Mar 9, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Geld groei nie aan bome nie … ook nie klippe nie.
In Sabiepark is ‘n klip in ‘n boom wat lyk of dit saam met die boom kon gegroei het. Hoe anders verklaar ‘n mens daardie bielie se teenwoordigheid hoog en droog in ‘n mik van ‘n huilboerboon (ai, watter gedugte boom!) drie meter bo die grond?
By al die ander monumente vir wyle Peter Malan in Sabiepark is die klip gewis een van die onverganklikes.
Peter, die fyn jintelman wat jy altyd deur ‘n ring kon trek, boomkenner, gholfspeler en konstruktiewe lid van die Sabiepark-komitee, wat vanoggend oorlede is, het die tamaaie klip jare gelede in Maroelalaan ontdek op een van sy gereelde staptogte kruis en dwars in die park.
Dit weeg maklik 60 kilogram …. en dis net ‘n konserwatiewe raaiskoot. Dalk is dit swaarder, want soortgelyke klippe op die grond kry jy nie geroer nie.
Niemand kon die eienaardige verskynsel ooit vir Peter geloofwaardig verklaar nie. My eie instintiewe teorie was klaarblyklike bog. Dit het ek gou ingesien. Geen sprake kan tog bestaan dat die klip daar neergesit/opgehys is toe die huilboerboon nog jonk en heelwat kleiner was nie.
Watte brose jong takke sou immers daardie gewig kon dra; wat nog te sê van soos ‘n wafferse kampioen-gewigopteller in die lug opstoot?
Die troos is dat ek, volgens Peter, nie al een is wat so klaarblyklik misgetas het oor die oorsprong van daardie klip in die boom nie. Die meeste mense raai maar dit moet die boom self wees wat dit op die een of ander duistere manier gekry het op die plek waar dit nou stewig rus.
Wel, as dit nie die natuur was nie, moet dit mensehande wees. Mense het darem die piramides ook gebou!
Maar wanneer, hoe en waarom?
Iemand gooi ‘n klip in die bos dat die klip drie meter hoog in die huilboerboon dalk met die draai van rieme in ‘n lang vervloë era verband kan hou. Soos ek die prentjies uit my skoolhandboeke onthou, was die klip vir daardie aktiwiteit egter onder aan die riem, nie bo nie.
Of wat praat ek alles?
Mar 7, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Akademikus weet al hoe meer van al hoe minder en minder en ‘n joernalis al hoe minder van al hoe meer en meer. Die wysheid van prof. Piet Cillié by sy eie oorskakeling van die ioernalistiek tot die akademie kom by my op wanneer ek by die herlees van JA Kannemeyer se biografie “Langenhoven – ‘n lewe” (Tafelberg, 1995) tussen ‘n duisternis juweeltjies veral by een besonderlike blinke vassteek.
Die een waarheen ek telkens terugblaai, is ‘n stomende Langenhoven-reaksie op ‘n onvleiende resensie in “Die Burger” deur dr. DB Bosman, lektor in Afrikaans aan die UK, van sy boek “First Guide to Afrikaans” (1926). Die woord-virtuoos se gramskap was tot by kookpunt opjaag.
Langenhoven noem dit ‘n “delirieuse” en ‘n “sotte” resensie en bring hom by een van sy gunsteling-onderwerpe: Suid-Afrikaners wat in Europa ‘n “kontinentale matriek” gaan verwerf en dan terugkeer met ‘n “dokterstietel” (so het hulle nog gespel) wat “op plekke in die buiteland rondlê vir elke geestelike Jan Rap om op te tel”.
Bosman het in 1916 in Gröningen gepromoveer wat hom klaarblyklik en van die “hulle” maak na wie die misnoegde Langenhoven kap as hy skryf:
“In hulle geval is ‘n Hollandse of Duitse dokterstietel niks meer nie as ‘n kontinentale matriek, en nie ‘n hoë matriek nie omdat sy vereistes verkrimp is tot die engste spesialisie van ‘n onderdeel van ‘n ondervak van ‘n onderafdeling van ‘n ondergeskikte onder-onderwerp.
“In die laaste tyd is hierdie doktoratery so bespottelik en niksbeduidend gemaak deur die weelderigheid van uitsaaiery onder al wat kom dat ‘n mens nou, soekende na ‘n nodige bewys van iemand se geestesontwikkeling waar dit nog nie uit ander gegewens blyk nie, verplig is om te begint met ‘n nuwe toets te stel en te verneem na teruggekeerde studente, hoe skaars hulle ook is, wat vernuftig genoeg was om die onderskeiding te verwerf om die dokterstietels mis te loop wat op plekke in die buiteand rondlệ om vir elke geestelike Jan Rap om op te tel.”
Ja-nee, vir die “Akademiese Fariseërs” – sy woorde – had Langenhoven min liefde. Toe hy in 1931 deur die US met die eregraad van Doctor Litterarum honoris causa tot die geledere van die einste “Akademiese Fariseërs” verhef word, is die nuwe doktor Langenhoven nie onverwags nie lekker gespot oor die ingenomenheid waarmee hy hom die “tietel” laat welgeval het.
Mar 3, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Redakteurs vang soms koddige goed aan. Van die koddigste in Suid-Afrika waarvan ek tot vandag geweet het (of onthou het), was die hoog aangeskrewe Harvey Tyson van “The Star” se onwilligheid om tussen ‘n Ja-stem en ‘n Nee-stem te kies in die referendum oor die driekamerparlement in 1983. Hy het kiesers aangeraai om liewer buite stemming te bly.
Op ‘n kennisgewingbord by die koerant het ‘n ondeunde kollega toe ‘n nota opgesit: “The indecision of the editor is final”.
Tertius Myburgh, redakteur van die “Sunday Times”, wat ‘n sterk Ja-man was, het van die kolskoot te hore gekom en heerlik met sy kollega gespot.
Tot met sy dood het die etiket van “indecision is final” aan Tyson vasgekleef.
Tot vandag toe was dit dalk vir my die koddigste. Toe lees ek in JC Kannemeyer se Langenhoven-biografie, “‘n Lewe” (Tafelberg, 1995) van die kleurryke baanbreker in die stryd vir Afrikaans se brief in sy eie koerant, Het Zuid-Westen op Oudsthoorn. Hy was redakteur van 1912 tot 1915. (Het dit gewis voorheen gelees, maar onverklaarbaar vergeet).
Op 19 Januarie 1914 skryf Langehoven in sy eie naam ‘n lang brief wat hy as redakteur in Het Zuid-Westen publiseer. “Dit is moeilik vir ‘n man om ‘n brief aan homself te rig,” so begin hy, “maar ek het nou ‘n meedeling te maak wat niks met mij betrekking als redakteur van hierdie blad te doen het nie; en versoek om dit te plaas alsof dit van enige buite-staande korrespondent kom.”
Die onortodokse “meedeling” kom daarop neer dat die huidige lid van die provinsiale raad nou nie juis waffers is nie en dat hy, die nimlike Langenhoven, nie ongeneë sal wees om hom te vervang nie – as die kiesers so wil. Die geskiedenis is dat Langenhoven eindelik toe onbestrede verkies is.
Die wyse waarop Langenhoven hom as kandidaat verkiesbaar gestel het, was nie alleen “hoogs ongewoon “ nie, maar tot vandag toe “uniek in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika,” bevind Kannemeyer.
Mag ek – sonder vrees vir ernstige teenspraak -byvoeg dat dit sekerlik ook tot vandag toe uniek is in die joernalistieke geskiedenis van Suid-Afrika? ‘n Lesersbrief in jou eie koerant, verbeel jou!
Feb 28, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die KKNK se wiele rol weer ná twee jaar se doogte. Op die propvol program is onder meer Ek, Anna van Wyk met Tinarie van Wyk Loots in die hoofrol en Marthinus Basson as regisseur, lees ek vanoggend in Die Burger.
Mense met lang geheues sal kan terugdink aan die konsternasie met ‘n vorige produksie waarin Loots en Basson saamgespan het. Dit was in 2017. Krit, feeskoerant van die KKNK, het ‘n foto geplaas van ‘n aktrise in ‘n stort en plakkate oral op Oudtshoorn het uitbasuin: “KYK WIE IS KAAL IN DIE STORT!”
Die betrokke produksie was die volbloedkomedie Die koninkryk van die diere (Marthinus Basson se vertaling van die Duitse dramaturg Roland Schimmelpfennig se Das Reich der Tiere). Ná die applous doof die ligte. Net die akteurs bly agter. Maskers val. Hulle gaan stort, een na die ander, terwyl hul kollegas hul beurt op ’n bankie in die gemeenskaplike badkamer afwag. Kaal voor mekaar. Geen privaatheid. Geen inhibisies.
Nie die publiek was die keer verontwaardig nie, wel die aktrise, Tinarie van Wyk Loots. Volgens haar het sy nie toestemming gegee nie, en het Krit ‘n ooreenkoms verbreek. Sy het die redakteur, Danie Keet, kaalkop die waarheid vertel. Volgens hom is hy so sleggesê dat “nie die see, of selfs ‘n stort” hom sou skoon was nie.
Sy verweer was dat hy slegs onderneem het om nie foto’s reg van voor te plaas nie, dat die foto van ver af deur ‘n glasafskorting geneem is, en nie eroties of sensasioneel is nie. Media24 se ombudsman, dr. George Claassen, het hom gelyk gegee, en ‘n Pretoriase prokureur, Ferdinand Hartzenberg, het die regsmening bygedra ‘n aktrise wat haar in die openbaar ontbloot, haar reg op privaatheid verbeur. Sy het bitter ongelukkig gebly.
Om in 2022 semi-kaal of selfs poedelkaal voor die kamera of op die verhoog te verskyn, is natuurlik niks ongehoord meer nie. Mens – mans en vroue – doen dit links en regs, sommer altesaam en deumekaar. Maar dit was nie altyd so nie. Trouens, tot heel onlangs nog is met skok gereageer. Wanneer ‘n baken in die opsig verskuif word, was sensuur gou-gou jou voorland.
Met die dood van Frans Marx in 2021 is herinner dat hy, wat die rol van die lompe Willie vertolk het, in die fliek Jy is my liefling (Kavalierfilms, 1968) in ‘n naaktoneel in ‘n buitestort verskyn het. Dit was glo die eerste naaktoneel in ‘n Afrikaanse prent waarin ‘n man verskyn het. Sy onthou die konsternasie toe fliekgangers die toneel sien, vertel Min Shaw, ‘n medespeler.
Feb 20, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Engelse bulhond – let op die vabond se kenmerkende plat snoet.
Op ‘n storie van ‘n vabond-hond – ‘n Engelse bulhond, maaindjoe, nie ‘n boerboel nie – wat ‘n mooi jong vrou in Kaaptad op ‘n denkbeeldige pad tussen Johannesburg (haar kop) en Kaapstad (haar voete) “in die omgewing van Richmond” gebyt het, kan ek na ‘n diepte-ondersoek meer lig werp. Terselfdertyd kan ek spog met nuutverworwe regskennis oor die wetlike gevolge van honde-aggressie, ongeag die anatomiese geografie van die bytplek.
Die Richmond-storie kom oorspronklik van ‘n Melkbosse vriendin van Tokkie, Una Beukman, Ek het dit destyds dadelik op my Facebook-blad gedeel – Nagkantoor het nog nie bestaan nie. Die stomme slagoffer se pynlike verknorsing het heelwat reaksie uitgelok. Ander plekname vir die bytplek is sefs onsimpatiek voorgestel – soos Noupoort en ‘n paar ander wat ter wille van sensitiewe lesers èn leseresse) liefs verswyg word.
Die skerpsinnige verwysing na Richmond vir die plek waar die vabond, Daisy, haar tande ingeslaan het, kom van ‘n spitsvondige gewese buurman, wyle adv. Kosie Olivier, ‘n vroeë slagoffer van Covid. Die agtergrond van die 1989-hofsaak oor Daisy se vrypostigheid kry ek van sy seun, Johan, boer van Victoria-Wes. Dit is opgeteken in “Corresponding” met die “law”, ‘n humorboekie uit die hof deur oud-landdros Wessel Marais.
Die feite van die saak is korliks dat die eiser en die verweerder in dieselfde luukse-woonstelgebou in Clifton gewoon het. ‘n Hartlike verhouding het aanvanklik geheers, maar is later deur die een en ander versuur. Op ‘n dag los die inwoner van die dakwoonstel se Daisy ‘n onwelkome visitekaartjie reg voor die deur van die buurvrou in die woonstel onder haar. Die dame vervies haar, stoom verergd boontoe en eis dat die gemors dadelik opgeruim word.
Ná ‘n halfuur lê die steen des aanstoots egter steeds onaangeraak en onwelriekend voor haar deur. Nog meer verwoed as tevore stoom sy weer boontoe en pluk ‘n kombers van Daisy se rustende ounooi af om haar tot aksie aan te spoor. Daisy wat rustig voor die katel lệ en snork het, word gewek en gryp, erg gesteurd deur die onvriendelike daad, die aggressor met haar slagtande reg van voor op daardie strategiese sagte pekkie: ‘n kolskoot.
Buiten dat dit vrek seer en ‘n diepe verleentheid was en dat sy mediese behandeling vir die beskadigde sagte weefsel moes ontvang, was seks haar geruime tyd “nie beskore nie,” soos die landdros dit galant stel. Sy maak toe ‘n siviele saak (seker darem meer oor eersgenoemde as oor laasgenoemde) – en verloor dit in die Kaapse siviele hof. Dit is hier waar adv. Kosie in kruisverhoor met sy beroemde Richmond- vergelyking vorendag gekom het om die dame se privaatheid te respekteer. Dit is ook uit dié verrigtinge waar my nuutverworwe regskennis vandaan kom.
Dit blyk uit regsdokumente skadevergoeding vir pyn en lyding wat deur ‘n troeteldier veroorsaak is, kan wel in bepaalde omstandighede van jou verhaal word deur die actio de pauperie. Waarop dit neerkom, is dat die verweerder aanspreeklik sal wees vir skadevergoeding indien die klaer i. suksesvol kan bewys dat: hy/sy die eienaar van die dier was ten tye van die besering; ii. die dier ‘n huisdier is; iii. die dier strydig strydig met die natuurlike aard van ‘n huisdier opgetree het (die naturem sui generis); en iv. die dier se optrede die klaer se skade veroorsaak het.
In hierdie geval het die landdros bevind dat Daisy maar net opgetree het soos wat ‘n mens verwag Engelse bulhonde in sulke uittartende omstandighede sal optree – dws naturem sui generis. Daar trek die veronregte dame se saak toe by die venster uit – ‘n klassieke geval van sout in die wonde vryf, as jy my vra.
Wessel Marais spreek in sy boek sy verwondering uit dat die bulhond haar plat snoet juis by daardie sensitiewe area so diep kon inslaan om soveel skade te veroorsaak. Op my beurt wonder ek, as dit nie buite orde is nie, hoe lank dit geduur het voordat die beskadigde pad deur Richmond weer oopgestel kon word vir verkeer!