En die klomp handtekeninge? Almal Springbok-rugbyspelers s’n. Dis op ‘n geraamde spyskaart wat teen my kroegtoonbank in die woonkamer hang. Die oorsprong is die sogenaamde “Aand van die kapteins” in Kaapstad se Mount Nelsonhotel op Woensdag 24 Mei 1995, die vooraand van die Rubywêreldbekerroernooi van daardie jaar wat Joel Stransky later op Ellispark vir die Springbokke met ‘n roemryke skepskop beklink het.

Op daardie spyskaart is die handtekenminge van digby veertig oud-Springbokke wat die dinee bygewoon het. Kapteins wat geteken het, is Johan Claassen (my oud-onderwyser op Volkies, Potchefstroom), Avril Malan, Abè Malan, Roy Dryburgh, Tommy Bedford, Jannie Breedt, Tiaan Strauss, Mornè du Plessis, Nelie Smith, Dawie de Villiers, Basie Viviers, Naas Botha, Wynand Claassen, Stephen Fry, Piet Greyling, Hannes Marais, Theuns Stofberg, Des van Jaarsveldt en Divan Serfontein.

Die lys is nie naastenby chronologies nie en dalk onvolledig; party ouens se handtekeninge ontsyfer jy maar moeilik, veral namate ‘n kuieraand vorder! Maar dis ‘n gedugte lys, hoor! Dan spog my spyskaart boonop met die handtekeninge van rugbylegendes soos Frik du Preez, Mannetjies Roux, H.O. de Villiers, Ryk van Schoor, Tom van Vollenhoven, Okey Geffin en andere. Seker die oudste Springbok wat geteken het, is Flappie Lochner.

Die handtekeninge is versamel deur my vriend Herman le Roux wat op sy dag sportredakteur van Beeld en Die Volksblad was.  Ons was tafelgenote. Hy het met ons spyskaarte van tafel tot tafel geloop en met sy kenmerkende deeglikheid niemand oorgeslaan nie. Net twee sulke volledig getekende spyskaarte bestaan, so ver ek weet: Herman syne en myne.

(Een Bok het net betyds geteken voordat die geselligheid van die saamkuier voor die ete hom ingehaal het en hy na sy kamer gehelp moes word. Ons noem maar nie die arme ou se naam nie.)

Oor die program: die seremoniemeester was die SAUK se Pat Tebbut, die tafelgebed is gedoen deur Dawie de Villiers en die sprekers was die Ierse losskakel Jackie Kyle, Jannie Engelbrecht, Dougie Dyers en Kepler Wessels. Op die spyskaart was gerookte salm, lamsboud en mokka-sjokolade. Die wyne was van Craighall.

Wat ‘n aand!

Deel dit: