
Parkering is Woensdag op twee plekke beskikbaar: in Penguin Place (sic) voor die huis (boonste foto) en soort van langs die huis in Strandweg (onderste foto’s). Die huis (die laaste een aan die linkerkant van die straat) se nommer is 11.
Penguin Place is die vyfde straat na links uit Charles Hoffe en Strandweg (‘n singel) die derde en vierde. Jy kry Visvanger, Flamingo, Strand, weer Strand en dan Penguin.
In Penguin Place is beperkte plek. In Strandweg is ‘n openbare parkeerarea, groot oop ruimte; meer as voldoende plek. Onthou net, die wit huis is ‘n gastehuis. Moet asseblief nie direk voor hom en sy hekkies parkeer nie. Dan ook, parkering daar behels die oorsteek van ‘n taamlike stuk gras na my huis. Vir kollegas wat swaar loop, sal dit nie deug nie.
Voorkeurbestemming vr hulle is Penguin Place (moenie nou ophou lees nie).
Die twee staanplekke voor die motorhuis is om goeie redes gereserveer vir Herman Toerien en Johan van Wyk. Langs hulle moet Rudie van Rensburg intrek. Die ander plekke rond en bont – ook aan die oorkant van die straat – is vir ander kollegas beskikbaar.
‘n Derde opsie is dat Penguin Place net as aflaaipunt vir passasiers benut word met parkering daarna in Strandweg, ‘n Soort “drop and go”.
Vir Penguin-parkeerders sal die voorhekkie oopstaan (lyk nou effens anders as op die foto). Maar let wel: die voordeurklokkie sal onbeman wees. Draai dus onmiddellik regs en stap al met die plaveisel af. Ons sal ‘n pyl daar plaas. Aan die onderpunt (seekant) is ‘n opening. Dit lei tot die voorstoep, die middelpunt van aktiwiteit.
Vir die nog ratser garde is my buurman Dale Schreuder se groot wit huis links op die onderste foto hul baken. Dis teenaan die see aan die Koebergkant (dus nie die Tafelbergkant). Tussen die see en die huis is ‘n hek wat beter dae geken het (onderste foto regs). Die hek verleen toegang tot ‘n baksteen-baan. Volg dit vir 20 meter verby ‘n klein hekkie en ‘n smal servituutstrook tussen pilare. Net daarna is ‘n groot skuifhek. Stap daar in. Dis die terrein van die feestelikheid.
Patrolliemotors van die sekuriteutsfirma SRG sal van tyd tot tyd ‘n draai gooi. Sluit nietemin tog maar die motor. Ons dorpie is relatief rustig, maar ‘n mens weet nooit.
Welkom by die Van Deventers. As die wind waai; hy maak maar so as hy die nuk kry.