MOOISTE AFRIKAANSE LIEFDESGEDIG ?

Watter meisie is die mooiste? Watter lied? Watter wyn is die lekkerste? Watter motor is die betroubaarste?
Eindelose debatte kan hieroor gevoer word.
‘n Soortgelyke debat in die kleine steek kop uit in Die Burger rondom ‘n nogal gewigtige vraag: Wat is die mooiste liefdesgedig in Afrikaans.
Twee is al op die tafel gesit. Die eer kom toe aan Boerneef se “Die Berggans Het ‘n Veer Laat Val”” meen oud-kollega en rubriekskrywer Wilhelm Jordaan wie se oordeel in sulke sake ek hoog aanslaan. Nee, laat weet Engela Retief vandag in ‘n SMS. Sy waag om te verskil. “Allerliefste, ek stuur vir jou ‘n rooiborsduif” van Breyten Breytenbach verdien die ereplek.
Die verse is albei verskriklik mooi en die digters meesters van die woord, reken ek. Maar wat van AG Visser? Met die vraag verklap ek natuurlik my ouderdom. Geen liefdesvers het my egter nog ooit weer so onmiddellik bekoor en lewenslank betower soos die “sanger van Heidelbergrand” se “Rosa Rosarum” nie.
“ Kom na my tuin waar die donkerrooi rose
Duist’re geheime vertrou aan die nag …”
Met die woorde het ek die eerste keer kennis gemaak in die Afrikaansklas van mnr. ZB (Zagrys) Naudé in standerd agt (meen ek) in 1955 aan Volkies op Potch. Soos niks anders wat ek op skool geleer het nie, het dit in my kop kom vassit.
Dis woorde wat huppel en sing, wat ‘n sekere verleidelikheid inhou, wat jou laat droom.
Vir ‘n parmantige meisiekind in standerd ses met die kortste rokkies in die skool het ek daardie selfde middag nog ‘n briefie met die volledige “Rosa Rosarum” as romantiese hoogtepunt van die koshuis Jack Pauw af na die meisiekoshuis Ons Hoop laat “koerier”. Sal ek vergeet hoe liefies sy vir my geglimlag het toe ek haar die volgende dag op die hoofgebou se trappe raakloop?
So meegevoer was die 14-jarige 70 jaar gelede dat hy homself wou-wou verbeel hy is ‘n ontluikende AG Visser 2. In standerd agt was in die jaarblad ‘n vers uit my pen onder die titel “Verlange”:
“Vanaand is ‘n aand van verlange, dit spreek uit die aanwind se lied,
“Dit spreek uit ‘n wolklose hemel waar ‘n eensame ster nog verskiet ….”
Verder as die skool se jaarblad het AG Visser 2 ongelukkig nie gekom nie . Lied … verskiet … verdriet – rymwoorde soos hierdie is eenvoudig nie vir poësiekenners ewe aangrypend as vir verliefde skoolkinders nie.

DUWWELTJIES EN DUIWELTJIES

Vir party kom dit eerste – ander bêre die lekkerste vir laaste. Of ‘n mens my jou humor voor of ná die erns verkies – geen leser van Finansies & Tegniek slaan die rubriek Duwweltjie oor nie.
So het die uitgewer JL van Schaik in 1996 sy boek ‘’Duwweltjie – 10 jaar se beste grappe’’ bekend gestel. Hy noem dit ‘n puntige versameling en ‘n uitkoms vir elkeen wat soms ’n sedige ys moet breek.
Ek het gister vlugtig na die boek verwys rakende die bikininooi / polonooi Berdine Odendaal se eis teen die Resewebank oor die vereemding van aansienlike bates (geen bybedoeling nie) wat sy na bewering uit ‘n skelm verhouding met Steinhoff se Marcus Jooste verkry het.
Toe gaan haal ek vinnig die leertjie in die spens om my eksemplaar in my humorversameling op die boonste rak in die studeerkamer by te kom (humor uit die boonste rakke as’t ware). Daarna verlustig ek my opnuut in die 493 grappe / stories/ staaltjies / anekdotes wat in 144 bladsye opgeteken is.
Met verskyning van die boek was Gert Marais redakteur. Duwweltjie kom egter al uit die eerste redakteur, Salie de Swardt, se dae. Hy was ‘n man met ‘n borrelende humorsin. Ek glo hyself was die vader en vroedvrou van Duwweltjie.
Die vermoede word versterk deur ‘n stewige kwota stories uit koerante waaroor ek en hy saam gelag het as ons in die jare 70 uit die noordwestelike voorstede van Johannesburg Beeld in Doornfontein toe ry. Ons was geruime tyd ‘n plesierige tweeman-saamryspan.
Salie had ‘n fyn oog vir onder meer die drukkersduiwel se dinge wat tot stuitige brokkies in F&T kon lei. So het by eendag met behae in die Rand Daily Mail (dink ek) raakgelees dat Dawie de Villiers (oud-dominee nogal) weens ‘n ongelukkige setfoutjie “the minister of pubic enterprises” genoem word. Salie het geskud van die lag oor wat so ‘n minister se take als sou behels.
‘n Volksbladstorie wat ek hom vertel het en wat as anker vir ‘n hoofstuk oor “vleeslikhede” dien, handel oor fotograaf Willem van der Walt wat by ‘n dominee wou weet waar die dorp se terte is. Die leraar het stamelend geantwoord daar is “n paar onderwyseressies maar hulle is almal met vakansie”.
Enkele juwele van plattelandse korrespondente (korries) het die boek gehaal.
Dit sluit die volgende in:
• Met behulp van die dokter het die drenkeling sy bewusteloosheid teruggekry.
• Die finansiele sukses (van ‘n opvoering) was ‘n mislukking.
• Van die leerlinge wat in st. 8 geslaag het, het almal behalwe een deurgekom.
• Ons beste wense vergesel die heengaan van die twee (vertrekkende) gesinne.
• Mnr. X van die plaas Putfontein en mev. Y van die plaas Tergniet is al geruime tyd in die bed. Hul toestand is nie na wense nie.
En reken: ek het nooit ‘n sent tantieme gekry nie!

GRYP VAN BATES

Die opvatting – as so een bestaan – dat sakeblaaie net sedig, saaklik, selfs stroef sou wees, kry vandag ‘n opstopper in Media24 se koerante. By ‘n berig oor haar regstryd met die Reserwebank se grypery van haar bates (onroerende bates, bedoel ek hier) verskyn Berdine Odendaal – volgens gewoonlik nie te erg onbetroubare bronne die skelmpie van wyle Marcus Jooste – in ‘n bikini wat min vir die verbeelding oorlaat.
Ek wil my verstout om te beweer ou Huisgenootfoto is waarskynlik die prikkelendste wat nog op ‘n SA sakeblad verskyn het, en is dankbaar dat die plasing daarvan  hierdie saamgeselser die goeie verskoning bied om dit ook hier op sy blog aan te wend – ‘n eerste uit die bejaarde oord. Nou-ja, die meisie se bates is mos darem sakenuus van meer as net verbygaande aard!
Die eerste keer dat seks en sake in/op ‘n sakeblad gemeng word, is dit egter nie. In my boek van die jare 90 Flaters & Kraters is ‘n storie wat mooi by die onderwerp inskakel:
“Lesers het met verbasing kennis geneem van regter Cecil Margo se smaak in boeke toe ‘n foto van hom voor ‘n propvol boekrak op 14 Oktober 1986 in Finansies & Tegniek verskyn. Titels soos die volgende het op die boekrak gepryk: Sex Watching, Beginner’s Love, Meneer, jou seksmaniere, How to improve your sex life, Lovedives, A maid called wanton en Fallen woman.
Die regter het later self in die openbaar verduidelik wat gebeur het. ‘n Fotograaf van F&T wou hom graag by boeke afneem. Hulle is toe na die Raad op Publikasies se kantore vir die fotosessie – en eers toe hy F&T lees, kom hy agter hoe ‘n sexy sessie dit was.
* Wie onthou F&T se stoute rubriekskrywer Duwweltjie (oorspronklik my lewensblye en kollega Salie de Swardt, raai ek)?’n Toepaslike grappie uit daardie rubriek wat ek onthou, omdat ek dit een keer in ‘n toesprakie gebruik het, is van die twee seuntjies wat by ‘n duur, skynbaar verlate, Mercedes-sportmotor met ‘n afslaankap verbystap. Met die nader kom, bemerk hulle twee figure wat reeds ver van ten volle geklee is. Tipies, se die een vir die ander met buitengewone insig vir sy jare. Hulle het nie geld vir klere om aan hul gatte te trek nie, maar ‘n Mercedes sal hulle ry.

VOËLMENERE VAN ALLERLEI KLEURE EN VERE

‘n Voël-fotograaf sou ek myself nie juis noem nie. Dis nie net uit beskeidenheid nie. Met geduld is ek nie oormagtig geseën nie. Die vinger op die sluiter is ook nie juis doodsekuur en blitsvinnig nie.
Boonop besit ek nie een van daardie tamaaie lense waarmee die mense op Lake Panic en ander voelskuilings toesak om gevleuldes te kiek nie, en weet ek van ‘n kamera se verstellings bloedmin.
Die toerusting is ‘n Canon EOS 400D waarvan die langlens ongelukkig weens ‘n val oor ‘n koorsboom se dik bogrondse wortel buite aksie gestel is, en ‘n doodgewone Canon SX50HS waarvoor ek lief geraak het. Hulle is meesal op outomaties gestel.
So vinnig kan hierdie absolute amateur darem al drie voëlfoto’s uit sy versameling onthou wat in papierpublikasies gepryk het (nog altyd my maatstaf van erkenning). In my “portefeulje” is ‘n paar ander wat dalk ook die paal kon gehaal het. Ander mense kan natuurlik anders oordeel.
Die drie uitverkorenes is een van ‘n ralreier by Lake Panic in die Krugerwildtuin wat in Buite-Burger opgeneem is as een van die lesersfoto’s, ’n groenrugreier wat op die Balulebrug oor die Olifantsrivier afgeneem is en op sy dag in die reistydskrif Weg was, asook ‘n swarkopwielewaal by ‘n aalwyn in Sabiepark se blom. Dit was ‘n lesersfoto in Beeld. (Die groenrugreier het ek enkele dae gelede geplaas rakende ‘n besoek aan Balule in 2025.)
Hierdie inskrywing het begin met die ambisie om tien voëlfoto’s te selekteer, dalk selfs in volgorde van voorkeur van een tot tien. Die ambisie het gou verdamp. Wat eerste gewaai het, was die gedagte van ‘n voorkeurvolgorde. Toe laat vaar ek die uitdunning tot 10.
Benewens bogenoemde drie plaas ek hier nog ‘n dosyn of wat. Van die foto’s is samestellings. Die primêre rede is dat die hooffoto te klein gebêre is. Met een of twee het ‘n kleinseun hand bygesit.
Ek gee
 erkenning.
Die ongepubliseerde foto’s is:
‘n Goudsnip op pad na Nwanetsi;
‘m Jong groenrugreier by Lake Panic;
‘n Fiere berghaan in die teerpad by Satara;
‘n Kuifkopvisvanger by Lake Panic;
‘n Bontvisvanger by Lake Panic;
Twee romantiese reusereiers by Lake Panic;
Bromvoëls op die S25;
‘n Gekroonde neushoring by ons huis in Sabiepark (dankie, Thomas);
Swartkopreiers in hul nes by Lake Panic;
‘n Reusevisvanger op ‘n rots langs die Sabie by Sabiepark se piekniekplek;
Lepelaars in die Olifantsrivier van die hoogwaterbrug af;
‘n Bloukuifloerie in ’n reuserosyntjiebos by ons huis in Sabiepark (dankie, Thomas);
‘n Saakbekooievaar en ‘n buffel op die Swenipad (die ander twee was op Kersdag in die teerpad op kerk toe);
‘n Visarend op sy pos langs die Sabierivier.
Hoeveel hiervan herken jy dadelik? En kritiseer gerus waar sentiment oorheers het en gehalte tweede viool speel.

‘N LIEDJIE VIR LAURA

Ons wen!Op die treffersparades aan die begin van die 60’s was die tranetrekker “”Tell Laura I Love her” ‘n vuurwarm mededinger. Dit was nommer een in Brittanje, ‘n treffer in 14 lande en het oor sewe miljoen plate verkoop.
Ook ons studentegemeenskap van daardie era was nie ongeroer deur die uitstorting van ewige liefde van ‘n ou net voor sy dood in ’n stampmotorongeluk nie. Die mooi wysie het in ons koppe bly maal.
In Kollegetehuis aan Tukkies was die mooiste weergawe nie die van sangers Ricky Valance of Ray Peterson nie, wel ‘n klaviervariase met allerlei toegevoegde akkoorde deur ‘n Ienk (eerstejaar) op die klavier.
Kollege het op vele terreine presteer – helaas, buiten die kulturele. Ons skryf Ienk Dirk du Toit – ja, die einste latere adjunk-minister van Landbou vir die ANC – toe in vir die Lentedagkonsert, oortuig dat hy met sy “Laura” ‘n medalje of ten minste ‘n sertifikaat vir Kollege gaan verower.
Op die nippertjie trek die bokker egter kop uit op grond van “akademiese druk”. Daar sit ons toe maar weer in die hek op kultuurgebied. Vir ‘n blommerangskikking is ons darem eervol vermeld. Die titel was “’n Druppel bloed op ys”. Dit het bestaan uit ’n wit suikerpotjie met ’n rooi roosblaartjie bo-op.
Hoekom vertel ek die storie? Nie oor Dirk nie, maar oor Laura. Ook nie doerie Laura nie, maar vandag en nou se Laura: Laura Wolvaardt, kaptein van die Proteas.
Die plesier wat sy en haar span in die T20-toernooi aan hierdie oom besorg het, is so massief soos die impak van daardie trefferliedjie in 1960 rond was.
As ek op ’n versoekprogram vir LW ‘n liedjie sou kies, sou dit geen ander een wees as hierdie nie; ook nie Ricky of Ray s’n nie, maar Dirk s’n met elke ekstra akkoord.
Ek het regtig vir die netjiese kind met die flitsende kolf, manjifieke dryfhou deur die dekke en onversadigbare lopiehonger lief geraak soos ‘n pa vir ‘n kind. Ek sou haar ‘n vaderlike drukkie wou gee terwyl Dirk speel en speel.
Nadat die Proteas die Aussies gister so opgefrommel het, is ek nog liewer vir haar wat haar span met onderskeiding en voorbeeld gelei het.
Maar wat van Anneke Bosch? Vir haar sou ek so lank wou druk dat ons moeilikheid sou kry by daardie lughawe in Nieu-Seeland wat lang afskeide nou wil uitroei (njannies). Haar skitterbeurt was ‘n Heinrich Klaasen of David Miller waardig.
Meisiekind, meisiekind, daardie verslaentheid op die Aussieboulers se gesigte as jy hulle so grens toe moker, sal ek nie sommer vergeet nie.
Luister saam na Ray Peterson se “Tell Laura I love her”:
https://www.google.com/search?q=tell+laura+i+love+her&rlz=1C1ONGR_enZA996ZA996&oq=tell+laura+i+love+her&gs_lcrp=EgZjaHJvbWUyBggAEEUYOTIM

BALULE, HIER KOM EK

Eerste kennismaking .

‘n Skielike bevlieging stuur my vandag na Sanparke se besprekingsblad. Ek gaan soek Balule, ‘n kamp na my hart met net ses rondawels. Is een van die ses dalk nog beskikbaar vir ‘n nag of twee vroeg in Augustus 2025? Inderdaad. Daar bespreek ek onmiddellik, en is so opgewonde soos ‘n kind met ‘n lank begeerde nuwe speelding.

Op 20 Julie 2011 het ek en Tokkie die eerste keer in die klein ruskampie, 11 kilometer van Olifantskamp, by die laagwaterbrug oor die Olifantsrivier, oornag – ‘n droom bewaarheid. Ons was in rondawel 5. Ons het vroeg vuur gemaak en tot laat gekuier.
‘n Liefde het dadelik posgevat wat ons telkens teruggelok het, ook vyf jaar lank saam met Tukkievriende van die koshuis Kollege.
Balule, ‘n verkorting van Rimbeluli, die Tsonganaam vir die Olifantsrivier, is ‘n uiters basiese, amper primitiewe kampie. Sanparke gebruik woorde soos “rudimentary”, “rugged” en “authentic” om dit in sy Engelse reklame te beskryf. Balule is al daardie dinge. Hierdie outydse kampie, soos ‘n reliek in ‘n museum, is egter ook intiem, knus, gesellig en strelend op die oog, veral in die silwer maanlig.
Die ses rondawels staan in ‘n kring om ‘n grasperk waar reuse-essenhoute en worsbome (met ‘n yslike kremetart in die een hoek) vroeg reeds lang skadu’s begin gooi. Huilboerbone, jakkalsbessies, wildevye, koorsbome en wildedadelpalms dra by tot ‘n blaredak. Teenaan die kamp druis die Olifantsrivier en raas die seekoeie onophoudelik. Visarende roep.
Saans patrolleer hiënas kwylend die grensdraad met sy vanmelewe se “bekslaner”-hek. Leeus brul genoeglik by hul prooi. Die sterre skitter soos diamante. Die maan skep ‘n sprokiesland saam met die vuurtjies, lanterns en gaslampe van die ontspanne groepies wat buite kos maak en kuier.
Ai, ek onthou so helder. Maar ons was lanklaas daar. Altyd net te laat om plek te kry. Kan dus nie wag dat Augustus 2025 aanbreek nie, en hoop maar die gesondheid hou.