HAAL AF, HAAL AF!

Verkiesingsplakkate met slim en minder slim slagspreuke is tiekie die bos voor a.s. Woensdag se verkiesing. Elke party wil elke ander party se boodskap oortroef of verdwerg. Rusies vlam op oor kwessies soos pariodiëring van plakkate, verwydering van plakkate weens munisipale regulasies, ens.

‘n Bloemfonteinse onderonsie oor plakkate wat, soos in ander gevalle, ook Engelse Sondagkoerante gretig laat meedoen het, was voor die verkiesing van 6 Mei 1987.

Die KP-kandidaat vir Bloemfontein-Oos, dr. Herholdt Pauw, ‘n internis, het op Donderdag 30 April KP-plakkate reg voor Die Volksblad se hoofingang in Voortrekkerstraat laat opsit. Ek (redakteur van die koerant) het dit summier deur die sekuriteitsafdeling laat verwyder. Opdrag is gegee dat vervangende plakkate ook dadelik moet af.

Een rede was dat dit, volgens my, moedswillige uittarting was. Nêrens anders in Voortrekkerstraat, so ver die oog van Die Volksblad af kon sien, was KP-plakkate nie. Ten tweede was dit onesteties voor ‘n gebou waarop die landsvlag en ‘n Naspersvlag daagliks wapper, en die koerant se eie plakkaat in ‘n netjiese, argitekontwerpte houer met ‘n glasdeksel vertoon word.

Vroeg die Vrydagoggend was die polisie in my kantoor; ‘n sers. Schoeman van die uniformtak, vergesel deur ‘n jong kollega. Ek het ‘n beëdigde verklaring afgelê oor my beweegredes. Schoeman is ook meegedeel dat die plakkate onbeskadig by Die Volksblad vir hul eienaars beskikbaar is.

Die Vrydagnag probeer die KP’s toe weer hul plakkate opsit. Ons sekuriteitsmense het dit vinnig verwyder. ‘n KP-gesinde polisieman, speurder-sersant John Redman, ”ontdek” daarna die “vermiste plakkate” kamma dramaties in ons gebou – en Pauw laat geen gras onder sy voete groei nie om al wat ‘n Sondagkoerant is (en die SAUK) die wenk te gee dat ‘n klag van diefstal van KP-plakkate ondersoek word.

Die Sunday Star en die Sunday Tribune het darem my kommentaar gevra; die Sunday Times het sommer net Pauw en Redman se stories gesluk en gepubliseer: dat  ”a complaint of theft of Conservative Party election posters is being investigated against certain members of Die Volksblad newspaper in Bloemfontein”.

Die einde van die sage was pragtig. Die KP wou vir Die Volksblad ‘n wip stel. Toe kry hy ‘n bloedneus. Die senior aanklaer het geweier om te vervolg nadat ons aan hom kon uitwys dat ‘n munisipale regulasie die aanbring van enige plakkaat teen ‘n lamppaal verbied – ‘n vriendelike wenk van die Minister van Justisie, Kobie Coetsee.

Die ontnugtering vir Pauw en sy mense het heelwat vrolikheid in Bloemfontein veroorsaak. Vir die SAP was dit ‘n verleentheid dat van sy senior lede met die KP dwaaslik saamgespeel het om ‘n kwaadwillige klag te prakseer – duidelik uit politieke dienstigheid.

Woensdag gaan ons stembus toe sonder Die KP en, helaas, ook sonder Die Volksblad as gedrukte koerant. Als dus vergeefs gewees, maar adrenalien het gepomp.

IDEAAL VIR WEGKOM

Slinger-slinger deur die ruuste van ruwe rotse kies die klipperige grondpad koers van die sendingstasie Zoar se kant op die bekende R62-roete tot by Laingsburg op die N1. Die oggendson bak uit ‘n blouselblou lug op die asemrowende rotsformasies .

Dit is die indrukwekkende Seweweekspoort wat jou deur die Klein Swartberge vat van die Klein Karoo na die Groot Karoo op ongetwyfeld een van die skilderagtigste roetes in Suid-Afrika wat jy sonder ‘n 4 x 4 kan aandurf.

Die Swartbergpas in die Groot Swartberge is ‘n beroemder pas wat die toeriste in groot getalle lok.  Hierdie kleinboet in die Klein Swartberge het nie daardie verstommende haarnaald-draaie nie, maar kan as ‘n stuk aangrypende natuurskoon amper in dieselfde asem genoem word. Hy verdien ‘n groter reputasie.

So glo hierdie berg-bewonderaar ná ‘n kennismaking met die Poort vandeesweek nadat ek voorheen telkens by daardie padbord op die R62 verby is Oudtshoorn toe sonder om af te draai.  Hoe bly is ek nie dat ek op my oudag myself die ervaring gegun het nie.

Die Poort is 17 km lank en bereik op 1 018 meter sy hoogste punt. Dit is nie net ru, breed en bonkig nie, maar  ook hemelhoog.

Die pad kruis die Seweweekspoort rivier (ook genoem Huisrivier), ‘n tak van die Gamkarivier, nie minder nie as 30 keer.  Pas op om daar te gaan ry as dit reën of goed gereën het.

‘n Merkwaardige stukkie geskiedenis is dat in die 1850’s met behulp van gevangene-arbeid begin is om die pad langs die rivierloop te bou. Ná weinig vordering is die taak in 1860 aan  AG de Smidt, swaer van Thomas Baine, opgedra. Die pad is in November 1862 voltooi en is ná ‘n eeu en ‘n half steeds in gebruik, veral deur toeriste.

aar kom die vreemde naam vandaan?  Een teorie is dat dit genoem is na eerw. Louis Zerwick van die Berlynse Sendinggenootskap. In die volksmond het Zerwickspoort deur die jare heen Seweweekspoort geword, want die bevolking het die seweweeksvaring geken.

Blyplek is o.m. te vind in die Aristata-oord met drie selfsorghutte en ‘n selfgeboude swembad met helder bergwater.  Die oord is in ‘n natuurskone kom met hoë bergwande.  Die water sien nooit ‘n korrel chloor nie. Dis ‘n idelae plek om van alles weg te kom.

(Vir foto’s kan jy net mik en kiek.  Hier is ‘n seleksie van myne.  Dit sluit die ongewone swembad in)

VOLKIES VEG VOORT

Potch se oud-Volkies veg voort oor die verknoeiing van hul skoolwapen. Die volgende verklaring kry sy loop op sosiale media:
Dit het onder ons aandag gekom dat rondom die eufeesviering van die skool in 2022 die wapen sonder rede, motivering of inagneming van geskiedenis, tradisie of Volkiekultuur ingrypend verander is. Ons oud-Volkies teken beswaar aan en verwag /eis dat met ons in gesprek getree word.
Die nuwe wapen toon na ons oortuiging die volgende gebreke:
a) Die nuwe wapen doen afbreuk aan die oorspronklike eenvoud en trefkrag van die oorspronklike.
b) Die wegdoen met die oorspronklike skild is na ons mening ongevraag en verminder die treffende visuele impak.
c) Die voël op die oorspronklike, hetsy arend volgens die meeste of feniks volgens sommige oud-Volkies, is uniek, en moet gehandhaaf word uit tradisie, asook uit respek vir die geskiedenis en vir ons voorgangers,wat dit om welke redes ookal bepaal het.
d) Die silwer akkertakke op die nuwewapen versteur die balans van die oorspronklike en maak geen sin nie. Dit het geen tradisionele verband met die geskiedenis van ons skool nie. Veel eerder sou wilgertakke of swartdoringtakke iets kon beteken het.
e) Die oorspronklike drie skakels van ‘n ketting wat dui op krag en eenheid is vervang met drie losstaande ringetjies wat oor mekaar lê, sonder ineenskakeling. Een verduideliking is dat dit op God Drie-enig dui. Dit is teologies nie houdbaar nie. ‘n Tweede veruideliking is dat dit op kinders, ouers en onderwysers dui. Daardie drie elemente is egter kenmerkend van enige skool en geensins uniek aan Volkies nie.
As oud-Volkies versoek ons die Beheerliggaam (BL) om met ons in gesprek te tree oor die onsinnige en onnodige verandering van ‘n trotse wapen wat die toets van tyd deurstaan het, sodat die oorspronklike in ere herstel kan word.

