Kom ons gesels verder oor die komediant, sanger, akteur, omroeper, komponis, draaiboekskrywer, goëlkunstenaar en buikspreker Piet Pompies. Vandag se tema: die oorsprong van die onderskatte vermaaklikheidskunstenaar se naam … ene wat nogal vir moedswillige misverstand vatbaar is.
Op die beste gesag het ek dit waaraan die amper legendariese grapjas – wat op 30 Desember 1992 op 70 in ‘n motorongeluk naby Grabouw gedood is – sy ongewone verhoognaam te danke gehad het: natuurlik aan die outydse pompie-toeters op sy bors. Hy het altyd daarmee op die verhoog lawaai gemaak. Toet-toet.
Kyk na die foto hierby: so ‘n toeter-affêring hang om sy nek. Kyk ook na die voorblad van sy dogter, Elsa, se boek oor hom by gister se plasing: ditto. Klink dus logies.
My bron vir hierdie verklaring is SAUK-TV. Kry die inligting op sy webblad. SAUK-TV bedank op sy beurt Marius de Vos van IFM 102.2 daarvoor.
Hierbo verwys ek na die moontlikheid van misverstand. Laat my dan aanknoop by ‘n mooi storie in Elsa se boek, “Piet wat Pompies was”.
Sy vertel van ‘n KKNK ‘n paar jaar gelede waar kondome met “stout” Afrikaanse name bemark is. Een van die produkte is die naam gegee Piet Pompies.
Die Van der Byl-kinders was opgeruk en wou met alle geweld prosedeer. Ma Betsie, ‘n wyse en verstandige vrou, het hulle gekalmeer. Die naam Piet Pompies het volksbesit geword, het sy geredeneer.
Buitendien: Pa Piet (Pieter) sou waarskynlik gevlei gevoel het dat sy naam op die manier verewig is!
(Op die SAUK-TV-webblad lees ek Piet (Pieter), aanvanklik ‘n klerk en later stasiemeester by die Spoorweë, in sy lewe ook eienaar van ‘n troeteldierwinkel en perdeslagter was. Amanda Botha het laat weet dat hy op skool op Jan van Riebeeck vir die eerste span rugby gespeel het. Waarlik ‘n man van vele ambagte en talente.)
Deel dit: