Mar 1, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kom ons gesels verder oor die komediant, sanger, akteur, omroeper, komponis, draaiboekskrywer, goëlkunstenaar en buikspreker Piet Pompies. Vandag se tema: die oorsprong van die onderskatte vermaaklikheidskunstenaar se naam … ene wat nogal vir moedswillige misverstand vatbaar is.
Op die beste gesag het ek dit waaraan die amper legendariese grapjas – wat op 30 Desember 1992 op 70 in ‘n motorongeluk naby Grabouw gedood is – sy ongewone verhoognaam te danke gehad het: natuurlik aan die outydse pompie-toeters op sy bors. Hy het altyd daarmee op die verhoog lawaai gemaak. Toet-toet.
Kyk na die foto hierby: so ‘n toeter-affêring hang om sy nek. Kyk ook na die voorblad van sy dogter, Elsa, se boek oor hom by gister se plasing: ditto. Klink dus logies.
My bron vir hierdie verklaring is SAUK-TV. Kry die inligting op sy webblad. SAUK-TV bedank op sy beurt Marius de Vos van IFM 102.2 daarvoor.
Hierbo verwys ek na die moontlikheid van misverstand. Laat my dan aanknoop by ‘n mooi storie in Elsa se boek, “Piet wat Pompies was”.
Sy vertel van ‘n KKNK ‘n paar jaar gelede waar kondome met “stout” Afrikaanse name bemark is. Een van die produkte is die naam gegee Piet Pompies.
Die Van der Byl-kinders was opgeruk en wou met alle geweld prosedeer. Ma Betsie, ‘n wyse en verstandige vrou, het hulle gekalmeer. Die naam Piet Pompies het volksbesit geword, het sy geredeneer.
Buitendien: Pa Piet (Pieter) sou waarskynlik gevlei gevoel het dat sy naam op die manier verewig is!
(Op die SAUK-TV-webblad lees ek Piet (Pieter), aanvanklik ‘n klerk en later stasiemeester by die Spoorweë, in sy lewe ook eienaar van ‘n troeteldierwinkel en perdeslagter was. Amanda Botha het laat weet dat hy op skool op Jan van Riebeeck vir die eerste span rugby gespeel het. Waarlik ‘n man van vele ambagte en talente.)
Feb 29, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Piet Pompies: Baie mense, veral van die nuwer generasies, reken waarskynlik dis sommer ‘n duimsuig-naam soos Jan Salie, Jan Rap, Piet Snot of die Daantjie van die kalwerhok wat in uitdrukkings en idiome in die volksmond voorkom.
My generasie se mense weet darem “mnr. Pompies” was ‘n mens van vlees en bloed: ‘n grapjas wat ook kon liedjies skryf en sing; ‘n voorste vermaaklikheidskunstenaar wat selfs ook radioprogramme gemaak en draaiboeke geskryf het. Ons onthou liedjies soos “Haar pa wou nie gaan slaap”, “Antjies die rooibruin hen”, “Kaboemielies” en “Sousboontjies”.
Maar slaan die meeste dood oor wie Piet Pompies werklik was. Trouens, tot verlede week was ek ook oor sy identiteit totaal in die duister. Toe gee Jakkie Groenewald, akteur en oud-joernalis, vir my ‘n boekie present met die titel “Piet wat Pompies was” (Malan-media, 2018) deur Piet se dogter, Elsa (Dixon) van der Byl.
Nou weet ek (dalk die eerste keer?) wie die man agter die alias Piet Pompies was: Pieter Carel Nicolaas van der Byl, ‘n spoorwegman wat tot stasiemeester gevorder het voor die verhoog-gogga hom gebyt het.
Piet is in 1922 gebore en het in die Depressiejare grootgeword. In die laat 1940’s het hy in Koffiehuiskonserte begin optree wat deur die destydse SAUK uitgesaai is – dit was vermaaklikheidsprogramme onder die titel “Vrolikheid in die Koffiehuis”.
Van 1950 tot 1962 het hy 12 jaar lank vir die destydse Springbokradio ‘n weeklikse halfuurlange program geskryf vir “Caltex Kaskenades”, waarin hy saam met Pip Freedman (onthou jy nog?) opgetree het. Hy was ook verantwoordelik vir die rolprent “Next Stop Makouvlei”.
Piet was vaardig met die pen. Afgesien van gereelde artikels in tydskrifte en koerante, het hy ook draaiboeke geskryf en selfs van die musiek daarvoor gekomponeer. In die jare toe hy radioprogramme geskryf en konserte gehou het, het hy ongeveer 280 liedjies gekomponeer en in 1952 het hy 14 plate gemaak. Hy is in 1992 oorlede.
(Toe ek die woorde van die vermaaklike “Haar pa wou nie gaan slaap” begin lees, kom alles meteens terug. Toets gerus jou geheue (effens verkort):
Die dogter van Tant Hessie was maar lank en skraal,
haar hare hang in lokkies en die kleur is vaal.
As ek vir haar gaan kuier en dis donkermaan
Dan gaan haal sy gou ‘n kersie en steek dit aan.
Haar pa wou nie gaan slaap …
Ons sit toe op ‘n bankie by die agterdeur,
sy vat toe aan my handjie om my op te beur.
Ons kyk toe na die sterretjies wat helder skyn,
toe sien ek ‘n beweging by die wasgoedlyn.
Ons sit toe by die hekkie in die groentetuin.
Ek druk toe sag ‘n soentjie op haar lippies fyn.
EK sien haar in my drome in ‘n mooi trourok.
Toe sien ek ook iets anders in die hoenderhok.
Ons dink toe aan ‘n plekkie in die vrugteboord,
Na ons lank gesels het, vra ek die ja-woord;
Sy glimlag toe vir my en ek was ingenoom.
Toe sien ons roer die blare in die perskeboom.
Die liewe tante nooi ons toe na die kombuis.
Sy sê toe: Nefie, goeienag en maak jou tuis
En toe ek later opstaan en my hoedjie vat …
Toe sien ek daar loer iemand deur die sleutelgat!)
Feb 25, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ruig, ruiger, ruigste. Ons verstom ons aan die omringende blaremure as ons op Tarlehoet se stoep ‘n ietsie geniet. Hemelhoog reik hulle soos wolkekrabbers. ‘n Kameelperd se kop gewaar jy ‘n vlugge oomblik tussen die takke. Dan is hy spoorloos. Die wildebeeste blaas-blaas iewers in ‘n blaretonnel, maar sien is verniet.
Die bloukuifloeries roep elke dag, maar bly onsigbaar; die nagapies is so bederf met die oorvloed kos in die veld dat vir die Van Deventer-tafel neus opgetrek word. Die naguiltjie hoor ons darem elke aand sing – pragtig.
Min wild kenmerk die paar dae in die bos. (Ekskuus Lorinda, maar ek sien ook weer geen duikers nie!)
Die swembad is ‘n lewensredder. Ek en Tokkie is in en uit die water terwyl die kwik in die laat 30’s vasval.
Die stabiele wi-fi danksy Brent se seinversterker is ‘n aanwins. Reken, nie een keer in die TV-kamer gekom nie.
Onder die minnerige dieregaste was die veldlikkewaan. Toe ek die knopneus-kalant met die ewe lank lyf en stert en dowwe, swart gevlekte skubbe teen die huis se klinkermuur sien opwoerts, is ek nie met behae vervul nie. Van die varanis albigularis oftewel veldlikkewaan se kirpatse het ek ‘n kaleidoskoop herinneringe, meesal vreugdeloos.
Die ergste was natuurlik toe ene dae lank in die huis gevangene was. Die toneel van wanhopige verwoesting was iets om te aanskou: gordyne wat in repe geskeur is, rame wat van mure af gestamp is, glasware wat onderstebo geloop en gebreek is en die hoop mis wat opgegaar het, het Kapous Mouton beskryf in kragwoorde wat ek nie vermoed het dat hy geken het nie.
Verskeie ander offensiewe om van indringers ontslae te raak, moes al geloods word. ‘n Keer was ‘n hele gesin van vier onder die gras ingewurm. ‘n Vanghok, telkens gelaai met vars gekookte eiers, het na dae van frustrasie beperkte welslae opgelewer.
‘n Keer het Brent een met ’n braaitang beetgekry net toe hy begin dekgras uitwoel.
Een amusante herinnering het ek darem ook. Een middag het dit skielik geklink soos ‘n haelstorm wat die dak (blik op gras) tref. Dis toe ‘n mannetjie en wyfietjie en die storie van die blommetjies en die bytjies. Wat ‘n kawolt. Die stemmige Leonora Mouton het amper van haar stoel geval toe ek haar meedeel: “Ons het vanmiddag seks op die dak gehad”.
Die huidige ou bak ook lekker in die sonnetjie by die agterste braai. Sy voornemens is klaarblyklik onheilig en onheilspellend. Ons sal die badkamerdeur moet toe hou die volgende paar dae – as hy dalk daarin slaag om finaal deur te breek.
Vermeldenswaardig is dat Caroline Pols terselfdertyd teen bobbejane te velde trek oor die minagtende behandeling wat haar nuwe grasdak van sekelstert-avonturiers te beurt geval het. Die bos het ook maar sy uitdagings.
Koffiekapitaal (met apologie aan Jan Spies) was om op ‘n Saterdagoggend om sesuur op die stoep die eerste koppie boeretroos te geniet terwyl ‘n troppie njalas – imposante bul, twee ooie en ‘n klein-klein lam – in die digte struikgewasse rondom die huis wei. Skielik kom die bul dan in die oopte. En die kamera is binne…. Dis ‘n goeie toets vir iemand se ratsheid op 83.
Die ou groot bosnagaap kom redelik gereeld. Hy maak die tafel skoon. ‘n Honger hiëna sluip hoopvol om die braailapa rond.
Menslike kontak was beperk tot die Presslys uit Skukuza en die Schmidts van Jakkalsbessie 50, Ernst en Leonie. Met Ernst se pa, Willem, het ek gemeenskaplike Natalse wortels: Vryheid, Dundee, Boshoek, Enyati, Hlobane…
In die lig van die temperature en ander dinge is vir die Presslybesoek ‘n boud vooraf op die Weber gaargemaak vir koue vleis en slaai. Op die Maniebraaier was tjops vir die aand self. Dit was die eerste keer dat ek twee braaipunte tegelyk beman – albei relatief suksesvol.
Feb 25, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Fyner mense met sagter oë vir hul medemens en ‘n eleganter lewenswyse as die jintelman Danie Krynauw (95), ontslape oud-uitvoerende hoof van Nasionale Tydskrifte en oudste lewende Nasperser, tref jy nie sommer op aarde aan nie.
Sy stem het ek die goue oue van Naspers nooit hoor verhef nie en in sy bestuurstyl was niks dominerend nie, tog het hy as kaptein die talentvolle span van Naspers se tydskrifte-empire in die 80’s en 90’s van verowering tot verowering gelei.
Die spangees was fenomenaal. Van redakteurs en hoofbestuurders het hul kranige kaptein net die hoogste lojaliteit en respek geniet, omdat sy oordeel so gesond was en sy insigte so vlymskerp oor wat sal werk en wat nie.
Op sy dag self ‘n uithaler-advertensiebemarker, was hy sterk gesteld op verhoudinge met die reklamebedryf en in daardie geledere het hy ‘n vriendekring opgebou wat die Tydskrifte-afdeling jare der jare ten goede bly strek het.
Danie was my buurman op die 18de verdieping van die Perssentrum in die Heerengracht. Hy was reeds hoof van Tydskrifte toe ek in 1992 hoof van Koerante word. Vir sy mentorhand in die vreemde nuwe bestuurswêreld het die oud-redakteur net die grootste waardering.
Danie het my soms verras met openhartige uitsprake oor sekere persoonlikhede. Hy het nie ‘n aptyt gehad vir ‘n opgeblase ego of oordrewe selfbeeld nie.
Ja, met gelote deure kon hy op sy beskaafde manier nogal brutaal eerlik wees, dié kollega. Mettertyd het ek agtergekom Danie was selde verkeerd in sy oordeel oor mense. Hy kon hulle haarfyn raak takseer – seker een van die redes waarom hy die uitsonderlike Kathleen, dogter van ‘n politikus uit die ou Federasie van Rhodesie en Njassaland, in Oktober 1989 as bruid gekies het. Sy het hom tot die einde in die aarde in bederf, en hy het na meer as 35 jaar jaar nog die grond aanbid waarop sy loop.
Meer as een keer het ek in sy kantoor ingewals om oor, noem dit maar, die eienaardige optrede van dié of daardie koerantekollega te gesels”. . Hy het altyd gereageer met ‘n kenmerkende Krynauw-kwinkslag. Dan lag ons saam in ons moue.
Danie was in verskeie opsigte bewonderenswaardig. Ek het sy talent beny om selfs in die uitdagendste omstandighede koel en kalm te bly. Na die uwe se eerste paar direksievergaderings het ek aan hom gebieg hoe ek sidder dat ‘n bepaalde direkteur my (wat geen MBA was nie!) oor geldsake sou vasvra. Sy advies was pront: moet nooit dat hulle agterkom dat jy nie weet nie; ‘n ingeligte raaiskoot is altyd beter as ‘n erkenning van onkunde.
Ek het sy raad een keer op die proef gestel. Later het ek ontdek my raaiskoot was ver van die kol. Dit verklaar seker die verwarde uitdrukkling op die betrokke direkteur se gesig. Hy was ‘n skrander man wat met syfers kon toor en deur kafpraatjies kon sien. Hy was seker maar die jongeling Absalom genadig!
Ná Danie se aftrede het hy soms op die 18de verdieping kom inloer vir ‘n vinnige: “Haai, hoe gaan dit?” In 1997, aan die vooraand van my eie aftrede, was Danie weer op besoek. Ons is na die kafeteria vir koffie en hy het vertel van sy en Kathleen se salige leefwyse: somer op Hermanus, winter in die Laeveld.
‘n Vrugbare saadjie is daardie dag geplant. Kort daarna was die Van Deventers die trotse eienaars van ‘n eiendom in Sabiepark by die Krugerhek, ‘n plekkie wat diep in ons harte gekruip het. Dankie, Danie, jy was vader van die gedagte. Ek onthou altyd in dankbaarheid jou rol as ek by Tarlehoet ‘n vuurtjie aansteek.
Feb 20, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

As ‘n koerante- en papiermens in hart en niere is dit vir my ‘n genoegdoening om oor wat steeds die waardevolste sleutel tot heeldag-genot op die Queen Mary 2 is, te rapporteer. Reg geraai, dis ‘n papier-“koerantjie”. Hoe anders gaan jy, arme drommel, uit die daaglikse dis van 100 of meer aanbiedings slim kies? Onmoontlik.
Die “koerantjie” is die nog keuriger as tevore volkleur-dagprogram, wat saans voor slaaptyd saam met die slaapsjokoladetjie op jou kopkussing kom – ses bladsye (so diep soos ‘n A4 en halfpad so wyd) vol prikkelende spesiale aanbiedinge om vir die volgende dag te oorweeg: die tyd, plek, posisie op die skip en aard volledig aangedui – ook met kleurkodes.
Blou is vir vermaak, geld vir “Cunard insights”, rooi vir iets nuuts leer, bruin vir sosiale byeenkomste, groen vir speletjies en pers vir “iets spesiaal”.
Vermaak behels o.m. konserte, musiekuitvoerings en sterrekykery in die planetarium; “Cunard insights” is ‘n lesingsprogram oor aktuele onderwerpe deur kenners, “iets nuuts” leer sluit in kuns, tale, handwerk en dans; sosiale byeenkomste is vir alleenlopers, kerkgenootskappe en liefhebbers van allerlei stokperdjies (ook LGBTQ’s); “iets spesiaal” is van die “afternoon tea” in die Queens Ballroom elke middag tot nuwe rolprente soos die Oscarwenner “Oppenheimer”.

Die program word ook op ’n spesiale TV-kanaal toegelig, maar hoe onthou ‘n gewone sterfling die duisternis inligting of maak jy nota’s op ‘n skerm?
Ons eie daaglikse skedule is voor slaaptyd versigtig uit die “koerantjie” saamgestel. Tussen lang ontbyte, avontuurlike middagetes, die spoggerige “afternoon teas” en gourmet-aandetes deur, is ons dae gewy aan musiek (onder meer flamencokitaar), sterre kyk, boeiende sprekers, son soek, skemerkelkies saam met harp, strykkwartet of klavier, biblioteekbesoeke, aandvermaak op die verhoog en, natuurlik, ’n bietjie niksdoen op ’n dek. Die verloklike net-reg-hout-dekstoele is ’n Cunard-handelsmerk.
Die gesaghebbende en inderdaad insiggewende “insights” spruit uit die dae van die ou Queen Mary. Die tradisie is met welslae eers op die QE2 en toe later ook op die QM2 oorgeplant. By die tiende verjaardag van die QM2 in 2014 het die Cunard-mense, wat lief is vir statistieke, hieroor sommetjies gemaak. Op 419 vaarte van die nuwe Queen is in die dekade amper 8 000 lesings aangebied, het hulle bereken – die ekwivalent van ’n jaar se radio-uitsendings sonder onderbreking!
Op elke vaart is ’n stuk of ses glanspersoonlikhede met ’n sak vol stories oor uiteenlopende onderwerpe. Op die vaart na Mauritius is lesings aangebied oor onder meer verskeie kulture, die wildlewe, Kaaps-Hollandse boukuns op wynlandgoedere, Nelson Mandela en seks. Ja, ‘n geleerde dame het diegene met ambisies in daardie rigting voorgelig oor oudag-tegnieke.
Die bestemming vir elke dag se porsie skemermusiek was saans ’n vername punt vir bespreking. Op grond van wie waar optree, is vir ‘n skemerdrankie om die beurt afgesit na die elegante Chart Room, die deftige Commodoreklub, die jolige Lion’s Pub of waar ook al.
’n Fokuspunt van vermaak is die Royal Court-teater met sy 1094 sitplekke. Sangers, musikante, dansers, towenaars en komediante bied saans twee glanskonserte aan. Nie elke aand se kunstenaars het, in alle eerlikheid, die lang wag hierdie keer vir hierdie tradisionele vroegslaper eweredig die moeite werd gemaak nie. Ek sal ridderlik nie name uitsonder nie.
In die Illuminations-teater se planetarium kan jy in sagte stoele op jou rug na die sterre en planete in die eindelose hemelruim teen die reuse-koepelskerm in die dak of na fiktiewe ruimteskouspele tuur.
In die sonnige Clarendon-galery (die grootste kunsgalery ter see) word gereeld uitstallings gehou. Bywoning is soms dalk meer om die halsbandjie as die hondjie. Die gratis Franse sjampanje (nie vonkelwyn nie, hoor!) het op eerste aande gevloei.
Wat nie op ons program was nie weens oorwegings van eie smake, voorkeure, belangstellings en aktiwiteitsvlakke (soms ook begroting!) was onder meer uitgebreide spa- en salon-besoeke, asook fiksheidsklasse en gesondheidsprogramme oor pof-oë, donker kringe en plooie; gewigsbeheer en meditasie.
Ons het dans- en waterverfklasse vermy, asook veerpyltjie- en ander sportkompetisies, brugtoernooie, triviasessies, blommerangskikking-demonstrasies, kunsseminare, kooroefeninge (vir die skip se eie passasierskoor) of die daaglikse brei- , hekel- en naaldwerkklasse (ja, werklik!), nogal in die Veuve Cliquot-sjampanjekamer. Elke diertjie het tog maar sy eie plesiertjie.
Vir die tyd dat ek in ons kajuit “geïsoleer” was weens ‘n lastige maagvirus het ons die TV-aanbod deeglik leer ken. Onder die sowat 30 kanale is BBC News, Sky News, Sky Sports News en Fox News. Koning Charles se kankerdiagnose het juis in daardie tyd uitvoerige aandag geniet.
Hiermee dan oor uit. Dankie aan elkeen wat die afgelope paar dae met kommentare, hartjies of duimpies in die lug, of dalk brommend (?) saamgereis het. Hoop ek kon die een kernboodskap oordra: Die QM 2 is waarlik weergaloos.