Feb 6, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die jare 30 het twee groot polemieke beleef waarin enersyds die kwessie van fatsoenlikheid maar andersyds die beeld van die Afrikaner die tema was. Een was dié oor Stuart Cloete se Turning Wheels. Nog ‘n vuriger een was oor ene Wilfred Saint Mandé se War, wine and woman.
Soos dit later geblyk het, was Mandé ‘n skuilnaam. Agter die naam het ‘n lektor in Frans aan Tukkies geskuil: ene HP Lamont. Hy het hom gewraakte uitsprake laat welgeval soos die volgende: “The Backveld Boer bathes only for baptism, marriage and burial. He has no notion about sanitation and often uses his bedroom as latrine.”
Verder: Die meeste Voortrekkers was “illiterate, Boers, surly and morose. Their favourite pastime was begetting children, both with their wives and their numerous black concubines.”
‘n Verontwaardigde Sannie Broers het hierdie dinge op ‘n kongres van die Suid-Afrikaanse Vouefederasie in 1932 voorgelees. Dadelik het ‘n polemiek in Pretoriase koerante soos Die Volkstem en The Pretoria News losgebars.
My oud-kollega Jaap Steyn deel in die akadademiese joernaal Acta Academica, ‘n publikasie van die Kovsies, mee dat vier jong mans die identiteit van die skrywer uitgesnuffel het. Op Maandag 23 Mei het hulle hom geteer-en-veer en net in sy swembroekie in Pretoria se middestad gelos. Daardie middag was dit hoofberigte. Ook Die Burger in die Kaap het die volgende oggend groot publisiteit aan die voorval gegee.
Op 20 Julie 1932 is N. Trichardt, FCK Jacobsz, SPE Jacobsz en (dr) M Steyn Vorster weens aanranding gevonnis tot 50 pond boete of ses maande in die tronk. Die Burger skryf toe dat die afkeuring van Lamont se skandelike aanvalle op die Voortrekkers op ‘n ander manier kon geskied het, maar ”ons kan ronduit erken dat ons nie graag sal wil sien dat die vier Afrikaners in die tronk moet beland of uit eie sak hofonkoste en boetes moet betaal nie.
“Hul verontwaardiging is verstaanbaar, en hul daad, hoewel nie verstandig nie, is gepleeg teen iemand wat hoegenaamd geen simpatie verdien nie.” Verskeie mense het reeds geld kom aanbied, en Die Burger skryf dat sy lesers seker aan die fondsinsameling sal wil meedoen, “nie noodwendig as teken dat hulle die manier waarop opgetree is, toejuig nie, maar as bewys van die algemene verontwaardiging oor die bekladding van die naam van ons volk.”
Die Burger het op sy voorblad ‘n adres vir bydraes geplaas. Ook CJ Langenhoven het die teer-en-veerders in sy rubriek aan “Stille Waters” verdedig. Op Stellenbosch en die Afrikanerkoffiehuis in die Kaap is ‘n “sjieling”-lys geopen.
Intussen het die UP Lamont ontslaan. In Die Burger is ‘n spotrent van Boonzaier geplas van Lamont wat met sy boek oor die see wegvaar. Die onderskrif het gelui: “Die enigste uitweg vir hom”.
In ‘n hoofartikel het Die Burger dit betreur dat hy nie liewer self bedank en met blydskap vertrek het nie uit ‘n land wie se bevolking so minderwaardig is, na sy geboorteland “alwaar hy nie die smerige afstammelinge van die onbeskaafde Voortrekkers … daagliks om hom heen sal sien nie.”
Feb 4, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n “Vreemde en weersinwekkende beeld van die Voortrekkers … ‘n verhaal van uitgeslape, bygelowige heidens met verrotte sedes, van verbastering, buite-egtelike gemeenskap en sadistiese wreedhede.”
Met hierdie woorde is op die voorblad van Die Burger van Woensdag 27 Desember 1937 kaalvuis losgetrek teen ‘n gewraakte boek, Turning Wheels, deur Stuart Cloete. Dit was sy eerste roman en is gou-gou verbied. Die Burger het ‘n leidende aandeel gehad aan die kampanje vir ‘n verbod.
Met verskyning in 1937 het verskeie Engelse koerante – hier en in Engeland – resensies geplaas waarin die boek aangeprys word. Die Volkstem van Pretoria het gemeen dat Afrikaners die boek met “verwondering” sal lees. “Verwondering” was ‘n sagte woord!
Die Burger het geen resensie-eksemplaar ontvang nie. Op Maandag 22 November 1937 het hy ‘n eksemplaar laat koop. Twee dae later was sy “resensie” (sy woord) op die voorblad. Die opskrifte het van verontwaardiging gegloei: “Ongelooflike beswaddering van Voortrekkers / ‘Geskiedkundige’ roman wat ruime afset geniet / Verwronge skandebeeld in Engeland geprys”
In die “resensie” is gemeen die boek “getuig nie soseer van kwaadwilligheid nie maar van grenselose onkunde”.
In ‘n hoofartikel het die koerant gevra dat die minister van binnelandse sake die boek verbied, en in die volgende dae is ruim publisiteit aan proteste teen Cloete se werk verleen. Die Voortrekkers is ten tyde van die Groot Trek en daarna herhaaldelik deur hul vyande belaster, maar van een ding is hulle nooit beskuldig nie, naamlik sedelike losbandigheid, het Die Burger geskryf.
Op aanbeveling van die sensuurraad het die minister van binnelandse sake, R. Stuttaford, op 8 Desember 1937 die invoer en verpreiding van Cloete se roman verbied. Kollega Jaap Steyn – aan wie ek postuum dank verskuldig is vir baie van hierdie inligting – het gemeen dit is geregverdig om te beweer as Die Burger nie die nuuswaardigheid van die boek ontdek het nie, daar geen polemiek sou gewees het nie.
Die ander Afrikaanse koerante het eers aandag daaraan gee nadat die bom in Die Burger gebars het.
Dekades ná die polemiek het Die Burger weer ‘n kort resensie geplaas by die verskyning van ‘n nuwe druk van Turning Wheels. IL de V(illiers) het geskryf dat die boek ná jare van “ballingskap” en nie minder nie as tien herdrukke in boekwinkels beskikbaar is.
“Ongelukkig is dit maar dieselfde mengsel van brutaliteit en soetsappigheid, selfs banaliteit van Cloete se ander werke – ‘n vervelige vertelling wat ‘n mens laat wonder hoe op aarde kon dit tien herdrukke beleef. Sou dit wees omdat dit in Suid-Afrika verban was?”
Minder as ‘n jaar na Turning Wheels het ‘n omgekeerde storm oor ‘n Voortrekkerboek losgebars – die keer oor Sarah Raal se werk Met die boere in die veld. Aanvanklik het die boek min aandag getrek. Toe plaas die Cape Argus op 5 Augustus 1938 ‘n berig waarin beswaar gemaak is oor haar onthullings van wat in die konsentrasiekampe gebeur het.
‘n Yslike polemiek oor die toestande in die konsentrasiekampe is daarna in die Argus, Die Burger en Die Volksblad en ander koerante gevoer. Die koerante is toegegooi onder briewe en kon later net uittreksels plaas. Wat die briefwisseling in Die Burger aangevuur het, was sy periodieke berigte oor die Argus se briewe onder opskrifte soos “Hoë lof vir Brittanje se martelkampe/ Danspartye en sopkombuise en swembaaie”.
Raal se werk het van 5 Desember 1936 af Saterdae as vervolgreeks in Die Burger verskyn.
- IN 1932 was daar ‘n vroeëre opskudding oor ‘n Voortrekkerboek, War, Wine and Women, deur ene Wilfred Saint Mandé. Daaroor was die vet behoorlik in die vuur. Hou maar die ruimte dop.
Jan 30, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In sy afskeidsrubriek in Rapport roer Waldimar Pelser ‘n sekere geesgenootskap tussen Rapport en NP van Wyk Louw aan. Op Sondag 29 November 1970 is Rapport se eerste hoofartikel byvoorbeeld ingelui met Louw se woorde: “Die vrye meningswisseling is die lug waarsonder ons nie kan lewe nie.”
Meer voorbeelde van sulke vrugbare wisselwerking van denke bestaan – ook met Rapport se een voorganger, Die Beeld. Die verhouding tussen Louw en Schalk Pienaar, eerste redakteur van Die Beeld, het in die 40’s egter bra suur begin.
Oor die rede sou ‘n mens vandag dalk kan glimlag – maar dit was ernstige sake. Pienaar, toe nog by Die Burger, het die betekenis van ‘n Louw-gedig bevraagteken. Die opskrif: “Voortreflike onbegryplikheid”. Louw het hom opgeruk . Hy het “die artikeltjie van die heer Pienaar” as “dom en oningelig” beskou.
Pienaar het in Huisgenoot betoog dat in Afrikaans al hoe meer dinge geskryf word wat hy – wat darem kan oor die weg kom met die Psalms, Shakespeare en Goethe – nie kan verstaan. Hy haal dan Louw se gedig “Spieël en venster in die nag” aan: “Sal ek die klare dodes noem /In hierdie blink en bitter nag /En aan die dun galg van die roem / Ook dié gesig sien lag.”
Hy kon daar “geen woord van wys word nie,” kla hy. “ Die digter – hy is een van ons heel bekendste – was so vriendelik om in die opskrif te verduidelik dat die vers met ‘n spieël, ‘n venster en die nag te doen het. Maar wat, kon ek tot op hede nie agterkom nie.”
Diegene wat “hierdie moderne Afrikaans “ prys, is of vriende van die skrywer of mense “wat alle onbegryplike dinge kuns noem” of wie se “status as kunsindoenas” daarvan afhang dat daar ‘n “standhoudende voorraad onverstaanbare dinge” sal wees waaroor hulle “onverstaanbare menings” kan uitspreek.
Dan vervolg hy: “Ek sou hierdie mense hul vermaak gun as dit onskuldige vermaak was, maar die saak gaan verder.” Dan volg, waarteen Louw die ergste eksepsie geneem het: Dat mense die idee propageer dat “sulke dinge aanprysenswaardig is” en daardeur “‘n mark vir hulleself verwerf”; terselfdertyd dat dinge wat nie so is nie, verwerplik is – en daardeur word “andere se mark bederf.”
Louw het hierdie uitspraak vertolk as sou dit “oneerlike motiewe aan sy literêre werksaamheid toeskryf”.
Huisgenoot het teruggekrabbel: Hy moet erken dat die woorde vatbaar is vir hierdie uitleg, maar dit was nie die bedoeling nie. Die tydskrif betuig ook names Pienaar sy spyt en publiseer ‘n apologie en ‘n kwaai brief van Louw.
Louw skryf: Wanneer Pienaar beweer dat sy optrede geen “onskuldige vermakie” is nie, en insinueer dat dit is om ‘n mark te verseker en “ander se mark te bederf”, word dit “persoonlike bekladding”. (En as hy – Pienaar – nie meen dat dit in die bedoeling van sy woorde lê nie, “begryp hy sy eie Afrikaans net so min as dié van die jonger digters.”)
In ‘n naskrif skryf hy: “Die heer Pienaar se verklaring dat hy alles in die Psalms, Shakespeare en Goethe begryp, was seker glippens – ‘n stukkie optimisme wat hy sal verloor as hy dié werk en dié skrywers ‘n bietjie meer gaan lees.”
Lesersbriewe het ingestroom – en die meeste was dit met Pienaar eens.
Daar was ook ‘n geval dat Pienaar ‘n vroeë digbundel van Louw – watter een het my ontgaan – in ‘n resensie in Die Burger taamlik afgekam het. In literêre kringe is dit as ‘n erge mistasting bejeën.
Tog het wedersydse begrip gegroei, soos Pelser aantoon. Wat bygevoeg kan word, is dat Die Beeld se tweede hoofartikel verskyn het onder die opskrif “Oop gesprek” – natuurlik een van Louw se groot temas.
Betekenisvol is dat Schalk Pienaar hom in 1966 bankvas agter Louw ingewerp het in die storm oor sy omstrede toneelstuk “Die Pluimsaad waai ver”. Louw het opdrag gekry om n stuk te skryf vir die vyfde herdenking van die Republiek op 31 Mei 1966. Dr. Verwoerd het die stuk in sy feesrede heftig gekritiseer omdat daarin nie net hulde aan helde betuig is nie, maar in Afrikanergeledere in die Anglo-Boereoorlog ook verraad en ander swakhede raakgesien is. In die agteropskop, gretig ondersteun uit regse politieke kringe, was Die Transvaler en Die Vaderland op die voorpunt, lees ek in Alex Mouton se biografie oor Schalk Pienaar, Voorloper. In ‘n latere hoofartikel het Pienaar die digter onder sy vlerk geneem en verklaar dat hy verhewe is bo die kleinlike kritiek van verkramptes. Sommige het dit as “boetedoening” vir sy Huisgenoot-artikel beskou.
Van sy kant het Louw – moedeloos oor die peil van noordelike Afrikaanse koerante – voor die verskyning al gemeen die koms van die koerant is “ soos suurstof vir ‘n mens wat in ‘n moeras vasgevang is”. Tussen digter en redateur het mettertyd ‘n kameraderie ontwikkel wat tot oor en weer kuiers oor ‘n glas goeie brandwyn gelei het.
- ‘n Melkbosse vriend, wyle Danie Krynauw, het vertel dat hy Louw ‘n keer gevra het na die betekenis van ‘n gedig wat vir hom duister was. Louw se antwoord: “Mnr. Krynauw, toe ek die gedig geskryf het, het net twee geweet wat dit beteken – die liewe Here en ekself. Nou weet net die liewe Here.”
Jan 29, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Kallie Knoetze figureer nie in die beoogde rolprent oor Gerrie Coetzee nie – dit is die nuus uit die Knoetzekamp. Geen foto nie, niks. Nie eens sy naam word vermeld nie. Die kwade bloed tussen die twee swaargewigte vloei ná dekades steeds volstoom voort, lyk dit.
Oor hul ongemaklikheid met mekaar het albei boksers openhartig gepraat toe ek in 1978 met hulle gesels het vir die rubriek “Onder vier oë” in Beeld – twee maande uit mekaar, eers Kallie, toe Gerrie.
Die bynaam “Gerrie ‘Seer Handjies’ Coetzee” wat Kallie vir Gerrie gegee het, was klaarblyklik by laasgenoemde ‘n teer punt. Ook dat ‘n geveg tussen Gerrie en die legendariese vorige wêreldkampioen “Smokin Joe” Frazier op die nippertjie deur die mat geval het; Kallie het toe wel die kans gekry wat Gerrie moes ontbeer.
Kallie het op sy beurt uitgepak oor die “dinge wat Gerrie aanvang” en wat hom, Kallie, teen die bors stuit. “Kyk laas toe klein Charlie Weir verloor het. Toe moes jy vir Gerrie hoor – dit was net kritiek, kritiek, kritiek.” Dis mos ‘n teken van jaloesie. “Ek is anders. Ek gun elke mens sy sukses. As ‘n ander bokser voor my ‘n wêreldtitel wen, sal ek sê: ‘Pragtig, pragtig’”.
Met my besoek aan sy Oos-Randse hoewe was Gerrie vier maande laas in die kryt, en gefrustreerd. Hy het uitgesien om in daardie tyd in Suid-Afrika teen Frazier te boks. Toe dit deur die mat val, kom die nuus dat Kallie wel ‘n geveg teen Frazier gaan kry. Dit het hom “siek” laat voel. Hy is lus om te sê Kallie het hom “onderkruip”. As Kallie verloor “gaan ek dalk partytjie hou”.
Maar só suur was hy darem nie dat hy ‘n aanbod wou aanvaar om Frazier vir die geveg te help voorberei nie? “Nee,” het Gerrie geantwoord, al hy ken Kallie se swakplekke soos ‘n boek, sou dit darem te erg gewees het om dit aan Frazier te gaan uitlap. Dit sou hom laat voel hy is nie “die naam Suid-Afrikaner waardig nie.”
Hy nie vir Kallie eerste begin slegsê of afbreek nie, het Gerrie aangevoer. Maar wat Kallie oor hom kwytraak, sal hy nooit kan vergeet nie. Die dinge tussen hulle het ‘n “bodemlose put” geword.
Kallie het “sy bek so vol”, maar as hy vir hom (Gerrie) raakloop, “skrik hy altyd sy wind uit” en groet. Gerrie groet nie terug nie, en sal voortgaan om Kallie te ignoreer. Waarvoor ‘n man groet wat spog hy gaan jou kop van jou lyf slaan? “As hy teen my is, is ek teen hom.”
Hy het Kallie twee keer “goed opgedons”. In twee van hul ses gevegte het hy hom vir die volle telling planke toe gestuur (die ander vier het taamlik gelykop verloop – HvD). Al sou Kallie ook wêrelkampioen word, is hy, Gerrie, eintlik die kampioen. Hy het teen harder manne baklei en gewen.
Die gesprek met Kallie in Pretoria was ‘n week nadat hy die Amerikaner Duane Bobick in die tiende ronde van hul geveg in die Randse stadion met ‘n regter teen die kinnebak aan die slaap gesus het. Bobick is deur die nimlike Frazier afgerig oor wie die onmin tussen hom en Coetzee só hoog gevlam het.
“Ek het sommer voor die geveg al in die arme man se oë gesien hy’t geen vertroue nie,” het Kallie geborrel. “Toe die skare Die Stem sing, het my bors geswel en ek kon sien Bobick skrik hom boeglam vir die trotse Boerseun.”
In die geesfdriftige skare was o.a. Pik Botha, minister van buitelandse sake, wat afgeneem is waar hy hy opgewonde die vuis bal. Dat hy die minister so opgewonde kon maak, het Kallie, die patriot, se bors opnuut laat swel.
“Gerrie, wie’s Gerrie?” wou Kallie weet. “Hy is maar net die SA kampioentjie. Ek is die man wat die skares trek.”
Sy groot ambisie is die wêreldtitel, het hy volgehou. Hy gaan dit syne maak. Vir Suid-Afrika en vir die polisie (hy was voorheen polisieman). ‘n Mens veg vir jou land, dit het hy by daardie groot sport-amsasadeur Gary Player geleer. Bring maar die groot kanonne soos Ali en Ken Norton. Sê vir hulle hulle kan maar vergeet van Gerrie “Seer Handjies” Coetzee. Dis die “Bek van Boomstraat” wat hier op hulle wag. En hy’s honger.
Naskrif: Die “honger” Kallie het dit toe nie gemaak nie; Gerrie wel – dalk tog “against all odds”, soos die titel van die beoogde rolprent gaan wees.
Jan 25, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Sir Div in later jare; op die kruin van sy loopbaan in 1962; as jong soldaat en op die dansbaan in Kaapstad met prinses Elizabeth (huidige monarg) op haar 21ste verjaardag in 1947.
Een van die politieke leiers wat in my persgalerydae in die 60’s die diepste in my hart gekruip het, was – snaaks genoeg vir die verteenwoordiger van ‘n Nasionale koerant – sir De Villiers Graaff, jintelman-leier van die Verenigde Party.
Ek het hom op die krieketveld by Fernwood, die parlementêre sportklub in Nuweland, beter leer ken. Hy was ‘n formidabele paaltjiewagter-kolwer van die parlementêre krieketspan, ondanks ‘n rug wat hom toe al opgekeil het. Ek en twee kollegas in die persgalery, die SAUK se Daan Eksteen en wyle Neville Krige, het jong bloed tot die span bygedra.
“Groot Div” en “Klein Div” het die VP-leier en die Volksblad-man vir ons spanmaats geword toe ons een dag vir ‘n substansiële vennootskappie van so dertig, veertig lopies sorg. Daardie aand was my naam in die Argus Late Sport – die enigste keer in sy lewe dat hierdie middelmatige sportman die sportblad gehaal het!
Sir Div was darem ‘n Oxford Blue (hy was dit ook in boks) en ek ongetwyfeld die junior (dog ratser) vennoot!
My “Div” het moontlik van my van gekom, moontlik van ‘n ooreenkoms in voorkoms, wat sommige glo bemerk het. Of so ‘n ooreenkoms wel bestaan het, is iets waaroor ek my nie sal uitlaat nie. Wat egter baie waar is, is dat “Groot Div” “Klein Div” se guns gewen het deur hom hoflik en bedagsaam te behandel, allerlei geselsies aan te knoop, ligweg oor die politiek te korswel, en buitengewone gasvryheid te betoon.
Ek (en ander pergalery-kollegas) is na sy spogplaas De Grendel aan die Tygerberg genooi; ek is ook by geleentheid sommer spontaan in die wandelgang vir ete in die parlementêre eetkamer gevra. Een Woensdagaand was dit net ons twee aan tafel, en was daar ‘n hele geskarrel om vir ons ‘n oop plekkie te kry. ‘n Tafeltjie is later speiaal ingedra.
In die politiek van destyds was min wat met integriteit, standvastigheid, eerbaarheid, betroubaarheid, waardigheid, beskaafdheid en ordentlikheid by hierdie regsgeleerde, voorste melkboer, teler van kampioen-Friese en veteraan-politikus met sy ouwêreldse standaarde kon kers vashou. Vriend en vyand het hom gerespekteer. ‘n Bewys is die voorwoord deur die destydse staatspresident PW Botha in sy biografie, Sir De Villiers Graaff (Digma, 1990). Hoë agting vir die mens Div Graaff word daarin uitgespreek.
Psalm 15 met sy eise van opregtheid, onberispelike wandel, doen wat reg is, die waarheid praat en jou woord hou, was lewenslank vir hom ‘n rigsnoer.
As student aan die universteite van Kaapstad, Oxford en Leiden was die seun van Bishops ‘n uitblinker op akademiese en sportgebied. Later as soldaat met die rang van kaptein het hy sy land in die Tweede Wêreldoorlog met onderskeiding gedien. Nadat hy in Tobruk gevange geneem is, was hy vir jare in ‘n krygsgevangenekamp waar hy ‘n leiersrol vertolk het. ‘n MBE (Member of the Bitish Empire) is aan hom toegeken.
Met sy terugkeer het die VP hom opgeraap. Hy is in 1948 Volksraad toe en het agt jaar later op ouderdom 43 die oninspirerende adv. JGN Strauss as leier van die party opgevolg.
In die politiek was hy in 21 jaar (1956 tot 1977) leier van die opposisie in die termyne van drie premiers, JG Strydom, HF Verwoerd en BJ Vorster. Ondanks koersvaste leiding het sy party uiteindelik onder hom verkrummel en het die Progressiewe Federale Party (PFP) die amptelike opposisie geword. Die ondergrawery deur jong lede van sy koukus was vir hom ‘n ontnugterende ervaring juis omdat hy soveel prys op lojaliteit gestel het. Hy het die politiek met ‘n sekere mate van geregverdigde verbittering verlaat.
Tot die verbittering het ongetwyfeld bygedra die verbete veldtog in die Sunday Times (redakteur: Ken Owen) dat “Graaff must go” , sonder dat ‘n alternatiewe leier van betekenis aangebied kon word.
Miskien nie onverwags nie was Sir Div my kandidaat toe ‘n nuwe Staatspresident in 1979 gekies moes word. Die mantel het op Marais Viljoen geval. Ek het geglo ‘n geleentheid is verspeel om groter eenheid in die land te bewerkstellig, en dat Graaff in elk geval vanweë sy hoë kwaliteite as mens eer en internasionale aansien na die amp sou bring. Ook sy voorkoms en houding was prima-presidensiëel.
*Sir De Villiers Graaff is op 4/10/1999 oorlede.