Soos die ouderdom ‘n mens maar maal, besef ek en Tokkie ’n ruk gelede ‘n naam wat vir ons belangrik is, het ons albei ontgaan.
Dit is die naam van ‘n Bloemfonteinse pottebakker wie se sementbeeldjie van ’n knielende manlike figuur op ons stoep op Melkbos staan. Die rug is ‘n styfgetrekte bondel spiere.
Die beeld het in die 80’s in ons besit gekom toe die skepper sy huis aan ‘n Bloemfonteinse akademikus verkoop het …. Ene prof. Tienie. Tokkie was instrumenteel in die transaksie.
Oor prof. Tienie se van haak ons vas. Van Rensburg, dalk? Ook oor die straat is ons onseker: dis aan die onderpunt van Van Riebeeck naby Tempe, onthou ons. Dalk Van der Stel?
Toe maar die naam sal terugkom, troos ons onsself n.a.v. vorige ervarings. Maar die naam kom nie terug nie.
Dis ‘n saak vir die sosiale media, besluit ek. ‘n Blad met die naam Bloemfontein-herinneringe lyk die aangewese.
Dadelik gesels die Bloemfonteiners en oud-Bloemfonteiners saam.  Is die akademikus dalk Tienie Crous? Is die beeldhouer dalk Laura Rautenbach … of Daniella Geldenhuys … of Casper Steenkamp … of Pieter Lessing … of Jacques Fuller … of dalk ds. Dennis Oliphant (of sy vrou)?
Hoekom probeer ek nie die aktekantoor nie. Hier is die naam van ‘n gawe eiendomsagent wat dalk kan help. En so aan.
Uiteindelik tree Frans van der Hende, ‘n gewese buurman, toe tot die gesprek. Die straat is toe Drommedaris, nie Van der Stel nie. Die betrokke huis se nommer is 17a. Die akademikus was Tienie Barnard en die vorige eienaar was inderdaad ‘n beeldhouer. Prof. Barnard het by Klein-Brak of Groot-Brak afgetree, onthou hy.
Vername leidrade. Lig op die horison.
Ek bel vir prof. Piérre Theron van die UV wat hom in daardie geweste bevind. Hy en prof. Barnard was kollegas, maar sy kollega is ongelukkig reeds enkele jare gelede oorlede.
Piérre verwys my na ‘n ander kollega (studentemaat van my) wat nog in Bloemfontein woon, prof. Willie Paulsen. Willie en Tienie Barnard was vriende. Willie dink die dogter Riana dalk sal kan help. Was die vorige eienaar nie ‘n Hoffman nie, wonder hy.
Op die Bloemfontein-herinneringe-blad bly die mense saamgesels. Gift Labuschagne laat weet sy ken Riana. Sy sal haar vra.
Fetilik gelyktydig kom toe twee boodskappe:
Gift het Riana opgespoor. Sy bevestig die huis het oorheen aan ‘n pottebakker behoort. In die tuin was ‘n pottebakkersateljee. Die hele tuin was vol beeldjies en dinge, onthou sy.
Buurman Frans laat weet op sy beurt hy het by Pieter Joubert aangeklop, Dié ken toe die antwoord. Ons man se naam is Filex White. Sy kenteken was FX met ‘n klein x .
Toe ons die naam Filex White hoor, lui al die klokkies op Melkbos. Filex is inderdaad ons man. Ons gaan daardie beeldjie GROOT merk sodat ons nie weer kan vergeet nie.
Is ons nie dankbaar nie teenoor al die Bloemfonteiners vir al die raaiskote, al die wenke en al die heerlike brokkies. Dit bevestig net weer: dis ‘n gemeenskap soos min.
En hoe waardevol is daardie blad nie om waardevolle herinneringe op te diep, af te stof en te bewaar nie. Dankie, Victor Reitz.
Deel dit: