‘n Akademikus weet al hoe meer van al hoe minder en minder en ‘n joernalis  al hoe minder van al hoe meer en meer.  Die wysheid van prof. Piet Cillié by sy eie oorskakeling van die ioernalistiek tot die akademie kom by my op wanneer ek by die herlees van JA Kannemeyer se biografie “Langenhoven – ‘n lewe” (Tafelberg, 1995) tussen ‘n duisternis juweeltjies veral by een besonderlike blinke vassteek.

Die een waarheen ek telkens terugblaai, is ‘n stomende Langenhoven-reaksie op ‘n onvleiende resensie in “Die Burger” deur dr. DB Bosman, lektor in Afrikaans aan die UK, van sy boek “First Guide to Afrikaans” (1926). Die woord-virtuoos se gramskap was tot by kookpunt opjaag.

Langenhoven noem dit ‘n “delirieuse” en ‘n “sotte” resensie en bring hom by een van sy gunsteling-onderwerpe: Suid-Afrikaners wat in Europa ‘n “kontinentale matriek” gaan verwerf en dan terugkeer met ‘n “dokterstietel” (so het hulle nog gespel) wat “op plekke in die buiteland rondlê vir elke geestelike Jan Rap om op te tel”.

Bosman het in 1916 in Gröningen gepromoveer wat hom klaarblyklik en van die “hulle” maak na wie die misnoegde Langenhoven kap as hy skryf:

“In hulle geval is ‘n Hollandse of Duitse dokterstietel niks meer nie as ‘n kontinentale matriek, en nie ‘n hoë matriek nie omdat sy vereistes verkrimp is tot die engste spesialisie van ‘n onderdeel van ‘n ondervak van ‘n onderafdeling van ‘n ondergeskikte onder-onderwerp.

“In die laaste tyd is hierdie doktoratery so bespottelik en niksbeduidend gemaak deur die weelderigheid van uitsaaiery onder al wat kom dat ‘n mens nou, soekende na ‘n nodige bewys van iemand se geestesontwikkeling waar dit nog nie uit ander gegewens blyk nie,  verplig is om te begint met ‘n nuwe toets te stel en te verneem na teruggekeerde studente, hoe skaars hulle ook is, wat vernuftig genoeg was om die onderskeiding te verwerf om die dokterstietels mis te loop wat op plekke in die buiteand rondlệ om vir elke geestelike Jan Rap om op te tel.”

Ja-nee, vir die “Akademiese Fariseërs” – sy woorde – had Langenhoven min liefde. Toe hy in 1931 deur die US met die eregraad van Doctor Litterarum honoris causa tot die geledere van die einste “Akademiese Fariseërs” verhef word, is die nuwe doktor Langenhoven nie onverwags nie lekker gespot oor die ingenomenheid waarmee hy hom die “tietel” laat welgeval het.

Deel dit: