Sy stem het ek die goue oue van Naspers nooit hoor verhef nie en in sy bestuurstyl was niks dominerend nie, tog het hy as kaptein die talentvolle span van Naspers se tydskrifte-empire in die 80’s en 90’s van verowering tot verowering gelei.
Die spangees was fenomenaal. Van redakteurs en hoofbestuurders het hul kranige kaptein net die hoogste lojaliteit en respek geniet, omdat sy oordeel so gesond was en sy insigte so vlymskerp oor wat sal werk en wat nie.
Op sy dag self ‘n uithaler-advertensiebemarker, was hy sterk gesteld op verhoudinge met die reklamebedryf en in daardie geledere het hy ‘n vriendekring opgebou wat die Tydskrifte-afdeling jare der jare ten goede bly strek het.
Danie was my buurman op die 18de verdieping van die Perssentrum in die Heerengracht. Hy was reeds hoof van Tydskrifte toe ek in 1992 hoof van Koerante word. Vir sy mentorhand in die vreemde nuwe bestuurswêreld het die oud-redakteur net die grootste waardering.
Danie het my soms verras met openhartige uitsprake oor sekere persoonlikhede. Hy het nie ‘n aptyt gehad vir ‘n opgeblase ego of oordrewe selfbeeld nie.
Ja, met gelote deure kon hy op sy beskaafde manier nogal brutaal eerlik wees, dié kollega. Mettertyd het ek agtergekom Danie was selde verkeerd in sy oordeel oor mense. Hy kon hulle haarfyn raak takseer – seker een van die redes waarom hy die uitsonderlike Kathleen, dogter van ‘n politikus uit die ou Federasie van Rhodesie en Njassaland, in Oktober 1989 as bruid gekies het. Sy het hom tot die einde in die aarde in bederf, en hy het na meer as 35 jaar jaar nog die grond aanbid waarop sy loop.
Meer as een keer het ek in sy kantoor ingewals om oor, noem dit maar, die eienaardige optrede van dié of daardie koerantekollega te gesels”. . Hy het altyd gereageer met ‘n kenmerkende Krynauw-kwinkslag. Dan lag ons saam in ons moue.
Danie was in verskeie opsigte bewonderenswaardig. Ek het sy talent beny om selfs in die uitdagendste omstandighede koel en kalm te bly. Na die uwe se eerste paar direksievergaderings het ek aan hom gebieg hoe ek sidder dat ‘n bepaalde direkteur my (wat geen MBA was nie!) oor geldsake sou vasvra. Sy advies was pront: moet nooit dat hulle agterkom dat jy nie weet nie; ‘n ingeligte raaiskoot is altyd beter as ‘n erkenning van onkunde.
Ek het sy raad een keer op die proef gestel. Later het ek ontdek my raaiskoot was ver van die kol. Dit verklaar seker die verwarde uitdrukkling op die betrokke direkteur se gesig. Hy was ‘n skrander man wat met syfers kon toor en deur kafpraatjies kon sien. Hy was seker maar die jongeling Absalom genadig!
Ná Danie se aftrede het hy soms op die 18de verdieping kom inloer vir ‘n vinnige: “Haai, hoe gaan dit?” In 1997, aan die vooraand van my eie aftrede, was Danie weer op besoek. Ons is na die kafeteria vir koffie en hy het vertel van sy en Kathleen se salige leefwyse: somer op Hermanus, winter in die Laeveld.
‘n Vrugbare saadjie is daardie dag geplant. Kort daarna was die Van Deventers die trotse eienaars van ‘n eiendom in Sabiepark by die Krugerhek, ‘n plekkie wat diep in ons harte gekruip het. Dankie, Danie, jy was vader van die gedagte. Ek onthou altyd in dankbaarheid jou rol as ek by Tarlehoet ‘n vuurtjie aansteek.