Piet Pompies: Baie mense, veral van die nuwer generasies, reken waarskynlik dis sommer ‘n duimsuig-naam soos Jan Salie, Jan Rap, Piet Snot of die Daantjie van die kalwerhok wat in uitdrukkings en idiome in die volksmond voorkom.
My generasie se mense weet darem “mnr. Pompies” was ‘n mens van vlees en bloed: ‘n grapjas wat ook kon liedjies skryf en sing; ‘n voorste vermaaklikheidskunstenaar wat selfs ook radioprogramme gemaak en draaiboeke geskryf het. Ons onthou liedjies soos “Haar pa wou nie gaan slaap”, “Antjies die rooibruin hen”, “Kaboemielies” en “Sousboontjies”.
Maar slaan die meeste dood oor wie Piet Pompies werklik was. Trouens, tot verlede week was ek ook oor sy identiteit totaal in die duister. Toe gee Jakkie Groenewald, akteur en oud-joernalis, vir my ‘n boekie present met die titel “Piet wat Pompies was” (Malan-media, 2018) deur Piet se dogter, Elsa (Dixon) van der Byl.
Nou weet ek (dalk die eerste keer?) wie die man agter die alias Piet Pompies was: Pieter Carel Nicolaas van der Byl, ‘n spoorwegman wat tot stasiemeester gevorder het voor die verhoog-gogga hom gebyt het.
Piet is in 1922 gebore en het in die Depressiejare grootgeword. In die laat 1940’s het hy in Koffiehuiskonserte begin optree wat deur die destydse SAUK uitgesaai is – dit was vermaaklikheidsprogramme onder die titel “Vrolikheid in die Koffiehuis”.
Van 1950 tot 1962 het hy 12 jaar lank vir die destydse Springbokradio ‘n weeklikse halfuurlange program geskryf vir “Caltex Kaskenades”, waarin hy saam met Pip Freedman (onthou jy nog?) opgetree het. Hy was ook verantwoordelik vir die rolprent “Next Stop Makouvlei”.
Piet was vaardig met die pen. Afgesien van gereelde artikels in tydskrifte en koerante, het hy ook draaiboeke geskryf en selfs van die musiek daarvoor gekomponeer. In die jare toe hy radioprogramme geskryf en konserte gehou het, het hy ongeveer 280 liedjies gekomponeer en in 1952 het hy 14 plate gemaak. Hy is in 1992 oorlede.
(Toe ek die woorde van die vermaaklike “Haar pa wou nie gaan slaap” begin lees, kom alles meteens terug. Toets gerus jou geheue (effens verkort):
Die dogter van Tant Hessie was maar lank en skraal,
haar hare hang in lokkies en die kleur is vaal.
As ek vir haar gaan kuier en dis donkermaan
Dan gaan haal sy gou ‘n kersie en steek dit aan.
Haar pa wou nie gaan slaap …
Ons sit toe op ‘n bankie by die agterdeur,
sy vat toe aan my handjie om my op te beur.
Ons kyk toe na die sterretjies wat helder skyn,
toe sien ek ‘n beweging by die wasgoedlyn.
Ons sit toe by die hekkie in die groentetuin.
Ek druk toe sag ‘n soentjie op haar lippies fyn.
EK sien haar in my drome in ‘n mooi trourok.
Toe sien ek ook iets anders in die hoenderhok.
Ons dink toe aan ‘n plekkie in die vrugteboord,
Na ons lank gesels het, vra ek die ja-woord;
Sy glimlag toe vir my en ek was ingenoom.
Toe sien ons roer die blare in die perskeboom.
Die liewe tante nooi ons toe na die kombuis.
Sy sê toe: Nefie, goeienag en maak jou tuis
En toe ek later opstaan en my hoedjie vat …
Toe sien ek daar loer iemand deur die sleutelgat!)
Deel dit: