Apr 9, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Uithaler-seremoniemeester Flip Nel van die aftree-oord Oasis in Century City – gewis een van die beste seremoniemeesters van sy era in die wyke waar hy gewoon en gewerk het – vier vandag sy 90ste verjaardag.
Die ongenaakbare werklikheid is dat net sy naastes die verjaardag sal gedenk. Hyself is fisiek nog met ons, maar eintlik afwesig weens die “groot vergeet” wat hom die laaste jare ingehaal het. Flip se gesondheid het in sy hoë 80’s ongelukkig ‘n duik gemaak – nadat hy diep in die 70’s nog as mediese dokter in praktyke ge-“locum” en by klinieke afgelos het.
Juis een van die kere loop een van sy pasiënte in ‘n winkelsentrum by hom verby. Sy stamp aan haar metgesel. “Haai, daar loop die ou wat nou by ons ‘char’”. Flip kon die storie met groot smaak oorvertel.
Die ou vriend – oud-burgemeester van Welkom, oud-LV, oud-voorsitter van die Vrystaatse wetgewer, oud-lid van de raad van provinsies – se reputasie as seremoniemeester was op sulke humoristiese stories gebou, en op sy kleurryke verteltrant Hy wat nou geen woord spreek nie, het in sy fleur nooit na ‘n woord gesoek nie!
Van sy onvergeetlikste stories uit sy spreekkamer was van die Abeldammers (soms ook Appeldammers genoem), ‘n arm gemeenskap van die plaas Abelsdam tussen Bothaville en Hoopstad waarin heelwat ondertrouery voorgekom het met voorspelbare gevolge.( Jare gelede is selfs ‘n hele doktorale tesis oor hulle gedoen.)
Flip, self ‘n seun van Bothaville, was verskeie se dokter. Twee Abeldammer-stories wat dadelik by my opkom en wat baie vriende van Flip sekerlik vandag in herinnering sal roep, is een van Oom Koos Koekies wie se vrou vir x-srale by die dokter was en van ‘n ma wat haar dogter gebring het oor ‘n ongemaklike gejeuk.
Mev. Koos Koekies was ‘n groot tante met ‘n borsmaat van formaat wat nie by die res van haar lyf afgesteek het nie. Om by die longe uit te kom vir x-strale moes plek gemaak word. Flip vra toe die eggenoot om te help oplig en vashou en dié willig gretig in. Toe Flip aankondig hy is klaar, vat Oom Koos eers die een, toe die ander van die goeters in sy hande, uiter die woord “foei” met ‘n behaaglike sug en gee elkeen ‘n klapsoen.
Die ma van die dogter met die groot jeuk, het haar mooi afgerig oor wat ‘n mens by ‘n dokter doen en wat jy nie doen nie. In die spreekkamer gee sy opdrag: ”Vertel vir die dokter wat jou makeer.”
Die dogter vertel in kleur en geur en noem die plek op ‘n erg onwetenskaplike naam wat ‘n mens aan ‘n kruidenierswinkel herinner. Sy “oom” hom gemoedelik van voor tot agter.
Net toe tree ma na vore en gee haar dogter ‘n taai klap. “Het ek nie vir jou gesê ‘n mens noem nie die dokter oom nie!”
Ai, ou Flip watter lang pad het ons nie saamgekom nie vandat ek jou in die 80’s op die krieketveld in Welkom ontmoet het? Flip het toe vir Bille se Bulle van Welkom gespeel en ek vir Colin se Kallers van Bloemfontein. Natuurlik het de Kallers gewen danksy ‘n stewige beurt van die uwe.
Na die wedstryd het ek en Flip en die ander spanmaats en opponente ook ‘n paar stewige biere weggesit – ons het per trein gereis.
Waar Flipman op die veld nie juis ‘n faktor was nie, was hy by die agternakuier kaatjie van die baan. Toe die trein laataand Bloemfonteinse stasie instoom, het die Kallers nog kliphard vir van sy stories gelag.
Later was Flip en Linda. asook ek en Tokkie,.deel van ‘n groepie verloopte Bloemfonteiners wat in die Kaap van Storms uitgespoel en rondomtalie-etes saam geniet het: dan by die een, dan by ‘n ander. Die ander was Wynand en Daleen Mouton, Dok Willie en Alice Kotze, Japie en Joan van Lill, asook Hennie en Lucille Collins.
Flip en Linda het ook by Melkbos-Probus uitgewaai. Die foto van die twee is juis so 10 jaar gelede by ‘n Probusbyeenkoms hier by ons op Melkbos geneem.
Geluk met die 90, vriend Flip, of jy dit nou kan lees of nie.
Apr 7, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Vra my wat ek en rugbyhelde soos Siya Kolisi en Peter-Steph du Toit gemeen het, en die antwoord is ongelukkig nie my kranige spel op die rugbyveld nie. My nederige beste poging was vir my koshuisspan in die derdeliga in Pretoria.
Die gemeenskaplikheid, dames en here, is dat my wankelrige knie ook die deurlugtige aandag van wyle dr. Willem van der Merwe (foto) geniet het. Vir die doel is ek na die Sportinstituut se geriewe naas Nuweland in Kaapstad. Dit was vyftien jaar gelede.
Die briljante dr. Willem – oud-Grey, oud-Kovsie en oud-nelbouler van die Vrystaat in my Volksbladjare – het toetse gedoen en met ’n indrukwekkende masjien foto’s geneem. Sy bevinding was goeie nuus vir die bekommerde Melkbosser wat reeds in daardie stadium vir ‘n heupvervanging geskeduleer was. Twee ingrepe in een been sou dik vir ‘n daalder wees.
Maar dis juis die heup wat my storie ‘n kinkel gee. My vervanging sou geskied met die Franse Amis-tegniek (Anterior Minimally Invasive Surgery). Dr. Van der Merwe was hoogs geïnteresseerd en ek het geesdriftig uitgewei: die snit is maar 6 tot 8 cm; jou spiere rondom die heupgewrig bly almal behoue; bloeding is minder; pyn is skaars ter sprake; herstel is 50 persent vinniger.
Nee wat, sê hy eindelik, hy glo maar aan die tradisionele manier – en net daar maak hy sy gordel los, laat sak sy broek en wys my sy lang wond. Só, se hy. Só word dit gedoen. (Wonder, terloops. of Siya en Pieter-Steph hul wonderdokter ooit so in sy onderbroek gesien net.)
Ten slotte: vir wat dr. Willem met daardie manne se erg gekrokte knieë vermag het, hulde aan hom. Onteenseglik was hy ‘n yster. Van die Amistegniek bly ek egter steeds ‘n ambassadeur.
Die eerste dag al is ek op krukke die hospitaalgang af. Die vierde oggend hoor ek die blye nuus: Jy kan maar huis toe gaan. Presies drie weke nadat ek klappertand in my ontblotende teaterjurkie in ‘n smal hospitaalbedjie op pad na die teater was, het ek op eie stoom by die Panorama Medi-Clinic ingestap vir die opvolgbesoek aan die ortopeed – sonder krukke.
Ek het uitgestap met ‘n regmerkie by elke vraag op die lysie in my binnesak. Ja, ek mag weer motor bestuur, op die strand gaan stap, op ‘n sagte stoel sit, voete kruis, bad, in my nomale posisie slaap, buk om iets op te tel en my eie sokkies optrek. Dadelik. Verbasend maar waar.
Dankie van harte, dr. Jan Joubert.
(Dr. Van der Merwe is op 64 aan slukdermkanker oorlede.)
Apr 5, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Nee, allemagtig, wat te erg is, is te erg. So kan ‘n mens Sakkie van Zyl, oud-advertensieman van Die Burger, se verontwaardigde brief in vanoggend se koerant parafraseer oor die uitsonderlike hamburger-advertensie Vrydag wat deel van die mashoof vorm. Kyk foto 1.
As ’n oud-redaksieman moet ek my emosionele gewig by Sakkie inwerp. Nuus se plek in die koerant is immers met sorg afgebaken en moet eerbiedig word. Sela.
Twee aspekte wil ek egter noem om die afwyking dalk effe rustiger te beoordeel as kollega Sakkie – en die uwe en seker baie ander koerantmense – se instinktiewe afgryse.
Een is dat advertensies die rekeninge betaal en dat daardie prominente advertensie die adverteerders seker ‘n arm en ‘n been moet gekos het. As koerante so sukkel om te oorleef dat gerespekteerde titels soos Rapport, Beeld en Die Volksblad nie meer in druk verskyn nie, is dit laat in die dag. Om Die Burger – en sy lojale lesers – daardie lot te spaar, moet ons ons dalk maar klaarmaak vir meer sulke avontuurlike geldmaak-pogings – of ons daarvan hou of nie.

‘n Tweede is dat oor die plek van advertensies en die volume daarvan nog maar altyd ‘n toutrekkery was. Een opskudding wat ek veral onthou, was in die 90’s toe wyle Naas du Preez, ironies genoeg ‘n oud-redaksieman, uit die nasionale advertensiekantoor die nuutjie van “eiland- advertensies” aan redaksies wou verkoop. Dit is advertensies wat rond en bont tussen die nuus sou staan, baie soos die hamburger-advertensie in Die Burger. Naas se idee is verwerp. Hy sou gister breed geglimlag het.
Laat ons ook nie vergeet nie dat tot in 1932 (meen ek) geen nuus op die voorblad van Die Burger verskyn het nie. Dit was eksklusief advertensies se plek. Kyk foto 2 van Die Burger se eerste voorblad in 1915.
Toe ek koerante van binne leer ken het, in die laat 50’s, was die voorblad gelaai met nuus. Advertensies se plek was vasgemessel. Langs die mashoof was twee “oortjie”- advertensies aan weerskante en regs onder op die blad ‘n dubbelkolomadvertensie. Die eerste pogings om daardie dubbelkolom ‘n driekolom te maak, is deur ons redaksiemense met hand en tand beveg. Die advertensiemense het uiteindelik gewen. Later het advertensies in die ongewoonste groottes daar begin opduik.

Wanneer presies die “oortjies” gesneuwel het , kan ek nie onthou nie. Met die verskyning van Beeld in September 1974 staan die mashoof egter skoon en trots alleen – geen “oortjies”nie. Kyk foto 3. Teken dit aan as ‘n veldslag wat deur redaksie gewen is.
Eras kom en gaan dus – en dit geld ook nuushantering. My kennismaking met koerante was toe die strewe sterk was om as sg. “newspaper of record” gereken te word. Jy moes enigiets maar enigiets in ‘n bepaalde uitgawe kon gaan naslaan. Ook die voorblad was die ene opskrifte. Vyf of ses meerkolommige stories was aan die orde. Daarby ‘n rits enkelkolom-“toppies”.
My voorganger as redakteur. Oom Bart Zaaiman, was lief vir baie “toppies”. Vir hom was hulle “rosyntjies”. Hy hou na my wete die rekord vir ‘n hoofsubredakteur met iets in die 20 berigte op die voorblad. Kollegas wat nie sulke sterk “rosyntjie”-mense was nie, het dit agter sy rug “bokdrolletjies” genoem.
Die voorblad was min of meer volgens ‘n vaste struktuur; ‘n hoofberig, tweede d/k, driekolom onder die blok en “stoepie” was vaste spyse. D/k staan vir dubbelkolom. ‘n “Stoepie” was oor vier kolom of meer onderaan die blad, hoofsaaklik ‘n ligte (dalk humoristiese) storie. Later het die klem meer op tipografie begin val. Inhoud is opgeoffer vir voorkoms , meen ek.
Deesdae kry ons – wat nog bevoorreg is om ‘n papieroerkoerant te lees – soms ‘n voorblad met net twee stories en ‘n klompie verwysings na binne, die sogenaamde ”lusmakers” of “aptytwekkers”. Ons het sulke goeters in my
dae “plugs” genoem.
Wat is my punt? In Engels: “The times they are a-changin”, soos Bpb Dylan sing. In Afrikaans: “Niks is so seker soos verandering nie.”
Het die era van Naas du Preez se “eiland- advertensies”dalk nou ‘n dekade of meer na sy dood aangebreek? As dit het. dan het dit, al stuit dit tradisionaliste teen die bors. (Lees Sakkie se brief by
https://www.netwerk24.com/…/hamburger-burger-is…
Apr 3, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Ekstra energie vir sy boksgeveg om die ligswaargewigtitel van die wereld teen die SA uitdager Pierre Fourie in 1975 het die kampioen, Victor Galindez (die “Dier”) gekry uit twee vitamiene-inspuitings elke dag.
Dit lees ek vandag in my gunsteling Burger-rubriek, “50 Jaar gelede”.
Die geveg was op Saterdagaand 5 April 1975 in Johannesburg. Vanoggend se mededeling hieroor herinner aan ‘n Galindez-moles in die week voor die geveg waaraan die uwe, tot sy spyt en met die nodige nederige betuigings van apologie aan dese en gene, skuld moet beken.
