REISMOLESTE

Sommige reise is nie vir sissies nie. Konfrontasies met allerlei hardekwas gesagsfigure; vreesaanjaende vlugte op flentervliegtuie; senutergende busritte saam met hoenders en bokke; slapelose nagte in agtertangse hotels; ure se toustaan vir slegte kos van suspisieuse oorsprong dit, en baie meer, staan ewe onuitwisbaar in die geheue van elke avontuurlike reisiger ingegrif.
Teëspoed kan oral tref — ook op die gesofistikeerdste toeristeweë van die beskaafde wêreld. Sonder om sonde te soek, kan die arme toeris in allerlei penaries beland wat hom om die beurt wanhopig, gefrustreerd, verleë of die swernoot in maak.
In (naam van boek) het (naam van skrywer) die soet en suur van 25 jaar se eie reise en versamelde reisstories uit allerlei bronne opgeteken. Die leser word saamgenooi op dosyne vakansies en toere met ‘n koffer vol insidente om saam oor te lag of huil — maar beslis meer te lag as te huil.
As bogenoemde vir jou klink klink soos ‘n promosie vir die nuwe reisbundel van Quellerie, Draaie, swaaie en afdwaalpaaie, wag op jou ‘n verrassing. Dis die stukkie op die agterplat van my Oos-Wes-Reismoles! wat in 1998 – 26 jaar gelede – deur Human & Rousseau gepubliseer is. Die ontbrekende name is my boek s’n en my eie.
Ek kla nie, reismoleste is immers ‘n storiebron wat nooit uitgeput kan raak nie. Ek gaan self graag lees wat die span topskrywers opdis; gun hulle net die grootste welslae. Oos, Wes- Reismoles is in elk geval nie meer op die rak sodat ek kompetisie hoef nie te vrees nie Meld dit dus bloot net vir die interessantheid.

AAND VAN BOK-KAPTEINS

En die klomp handtekeninge? Almal Springbok-rugbyspelers s’n. Dis op ‘n geraamde spyskaart wat teen my kroegtoonbank in die woonkamer hang. Die oorsprong is die sogenaamde “Aand van die kapteins” in Kaapstad se Mount Nelsonhotel op Woensdag 24 Mei 1995, die vooraand van die Rubywêreldbekerroernooi van daardie jaar wat Joel Stransky later op Ellispark vir die Springbokke met ‘n roemryke skepskop beklink het.

Op daardie spyskaart is die handtekenminge van digby veertig oud-Springbokke wat die dinee bygewoon het. Kapteins wat geteken het, is Johan Claassen (my oud-onderwyser op Volkies, Potchefstroom), Avril Malan, Abè Malan, Roy Dryburgh, Tommy Bedford, Jannie Breedt, Tiaan Strauss, Mornè du Plessis, Nelie Smith, Dawie de Villiers, Basie Viviers, Naas Botha, Wynand Claassen, Stephen Fry, Piet Greyling, Hannes Marais, Theuns Stofberg, Des van Jaarsveldt en Divan Serfontein.

Die lys is nie naastenby chronologies nie en dalk onvolledig; party ouens se handtekeninge ontsyfer jy maar moeilik, veral namate ‘n kuieraand vorder! Maar dis ‘n gedugte lys, hoor! Dan spog my spyskaart boonop met die handtekeninge van rugbylegendes soos Frik du Preez, Mannetjies Roux, H.O. de Villiers, Ryk van Schoor, Tom van Vollenhoven, Okey Geffin en andere. Seker die oudste Springbok wat geteken het, is Flappie Lochner.

Die handtekeninge is versamel deur my vriend Herman le Roux wat op sy dag sportredakteur van Beeld en Die Volksblad was.  Ons was tafelgenote. Hy het met ons spyskaarte van tafel tot tafel geloop en met sy kenmerkende deeglikheid niemand oorgeslaan nie. Net twee sulke volledig getekende spyskaarte bestaan, so ver ek weet: Herman syne en myne.

