


‘n Voël-fotograaf sou ek myself nie juis noem nie. Dis nie net uit beskeidenheid nie. Met geduld is ek nie oormagtig geseën nie. Die vinger op die sluiter is ook nie juis doodsekuur en blitsvinnig nie.
Boonop besit ek nie een van daardie tamaaie lense waarmee die mense op Lake Panic en ander voelskuilings toesak om gevleuldes te kiek nie, en weet ek van ‘n kamera se verstellings bloedmin.
Die toerusting is ‘n Canon EOS 400D waarvan die langlens ongelukkig weens ‘n val oor ‘n koorsboom se dik bogrondse wortel buite aksie gestel is, en ‘n doodgewone Canon SX50HS waarvoor ek lief geraak het. Hulle is meesal op outomaties gestel.
So vinnig kan hierdie absolute amateur darem al drie voëlfoto’s uit sy versameling onthou wat in papierpublikasies gepryk het (nog altyd my maatstaf van erkenning). In my “portefeulje” is ‘n paar ander wat dalk ook die paal kon gehaal het. Ander mense kan natuurlik anders oordeel.
Die drie uitverkorenes is een van ‘n ralreier by Lake Panic in die Krugerwildtuin wat in Buite-Burger opgeneem is as een van die lesersfoto’s, ’n groenrugreier wat op die Balulebrug oor die Olifantsrivier afgeneem is en op sy dag in die reistydskrif Weg was, asook ‘n swarkopwielewaal by ‘n aalwyn in Sabiepark se blom. Dit was ‘n lesersfoto in Beeld. (Die groenrugreier het ek enkele dae gelede geplaas rakende ‘n besoek aan Balule in 2025.)
Hierdie inskrywing het begin met die ambisie om tien voëlfoto’s te selekteer, dalk selfs in volgorde van voorkeur van een tot tien. Die ambisie het gou verdamp. Wat eerste gewaai het, was die gedagte van ‘n voorkeurvolgorde. Toe laat vaar ek die uitdunning tot 10.

Benewens bogenoemde drie plaas ek hier nog ‘n dosyn of wat. Van die foto’s is samestellings. Die primêre rede is dat die hooffoto te klein gebêre is. Met een of twee het ‘n kleinseun hand bygesit.
Ek gee

erkenning.
Die ongepubliseerde foto’s is:
‘n Goudsnip op pad na Nwanetsi;
‘m Jong groenrugreier by Lake Panic;
‘n Fiere berghaan in die teerpad by Satara;
‘n Kuifkopvisvanger by Lake Panic;
‘n Bontvisvanger by Lake Panic;
Twee romantiese reusereiers by Lake Panic;
Bromvoëls op die S25;
‘n Gekroonde neushoring by ons huis in Sabiepark (dankie, Thomas);Swartkopreiers in hul nes by Lake Panic;
‘n Reusevisvanger op ‘n rots langs die Sabie by Sabiepark se piekniekplek;
Lepelaars in die Olifantsrivier van die hoogwaterbrug af;
‘n Bloukuifloerie in ’n reuserosyntjiebos by ons huis in Sabiepark (dankie, Thomas);
‘n Saakbekooievaar en ‘n buffel op die Swenipad (die ander twee was op Kersdag in die teerpad op kerk toe);
‘n Visarend op sy pos langs die Sabierivier.


Hoeveel hiervan herken jy dadelik? En kritiseer gerus waar sentiment oorheers het en gehalte tweede viool speel.