In die (eerlike) strewe tot ‘n bietjie lewendigheid op ‘n stil dag stuur ek die oggend verslaggeefster Petra Pieterse om die woeste Argentyn te gaan soen. Daardie soen haal in kleur die voorblad haal. Watter uitwerking Petra se meer as net ‘n pikkie op de “Dier” se energievlakke gehad het, sal ek nie weet nie. Op kantoor is egter ‘n klomp negatiewe energie losgelaat.
Verslaggeefsters het nie net onder mekaar gemor nie, maar ‘n gorganiseerde deputasie na die nuusredakteur gestuur om hom te waarsku dat die tyd vir sulke demonstrases van manlike chauvinisme (tipies Vrystaats!) verby is.
Die arme Petra het ook deurgeloop. Sy is kwalik geneem omdat sy ingewillig het – al het sy nie veel ruimte vir ‘n ander keuse gehad nie.
Agterna had ek so ietwat berou. Maar dit was darem ‘n blerrie goeie foto!
‘n Ander keer daardie tyd dat ek reikhalsend na die rustiger Bloemfontein verlang het, was met die opening van ‘n winkelkompleks. ‘n Duisternis pryse is uitgeloof, onder meer vir die kleinste bikini. ‘n Jong, maer rooikop daag op met net twee titseltjies lap. Ook die foto haal die voorblad. Weer moes ek dit ontgeld van ontevrede kollegas en die eer ook van verontwaardigde lesers,
Maar njannies, die waaghalsige besluit om die wenner so prominent in ons koerant te laat paradeer, was nie myne . Wie s’n dit was? Nee daardie kollega was stom.
Vandag kan mens glimlag (al is dit effens suurderig!) oor sulke insidente. Toe dit gebeur het, was ek egter maar taamlik verleë.
(Daantjie Badenhorst laat weet op Facebook Fourie en Galindez is vier maande na mekaar in motorongelukke oorlede. Dit het ek nie geweet nie, of al vergeet. )
Apr 2, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die Niggiemoord in Januarie 1966 op Odendaalsrus lok enorme belangstelling uit, op TV, in koerante en tydskrifte, op, sosiale media, in private gesprekke, oral. Vanaand gaan derduisende – nee, der-tienduisende of der-honderdduisende – om 20:00 op Kyknet ingeskakel wees vir episode twee.
Vir my as koerantman uit daardie era is een redelik algemene reaksie verbysterend. Dit is die wye onkunde oor hierdie moord en andere. Mense wat oud genoeg is om op ‘n manier daarvan kennis behoort te dra, is stomgeslaan.
“Ons het nie van die moorde geweet nie,” hoor ‘n mens uit een oord. “Ons was nie bewus van sulke moorde toe ons jonger was nie,” kom dit uit ‘n ander. Op Facebook lees ek selfs dat misdaad destyds maar onder die bed ingevee of weggesteek is.
Dan dink ek hoeveel kere ek as koerantman gekapittel is juis oor te veel moord en doodslag in die koerant. Dis net bloed, bloed, bloed op die voorblad, is ek meermale verwyt. En ek skud maar net die kop.
Dadelik kom ‘n klomp bekende moorde uit daardie era by my op: die Niggiemoord (of Murasiemoord, soos dit ook genoem is), die Verwoerdmoord natuurlik, die Tasmoord (afkop-vrou in Boksburgmeer), die Groesbeekmoord, die Vontsteenmoord, die Wahl-moord, die Clack-gesinsmoord, die Robert Smit-moorde …. Dis maar enkeles uit my koerantloopbaan.
Ek onthou egter moorde van lank voor my koerantloopbaan. In Kimberley is, nog in my laerskooljare, twee oujongnooi-tantes in hul huis vermoor. Ons kinders het nuuskierig die “moordhuis” gaan opsoek en was verras dat dit so doodgewoon lyk.
My wetenskap-onderwyser op Volkies, mnr, Stompie Steyn, is deur sy tuinman (desyds anders genoem) vermoor. Dit was nogal ‘n opskudding.
Maar waarvan ek einlik wil vertel, is van die moord waarmee my koeranteloopbaan as’t ware ingewy is. My eerste plakkaat as waarnemende Goudveldse verteenwoordiger. Dit was in die universiteitsvakansie van 1961/ 62. Ek as beurshouer sou vir die vakansie in Bloemfontein gaan werk. Aan die vooraand kry ek ‘n oproep: nee, ek moet Goudveld toe. Die Goudveldse verteenwoordiger, Willie Coetzee, gaan met langverlof.
Die eerste dag gaan wys kollega Willie my toe rond. Hier’s die hof, hier’s die brandweer en so aan. By die polisiehoof (Jeff Greeff) gekom om my voor te stel, lig hy ons vriendelik in oor die ou wat op Kroonstad in sy ouers se voordeur as’t ware in woede sy broer doodgeskiet het. Ons is voet in die hoek soontoe.
Die feite van die saak is dat albei broers op die Spoorwee gewerk het. Broer A was ‘n stoker. Hy had geruime tyd n spesmaas dat broer B vir sy vrou gaan kuier wanneer hy saans vir ‘n nagskof padgee, Die ongetroude Broer B was tuis by sy ouers, enkele huise van broer A se tuiste af in dieselfde straat naby die stasie. Een aand stel broer A vir broer B ‘n strik. Hy verras hom in ‘n oomblik van passie met sy vrou in sy eie slaapkamer.
Toe hy sy rewolwer uitpluk, kies broer B hasepad na sy ouerhuis toe. Die veronregte broer A hardloop agter hom aan en skiet ‘n skoot of twee in die lug. Net toe broer B die voordeur van sy ouerhuis ooppluk, val nog ‘n skoot. Dis ‘n dodelike rugwond. Hy syg sterwende in die voordeur neer.
Willie besluit toe om die jong student vir sy vuurdoop alleen in te stuur om by die bedroefde ma te gaan foto’s vra, wat dikwels maar ‘n taai toffie is. Hy sit in die Volksie en wag terwyl ek senuweeagtig gaan aanklop.
Die jong abjater kom egter nie uit nie. Hy bly weg en bly weg. Later kan Willie dit nie meer hou nie. Hy kom klop ook aan die voordeur om sy kollega te kom “red” as daar moeilikheid sou wees.
Maar waar tref die verbaasde Willie die jeugdige Van Deventer (toe nog net 20) aan? Hy kry hom plat op die vloer in die sitkamer omring deur foto-albums sodat hy kan kies en kleur. Die bedroefde ma is byderhand om name en konteks te verstrek, wat sy hoegenaamd nie onwillig is om te doen nie.
Langs Van Deventer op die vloer is selfs n koppie tee en ‘n fris stuk sjokoladekoek wat aangebied is om hom tuis te laat voel. Willie Coetzee was totaal uit die veld geslaan oor die prentjie voor hom.
Daarna was ek vier dekades by koerante. Nooit weer by enige moord is ek so met ope arms verwelkom en getrakteer nie. Nooit weer was daar ‘n moeder van ‘n slagoffer en/of beskuldigde wat soveel behae uit publisiteit geskep het nie.
Seker ook maar gevoel dat sy nou “famous” gemaak is soos Joshlin se ma, Kelly. En laat ek maar erken: ek het selwers taamlik “famous” gevoel toe ek daardie uitgawe met my handwerk oopslaan.
Mar 27, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Kostelike stukkie humor in die Bybel is hoe die Israeliete op hul Groot Trek na die “land van melk en heuning” holderstebolder met hul onklaar “padkos” uit die land van die farao vort is.
In Eksodus 12 lees ons hulle het in die pad geval met hul brooddeeeg, sonder suurdeeg, in skottels wat in klere toegedraai is, op hul skouers. Daarmee het hulle langs die pad ongesuurde roosterkoeke gebak.
Ek noem dit humor, nie omdat ek nie ‘n padkos-man is nie – ek is dit inderdaad! – maar oor die ontnugtering wat ek my in my geestesoog kan verbeel oor die reis wat eenvoudig aanhou en aanhou en aanhou… veertig jaar lank. Hoe ‘n erbarmlike kort stukkie van die reis kon hul padkos gehou het?
As selfverklaarde padkos-verslaafde moet ek dalk nie lag nie, maar trane stort. Watter ramp as ‘n ou se padkos opraak terwyl die bestemming nog ver, ver voor jou lê!
Padkos-storie kom na vore toe ek die meegaande foto (onbekende mense, onbekende bron) op Facebook raakloop.
