SPITBRAAI, 20/11

Parkering is Woensdag op twee plekke beskikbaar: in Penguin Place (sic) voor die huis (boonste foto) en soort van langs die huis in Strandweg (onderste foto’s).  Die huis (die laaste een aan die linkerkant van die straat) se nommer is 11.

Penguin Place is die vyfde straat na links uit Charles Hoffe en Strandweg  (‘n singel) die derde en vierde.  Jy kry Visvanger, Flamingo, Strand, weer Strand en dan Penguin.

In Penguin Place is beperkte plek.  In Strandweg is ‘n openbare parkeerarea, groot oop ruimte; meer as voldoende plek. Onthou net, die wit huis is ‘n gastehuis.  Moet asseblief nie direk voor hom en sy hekkies parkeer nie.  Dan ook, parkering daar behels die oorsteek van ‘n taamlike stuk gras na my huis. Vir kollegas wat swaar loop,  sal dit nie deug nie.

Voorkeurbestemming vr hulle is Penguin Place (moenie nou ophou lees nie).

Die twee staanplekke voor die motorhuis is om goeie redes gereserveer vir Herman Toerien en Johan van Wyk.  Langs hulle moet Rudie van Rensburg intrek. Die ander plekke rond en bont – ook aan die oorkant van die straat – is vir ander kollegas beskikbaar.

‘n Derde opsie is dat Penguin Place net as aflaaipunt vir passasiers benut word met parkering daarna in Strandweg, ‘n Soort “drop and go”.

Vir Penguin-parkeerders sal die voorhekkie  oopstaan (lyk nou effens anders as op die foto).   Maar let wel: die voordeurklokkie sal onbeman wees.   Draai dus onmiddellik regs en stap al met die plaveisel af.  Ons sal ‘n pyl daar plaas.  Aan die onderpunt (seekant) is ‘n opening. Dit lei tot die voorstoep, die middelpunt van aktiwiteit.

Vir die nog ratser garde is my buurman Dale Schreuder se groot wit huis links op die onderste foto hul baken. Dis teenaan die see aan die Koebergkant  (dus nie die Tafelbergkant).  Tussen die see en die huis is ‘n hek wat beter dae geken het (onderste foto regs). Die hek verleen toegang tot ‘n baksteen-baan. Volg dit vir 20 meter verby ‘n klein hekkie en ‘n smal servituutstrook tussen pilare. Net daarna is ‘n groot skuifhek. Stap daar in.  Dis die terrein van die feestelikheid.

Patrolliemotors van die sekuriteutsfirma SRG sal van tyd tot tyd ‘n draai gooi.  Sluit nietemin tog maar die motor. Ons dorpie is relatief rustig, maar ‘n mens weet nooit.

Welkom by die Van Deventers.  As die wind waai; hy maak maar so as hy die nuk kry.

ANDER OU SE PAJAMAS

Die spreekwoord praat van anderman se skoene waarin jy nie graag sou wou staan nie. Ek het my eie gepatenteerde weergawe. Skoene word met pajamas vervang. Elke dag / hoor / sien ek iets in die media wat my dankbaar stem dat ek nie in die of daardie se nagkabaai wakker geword het nie, maar in my eie geruite broek en groen hempie wat van die een of ander uitverkopingrak kom.
Nou anderdag was dit Kamala Harris se slaapkleertjies wat ek ongraag vir my eie sou wou verruil. Hoe elegant lookal, sou dit kwalik haar droefheid en die pyn kon verdryf van die Troefkaart wat die Amerikaanse kiesers haar so genadeloos gedeel het.
Vandag is dit ene Patrick Kruger, Protea-krieketspeler, se pajamas wat ek vir homself gun. Hy met die diamant-oorkrabbertjie in sy oor en al het hom gisteraand teen Indie (waarskynlik) in Suid-Afrikaanse krieket-annale ingespeel (en hopelik uit die pan uitgespeel).
Sy onderskeiding is dat hy die meeste lopies vir die teenstanders laat lek het (soos hulle nou praat) in die twee bisarre beurte wat hy geboul het – 17,5 per beurt – en die minste lopies vir sy span aangeteken het – een lopie in twee balle. Het iemand al tevore so ‘n mamparra-vertoning in die groen en goud gelewer?
In een van sy rampspoedige bouleurte het Kruger met sy diamantoorkrabbertjie en al daarin geslaag om twee foutballe en drie wydlopers af te stuur. Ek vermoed selfs vir Koekenaap se tweede span sou dit ‘n rekord wees.
Kruger met sy diamant-oorkrabbertjie en al kies nien homself nie. Vir daardie ligte mistykie moet afrigter Rob Walter pa staan. Ai, hoe verlang ek nie na die goeie ou dae nie toe die beste span vir elke wedstryd gekies is: van toetsspanne tot skoolspanne en van rugby tot hokkie.
Met die “bou van diepte” en die skep van “skwads” glip ouens darem deur die net op ‘n manier wat niemand anders weet hoe nie buiten die afrigter wat span kies (of wat voorgese word hoe om die span te kies).
En lojale, patriotiese toeskuers langs die veld of voor die skerm moet maar die skandes blymoedig verduur. Nee, wragtig, so kan dit nie aangaan nie.

LENTE, HERFS – EEN MOOIER AS ANDER

Die skoonheid van die Amerikaanse herfs – die “Fall” – word hierdie tyd van die jaar elke dag op Facebook besing en met skildergatige landskapfoto’s’ bevestig.

Herfs in New England

My eie ervaring van die skone seisoen kom uit die herfs van 1976 in New England aan die ooskus. Gister vang ‘n pragfoto uit die Shenadoah-park in Virginia egter my oog (hooffoto links). Dis ewe verruklik.

Die Shenandoahpark onthou ek vir sy lente. Ons was bevoorreg om in die lente van 1995 per motor van New Orleans via Florida Boston toe te ry. Die blommeprag van die manjifieke dogwood (hooffoto regs) was oral, veral in Noord-Carolina en Virginia, waar dit die nasionale blom is, Atlanta waar hulle ‘n reuse-dogwoodfees hou, en in die wonderskone nasionale Shenandoah-park.
Die sogenaamde Skyline Drive van 105 myl (nie kilometer nie) deur die park Washington toe was ‘n prentjie. Die snelheidsgrens is 35 m.p.u. Omring deur soveel natjuurskoon voel jy nooit om die versneller dieper in te trap nie.
Ek kon nie die versoeking weerstaan om elke af en toe te stop om my vrou saam met die bloeisels af gte neem nie: ‘n karnallie tussen die kornoelies.
Terloops, ek verstaan nie mooi of kornoelie die regte vertaling van dogwood is nie. Is dit ‘n spesifieke dogwoord of die versamelnaam vir alle dogwoods? Dalk kan ‘n plantkundige help.
Washington DC self is natuurlik kersiebloeisel-wêreld – daar is in Maart ‘n “cherry blossom festival”. Kan ook nie woorde kry om hierdie historiese stad in sy lentekleed te beskryf nie.
Die fees vier, interessant genoeg, die geskenk van 3 000 Japanse kersiebome aan Amerika in 1912. Op sy beurt het Amerika toe in 1915 ‘n ewe getal Amerikaanse dogwoords aan Japan present gegee.
Moet erken, ek onderskei moeilik tussen die bloeisels, veral op ‘n afstand. Dis seker maar uit pure domheid.

