Die jare 30 het twee groot polemieke beleef waarin enersyds die kwessie van fatsoenlikheid maar andersyds die beeld van die Afrikaner die tema was. Een was dié oor Stuart Cloete se Turning Wheels. Nog ‘n vuriger een was oor ene Wilfred Saint Mandé se War, wine and woman.

Soos dit later geblyk het, was Mandé  ‘n skuilnaam. Agter die naam het ‘n lektor in Frans aan Tukkies geskuil:  ene HP Lamont. Hy het hom gewraakte uitsprake laat welgeval soos die volgende: “The Backveld Boer bathes only for baptism, marriage and burial. He has no notion about sanitation and often uses his bedroom as latrine.”

Verder:  Die meeste Voortrekkers was “illiterate, Boers, surly and morose. Their favourite pastime was begetting children, both with their wives and their numerous black concubines.”

‘n Verontwaardigde Sannie Broers het hierdie dinge op ‘n kongres van die Suid-Afrikaanse Vouefederasie in 1932 voorgelees. Dadelik het ‘n polemiek in Pretoriase koerante soos Die Volkstem en The Pretoria News losgebars.

My oud-kollega Jaap Steyn deel in die akadademiese joernaal  Acta Academica, ‘n publikasie van die Kovsies, mee dat vier jong mans die identiteit van die skrywer uitgesnuffel het. Op Maandag 23 Mei het hulle hom geteer-en-veer en net in sy swembroekie in Pretoria se middestad gelos. Daardie middag was dit hoofberigte.  Ook Die Burger in die Kaap het die volgende oggend groot publisiteit aan die voorval gegee.

Op 20 Julie 1932 is N. Trichardt, FCK Jacobsz, SPE Jacobsz en (dr) M Steyn Vorster weens aanranding gevonnis tot 50 pond boete of ses maande in die tronk.  Die Burger  skryf  toe dat die afkeuring van Lamont se skandelike aanvalle op die Voortrekkers op ‘n ander manier kon geskied het, maar ”ons kan ronduit erken dat ons nie graag sal wil sien dat die vier Afrikaners in die tronk moet beland of uit eie sak hofonkoste en boetes moet betaal nie.

“Hul verontwaardiging is verstaanbaar, en hul daad, hoewel nie verstandig nie, is gepleeg teen iemand wat hoegenaamd geen simpatie verdien nie.”  Verskeie mense het reeds geld kom aanbied, en Die Burger skryf dat sy lesers seker aan die fondsinsameling sal wil meedoen, “nie noodwendig as teken dat hulle die manier waarop opgetree is, toejuig nie, maar as bewys van die algemene verontwaardiging oor die bekladding van die naam van ons volk.”

Die Burger het op sy voorblad ‘n adres vir bydraes geplaas. Ook CJ Langenhoven het die teer-en-veerders in sy rubriek aan “Stille Waters” verdedig. Op Stellenbosch en die Afrikanerkoffiehuis in die Kaap is ‘n “sjieling”-lys geopen.

Intussen het die UP Lamont ontslaan. In Die Burger  is ‘n spotrent  van Boonzaier geplas van Lamont wat met sy boek oor die see wegvaar.  Die onderskrif het gelui: “Die enigste uitweg vir hom”.

In ‘n hoofartikel het Die Burger dit betreur dat hy nie liewer self bedank en met blydskap vertrek het nie uit ‘n land wie se bevolking so minderwaardig is, na sy geboorteland “alwaar hy nie die smerige afstammelinge  van die onbeskaafde Voortrekkers … daagliks om hom heen sal sien nie.”

Deel dit: