Zsa-Zsa Gabor.

Op bladsy drie van Die Burger vanoggend verskyn o.m. berigte oor die Mej. Wệreldwedstryd waarin Shudu Musida SA se kroon dra, en ‘n motorfiets-uitstappie na die Hartebeespoortdam waarvan die afwesigheid van broeke ‘n kenmerk is.

Die berigte is totaal onverwant.  By hierdie oprakelaar van herinneringe wek dit tog ‘n assosiasie.

‘n Fotograaf van The Star – sy van was nogal Oosterbroekwas naamlik op die Johannesburgse lughawe toe die Mej. Wệreld-aspirante van 1993 opgewonde uit die vliegtuig trippel.  Oosterbroek, altyd op soek na ‘n ongewone hoek, was vir die okkasie plat op die grond.

Dit het nie net ‘n fees van manjifieke bene op sy negatiewe opgelewer nie, maar ook onthul dat Mej. Denemarke ‘n goeir kandidaat vir so ‘n motorfietsuitstappie  sou kon weees.  Onder haar roekelose kort mini was niks meer as wat glo by tradisionele Skotse geleenthede onder ‘n rasegte Skotse rokkie gedra word nie.

Die foto het later op die koerant se kennisgewingbord opgeduik – tot ontsteltenis van die verslaggeefsters.  Vroulike gemoedere het veral hoog geloop toe die ondeunde nuusredakteur een opdrag gee om by ander deelnemers te gaan vis of hulle hulle op soortgelyke wyse onderlangs koel hou.

Laat my skielik dink aan die potjie wat die einste Star met die rolprentster Zsa Zsa Gabor geloop het oor ‘n onthullende foto – maar darem nie so onthullend nie. Veteraan-verslaggewer Joe Openshaw het die onderonsie in die blad se eeufeesbylae in 1987 “miskien die grootste verleentheid” in sy loopbaan genoem.

Openshaw is na haar perskonferensie in die ou Carlton Hotel in Johannesburg gestuur. Hy en die fotograaf besluit om ‘n informele foto te probeer kry. Daarom is hulle na haar stel kamers. Omdat die deur oopstaan, stap hulle in. Openshaw klop liggies aan die slaapkamerdeur en sy koer: “Kom in”.

Toe hulle vinnig instap, die fotograaf met sy kamera gemik vir ‘n goeie foto, tref hulle voor die kleedtafel aan in die kleinste, fynste onderstukkies. Haar krete laat hulle vinnig retireer. Toe sy by die perskonferensie instap, val haar oog op Openshaw. “Daar is die man wat in my slaapkamer ingebreek het,” gil sy. Eers ná vele mooipraat is sy gekalmeer. Sy het gedink die kloppie op die deur was van ‘n diensmeisie wat haar moes kom help aantrek, het sy verduidelik.

Naskrif: ‘n Verslaggewer van die nuusagentskap United Press wat saam met die koningsgesin in 1947 na Suid-Afrika gekom het, het prinses Elizabeth – nou die 95-jarige monarg – afgeloer terwyl sy by Koningstrand in Port Elizabeth (Gqeberha ) geswem het. Hy het toe ‘n berig oor haar figuur die wệreld ingestuur.

Volgens hom het hy dit gedoen om mense te laat weet dat sy ‘n beter figuur het as wat haar onvleiende kleredrag laat blyk. Die berig was egter genoeg om te sorg dat die prinses nie weer op daardie toer in ‘n baaikostuum verskyn het nie. Ook nie dikwels daarna nie, indien enigsins.

 

Deel dit: