Moenie van ‘n nat kol ‘n modderkol maak nie, waarsku my Tokkievrou gereeld. Ongelukkig het ek in hierdie opsig ‘n swakheidjie: meermale as ek ‘n penarie probeer beredder, slaag ek net daarin om die penarie te verdiep.
Miskien is dit omdat ek uit die koerante-omgewing kom. Arme koerante kan nogal in hierdie opsig kleitrap.
‘n Nuwe storie oor ‘n rampspoedige setfout en hoe onsnaaks dit vir al die betrokkenes was, kom my juis pas ter hand. Dit raak Die Burger en daardie letterkundige kolos NP van Wyk Louw.
Piet Cillié – sedert einde 1935 aan Die Burger verbonde – was vroeg in sy loopbaan, soos hy dit gestel het, “redaksionele sender van boeke aan resensente (‘boekredakteur’ kan ‘n mens dit nie noem nie).
Onbekend met literêre strominge ( hy was in die natuurwetenkappe opgelei) stuur hy in 1938 die Louw-bundel Die Dieper Reg vir resensie aan FCL Bosman – ‘n ongelukkige keuse. Bosman was bra lou oor Van Wyk Louw, ook in sy resensie. Om alles te kroon, het die drukkersduiwel listig ingegryp.
‘n Belangrike sin in Bosman se resensie het in druk gelui: “Twak is veral die openingsvers waarin ‘n “glans soos ‘mis’ styg en ‘n ‘skemering van.stemme …fluister’ tot in die laaste reël ‘smarte hyg’, blykbaar om te rym met ‘styg’”.
Die “twak” moes gewees het “swak” (dit was die nat kol), wat in sigself al erg genoeg was om Louw misnoegd te stem. Oor die “twak” (die modderkol) was hy buite homself. “Geen korreksie by die vroegste geleentheid kan so ‘n katastrofe ongedaan maak nie,” het Cillié geskryf. Die regstelling het daarby onopvallend onder aan kolom 3 van bladsy 2 verskyn. ‘n Tweede modderkol.
Pyn, pyn, pyn.
Die klassieke storie van ‘n nat kol wat ‘n modderkol geword, het ‘n Britse koerant oorgekom wat aan ‘n uitgetrede generaal, met ‘n bors vol dekorasies, paslik hulde wou bring.
Die eerste dag skryf die koerant toe hy was “battle scared”. Die tweede dag, toe die koerant apologie aanteken, berig hy wat eintlik bedoel was, is “bottle scarred”.
Eers die derde dag kry die verlee koerant dit presies reg: “battle scarred”.
Hierdie storie is in my eerste boekie, Scoops en skandes (Tafelberg, 1993), as ‘n voorbeeld van humor in die pers opgeteken. Sulke humor is natuurlik nie altyd so snaaks vir die een wat aan die ontvangkant is nie.
Naskrif: Met die Wit Trein op pad na die noorde, stop Koning George VI – die ou wat so pynlik gehakkel het (sien die fliek The King’s Speech) – in 1947 op Beaufort-Wes. Die Cape Times wil toe ‘n bietjie plaaslike kleur in sy verslag bring, maar ‘n ontbrekende kappie op ‘n “e” laat die stomme koerant in ‘n gat trap. Hy berig, en sy koerant sit dit in die opskrif op die voorblad, dat die skare sy majesteit begroet het met krete van: “Hoere, hoere, hoere vir die koning!”

 

 

Deel dit: