die grootste risiko (vir die Afrikaner) is om geen risiko te neem nie.” Die betekenisvolle woorde is meermale geuiter by vergaderings van die uitvoerende raad, waar uitdagender, prikkelender en stimulerender oor die Afrikaner se toekomsbestemming gedink, gepraat en geredeneer is as op enige ander plek.
Ek onthou ook sy woorde: “Die AB tree uit die skadu in die lig”. Dit was in Desember 1993 toe die invloedryke organisasie onder sy leiding die ou kleed van vertroulikheid laat vaar het om verder in die ope te opereer. Dit was ‘n onvermydelike stap. Die ou vertroulikheidsaard van die AB was in ‘n nuwe era van deursigtheid ‘n anachronisme.
Met verkneukeling onthou ek die beroering in ver-regse geledere in 1989 nadat berig is dat prof. de Lange ‘n konferensie in Sussex saam met ‘n hoë Russiese amptenaar, Joeri Joekalof, bygewoon het. Chester Crocker van die VSA was o.a. ook daar. Ek was as koerantredakteur na daardie konferensie genooi, en in sommige berigte is my teenwoordigheid ook vermeld.
Hoe sensitief sake toe was, blyk uit die briewe wat ontvang is. Wat was ons mandaat? Waaroor is onderhandel?
Ek kon in volslae eerlikheid antwoord dat van “onderhandelings” geen sprake bestaan het nie. Namens wie sou ons in elk geval kon “onderhandel” en waaroor? Dit was eenvoudig ‘n ope gesprek om ‘n ronde tafel, waarin die deelnemers niemand anders verteenwoordig het as hulleself nie. Ons was daar in ons professionele hoedanighede. Die nut van sulke byeenkomste is dat ‘n mens eerstehands verneem wat ander rolspelers dink, en dat jy jou eie standpunte teenoor hulle kan verdedig. Die Rooi spook het gelukkig gou rus gevind!
In Oktober 1989 is ‘n AB-groep onder leiding van prof. De Lange na Suidwes (nou Namibie) gestuur vir ‘n insiggewende inligtingsbesoek. Ons het vergaderings bygewoon onder meer in Oshakati en Khomasdal. Ons was by die Administrateur-generaal, by die Gebiedsmag, by Swapol, ons is toegespreek deur politici, leraars en kultuurleiers.
Wat van daardie klandestiene besoekie nie openbare kennis geword het nie, genadiglik, is dat die groepie, wat prominente jong Nasionale LV’s ingesluit het, met hul aankoms deur hul gashere op die lughawetjie by Namutoni vergeet is. Hulle moes toe maar voetslaan kamp toe – leeuwệreld ofte nie. Gelukkig was die leeus daardie middag elders geokkupeerd, verveeld of aan die slaap, en was dit nie nodig om agterna ‘n veruideliking vir die avontuurtjie vir enigiemand uit te dink nie!
Ai, die land raak vinnig armer aan die groot geeste van die era waarin ek bevoorreg was om te lewe.
(Ek het hom as Peter de Lange geken. Wikipedia gee egter sy name aan as Jan Pieter.)
Mar 30, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In matriek op Volkies in 1957 was Paul Gallico se klassieke werk “The Snow Goose” ‘n geliefde voorgeskrewe boek. Dit was ‘n inspirasie; ek het selfs ‘n gedig oor die hartroerende boekie geskryf.
In die eindeksamen kon ek my gedig neerpen in antwoord op die vraag: ‘Tell the story of The Snow Goose in your own words.’ Onderskeiding gekry.
Vanoggend daaraan herinner toe ek in Die Burger lees ‘n dramatise verwerking van “The Snow Goose” kom in die herfs in die Fugard-teater in Kaapstad op die planke. Ek het dadelik ‘n almanak nadergetrek om na moontlike datums te kyk.
My gedig oor “The Snow Goose” het ongelukkig heelparty gebreke. Ek sou nie ‘n “poet laureate” kon word nie, maar vir wat dit werd is, hier’s hy:
White were the sails in the moonlight
Of the small boat afloat in the bay,
And furious flames licked to heaven
And smoke clouds wandered away.
But a white bird came flying and honking
Through the darkening mist in the sky,
On the brink of destruction it hovered
With a queer sense of fear in its cry.
The boat had a ghostly appearance:
Its sails were withered and torn,
And the man at the tiller was shouting,
And the white bird was blowing its horn.
The man was a hunchback and ugly;
His hands bent at the wrist, like a claw;
But his face had a glow of excitement
As only love for the hunted could draw.
He saved several hundreds of soldiers
And sailed, with the snow goose above,
Back to the lighthouse at Aelder
And to Fritha, the girl of his love.
An officer found him abandoned,
A bird was perching the rail;
The hunchback was badly machine gunned,
To return to his love he did fail.
Gaan lees gerus The Snow Goose – of lees dit weer ‘n keer. Dis net 55 bladsye. Gaan woon ook die opvoering in die Fugard by. Ek wed jou dit gaan jou laat goed voel.
Mar 22, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Eskom se ellendes is geen grap nie. Hoe af dan vir diegene wat met ‘n slim stukkie spot, ‘n kwinkslag of humoristiese kommentaartjie die gemoed ietwat verlig.
Dit sluit die spotprenttekenaars in, soos Zapiro en Beeld se Niel van Vuuren.
Beurtkrag Fase 4 (en die gevaar van nog erger aanslae van die duisternis) herinner die uwe aan ‘n storie van vele jaar gelede oor wat die Engelse as “hel op aarde” beskou. Dis glo ’n plek waar:
Italianers die soldate is;
Duitsers die polisie;
Belge die popsangers;
Swede die komediante;
Grieke die regering vorm;
Spanjaarde die spoorwee bedryf;
Skotte die kroegmanne is;
Die spraaksame Iere die politici is,
En Nederlands die amptelike taal is.
Daardie storie is natuurlik lankal verlede tyd. Meen, die Spaanse spoorwee loop darem stukke beter as Prasa se gesukkel, of hoe?
Nou met Eskom se dinge kan ons by die ou grappie seke rook sonder skroom ‘n nuwe kategorie van “hel op aarde” voeg: ‘n Plek waar die Suid-Afrikaners (lees ANC-kaders) die elektrisiteit moet verskaf.
Ek glo ook nie dat die berugte Grieke juis by die nimlike kaders kan kers vashou om ‘n land ferplie op te foeter nie!
Mar 14, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Op die storie van die hond – ‘n Engelse bulhond, maaindjoe, nie ‘n boerboel nie – wat ‘n mooi jong vrou in Kaaptad op ‘n denbeeldige pad tussen Johannesburg en Kaapstad “in die omgewing van Richmond” gebyt het, kan ek na ‘n diepte-ondersoek meer lig werp. Terselfdertyd kan ek spog met nuutverworwe regskennis oor die wetlike gevolge van honde-aggressie, ongeag die anatomiese geografie van die bytplek.
Die Richmond-storie kom oorspronklik van ‘n vriendin van Tokkie, Una Beukman, Ek het dit op Facebook gedeel, en dit het heelwat reaksie uitgelok, veral ander plekname vir die bytplek, soos Noupoort, en ‘n paar ander wat ter wille van sensitiewe lesers liefs verswyg word.
Die skerpsinnige verduideliking van die naam Richmond vir die plek waar die bulhond sy tande ingeslaan het, word toegeskryf aan buurman, adv. Kosie Olivier. Die agtergrond van die 1989-hofsaak kry ek van sy seun, Johan, boer van Victoria-Wes. Dit is opgeteken in die humorboekie “Corresponding” met die “law” deur oud-landdros Wessel Marais.
Die feite van die saak is korliks dat die eiser en die verweerder in dieselfde luukse-woonstelgebou in Clifton gewoon het. ‘n Hartlike verhouding het later versuur. Op ‘n dag los Daisy, die bulhond van die inwoner van die dakwoonstel, ‘n onwelkome visitekaartjie reg voor die deur van die buurvrou in die woonstel onder haar. Die dame stoom verergd boontoe en eis dat die gemors dadelik opgeruim word.
Na ‘n halfuur le die steen des aanstoots egter steeds onaangeraak voor haar deur. Sy stoom nog meer verwoed as tevore weer boontoe en pluk ‘n kombers van Daisy se rustende ounooi “af”. Haar hond wat rustig voor die katel le en snork het, word gewek en gryp die aggressor, erg gesteurd deur die onvriendelike daad, met haar slagtande reg van voor op daardie strategiese sagte pekkie.
Buiten dat dit vrek seer was en sy mediese behandeling vir die beskadigde sagte weefsel moes ontvang, was seks haar geruime tyd “nie beskore nie,” soos die landdros dit galant stel. Sy maak toe ‘n siviele saak – en verloor dit in die Kaapse siviele hof. Hier kom my nuutverworwe regskennis in.
Dit bly skadevergoeding wat deur ‘n troeteldier veroorsaak is, kan wel in bepaalde omstandighede van jou verhaal word deur die actio de pauperie. Die verweerder sal aanspreeklik wees vir skadevergoeding indien die klaer suksesvol kan bewys dat: hy/sy die eienaar van die dier was ten tye van die besering; die dier ‘n huisdier is; die dier strydig strydig met die natuurlike aard van ‘n huisdier opgetree het ( die naturem sui generis); en die dier se optrede die klaer se skade veroorsaak het.
Die landdros het in hierdie geval bevind dat Daisy maar net opgetree het soos wat ‘n mens verwag Engelse bulhonde in sulke uittartende omstandighede sal optree – dws naturem sui generis. Daar trek die veronregte dame se saak toe by die venster uit – ‘n klassieke geval van sout in die wonde vryf, as jy my vra.
Die lnddros spreek in sy boek sy verwondering uit dat die bulhond haar plat snoet juis daar so diep kon inslaan om soveel skade te veroorsaak. Op my beurt wonder ek, as dit nie buite orde is nie, hoe lank dit geduur het voordat die beskadigde pad deur Richmond weer oop was vir verkeer!
Mar 9, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die egpaar Diesderichs, Nic en Marga, by ‘n huisdinee van my Tukkiekoshuis, Kollegetehuis, in 1961. Hy he tdie aand ‘n borsbeeld van pres. CR Swart onthul.
Tant Sina Roux, my skoonma se suster, was die robuuste lid van die familie – onder andere die eerste vrou wat op Bultfontein gewaag het om ‘n langbroek (nogal ene met ‘n gulp!) aan te trek en ‘n “rooilissie” wat in die Tweede Wereldoorlog weermagvragmotors bestuur het.
Sy het in ‘n stadium man-alleen geboer en in ander stadiums “perde gespeel” of as heeltydse hengelaar by Umkomaas ‘n lewendige vishandel bedryf. As tronkbewaarder het sy van Suid-Afrika se gevaarlikste vroulike misdadigers opgepas, soos die gifmoordenares Daisy de Melker. Sy was ook aan die stuur van die Sentrale Gevangenis in Pretoria se wasafdeling.
Dit is in laasgenoemde hoedanigheid dat sy my die wasdag-geheimpie van presidentsvrou Marga Diederichs se delikate tee-doilies in die oor gefluister het.
Dr. Nic Diederichs, voorheen minister van finansies, ook bekend as “Mnr. Goud”, was staatspresident van 19 April 1975 tot met sy dood op 21 Augustus 1978. Mev. Marga was bekend as ‘n buitengewoon formidabele, soms taamlik omgekrapte, teenwoordigheid aan die president se sy. Oor haar fyntjiese tee-doilies wat vir vername tee gaste by die staatspresidentwoning, Libertas in Bryntirion, uitgehaal is, was sy uiters begaan.
Die doilies is saam met ander ministeriële wasgoed uit Bryntirion deur vroue in tronkuniforms se hande. Wat die edele dame ontstel het, is haar periodieke verliese aan van die spoggerige lappies. Ondersoek bring toe aan die lig dat dit, helaas. by geleentheid in die dik afvoerpype van die tronk se yslike wastrôe beland. Tant Sina moes dit dan namens haar span ontgeld. Ná vele berispings en roskamme kry Tant Sina ‘n blink ingewing. “Bring julle piepiepotte saam,” word die vroue opdrag gegee.
Van toe af is die doilies apart gewas in die kose van onder die beddens in die tronkselle, sonder verdere risiko – en mev. Marga was tevrede gestel, totaal onbewus van die roete wat die spierwitte, silwerskoon doilies gevolg het tot in die pierings van haar waarderende gaste .
Die doiliestorie kom by my op by die lees van ‘n resensie in die dagblad Die Burger oor die boek “Die eggenotes agter die Afrikaner politieke leiers” deur Ockert Geyser, voorheen geskiedenisprofessor en hoof van die Instituut vir Eietydse Geskiedenis aan die Vrystaatse Universiteit. Die boek het by Naledi verskyn. (Ek sien prof. Ockie skryf van Margo Diederichs maar ek het haar as Marga geken.)
Mev. Maria Malan, tweede eggenote, van dr. D.F. Malan wat in 1948 premier geword (en 31 jaar jonger as wat hy was) kon ook omgekrap raak. Ockie Geyser noem haar, amper eufemisties, “nie ‘n maklik mens nie”. Seker die dat Die Burger ‘n motor vol senior redakteurs so vinnig Groote Schuur toe gestuur het om te gaan ekskuus vra oor ‘n”ligte mistykie” in die koerant ná die egpaar se eerste ampsreis na die buiteland in 1949. Die reis het Parys ingesluit.
Oorsese reise was in die jare 40 nog ver van doodgewoon en die gebruik van koerante was om na elke reis van ‘n bekende oor sy of haar indrukke van die vreemde te gaan voer. Ook mev. Malan is om ‘n onderhoud genader. Sy word toe gevra wat sy van die modes in die modehoofstad Parys gedink het. Mev, Malan se antwoord was saaklik: sy het nie juis na die modes opgelet nie. Sy stel nie eintlik belang in modes nie, want sy het so grootgeword.
‘n Oorywerige subredakteur verander die “grootgeword” in “groot geword” (twee woorde). Die puntenerige hoofsubredakteur lees die geredigeerde berig en plaas toe ook sy stempel daarop. Hy verander die “groot geword” tot “geset geword”. Volgens koerantoorleweringe was die premiersvrou nie geamuseerd nie. Sy het wel darem eindelik die verskoning (plus ‘n duur ruiker) aanvaar.
Die dagblad Die Volksblad, Bloemfonteinse susterskoerant van Die Burger, het op sy beurt ‘n potjie met mev. Mabel Jansen , eggenote van die laaste goewerneur-generaal, dr. E.G. Jansen geloop. Sy had ‘n hekel aan koerantfotograwe wat taks om taks daarin geslaag het om haar met toe oe af te neem. Volgens haar was hulle “onbeholpe”.
Hugo Dreyer, my eerste baas, was nog nuusredakteur, toe op ‘n ampsbesoek aan Bloemfontein na die een of ander swierige sosiale geleentheid weer so ‘n gewraakte foto op sy lessenaar beland. Die stomme man was moedeloos en ongeneë om weer onder die die vlymskerpe tong van die G-G se gade deur te loop.
Hy gee toe die fotograaf opdrag om die foto met sy retoesjeerkwassies te toor. Die koerant verskyn en op die foto is mev. Mabel se oë so groot oop soos diè van ‘n lappop. Maar o wee. Nie lank daarnie nie, hier daag sy onder motorfietsbegeleide in Voortrekkerstraat op. Sy wil ses van daardie pragtige foto’s bestel en sommer die knap fotograaf ook ‘n kloppie op die skouer gee.
Die nuusredakteur het die omvang van sy penarie nie onderskat nie. Hy speel toe vir tyd. “Alte seker, mevrou, laat ek net gou gaan seker maak of die negatief nog beskikbaar is.” Sy was verpletterd toe hy boetvaardig moes rapporteer: “Jammer, mevrou, spyt my om die nus or te dra maar daardie negatief is skoonveld”!
Een van die formidabele vroue van oudsher, mev. Christa van Rensburg, eggenote van Oom Basie van Rensburg. Vrystaatse leier van die NP ‘n paar dekades gelede, het onlangs haar 95ste verjaardag gevier. Wat ‘n dame! Van haar vele bates is ‘n helder verstand, ‘n vonkelende humorsin en ‘n sak vol kostelike anekdotes.
By ‘n Nasionale Party-feesgeleentheid het sy ‘n keer vertel van die grapjas-minister van landbou Hendrik Schoeman wat ná ‘n besoek aan Orania oor sy indrukke uitgevra is. “Daar gaan ook maar bokkerol aan,” was sy antwoord; “die enigste prostituut daar is nog ‘n ‘virgin'”.