(Een Bok het net betyds geteken voordat die geselligheid van die saamkuier voor die ete hom ingehaal het en hy na sy kamer gehelp moes word. Ons noem maar nie die arme ou se naam nie.)

Oor die program: die seremoniemeester was die SAUK se Pat Tebbut, die tafelgebed is gedoen deur Dawie de Villiers en die sprekers was die Ierse losskakel Jackie Kyle, Jannie Engelbrecht, Dougie Dyers en Kepler Wessels. Op die spyskaart was gerookte salm, lamsboud en mokka-sjokolade. Die wyne was van Craighall.

Wat ‘n aand!

BRUGBOUER SONDER WEERGA

Links is hy in sy wit erebaadjie van St. Andrews en regs is ons twee saam op ‘n spanfoto van Colin se Kallers

As brugbouer tussen gemeenskappe en vertroetelaar van gesonde verhoudinge het Colin Hickling nie sy gelyke gehad nie. Die eienskap het die opperste jintelman ’n uiters gewilde burgemeester van Bloemfontein in die 80’s gemaak en hom die eer besorg om as een van die eerste Bloemfonteiners van die Jaar gekroon te word.

Niemand was ook ‘n lojaler alumnus van die St. Andrews-skool nie en niemand ‘n lekkerder maat vir sy uitgebreide vriendekring nie as Colin Kenneth Hickling wat die naweek op 86 aan kanker oorlede is.
Ek eer hom as kaptein van die sosiale krieketspan Colin se Kallers wat epiese wedstryde teen Bill se bulle van Welkom gespeel het met die doel om gemoedelikheid tussen die twee stede te bevorder. In my studeerkamer op Melkbos is ‘n blokkie donker hout (embuiarig) waarop ‘n klein krieketkolfie van ‘n gelerige hout gemonteer is. Op ‘n koperplaatjie is gegraveer: Hennie van Deventer – Stigterslid – ‘Colin se Kallers’ – Met beste wense van jou spanmaats – 23 – 2 -92 (die datum toe ek Kaap toe is). Dit is iets waaraan ek waarde heg.
Ek eer hom ook as ‘n hegte vriend van Die Volksblad wat my kort na aanvaarding van die redakteurskap in 1980 gewerf het as eerste Volksblad-redakteur wat lid van die Bloemfonteinklub geword het. Hy was die vader van die gedagte om na sluiting van die koerant The Friend in 1987 die Engelse blokkiesraaisel na Die Volksblad te skuif.
Hy was die hart en siel van die Friday Club, ‘n gesellige saameet-broederskap van ‘n uiteenlopende leierskorps in die stad. Hy het ‘n Londense taxi besit waarmee lede van die Club in die 80’s allerlei avonture beleef het, o.m. ‘n ordentlike “pub crawl”.
Hy was Engelssprekend maar het Afrikaans so goed gepraat dat iemand eendag tydens ‘n Engelse toespraak verras verklaar het: “Ek het nie geweet Colin kan so goed Engels praat nie!”
Hy het ‘n kwarteeu of langer gelede ‘n agterkwart-amputasie ondergaan. Sy vrou, Barbara, het ‘n dokter hoor sê: “Why are they putting poor Colin through all this? Why don’t they allow him to die in peace?” Wat ‘n goeie, vrugbare kwarteeu het dit nie geword nie.
Ek salueer die wonderlike maat en treur saam oor die sagte stem, spitsvondige geselskap en ondeunde glimlag wat vir altyd weg is.
.

STEMDAG 2024

My simpatie is met elkeen wat ‘n bloutjie by die stembus geloop het, veral diegene wat wou stem, maar nie kon nie omdat hulle na ses uur of meer in lang, stadig bewegende toue moed opgegee het; diegene wat weggewys is oor administratiewe foute met hul registrasie; diegene wat by stembusse sonder stembriewe of sonder al drie stembriewe opgedaag het, en diegene wat op ander wyses gefrustreer en beproef is. (Dit sluit ‘n kennis in wat onder polisiegeleide met ‘n reeds geverfde vinger na ‘n ander stembus gebring is.)
By baie stempunte, dalk die meeste, het alles goed verloop en baie kiesers, dalk die meeste, is gelukkig en tevrede. Daarvoor moet lof gaan aan ‘n skare OVK-beamptes wat hulle bekwaam en toegewyd aan hul taak gewy het. Nogtans is te veel balle laat val. Die huidige skandeerstelsel en -toerusting is onbetroubaar en skep te veel risiko’s. Die drie-stembrief-opset is te lomp en ingewikkeld. Nie alle beamptes is ewe kranig nie.
In my eie en my vrou, Tokkie, se geval is sonder enige druk – ons was Maandag voor in die tou – of sonder enige tegnologiese verskoning willens en wetens van die protokol vir spesiale stemme afgewyk. Ons voltooide stembriewe is nie in die voorgeskrewe koeverte geplaas nie, maar net so oop in drie bokse gedeponeer. . Agterna het geblyk dat sulke stembriewe op minstens twee ander maniere as die voorgeskrewe gehanteer is. Op plekke is dit sonder koeverte in een boks.
Gelukkig het ek nadat ek perd opgesaal het en o.m. ‘n tweede keer die stembus besoek het om te gaan navraag doen, amptelik die versekering gekry dat die OVK besluit het om die stemme ondanks die burokratiese onnoukeurigheid wel te laat tel.
As dit anders was, sou ek woedend gewees het nadat ek alles volgens die boek gedoen het om my stem te gaan uitbring wat moontlik my laaste kan wees, Ek is 83.
Om te stem, is elke mens se demokratiese reg. Alles behoort in werking gestel te word om ‘n stelsel te ontwerp wat dit vir almal so maklik moontlik maak en eweredig maklik om die reg uit te oefen, met minder ruimte vir menslike foute.

STEMDAG MET ROSETTE EN PANNEKOEK

Toe ek vanoggend my kruisie trek, kom die gedagte onwillekeurig op:  Is dit dalk my laaste?

Miskien is die gedagte gestimuleer deur die wete van my vriend Pièrre Theron wat in die waakeenheid op Mosselbaai is en so graag “vir oulaas” wou stem. Ek en hy is ewe oud: 83.

Vanoggend was ons by die Melkbosse biblioteek ‘n handjie vol seniors wat vir spesiale stemme geregistreer is.  Van net een party was daar buite ’n teenwoordigheid. Die DA het ‘n blou tentjie opgeslaan, beman deur twee jong vroue van Atlantis. In ‘n bottel op hul tafel was ‘n hoop blou lekkertjies.  Daar was ook ‘n blou ballon of twee.

Woensdag sal dit ongetwyfeld anders lyk, maar voor my siel weet ek ‘n gedoente soos my eerste verkiesing 63 jaar gelede sal dit nie naastenby wees nie.  Kulture het te veel verander.

Daardie verkesing was op 18 Oktober. Dit was die eerste ná Republiekwording.

Omdat ‘n mens brandstofkoepons (en iets te ete) verwerf het, het ek die dag klasse afgegee en met my Peugeot 203 (1953-model) vir die Nasionale Party gaan kiesers aanry. Van my passasiers was duidelik verras met die toestand van hul rytuig.

Watter miernes was dit nie nie by die stembus nie.   Die NP, Verenigde Party, die Progressiewe Party en die Nasionale Unieparty van Japie Basson en oud-regter Henry Fagan het elk ‘n goed bemande tent gehad. Oral het mense met groot party-rosette op die bors geparadeer.

Vroue het lustig pannekoek gebak, en dalk ook worsbroodjies gemaak, maar oor laagenoemde is my geheue vaag.

Die NP onder dr. HF Verwoerd het ‘n groot sege behaal.  Van die Japie Basson-party was dit net hyself wat verkies is. ‘n Betekenisvolle ontwikkeling in die opposisiepolitiek was die verrysenis van Helen Suzman  wat tot 1974 die enigste Prog-LV sou wees.

Die Nasionale Party het ‘n borsbeeld van CR Swart, eerste staatspresident, uitgeloof aan die Tukkie-koshuis wat hom die beste ondersteun het.  Kollegetehuis het gewen.

Dr, Nic Diederichs, minister van finansies, het die beeld die aand met die huisdinee kom onthul, Magtie, maar die man kon nie ophou praat nie.   Die keelvol Kollegemanne het later uit frustrasie met hul vingers op die glasies se rande begin vryf.  Al hoe luider het die glasiemusiek opgeklink, maar dr. D laat hom nie van koers bring nie.

Van Deventer neem die aand oor as huisvoorsitter by Vos Grey.  Die gedrag van my mede-Kollegemanne  ontstem die nuwe voorsitter. Hy is op en  af tussen die tafels en pleit om stilte.

Dr, D kry uiteindelik tog die boodskap en gaan sit vies. Mev. Marga D – altyd maar “high” en “mighty” – lyk of sy wil moord pleeg.  Die Kollegemanne skink dat dit klap en drink hul heildronke op al wat roer.

Wat my Sapvriende van die hele besigheid gedink het, het ek hulle nie gevra nie. Nou leef net een  van wie ek nog weet.

Foto: Die aand van die woelige huisdinee.  My meisie is Donelle du Toit.  Voor is Daan van der Merwe, SR-voorsitter, en Oom Chris en Tannie Rina de Wet, huisouers.  Daan het mettertyd politikus geword, eers LV van die NP en later LV van die KP.

FLIEK BY MY VOORSTOEP

Soos ‘n hond met twee sterte was ekke oor die helikopter-aksie  vandeesweek hier by my voorstoep  terwyl die internasionale rolprent Huntington op Melkbos geskiet is.

Nogal ‘n kawalt van ‘n ander wêreld as die internasionale fliekmakers op jou stukkie aarde toesak om ‘n aksierolprent te vervaardig. Op my drumpel as’t ware.

Die parkeerterrein hier neffens ons onder in Strandstraat was van vroeg –  nog donker gewees – al die ene bedrywigheid met groot vragmotors en ander voertuie – plus twee helikopters wat rukke in die lug hang en dan weer wegwoer, en ‘n hommeltuig.

Selfs Strandstraat se onderpunt is gesluit. Ons arme Melkbossers kon nie naby kom nie. Die eintlike rolprentaksie was  by Flamingostraat 13, twee strate suid van ons.

Een van die tonele behels dat ‘n hoofkarakter in die prent in ‘n helikopter van die see se kant na daardie huis vlieg. Hy spring uit die helikopter in die swembad. Hy hardloop daarna deur die huis tot op die strand, spring op ‘n waterponie (jet ski) en verdwyn oor die oseaan.

Die hoofrolspeler (Glen Powell) spring vervolgens selwers op ‘n waterponie en sit hom agterna. Pure James Bond. (Die ander sterre is Margaret Qualley.en Ed Harris.)

Waarom al die vragmotors nodig is, moet hierdie leek maar net raai. Een is gemerk “media”, Dalk moes ek rondom ‘n  etebreek myself gaan presenteer het in twee hoedanighede: oud-mediaman en belanghebbende, naasliggende huiseienaar.

Solank ek net nie in die rol van ekstra gedwing sou word wat ook sulke waaghals-toertjies moes uitvoer nie. HvD op ‘n waterponie wat oor die Atlantiese oseaan skeer – watse kamee sou dit nie wees nie!

Die huis op die foto’s is buurman Dale Schreuder s’n. Die gras, vetplante en tuinmuurtjie behoort aan die Van Deventers. (Geen grondeise nie, asseblief.)