VABOND-HOND BYT VROU AAN “RICHMOND”

‘n Engelse bulhond – let op die vabond se kenmerkende plat snoet.

Op ‘n storie van ‘n vabond-hond –  ‘n Engelse bulhond, maaindjoe, nie ‘n boerboel nie  –  wat ‘n mooi jong vrou in Kaaptad op ‘n denkbeeldige pad tussen Johannesburg (haar kop) en Kaapstad (haar voete) “in die omgewing van Richmond” gebyt het, kan ek na ‘n diepte-ondersoek meer lig werp. Terselfdertyd kan ek spog met nuutverworwe regskennis oor die wetlike gevolge van honde-aggressie, ongeag die anatomiese geografie van die bytplek.

Die Richmond-storie kom oorspronklik van ‘n Melkbosse vriendin van Tokkie, Una Beukman, Ek het dit destyds dadelik op my Facebook-blad gedeel – Nagkantoor het nog nie bestaan nie. Die stomme  slagoffer  se pynlike verknorsing het heelwat reaksie uitgelok.  Ander plekname vir die bytplek is sefs onsimpatiek voorgestel – soos Noupoort en ‘n paar ander wat ter wille van sensitiewe lesers èn leseresse)  liefs verswyg word.

Die skerpsinnige verwysing na Richmond vir die plek waar die vabond, Daisy,  haar  tande ingeslaan het, kom van ‘n spitsvondige gewese buurman, wyle adv. Kosie Olivier, ‘n vroeë slagoffer van Covid. Die agtergrond van die 1989-hofsaak oor Daisy se vrypostigheid kry ek van sy seun, Johan, boer van Victoria-Wes. Dit is opgeteken in “Corresponding” met die “law”, ‘n  humorboekie uit die hof  deur oud-landdros Wessel Marais.

Die feite van die saak is korliks dat die eiser en die verweerder in dieselfde luukse-woonstelgebou in Clifton gewoon het. ‘n Hartlike verhouding het aanvanklik geheers, maar is later deur die een en ander versuur. Op ‘n dag los die inwoner van die dakwoonstel se Daisy  ‘n onwelkome visitekaartjie reg voor die deur van die buurvrou in die woonstel onder haar. Die dame vervies haar, stoom verergd boontoe en eis dat die gemors dadelik opgeruim word.

Ná ‘n halfuur lê die steen des aanstoots egter steeds onaangeraak en onwelriekend voor haar deur.  Nog meer verwoed as tevore stoom sy weer boontoe en pluk ‘n kombers van Daisy se rustende ounooi af om haar tot aksie aan te spoor. Daisy wat rustig voor die katel lệ en snork het, word gewek en gryp, erg gesteurd deur die onvriendelike daad, die aggressor met haar slagtande reg van voor op daardie strategiese sagte pekkie: ‘n kolskoot.

Buiten dat dit vrek seer en ‘n diepe verleentheid was en dat sy mediese behandeling vir die beskadigde sagte weefsel moes ontvang, was seks haar geruime tyd “nie beskore nie,” soos die landdros dit galant stel. Sy maak toe ‘n siviele saak (seker darem meer oor eersgenoemde as oor laasgenoemde) – en verloor dit in die Kaapse siviele hof.  Dit is hier waar adv. Kosie in kruisverhoor met sy beroemde Richmond- vergelyking vorendag gekom het om die dame se privaatheid te respekteer.  Dit is ook uit dié verrigtinge waar my nuutverworwe regskennis vandaan kom.

Dit blyk uit regsdokumente skadevergoeding vir pyn en lyding wat deur ‘n troeteldier veroorsaak is, kan wel in bepaalde omstandighede van jou verhaal word deur die actio de pauperie. Waarop dit neerkom, is dat die verweerder aanspreeklik sal wees vir skadevergoeding indien die klaer i. suksesvol kan bewys dat: hy/sy die eienaar van die dier was ten tye van die besering; ii. die dier ‘n huisdier is; iii. die dier strydig strydig met die natuurlike aard van ‘n huisdier opgetree het (die naturem sui generis); en iv. die dier se optrede die klaer se skade veroorsaak het.

In hierdie geval het die landdros bevind dat Daisy maar net opgetree het soos wat ‘n mens verwag Engelse bulhonde in sulke uittartende omstandighede sal optree – dws naturem sui generis. Daar trek die veronregte dame se saak toe by die venster uit – ‘n klassieke geval van sout in die wonde vryf, as jy my vra.

Wessel Marais spreek in sy boek sy verwondering uit dat die bulhond haar plat snoet juis by daardie sensitiewe area so diep kon inslaan om soveel skade te veroorsaak.  Op my beurt wonder ek, as dit nie buite orde is nie, hoe lank dit geduur het voordat die beskadigde pad deur Richmond weer oopgestel kon word vir verkeer!

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

LEEU, MOT OF SPREEU – SO JAG JY HOM

As jy ooit ‘n leeu wil jag, in die dag of in die nag, gooi sout op sy sy stertjie en wag. Die wysheid (?) is by my ingeprent in een van die eerste liedjies wat ek in my prille jeug geleer het doer in die 1940’s.
En as jy ‘n mot wil jag?
Dit, deel C. Louis Leipoldt mee, is ‘n operasie wat tot die nagtelike ure beperk is. Die beste manier om nagmotte beet te kry, is om boomstamme met ‘n mengsel van moskonfyt en ‘n bietjie brandwyn te smeer. Die motte, aangelok deur die reuk, kom die soetigheid suip. Hulle word so hoenderkop dat hulle maklik gevang word, aldus Leipoldt.
So lees ek in die skrywer se Jeugherinneringe, soos opgeteken in JC Kannemeyer se UIt die skatkis van die slampamperman (Tafelberg, 1999). Pas ‘n genotvolle herbesoek gebring.
Om motte met brandwyn uit te oorlê, klink vir hierdie ou nogal na ‘n plan wat deur oud-kollega Piet Theron van Westerbloem in Bloemfontein gesmee kon gewees het. Piet had die probleem van spreeus wat die vye betakel net as hulle mooi ryp raak. Toe kry hy die raad (raat?) om die vrugte met Tabasco te dokter, Dit werk soos ‘n bom.
Toe die eerste spreeu gulsig hap, kom saam met die soet vlesige vrug ‘n skerp brandsmaak in sy mond wat hom kwetterend laat protesteer. “Kom,” gebied hy gesteurd sy manskappe. Hulle gee fladderend pad en kom nie terug na die verradderlike “brandboom” nie.
Naskrif: Die onthou van die liedjie oor die leeujag bring ook ander eerste liedjies in herinnering. Hier’s twee:
Daar’s ‘n apie op ‘n stokkie voor my ma se agterdeur; daar’s ‘n gaatjie in sy broekie en sy stertjie loer daar deur.
En
Tortelduifie koer in die eikeboom, sing die lied van sy lewensdroom, koer tortelduifie koer, koer tortelduifie koer, tortelduifie by die waterstroom.
En skielik is hierdie 81-jarige terug by die Laerskool Diamantveld in Kimberley in die 40’s – op mej. Muller se skoot met my gebreekte arm in standerd een.

“FYN BESKAAF” MAAR TOG

Hoe lank al ly Afrikaans onder die aanslag van die taalverminkers wat jy oral – maar nêrens so geil nie as in die geledere van die “glansmense” en in voorportale (“foyers”) van sekere moderne “kuns”-verskynsels – aantref?
Dat die wortels veel dieper lê as wat ekself en vele ander vermoed, lees ek raak in die volgende AG Visser-versie uit die middel-20’s, dus amper 100 jaar gelede:
‘N JONGE DAME (WESTELIKE PROVINSIE) NÁ 1803
Natuurlik is sy fyn beskaaf
Natuurlik is sy baie gaaf.
Die yarns wat ons ge-spun het!
“Onlangs het ons ‘n play ge-stage,”
Vertel sy: “Dit was so die rage
Dat dit three nights ge-run het.”
En dis regte, egte AG Visser hierdie (naspeurbaar in een van sy bundels), anders as ‘n onsmaaklike kamma-AG Visser vol toilet-“humor” wat op sosiale media in omloop is – skreeusnaaks vir sommige van ons broeders en susters.
Die brabbeltaal van daardie “fyn beskaafde dame” laat my besef hoe sleg ek misgetas het toe ek in 2003 in In Kamera (Protea) “ontdek” het: “Alle is mos nou (my kurivering) cool of stunning of gross. Ons woon shows by. Ons gaan gym toe. Ons het personal trainers. Ons gaan op ‘n diet. Ek freak sommer uit.”
Illustrasie: ‘n TT Cloete-vers waarmee ek my volmondig vereenselwig.

NAT KOL, MODDERKOL

Moenie van ‘n nat kol ‘n modderkol maak nie, waarsku my Tokkievrou gereeld. Ongelukkig het ek in hierdie opsig ‘n swakheidjie: meermale as ek ‘n penarie probeer beredder, slaag ek net daarin om die penarie te verdiep.
Miskien is dit omdat ek uit die koerante-omgewing kom. Arme koerante kan nogal in hierdie opsig kleitrap.
‘n Nuwe storie oor ‘n rampspoedige setfout en hoe onsnaaks dit vir al die betrokkenes was, kom my juis pas ter hand. Dit raak Die Burger en daardie letterkundige kolos NP van Wyk Louw.
Piet Cillié – sedert einde 1935 aan Die Burger verbonde – was vroeg in sy loopbaan, soos hy dit gestel het, “redaksionele sender van boeke aan resensente (‘boekredakteur’ kan ‘n mens dit nie noem nie).
Onbekend met literêre strominge ( hy was in die natuurwetenkappe opgelei) stuur hy in 1938 die Louw-bundel Die Dieper Reg vir resensie aan FCL Bosman – ‘n ongelukkige keuse. Bosman was bra lou oor Van Wyk Louw, ook in sy resensie. Om alles te kroon, het die drukkersduiwel listig ingegryp.
‘n Belangrike sin in Bosman se resensie het in druk gelui: “Twak is veral die openingsvers waarin ‘n “glans soos ‘mis’ styg en ‘n ‘skemering van.stemme …fluister’ tot in die laaste reël ‘smarte hyg’, blykbaar om te rym met ‘styg’”.
Die “twak” moes gewees het “swak” (dit was die nat kol), wat in sigself al erg genoeg was om Louw misnoegd te stem. Oor die “twak” (die modderkol) was hy buite homself. “Geen korreksie by die vroegste geleentheid kan so ‘n katastrofe ongedaan maak nie,” het Cillié geskryf. Die regstelling het daarby onopvallend onder aan kolom 3 van bladsy 2 verskyn. ‘n Tweede modderkol.
Pyn, pyn, pyn.
Die klassieke storie van ‘n nat kol wat ‘n modderkol geword, het ‘n Britse koerant oorgekom wat aan ‘n uitgetrede generaal, met ‘n bors vol dekorasies, paslik hulde wou bring.
Die eerste dag skryf die koerant toe hy was “battle scared”. Die tweede dag, toe die koerant apologie aanteken, berig hy wat eintlik bedoel was, is “bottle scarred”.
Eers die derde dag kry die verlee koerant dit presies reg: “battle scarred”.
Hierdie storie is in my eerste boekie, Scoops en skandes (Tafelberg, 1993), as ‘n voorbeeld van humor in die pers opgeteken. Sulke humor is natuurlik nie altyd so snaaks vir die een wat aan die ontvangkant is nie.
Naskrif: Met die Wit Trein op pad na die noorde, stop Koning George VI – die ou wat so pynlik gehakkel het (sien die fliek The King’s Speech) – in 1947 op Beaufort-Wes. Die Cape Times wil toe ‘n bietjie plaaslike kleur in sy verslag bring, maar ‘n ontbrekende kappie op ‘n “e” laat die stomme koerant in ‘n gat trap. Hy berig, en sy koerant sit dit in die opskrif op die voorblad, dat die skare sy majesteit begroet het met krete van: “Hoere, hoere, hoere vir die koning!”

 

 

HERTOG UIT DIE WOLKBERG

Op sy aftreedorpie Haenertsburg in die Wolkberg by Tzaneen was die skraal gryskop in almal se oë maar net John Murray, ‘n nederige oud-landmeter met ‘n verslete Merc en ‘n Nissanbakkie; die stillerige ou wat soggens straat-af stap om ‘n koerant te koop. Tuis was hy ‘n hegte gesinsman met drie kinders en ‘n mooi vrou wat by haar oggendmark koekies, konfyt en vars produkte verkoop.
In Blair Atholl in Pertshire op die Skotse hooglande was hy ‘n edelman van die hoogste orde. As die 11de Hertog van Atholl van 1996 tot 2012 was hy in status die hoogste adellike in Skotland, goed geplaas om ‘n onafhanklike Skotland se eerste koning te word. Op sy CV sou hy ‘n dosyn ander eretitels kon vermeld – graaf, burggraaf, markies, lord …. Hy was, in Britse rangorde, trouens, net ‘n vlak onder die koningin.
By tradisieryke Skotse plegtighede en parades op die enorme 70 000-hektaar-landgoed van Blair Castle het die Suid-Afrikaner sy kakieklere en ruwe stapskoene vir eeue-oue ampsdrag verruil. Uitgevat in deftige kilts in die tartan van die Murray-stam (clan), met swierige sporran plus al die tossels, wapens, medaljes en ander simboliese bybehore, het hy, onder die geklank van Highland Cathedral en ander tradisionele doedelsakmusiek, ere-ordes aan sy “onderdane” uitgedeel.
Hierdie dubbele lewe van John Murray as doodgewone man in Haenertsburg en adellike in Skotland is in ‘n bondige biografie opgeteken deur ‘n bergklimmaat, die historikus prof. Louis Changuion, ook van Haenertsburg. Die titel is eenvoudig The Duke from Haenertsburg.
Changuion vat die leser deur ‘n ingewikkelde labirint van geslagsregisters en stambome om te wys hoe die vurk in die hef steek en hoekom die hertog-mantel in 1996 juis op John sou val. Dit is ‘n boeiende geskiedenis wat in die 17de eeu sy wortels het. Die komplikasie van sterf sonder ‘n manlike opvolger sou weer
en weer opduik. Sywaartse opvolging het in die prentjie gekom, soms met onverwagse kinkels.
In 1992 is amptelik aangekondig: ‘n Suid-Afrkaner sou sy ongetroude voorganger as Hertog van Atholl opvolg – iemand wat, volgens die koerant The Scotsman “selde ‘n glasie whiskey weggesluk en nooit ‘n kilt besit het nie!” ‘n Mens kan die Skotse verontwaardiging jou goed verbeel!
John Murray was oorweldig. Eers wou hy abdikeer. Toe wou hy sy oudste seun, Bruce voorstoot. Tradisie het hom gefnuik. Die titel was oorerflik en onontwykbaar – soos troonopvolging. Slegs die dood of ‘n misdaad sou hom daarvan kon bevry.
‘n Kompromie is wel bereik. John – toe 62 jaar oud – sou die titel aanvaar, en uit pligsbesef ook die seremoniële verantwoordelikhede wat daarmee saamhang. Hy sou die trotse Atholl Highlanders in stand hou. Trek Skotland toe sou hy egter om die dood nie. Die res van die boedel kon maar in Skotse hande bly, dankie.
Daardie “res” het ongelukkig ‘n reuse-rykdom ingesluit. Weens sy vasskoppery het die obsternate 11de hertog ‘n fabelagtige erporsie van R705 miljoen (miljarde in vandag se terme) verbeur, is in die pers bespiegel. Hy kon een van die rykste mense in Brittanje geword het. Rapport het gemeen dit was “waarskynlik die blaps van die eeu.”
Elke Mei vir die res van sy lewe het John Murray Haenertsburg gegroet en as die Hertog van Atholl in Skotland gaan woon saam met die hertogin. Sy ampsverpligtinge het hy getrou nagekom en met sy natuurlike warme geaardheid, nederigheid, genaakbaarheid en toewyding vele Skotse harte verower.
As grootmeester van die vername internasionale whiskeygilde Keepers of the Quaich het John die goeie Skotse kultuur in al sy vertakkinge leer ken. (Prins Charles en oud-pres. FW de Klerk was twee van die eregaste wat in sy tyd heildronke moes instel – met die allerbeste Skotse watertjies natuurlik!)
Toe hy sterf, is sy laaste wens vervul om in Haenertsburg se vrugbare aarde ingespit te raak. ‘n Kissie met sy as is begrawe in ‘n spesiale hoekie van die kerkhoffie wat hy ná sy aftrede opgemeet en georden het. By Blair Castle het die geweeklaag van doedelsakke vir laas aan die landmeter uit Laeveld eer gebring, en het die vlag van die hertogdom ‘n week lank eerbiediglik halfstok gehang.
· Foto’s van John Murray in albei gedaantes; die kasteel en sy huis in die Wolkberg, asook sy beskeie graf kom uit die boek The Duke from Haenertsburg deur Louis Changuion in samewerking met Charles en Bev. Leach.