My eerste ervaring van padkos was toe ek en my weduweema. Baby, in die jare 40 per trein van Kimberley vir Oom Danie en Tant Susie op hul plaas in die distrik Paul Roux gaan kuier het. Ons het dan tot op Kaallaagte trein gery, waar Oom Danie ons met sy treppie kom haal het.
Deel van ons bagasie was ‘n kosmandjie en opgerolde beddegoed. Ons kon nie die treinkos in die eetsaal met al sy sliwerware en die netjiese, silwerskoon treinbeddegoed bekostig nie. Ons kos was baie basies – broodjies en frikkadelle en hardgekookte eiers. Vir my was dit koningskos.
Trouens, elke vakansie by Oom Danie-hulle had twee hoogtepunte: die padkos en die spogperde wat hul koppe so gooi in die tuig voor die treppie.
Die mandjies van ryker mense – so het ek gehoor – het o.m. ook ingesluit: koue hoender, skaapboud en heel biltong wat met die knipmes gekerf word. Ek was nie eens jaloers nie.
In n stadium – toe ek student was en daarna – is met “padkos” bedoel die paar biere wat saamgery is om langs die pad die dors in toom te hou. Ek het niks teen bier nie – maar met die wyser insig wat later gekom het, besef ek nou om bier padkos te noem, is ‘n belediging vir laasgenoemde!
Gelukkig trou ek toe met Tokkie. Sy is ‘n padkos-kampioen. Ons eerste reise is aangepak met eierbroodjies, botterbroodjies, biltongbroodjies, frikkadelle, worsies, pruime in spek toegedraai en minstens een lekker soetdingetjie soos ‘n ystervarkie of konfyttertjie saam met die koffiekan in ‘n mandjie aan haar voete.
Later het die koffiekan een van die moderne flesse geword wat jy net bo kon druk om die koffie te laat uitspuit.
Tokkie se padkos het my so bederf dat ek nie kan wag om my tande daarin te slaan nie. Ons is nog nie n blok weg van die huis af nie, dan verneem ek al: “Wat van ‘n eierbroodjie” ? Daarna is my kake vir die res van die reis omtrent nooit stil nie.
Met die koms van die kleinkinders het die padkos se karakter nie juis verander nie, net die volume. Nuwe elemente het darem ook bygekom, soos vrugtesappies en jogurt. Die tweeling, Jacob en Thomas Claassens, was klein so versot op padkos soos hul Oupa. Daar was amper in kompetisie in die motor oor wie eerste die groot vraag gaan opper.
Vir “groot etes” is by Ultra-Cities en daardie klas geriewe stilgehou. Ons soek dan ‘n tafeltjie onder ‘n koelteboom op. Die kos kom uit ons eie mandjie aan Tokkie se voete – nie uit die kitskoskombuise nie. Vir versnaperinge wat ry-ry geniet word, word lappies en plastiekbakkies ingepak. My vrou hou nie van krummels in ‘n kar nie!
Ek verwonder my nou nog oor wat alles iemand soos Tokkie in die beperkte voetspasie aan die passasierskant van die motor kan huisves. Tot die kindertjies se strandemmers is soms daar ingedruk.
By geleentheid, jare der jare gelede, het die omvang van die uitdyende “voet-bagasie” ‘n ligte irritasie by haar veroorsaak. Ek onthou ‘n keer toe ons ons met n motor wat kreun onder al ons vakansie-bagasie by ‘n rylopende weermag-outjie in uniform verby is.
“Stop en laai hom op,” gebied mev. Van D.
“Waar moet hy sit?”
“Sommer ook nog hier by my voete!”
‘n Padkos-kultuur wat ek in my later jare eers leer ken het, behels dat jy by jou bestemming moet aankom met ‘n voldoende voorraad om jou gashere te laat verstaan jy is nie sommer ‘n elkedagse hierjy nie.
Lydia, ‘n Sotho wat in lewe by ons gewerk het, was ook van Paul Roux, soos Tokkie se ma, Marietjie, en my Oom Danie-hulle. Elke tuisbesoek per “Shosoloza Meyl” was ‘n uittog waarvoor dae voor die tyd hoenders gaargemaak is: twee vir die reis en twee vir die uitklim.
Lydia se padkos het vir my heerlik gelyk. Ek is net bevrees: as ek sou saamry, sou vir die uitklim niks oorgebly het nie!