NAAM IS FILEX, FILEX WHITE

Soos die ouderdom ‘n mens maar maal, besef ek en Tokkie ’n ruk gelede ‘n naam wat vir ons belangrik is, het ons albei ontgaan.
Dit is die naam van ‘n Bloemfonteinse pottebakker wie se sementbeeldjie van ’n knielende manlike figuur op ons stoep op Melkbos staan. Die rug is ‘n styfgetrekte bondel spiere.
Die beeld het in die 80’s in ons besit gekom toe die skepper sy huis aan ‘n Bloemfonteinse akademikus verkoop het …. Ene prof. Tienie. Tokkie was instrumenteel in die transaksie.
Oor prof. Tienie se van haak ons vas. Van Rensburg, dalk? Ook oor die straat is ons onseker: dis aan die onderpunt van Van Riebeeck naby Tempe, onthou ons. Dalk Van der Stel?
Toe maar die naam sal terugkom, troos ons onsself n.a.v. vorige ervarings. Maar die naam kom nie terug nie.
Dis ‘n saak vir die sosiale media, besluit ek. ‘n Blad met die naam Bloemfontein-herinneringe lyk die aangewese.
Dadelik gesels die Bloemfonteiners en oud-Bloemfonteiners saam.  Is die akademikus dalk Tienie Crous? Is die beeldhouer dalk Laura Rautenbach … of Daniella Geldenhuys … of Casper Steenkamp … of Pieter Lessing … of Jacques Fuller … of dalk ds. Dennis Oliphant (of sy vrou)?
Hoekom probeer ek nie die aktekantoor nie. Hier is die naam van ‘n gawe eiendomsagent wat dalk kan help. En so aan.
Uiteindelik tree Frans van der Hende, ‘n gewese buurman, toe tot die gesprek. Die straat is toe Drommedaris, nie Van der Stel nie. Die betrokke huis se nommer is 17a. Die akademikus was Tienie Barnard en die vorige eienaar was inderdaad ‘n beeldhouer. Prof. Barnard het by Klein-Brak of Groot-Brak afgetree, onthou hy.
Vername leidrade. Lig op die horison.
Ek bel vir prof. Piérre Theron van die UV wat hom in daardie geweste bevind. Hy en prof. Barnard was kollegas, maar sy kollega is ongelukkig reeds enkele jare gelede oorlede.
Piérre verwys my na ‘n ander kollega (studentemaat van my) wat nog in Bloemfontein woon, prof. Willie Paulsen. Willie en Tienie Barnard was vriende. Willie dink die dogter Riana dalk sal kan help. Was die vorige eienaar nie ‘n Hoffman nie, wonder hy.
Op die Bloemfontein-herinneringe-blad bly die mense saamgesels. Gift Labuschagne laat weet sy ken Riana. Sy sal haar vra.
Fetilik gelyktydig kom toe twee boodskappe:
Gift het Riana opgespoor. Sy bevestig die huis het oorheen aan ‘n pottebakker behoort. In die tuin was ‘n pottebakkersateljee. Die hele tuin was vol beeldjies en dinge, onthou sy.
Buurman Frans laat weet op sy beurt hy het by Pieter Joubert aangeklop, Dié ken toe die antwoord. Ons man se naam is Filex White. Sy kenteken was FX met ‘n klein x .
Toe ons die naam Filex White hoor, lui al die klokkies op Melkbos. Filex is inderdaad ons man. Ons gaan daardie beeldjie GROOT merk sodat ons nie weer kan vergeet nie.
Is ons nie dankbaar nie teenoor al die Bloemfonteiners vir al die raaiskote, al die wenke en al die heerlike brokkies. Dit bevestig net weer: dis ‘n gemeenskap soos min.
En hoe waardevol is daardie blad nie om waardevolle herinneringe op te diep, af te stof en te bewaar nie. Dankie, Victor Reitz.

TOE EEN NAG OP CHAPPAQUIDDICK  …

Tokkie skink vir ons koffie. Hans se foto. Van die reise in die natuurskone Amerikaanse ooskus in 1976 saam met my  oorlede skrywervriend  Hans du Plessis het ek gister vertel. Een van daardie reise was na die eilandjie met die tongknopernaam Chappaquiddick by Martha’s Vineyard aan die Cape Cod-kus van Massachusetts. Vandag vertel  ek graag van die verloop van daardie ekskursie – en die afloop.

Chappaquiddick het toe minder as 200 permanente inwoners gehad. Dit was  skaars ’n spikkeltjie op die kaart van die Amerikaanse New England-gebied. Twee keer kort ná mekaar was sy naam egter wêreldwyd op die voorblaaie.

Op 18 Julie 1969 het ’n insident op die eiland die VSA se geskiedenis waarskynlik oornag in ’n ander koers gestuur. ’n Lieflingseun, senator Edward (Ted) Kennedy, het in skande tot ’n val gekom.

Ted (37), broer van die charismatiese JFK (pres. John F. Kennedy) wat deur ’n sluipmoordenaar doodgeskiet is, het met ’n mooi verpleegster, Mary Jo Kopechne (28), van ’n jolige huisparty weggery en met sy deftige 1967-model Oldsmobile Delmont 88, van ’n bruggie af in ’n getypoel geplons. Hy het uitgeswem; sy het in die Olds verdrink (net agt dae voor haar 29ste verjaardag). Die skandaal het die land geruk.

Hans, Tokkie en die kinders in die Nickerson State Park. Ses jaar later, in 1975, het rolprentmaker Steven Spielberg sy skrikmaak-rolprent Jaws op Martha’s Vineyard kom vervaardig. Die storie is van ’n fiktiewe monster-mensevreterhaai met verskriklike tande wat ’n ewe fiktiewe vakansiedorpie, “Amity Island”, terroriseer. Daardie haai het verskrikte rolprentkykers hul speedo’s en bikini’s liewer ’n ruk laat wegpak.

Die befaamde Cape Cod-kus – dus ook die eiland Martha’s Vineyard met sy tweeling-eilandjies, Nantucket en die in-die-nuus Chappaquiddick, was van Cambridge af maklik bereikbaar vir ‘n naweek. Van die universiteitsdorp – net oorkant die Charlesrivier van die makrostad Boston – is dit iets soos 120 kilometer. Die laaste been van die reis tot by Edgartown 11 kilometer van die kus, behels ’n vaart van twee uur met ’n groot veerboot. Van Edgartown is Chappaquiddick net ’n klipgooi met ’n heelwat kleiner model.

‘n Naweek in September in die Amerikaanse “Fall”, terwyl die laaste herfsblare van die akkerbome en essenhoute nog skouspelagtig aan die bome hang, is ons en graswewenaar Hans op ’n “speurtog” die verlede in.

Eerste op ons naweekprogram was die spore van Spielberg en sy monstervis op “Amity Island”. Die buurdorpe Edgartown en Oak Bluffs, bekend om sy gekartelde “gemmerbrood”-houthuisies, vorm saam die fiktiewe eiland.

Daarna is die onuitwisbare spore van Ted en Mary Jo gevolg op Chappaquiddick, ’n lappie grond wat van tyd tot tyd ’n skiereilandjie van Edgartown is wat met kragtige vier-by-viers bereik kan word. Orkane en ander ekstreme weerverskynsels sorg dat dié oorlandse besoeke nie gereeld kan gebeur nie. Amptelik is Chappaquiddick dus ’n eiland.

Opstaantyd.

Vir ’n eiland-inspeksie in loco het die veerbootjie On Time II in die hawe gewag om ons die laaste 160 meter tot daar te bring. (Daar is ook ’n On Time III wat somermaande bykom.) Soos uit die naam blyk, was die On Time altyd “betyds”. Geen vaste skedule het bestaan nie. Daarom kon die “veerboot” nooit vroeg of laat wees nie.

Die diens was na behoefte, buiten laataand. Sodra drie motors wag, kies ’n “On Time” koers. Mense, fietse en motors is elke dag dosyne kere vir ’n skamele paar dollar droogvoets by hul bestemming besorg. Die plaaslike troetelnaam was die “Chappy”. Dit kom natuurlik van Chappaquiddick.

In ’n koffietafelboek, The Chappy Ferry Book, wat oral op Martha’s Vineyard trots uitgestal was, beskryf die outeur, Tom Dunlop, die tweeling-bote dalk ietwat hiperbolies as “the most unusual, hardest working, and best known ferries on earth”.

Die “Chappy” se aansprake op sulke lof sluit in dat dit 37 jaar deur ’n blinde besit en bedryf is; al deur ’n ligte vliegtuig getref is; op die water in vlamme uitgebars het, en tydens ’n orkaan gesink het. ’n Baba is amper op die kort vaart gebore en ’n motor het al van die dek gerol. Al hierdie boeiende en merkwaardige inligting kom uit die Ferry-boek.

Op ’n Saterdag in September 1976 het die Gideonsbendetjie uit die verre Suid-Afrika die “most unusual ferry” bestyg. Nooit tevore was een van ons met ’n motor so ’n oop, klein veerbootjie op nie, en almal was nogal senuweeagtig, veral die bestuurder. ’n Man wil nie in die vreemde skande maak en skielik à la Kennedy in die water beland nie!

Ba-a-a-i-e versigtig en ba-a-a-a-i-e stadig het ek my Amerikaanse Japanner met sy linkerstuur oor die laaste hobbeltjie voor die luierende vaartuig bestuur. Vriend Hans moes beduie: bietjie links, bietjie regs.

Slaapplek in ‘n agterplaas.

Hy was ons navigator. Met ’n padkaart in sy hande sou ons daarna die eiland deurkruis op soek na die gehuurde partytjiehuis waar Kennedy en Mary Jo die aand om 23:05 weg is, sogenaamd dat sy nog die laaste veerboot kon haal (onverklaarbaar sonder haar handsak!); na die enkelbaan-bruggie waar Kennedy (raaiselagtig!) verkeerd sou gedraai het; na die plek waar haar lyk die volgende oggend ná tien ure uit die wrak in die vlak water geduik is; asook na die plek waar Kennedy, volgens hom, oor die kanaal geswem het voordat hy om 02:00 “gedaan” by sy hotel in Edgartown opgedaag en in ’n “diep slaap” geval het.

Oor die partytjiehuis was ek onseker. Op Chappaquiddick was, klein soos dit was, geen tekort aan herewonings nie. En in 1976 was GPS’e natuurlik nog nie eens ’n vonkel in iemand se oog nie. Die ander bakens is almal opgespoor, glo ek. Dowwerige foto’s is geneem, byvoorbeeld van die kinders by die Dikebrug waar die kragtige Olds afgestort het

Vir die spannetjie Suid-Afrikaners het die uitstappie onplesierig geëindig. Die vorige aand het ons in die Nickerson State Park op Martha’s Vineyard ’n aangename staanplek vir die Corona uiters billik te hure gekry. ’n Netjiese ablusieblok was byderhand. Op Chappaquiddick was ons harte gou in ons stapstewels. By elke moontlike slaapplek was ’n teken op: “Closed for the winter”.

Nou ja, Amerikaanse winters kan ysingwekkend wees. Hier moes ons aan ons eie lywe voel hoe vroeg party Amerikaners hulle vir die lang, bitter koue sneeuseisoen begin regskud. Daar sit ons toe soos pietsnotte, onseker oor die “Chappy” se kom en gaan, maar ook ongretig om ons “speurtog” vroegtydig af te las.

Parkering was oral dreigend verbied: “Don’t even consider it.” Ook die volgende onaangename waarskuwing was op ’n kennisgewing: “Violators will be towed”. Toe moet ons maar rondry totdat dit goed donker is. Onder ’n akkerboom langs ’n leë houthuis het ek die Corona parkeer – nogal met ’n lekker omheinde agterplaas vir nagtelike lopies.

In die middel van ’n diep slaap het iets hard geknal. Dit was soos ’n geweerskoot. Die polisie! Dit was my eerste gedagte. ’n Ekskusie in my beste Amerikaanse Engels is vinnig voorberei. Niks het egter gebeur nie. Die skuldige is deur ’n ondersoek aan die lig gebring: ’n moedswillige akker!

Die gesin Van Deventer krul ons toe weer sardientjiestyl op agter in die stasiewa, trek ons gordyntjies toe en slaap onrustig voort todat die lus vir boeretroos ons vroegoggend kaai toe dryf.  Hans agter die stuurwiel kon, volgens sy misnoegde mededeling, geen oog weer toemaak nie.  Dit was sy laaste aand in die Merk II.  Daarna was dit ‘n motel vir hom.

So het die voordelige sisteem ontwikkel dat ons die wiele verskaf, Hans die badkamer. Soos ek gister gemeld het, daardie Merk II was die enigste stasiewaentjie met ’n badkamer en suite waarvan ek nog gehoor het.

 

 

 

 

 

 

 

SLAAPGAS IN ‘N STASIEWA

Die digbundel “Kleinwild” (HAUM, 1978) was Hans du Plessis se heel eerste gepubliseerde skryfwerk (meen ek). Voorin die eksemplaar in my studeerkamer het hy geskryf:  (die vers) “Halloween” is vir julle. Julle was by toe hy gebore is!

Inderdaad was ek en Tokkie en ons kinders, Johan en Marisa, in die omtrek.  Dit was in 1976 in Amerika. Halloween is daardie jaar op 31 Oktober gevier – amper dag en datum 48 jaar voor sy skielike afsterwe gister op Potchefstroom kort voor sy 80ste veraardag in Januarie. Ons spannetjie Suid-Afrikaners het ons in Cambridge, Massachusetts, verkyk aan die ongekende magdom pampoenspoke oral.

Die Van Deventers en die wellewende Hans het groot maats geword nadat hy ‘n maand of wat tevore op ‘n dag onverwags saam met besoekers uit Suid-Afrika by ons beskeie woonstelletjie in Crimson Court in Harvard Street opgedaag het.

Hy het die egpaar, twee Potchefstromers, op die hoek voor die moltreinstasie Harvard Square hoor Afrikaans praat, homself voorgestel en saam kom kennis maak.  Magdaleen en die kinders was in Suid-Afrika en die graswewenaar maar bra eensaam in sy losieskamer.

Hans was ‘n nagraadse student aan MIT (Massachusetts Institute for Technology) en ek ‘n Niemangenoot by Harvard. ‘n Hegte vriendskap het vinnig koersgevat. Naweke is ons in my gebruikte 1972-model Toyota Corona Merk II-stasiewa saam op verkenningstogte New England binne.

Hy was ook ‘n betroubare babawagter … in ruil vir Tokkie se lekker Boerekos.  Johan was toe vyf en Marisa wat Hans juis na aanleiding van die Halloween-gedoente Pampoenspokie gedoop het, ‘n energieke drie. Hulle het gou lief geword vir Oom Hans met sy stories, presentjies en nog wat.

’n Keer of wat was Hans selfs ‘n oornaggas in die stasiewa. Ons gesin was agterin soos sardientjies ingepak; hy het hom agter die stuurwiel ingewikkel. Soggens was sy litte maar stram. Op ‘n besoek aan die skilderagtige Cape Cod besluit hy een oggend: tot hiertoe en nie verder nie. Toe gaan soek hy ’n motel.

Só ontwikkel ’n voordelige sisteem. Op alle uitstappies daarna verskaf ons die wiele, Hans die badkamer. Ons parkeer gerieflik by sy kamerdeur. Daardie Merk II was die enigste stasiewaentjie met ’n badkamer en suite waarvan ek nog gehoor het.

Oor Hans sal daar vele kundige huldeblyke wees wat sy enorme bydrae tot Afrikaans en ons literatuur gesaghebbend sal ontleed.  Ek waag my nie daaraan nie. Net een iets wil ek in hierdie opsig kwytraak. Dit is oor sy Griekwapsalms wat dermate volksbesit geword het dat baie die herkoms vergeet.

Oral duik sy werk op – by Kerssangdienste en selfs op kopkussings en tafeldoeke – sonder enige vermelding van die digter, asof dit sommer net uit die lug geval het of vir altyd bestaan het. Nie-erkenning is natuurlik in geen omstandighede goed te praat nie, maar in sy geval tog ‘n soort omgekeerde “eer” wat min beskore is, meen ek.

Oor die warmte van sy besonderse menswees sal ‘n hoop getuienis opstapel. Ek steek my hand geesdriftig op om ook raakgesien te word wanneer ek vrymoedig wil verklaar dat Hans du Plessis die soort vriend was waarvoor elkeen wat hom geken het, deur die vuur sou loop.  Dat hy ‘n vyand op aarde gehad het, lyk vir die waarnemer uiters onwaarskynlik.

Die foto hierby is in 2016 by die Proteaboekwinkel op Stellenbosch geneem  met die bekendstelling van sy boek “Tussen die klippe”.  Die fotograaf, Tokkie, se lakonieke kommentaar was:  Julle twee sal nie meer in een motor kan slaap nie. Kan nie stry nie.

Naskrif:

Halloween

 Ek voel jou oë huil /nat oor my warm wang / as ons mekaar/ soms / in die lig /agter hierdie maskers vang

Want hoe lank al speel ek en jy / aan hierdie ou spel

Waar die hol pampoen / alleen kan sonde doen.