V
erkiesingsplakkate met slim en minder slim slagspreuke is tiekie die bos voor a.s. Woensdag se verkiesing. Elke party wil elke ander party se boodskap oortroef of verdwerg. Rusies vlam op oor kwessies soos pariodiëring van plakkate, verwydering van plakkate weens munisipale regulasies, ens.
‘n Bloemfonteinse onderonsie oor plakkate wat, soos in ander gevalle, ook Engelse Sondagkoerante gretig laat meedoen het, was voor die verkiesing van 6 Mei 1987.
Die KP-kandidaat vir Bloemfontein-Oos, dr. Herholdt Pauw, ‘n internis, het op Donderdag 30 April KP-plakkate reg voor Die Volksblad se hoofingang in Voortrekkerstraat laat opsit. Ek (redakteur van die koerant) het dit summier deur die sekuriteitsafdeling laat verwyder. Opdrag is gegee dat vervangende plakkate ook dadelik moet af.
Een rede was dat dit, volgens my, moedswillige uittarting was. Nêrens anders in Voortrekkerstraat, so ver die oog van Die Volksblad af kon sien, was KP-plakkate nie. Ten tweede was dit onesteties voor ‘n gebou waarop die landsvlag en ‘n Naspersvlag daagliks wapper, en die koerant se eie plakkaat in ‘n netjiese, argitekontwerpte houer met ‘n glasdeksel vertoon word.
Vroeg die Vrydagoggend was die polisie in my kantoor; ‘n sers. Schoeman van die uniformtak, vergesel deur ‘n jong kollega. Ek het ‘n beëdigde verklaring afgelê oor my beweegredes. Schoeman is ook meegedeel dat die plakkate onbeskadig by Die Volksblad vir hul eienaars beskikbaar is.
Die Vrydagnag probeer die KP’s toe weer hul plakkate opsit. Ons sekuriteitsmense het dit vinnig verwyder. ‘n KP-gesinde polisieman, speurder-sersant John Redman, ”ontdek” daarna die “vermiste plakkate” kamma dramaties in ons gebou – en Pauw laat geen gras onder sy voete groei nie om al wat ‘n Sondagkoerant is (en die SAUK) die wenk te gee dat ‘n klag van diefstal van KP-plakkate ondersoek word.
Die Sunday Star en die Sunday Tribune het darem my kommentaar gevra; die Sunday Times het sommer net Pauw en Redman se stories gesluk en gepubliseer: dat ”a complaint of theft of Conservative Party election posters is being investigated against certain members of Die Volksblad newspaper in Bloemfontein”.
Die einde van die sage was pragtig. Die KP wou vir Die Volksblad ‘n wip stel. Toe kry hy ‘n bloedneus. Die senior aanklaer het geweier om te vervolg nadat ons aan hom kon uitwys dat ‘n munisipale regulasie die aanbring van enige plakkaat teen ‘n lamppaal verbied – ‘n vriendelike wenk van die Minister van Justisie, Kobie Coetsee.
Die ontnugtering vir Pauw en sy mense het heelwat vrolikheid in Bloemfontein veroorsaak. Vir die SAP was dit ‘n verleentheid dat van sy senior lede met die KP dwaaslik saamgespeel het om ‘n kwaadwillige klag te prakseer – duidelik uit politieke dienstigheid.
Woensdag gaan ons stembus toe sonder Die KP en, helaas, ook sonder Die Volksblad as gedrukte koerant. Als dus vergeefs gewees, maar adrenalien het gepomp.