Jan 24, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Zsa-Zsa Gabor.
Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesigheid van broeke ‘n kenmerk is.
Die berigte is totaal onverwant. By hierdie oprakelaar van herinneringe wek dit tog ‘n assosiasie.
‘n Fotograaf van The Star – sy van was nogal Oosterbroek – was naamlik op die Johannesburgse lughawe toe die Mej. Wệreld-aspirante van 1993 opgewonde uit die vliegtuig trippel. Oosterbroek, altyd op soek na ‘n ongewone hoek, was vir die okkasie plat op die grond.
Dit het nie net ‘n fees van manjifieke bene op sy negatiewe opgelewer nie, maar ook onthul dat Mej. Denemarke ‘n goeir kandidaat vir so ‘n motorfietsuitstappie sou kon weees. Onder haar roekelose kort mini was niks meer as wat glo by tradisionele Skotse geleenthede onder ‘n rasegte Skotse rokkie gedra word nie.
Die foto het later op die koerant se kennisgewingbord opgeduik – tot ontsteltenis van die verslaggeefsters. Vroulike gemoedere het veral hoog geloop toe die ondeunde nuusredakteur een opdrag gee om by ander deelnemers te gaan vis of hulle hulle op soortgelyke wyse onderlangs koel hou.
Laat my skielik dink aan die potjie wat die einste Star met die rolprentster Zsa Zsa Gabor geloop het oor ‘n onthullende foto – maar darem nie so onthullend nie. Veteraan-verslaggewer Joe Openshaw het die onderonsie in die blad se eeufeesbylae in 1987 “miskien die grootste verleentheid” in sy loopbaan genoem.
Openshaw is na haar perskonferensie in die ou Carlton Hotel in Johannesburg gestuur. Hy en die fotograaf besluit om ‘n informele foto te probeer kry. Daarom is hulle na haar stel kamers. Omdat die deur oopstaan, stap hulle in. Openshaw klop liggies aan die slaapkamerdeur en sy koer: “Kom in”.
Toe hulle vinnig instap, die fotograaf met sy kamera gemik vir ‘n goeie foto, tref hulle voor die kleedtafel aan in die kleinste, fynste onderstukkies. Haar krete laat hulle vinnig retireer. Toe sy by die perskonferensie instap, val haar oog op Openshaw. “Daar is die man wat in my slaapkamer ingebreek het,” gil sy. Eers ná vele mooipraat is sy gekalmeer. Sy het gedink die kloppie op die deur was van ‘n diensmeisie wat haar moes kom help aantrek, het sy verduidelik.
Naskrif: ‘n Verslaggewer van die nuusagentskap United Press wat saam met die koningsgesin in 1947 na Suid-Afrika gekom het, het prinses Elizabeth – nou die 95-jarige monarg – afgeloer terwyl sy by Koningstrand in Port Elizabeth (Gqeberha ) geswem het. Hy het toe ‘n berig oor haar figuur die wệreld ingestuur.
Volgens hom het hy dit gedoen om mense te laat weet dat sy ‘n beter figuur het as wat haar onvleiende kleredrag laat blyk. Die berig was egter genoeg om te sorg dat die prinses nie weer op daardie toer in ‘n baaikostuum verskyn het nie. Ook nie dikwels daarna nie, indien enigsins.
Jan 17, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Wie se dood is voorbladnuus? Wie haal die koerant se plakkaat? Wie kry banieropskrifte of selfs ‘n gedenkvoorblad soos deesdae mode word (kyk Die Burger se voorblad ná die dood van kerkman Desmond Tutu).
Sulke oordele oor die nuuswaarde van sterfgevalle word gereeld in koerantredaksies geneem. Soms kry hulle dit doodreg (as ek die woord in die sin mag gebruik). Soms struikel hulle maar.
Een sterfgeval wat wyd misgevat is, was die van NP van Wyk Louw, voorste letterkundige, op 18 Junie 1970, klink dit vir my uit prof. JC (Jaap) Seyn se formidabele tweeband-biografie van meer as 1 000 bladsye oor die groot man.
Die nuus het taamlik laat op 18 Junie bekend geword. Die Volksblad – toe nog ‘n gerekende middagblad met ‘n sterk klem op “vandag se nuus vandag” – het ‘n groot berig op voorblad ingekry. Hy het die nuus die prominentste van alle middagblaaie gehanteer.
Sy hoofberig was egter oor ‘n lank vergete griepepidemie wat die land geteister het. Hoekom was Louw nie hoofberig nie soos met die dood van die digter Totius op 2 Julie 1953? Dit is nogal ‘n vraag. “Totius ontval Afrikanervolk” was die opskrif van daardie dag se hoofberig.
In Junie 1970 was ek nuusredakteur. Ek onthou eerlik egter niks van Louw se dood nie. Was ek dalk in die wildtuin? In elk geval is nuuskeuring nie die nuusredakteur se verantwoordelikheid nie. Gelukkig hoef ek nie te probeer verduidelik nie.
Die oggendblaaie van 19 Junie het voorbladberigte bevat maar dit was ook nie hoofberigte nie. Is die nuuswaarde van Louw se dood deur Die Burger dus laer aangeslaan as dié van Langenhoven op 16 Julie 1932? Dié is onder ‘n banier aangekondig: “Suid-Afrika verloor as Langenhoven”.
Volgens Steyn is die nuus dat die Afrikaanse taalgemeenskap Louw verloor het, ‘n “bietjie verdring” deur ‘n hoofberig oor ‘n Tory-oorwinning oor die regerende Arbeidersparty in die Britse verkiesing op 18 Junie. Was dit werklik vir Suid-Afrika gewigtiger nuus?
Natuurlik het ná Louw se dood talryke hoofartikels en huldigingsartikels verskyn. Die koerante het vinnig die aanvanklike agterstand ingehaal. Uitwis, kon hulle dit nie.
Interessant (eerder verrassend) is die feit dat Louw se roudiens op Maandag 22 Junie in die NG kerk Linden ook kleiner was as wat ‘n mens sou verwag het. Dit was “informeel en sonder hoogwaardigheidstedoe”, het Rykie van Reenene berig. Geen lede van die kabinet was teenwoordig nie en die kerk was nie vol nie. Die diens is deur 600 mense bygewoon het Die Transvaler berig; 350 aldus The Star en 300 aldus die Rand Daily Mail. (Beeld sou natuurlik die syfer korrek gehad het. Oogknip, oogknip. Die koerant het egter eers in September 1974 sy buiging gemaak. )
Die grootste ironie met Louw se dood sou nog volg.
Die plan was om sy as te strooi by Verlatenkloof naby sy geboortedorp Sutherland (Sutterland). ‘n Gedenkplaat sou teen ‘n rots aangebring word, soos in die geval van Leipoldt in die Hantam. Sy broer Gladstone (die digter WEG Louw) sou sorg.
Niks gebeur egter nie. In 1976 besluit Louw se weduwee, Truida (Pohl), en dogter Nakkie (Human), om self die werk te laat doen. “Anders raak dit nooit gedoen nie!”) Sutherland sê dit is reg. Joernalis Franz Kemp (eggenoot van Louw se dogter Reinet) word gestuur om die kissie met as by die ondernemer te gaan haal.
Maar as? Watter as? Die begrafnisondernemer was verbaas. Niemand het gevra dat dit in bewaring gehou word nie. Lank tevore is dit reeds in die tuin van herinnering by die krematorium in Braamfontein gestrooi.
Truida het toe maar ‘n plaat, soos al die ander, teen die muur van herinnering laat aanbring. Daarop staan eenvoudig net: NP van Wyk Louw, digter, 1906 -1970.
“So was hy uiteindelik finaal “naamloos onder die naamloses”, soos hy een maal in 1950 wou wees, skryf Steyn. “Dit is ‘n einde wat byna so aandoenlik is as die Van Mozart, wie se liggaam saam met vreemdes in ‘n massagraf gestort is.”
En dan die aangrypende slotsinne van Louw se lewensverhaal: “Wie die as gestrooi het, weet niemand meer nie; wanneer dit gebeur het, dit onthou niemand. Nieman kan kan sệ waar presies die stoflike oorskot van een van SA se grootste manne rus nie .”
Jan 8, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die groteske, verwronge, karikatuur-agtige gesigte van allerlei politci en ander leidsliede waarmee die Zoom-kamera TV-nuuskykers elke dag peper (hoekom dan so?), herinner my aan ‘n TV-nuusprogram wat op Sondagaand 19 Augustus 1990 op SABC uitgesaai is.
Nelson Mandela, vars uit die Victor Verster-gevangenis, was in gesprek met drie joernaliste, Tertius Myburgh van die Sunday Times, Thami Mazwai van die Sowetan en Van Deventer van Die Volksblad.
‘n Komplikasie was dat die ander in ‘n ateljee in Johannesburg was; ek het op my eentjie in Bloemfontein gesit en stip in die oog van ‘n kamera op ‘n driepoot gestaar. ‘n Tweede komplikasie was dat die aanbieder, Clarence Keyter, en die welsprekende Myburgh daardie aand spraaksamer was as ooit. Mazwai kon nog hier en daar ‘n woord inkry; Van Deventer in Bloemfontein is eenvoudig doodgepraat, wat nogal ongewoon is!
Later het die Vrye Weekblad Keyter onder skoot gekry oor die “uiters stief” behandeling wat my te beurt geval het. Charlotte Bauer het in haar TV-rubriek in die Weekend Mail geskryf my “bulk was beamed up from Bloemfontein and projected onto a large screen where it hovered, Oz-like, above chairman Keyter’s head.”
Gelukkig het ek die dag na die opname oorsee vertrek. Ek was verneder genoeg – wie wou nou nog ‘n tweede marteling verduur om na daardie swygende “Oz-like” beeld te sit en kyk!
Me. Bauer het darem ‘n bietjie salf aan die wonde gesmeer: “The most important question of the night was asked by the telvision-image-within-an-image of Van Deventer.” Volgens haar “Mandela had given out all sorts of hopeful messages for the future, but Die Volksblad’s editor was not to be consoled: ‘Mr. Mandela, does the ANC possess the communication channels and the discipline to get all these messages through to the people on the ground?'”
Sy skryf sy kan nie die antwoord onthou nie, omdat die vraag ‘n rilling langs haar ruggraat afgestuur het.
Ek onthou wel hy het bra korte mette van die vragie gemaak: Voldoende kommunikasiekanale en dissipline, ag kom nou, mnr. Van Deventer!
Ek sê maar niks.
Jan 1, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

OM MIDDERNAG, 31 Desember 1999, het die 20ste eeu tot ’n einde gekom.. Wereldwyd is asem opgehou oor potensiële chaos in die rekenaarbedryf wat alles van lugvaart tot die bankwese ernstig kon belemmer, indien nie in duie laat stort nie.
Die Y2K-probleem is dit genoem, of die Y2K-virus, of die Y2K-fout.Wat ook al die naam, swartgalliges het net rampspoed voorsien.
Ek en myne het ons gewone gang gegaan, oortuig dat die slim mense wat van bemande maanreise tot selfone kan uitdink en maak werk, ook die oorgang tot die nuwe eeu, en die komplikasies daarvan, sal kan uitsorteer.
Op ons gras op Melkbos het ons die aand ‘n klompie vuurtjies aangesteek en allerlei potjies gestook: beesstert, hoender, pasta en wat nog. Sowat 20 gaste het die jaar 2000 saam met ons ingewag: kinders, kollegas en vriende.
Kollega Andrew Marais het ‘n enorme bottel vonkelwyn uit Stellenbosch saamgebring – aansienlik groter as die gewone magnum. Ek is onseker hoe groot is ‘n rehobeam, balthasar of nebukadneser. Glo wel dit was een van daardie drie groot menere.
Teen 23:00 is die potjies na binne gebring, in die binnetuinetjie in ‘n ry gepak en die seen gevra, Toe lê ons weg.
Ná ete het ons op afwesige buurman Kosie Olivier se stoep gaan bondel – my muur was nog nie gebou nie – en nekke gerek vir die indrukwekkende vuurwerk-skouspel oorkant Tafelbaai by die Waterfront.
Presies om 24:00 het die proppe geskiet: Andrew se grote en die gewones van 750 mm wat ook op die ys gewag het. Ons het glasies geklink; ons het ook mekaar – sonder vrese vir allerlei variante van onbeteuelbare virsusse – om die nek geval en ‘n voorspoedige nuwe eeu toegewens.
Toe die gaste teen 01:00 op 1 Januarie 2001 begin aanstaltes maak, was die wêreld na ons wete nog soos hy teen 23:59 op 31 Desember was. Niks het tot stilstand geknars, uit die lug getuimel of in die see verdwyn nie.
Gelukkig was dit steeds die geval toe ons die volgende oggend wakker word. Het ons verlig gevoel? Nie eintlik nie, want ons was nie juis onder die bekommerdes nie. Oral ter wêreld moet egter baie verligte mense van vreugde rondgedans het.
Maar dit is nie hieroor wat ek wil skryf nie. My storie is dat hierdie geskiedkundige een werklik die enigste 1 Januarie is wat ek in my 81 jaar wawyd-wakker om middernag verwelkom het, so ver ek kan onthou Al ander 80 was ek in die bed, meesal diep
in die arms van Morpheus.
Ook met 1 Januarie 2022 het ek eers kennis gemaak toe Tokkie vanoggend my oggendkoffie bring – helaas sonder my koerant. Op Nuwejaarsdag verskyn ie Burger mos nie. Ewenwel, ek het haar toe ‘n gelukkige nuwe jaar toegewens. Dit doen ek nou ook vir lesers van hierdie stukkie op De Wet Potgieter se lekker Nagkantoorblad.
(Ek knoop aan by gewilde Westerse beskouings aangaande die nuwe millennium. Tegnies gesproke het die nuwe millennium glo eers op 1 Januarie 2001 begin.)
Dec 31, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Op Oujaarsdag 1976 was die Van Deventers se kennismaking met Disneyworld in Orlando, Florida: die “Magic Kingdom” van Micky Mouse, Goofy, Winny the Pooh en diesulkes. Die dag was nie sonder sy uitdagings nie.
Kenners van Disneyworld het gewaarsku: “Gaan vroeg, gaan ry heel eerste ‘duikboot’, anders staan julle die hele dag in ‘n tou.” Toe die hekke oopswaai, was ons in die voorhoede. Op ‘n drafstap is ons deur die Disney-kammawệreld reguit “Fantasyland” toe. (Daar was ook nog ‘n Adventureland, Frontierland, Tomorrowland en Liberty Square.)
Heel gou was ons in ons eie “Nautilus” onder die waters, omring deur visse, skeepswrakke, koraalriwwe en anderlike ondersese wondere: ‘n welaangename begin van die laaste dag van 1976 en ons 10de huweliksherdenking (ons trek vandag by 55).
By die “20 000 Leagues Under The Sea” is kleinsus se opvoustootwaentjie by ‘n paar ander geparkeer. Na die vaart het ellende gewag: die stootkar was spoorloos. Vir ‘n kort rukkie het dit kleinsus op haar beentjies geplaas. Die res van die dag was sy op haar pa arm, boonop nie in ‘n lekker bui weens haar verlies.
Nou-ja, die “koninkryk” is 11 000 hektaar groot; groot genoeg vir ‘n stewige beesboerdery. Die plek had ‘n eie “vloot”: ‘n armada van 200 skepe. Net Amerika, Rusland, Brittanje en Frankryk kon met meer duikbote spog. Om dinge te kompliseer, het Mickey se domein die dag ‘n rekord-getal van 80 000 besoekers gelok.
Om die kroos by Mickey af te neem, was een van die dag se prioriteite, maar weens die malende mensemassa een van die logisties beproewendste uitdagings van ons besoek. Vasbeslote moeders het geveg soos tierkatte om hul afstammelinge met geweld bo-oor en dwarsdeur ander kleingoed te stamp vir ‘n eksklusiewe foto.
Ma Tokkie, Johan en Marisa was net mooi in pa Hennie se korrel, toe Marisa skielik kamerakoors – of dalk muiskoors – ontwikkel. Nietemin, die foto is uiteindelik geneem en hang nog altyd hier op Melkbos. Vanaand sal ons ‘n glasie lig op die vriendelike muis met die groot ore, 45 jaar na daarde gedenkwaardige dag.
So minus Marisa wiele was dit natuurlik veral vir vader ‘n vermoeiende 12 uur. Glo my vry. Maar eind goed, alles goed. Op pad hek toe herken Tokkie in ‘n geskenkewinkel die vermiste waentjie aan ‘n vuilkol aan die rugkant en ‘n slingerwiel links voor. In hom was ‘n blas Suid-Amerikanertjie vasgegord.
Die konfrontasie met die ouers was kort maar intens. Eers het hulle die gemene diefstal heftig ontken. Toe sis ek deur my tande die een woord “Police”. Die uitwerking was dramaties. Mamma het die kleintjie gegryp en laat vat. Pappa is agterna met sy kuif wat in die wind flap.
Marisa het gespin soos ‘n katjie toe sy die bekende stukkie blou seil onder haar boudjies voel.
Een van ons aangename herinneringe vroeër die dag was ‘n bootrit op die sogenaamde Seven Seaways-waterkanale verby 300 singende, dansende poppies in kleurryke nasionale kostuums.
Die oulike poppies wat 100 nasies verteenwoordig, sing aanhoudend “I’ts a small world” in vyf tale. Jy kry inderdaad die gevoel hoe klein die wêreld is terwyl die bootjie rustig as ‘t ware oor grense heen en verby kontinente kronkel.
Niks kon my meer oortuig van die beperkte omvang van die wêreld nie as die vind van die spreekwoordelike naald in ‘n hooimied – ons ou piepklein waentjie in die enorme Disneyworld. Tot by ons motel en nog later die aand het ek daardie wysie bly neurie en oor die wesenlike waarheid van die woorde gemymer. “I’ts a small world after all”, is dit nie?