 

‘N EKSIE-PERFEKSIE SOUT-VAN-DIE-AARDE-MENS

Tukkiebaadjies raak knap maar Tukkieharte klop warm.

Oor Cas Jacobs, studentemaat wat vanoggend op 85 oorlede is, kan jy lank en uitvoerig uitwei – oor sy liefde vir fyn kos en fyn musiek; sy verbintenis tot voortreflikheid en hoë standaarde; sy onwankelbare lojaliteit aan sy gesin, vriende en plekke van herkoms; sy taaie volharding en blymoedigheid in sy lang stryd teen kanker.

Ek en Cas het saamgeloop van 1958 af toe ons uit verskillende windrigtings by Tukkies se Kollegetehuis aangekom het.   Die lewenslange vriendskap is gevoed deur ‘n onblusbare verknogtheid aan Kollege en die vriende wat ons daar gemaak het, asook, later in ons lewe, ‘n gedeelde liefde vir die bos.

Ons eerste re-unie.

Intieme klein koshuisreünies in die Krugerwildtuin was lank ‘n jaarlikse hoogtepunt.  In die 25 jaar dat ons bostoevlug, Sabiepark, in die Van Deventers se  besit is, was Cas en die dierbare Nella 17 keer op besoek (Hy het getel, nie ek nie, en dit in sy sierlike handskrif in ons gasteboek aangeteken.)  Van geen ander mense is soveel spore oral in die huis te bespeur nie: van breekgoed tot braaitoerusting; van handgeverfde tafellappies tot kussings.  Hul Honda was altyd boordensvol gelaai as hulle daar aankom.

Kuier op Melkbos.

Cas het Tukkies toe gekom as ‘n soliede, ongekunstelde Karooseun wat, in kontrei-idioom, van ‘n “badskamer” en ‘n “puts” gepraat het. Ons was dadelik tot mekaar aangetrokke. Die studentevriendskap het tyd en afstand oorbrug. Toe hy vandag, 22 April 2024, die aarde verlaat het, het ‘n intense melankolie my beetgepak. Sulke vriende is skaars.

Een voorbeeld: in 1960 was ek met my studentemotor, ‘n onversekerde Peugeot 203 uit 1953, in ‘n ongeluk.  Later kry ek van my koshuismaats ‘n bultende koevert – om te help betaal vir die herstel van die kar.  Cas was die dryfkrag..

In Sabiepark.

Die Peugeot was nooit weer dieselfde nie. Tog was hy op ’n epiese tog na Bloemfontein vir die Uniefees in meer as een opsig – ook as slaapkamer – ‘n staatmaker. Genadiglik was die handige Cas een van die vier passasiers. Met behulp van ’n stuk bloudraad en ’n tang vir probleme met die vergasser het die boerseun van Carnarvon ons op die pad gehou.

Een grou Sondagmiddag het ek en Cas  die kar voor Asterhof gaan trek met ’n yslike “Hoekie vir eensames” teen die voorruit. Toe dit donker word, was ons steeds eensaam!

Deur die jare het die Kollegemanne van daardie era graag saamgekuier, ook een keer by die mooi Jacobswoning in Drienielaan, Eldoraige, waar hulle goed ingerig was om plate-aande aan te bied en hul vriende op gereelde skaapbraaie te onthaal.

Piekniek op Granokoppie,

Van 2012 af was Balule, primitiewe boskampie in die wildtuin, en later Orpen ons bestemming.  Cas en Nella was altyd die voorvatters by die kospotte met vleis wat net reg gebraai is en ander fynproewergeregte.  Hulle was die mense wat die styl bygedra het met tafeldoeke, servette, kerse en keurige eetgerei.

Die tjops of steak was, soos altyd, haarfyn volgens Cas se vereistes gesny, die kole moes presies reg wees en die roosters blinkskoon. Vir die vriend  moes alles altyd eksie-perfeksie wees; met afskepery in watter opsig ook al had hy min geduld.

Van kuiers in Sabiepark het ons vele herinneringe, van stiltenagmale in die NG kerk in Skukuza en daardie gemeente se unieke paasdienste in die wildtuin tot pieknieks op die Granokoppie naby Skukuza met sy grenslose uitsigte en  wonderlike sonsondergange.

Afskeidsbraai in Sabiepark.

In Maart  2023 was Cas se afskeidsbesoek, al is dit nie so uitgespel nie.  Hy was toe 84 en ek 82.  Hy het al begin swaarkry met die gesondheid. Ons was vir oulaas saam in die swembadjie. Elke aand is ‘n vuurtjie aangesteek. Om weer so kameraadskaplik langs die vuur te verkeer, was vir ons albei ‘n emosionele okkasie, gelaai met sentiment, nostalgie en herinneringe uit ‘n lang lewenskof met paaie wat deurgaans heuglik bly kruis het.

Ek groet Cas Jacobs met ‘n seer hart, maar ook innig dankbaar vir die voorreg om so ‘n sout-van-die-aarde mens langer as ses dekades my vriend te kon noem.

WARE LEWENSKUNS HET HY BEMEESTER

Die Hoexters, Van Deventers en Philip en Nance van Rensburg by Sabiepark se piekniekplek.

Met sy 100ste verjaardag in Februarie het ek oor Gustav Hoexter, oud-appélregter, geskryf dat hy by uitstek die voorbeeld is van ‘n man wat die ware lewenskuns bemeester het.

Met sy dood twee maande en drie dae later in sy huis in Bloemfontein is dit die woorde wat eerste by my opkom oor hoe om die fyn heer met sy vlymskerpe regsbrein, sprankelende spitsvondigheid en grenslose hartlikheid te beskryf.
Ek het dit al voorheen vertel, maar omdat dit so ‘n raakvat-definisie vir Gustav verskaf, vertel ek graag weer van die geskenk waarmee ek op my 70ste by die Hoexterhuis in Sabiepark weg is. Vergewe my maar daaroor, asseblief.
Die geskenk was ’n bottel Bell’s (“gee daai man ’n Bell’s!”). Wat dit egter van ‘n gewone bottel Skotse watertjies onderskei het, was die Hoexter-wyshede wat dit vergesel het. Een, ’n stukkie Duitse waarheid, was op die drasak: “Alt werden steht in Gottes Gunst, jung bleiben, das ist Lebenskunst!” En hoe jonk van gees het hy nie self gebly nie!
Die ander was binne die drasak. Dit was die woorde van ’n heildronk op die nuttige kurktrekker: “Here’s to the corckscrew! The key to unlock the storehouse of wit! The treasury of laughter! The front door of fellowship! And the gate of pleasant folly!”
‘n “Storehouse of wit” was Gustav inderdaad. Die “treasury of laughter” het hy volledig besit. Die “front door to fellowship” – dit het sy vriendskap vir almal beteken wat so eindeloos bevoorreg was om hom te leer ken.
Was dit nie Sabiepark nie, het my paaie dalk nooit met Gustav s’n gekruis nie. Hy was nie een vir die kollig nie. Daarom is sy honderdste verjaardag buite in sy onmiddellike vriende- en kollegakring relatief onbesonge verby. Ook daarom sal die groot man by sy dood waarskynlik nie die wye eer en erkenning kry wat hy verdien nie.
Oor sy rol in die regspleging (ook as voorsitter van die belangrike Hoexter-kommissie) is ek nie toegerus om my uit te laat nie. Ek kan net getuig dat hy onder sy kollegas ‘n reputasie van uitmuntendheid met sy uitsprake, skerpheid van intellek en integritet geniet het wat hom in die bestes van die bestes op daardie gebied plaas.
My eie kennis van Gustav Hoexter kom van Sabiepark waar ons twee dekades lank oor dosyne vuurtjies by die piekniekplek en by ons onderskeie huise in Tambotie- en Wildevylane gekuier het.
Ek het Gustav by geleentheid Sabiepark se gulste gasheer genoem. Dit was geen oordrywing nie. Sy en die sprankelende Frances se gasvryheid was legendaries. ‘n Kampvuur by die Hoexters was nie ‘n speelgoed-vuurtjie nie. Onvergeetlike aande is deurgebring in die lapa met al die lanterns wat aan kaal takke rondom flikker, die lekker stompe waarmee die bedrywige gasheer sy vuur stook en die sebras (selfs koedoes) wat gereeld vir gaste se onthalwe sommer naby kom water drink het.
Aan die hoof van sy tafel onder die kandelaar van werklike kerse was hy meesleurend galant en gevat. Met vreugde onthou ek die anekdotes wat hy kon oprakel; sy onuitputlike fonteintjie van kwinkslae, feestelike bydraes tot tafelgesprekke en sy relevante kwotasies uit klassieke werke.
Gaste het aan sy lippe gehang en die uurtjies het om daardie tafel prettig omgevlieg met, buiten die goeie wyn, ook altyd iets spesiaals, soos ‘n Normandiese witblitsie, om die palet te reinig en gemoedelikheid te bevorder.
Hy was werklik die “grand old man” van Sabiepark. Dat iemand se plek leeg is, ‘n oorwerkte cliché. In sy geval is dit nie. ‘n Gustav Hoexter skop jy nie agter elke rosyntjie- of sekelbos uit nie.

VRYTJIE OP TV: OUPA SE RAAD

Vandag begewe ek my op ‘n terrein waarvan my kennis ‘n ronde nul is. Van sg. werklikheidsreekse op TV is ek geen kyker nie. Soms sien ek egter onvermydelik ‘n reklamegreep raak, soms ‘n toevallige flertsie en soms ‘n storie in ‘n tydskrif of koerant met ‘n prikkelende opskrif.
Elke keer is ek dankbaar dat ek nie die oupa van een van die mooi meisiekinders is wat hulle so as openbare vrymateriaal opdring en dan vir hulle die risiko van verwerping en vernedering (asook openbare snot en trane) op die (lae) hals haal nie.
Hoekom doen julle dit, liewe kinders? As al julle oupas soos hierdie oubaas is, moet dit vir hulle ‘n dolksteek in die hart wees dat kleinkinders vir wie hulle baie lief is, so vrypostig optree, (Ek het eers ‘n ander woord gebruik, maar dit met ‘n sagter een vervang.)
Natuurlik is daar g’n fout met ‘n vryery op sy tyd nie, maar liefs dan – soos in die ou dae – weg van die kollig. In my tyd wou ‘n jonkman liefs ook maar nie weet nie met wie sy nooientjie tevore kafoefel het nie. As sy, soos nou, op TV haar ware en talente in daardie rigting as’t ware voor Jan Rap en sy maat uitgestal het, sou sy gewis ‘n etiket van effens tweedehands om haar nek gekry het.
Nee wat, meisies, hou op met die verspottigheid. Laat die boere, die akteurs en daardie snare maar hul eie geluk loop soek en nie net met ope arms sit en wag dat TV-programmakers vir hulle plesiertjies aandra nie.
Dis nou maar ‘n ouderwetse oupa se raad, maar dink tog maar daaroor na of hy nie ‘n geldige waarskuwing opper wat vir julle seerkry kan spaar nie.