Nee, allemagtig, wat te erg is, is te erg. So kan ‘n mens Sakkie van Zyl, oud-advertensieman van Die Burger, se verontwaardigde brief in vanoggend se koerant parafraseer oor die uitsonderlike hamburger-advertensie Vrydag wat deel van die mashoof vorm. Kyk foto 1.
As ’n oud-redaksieman moet ek my emosionele gewig by Sakkie inwerp. Nuus se plek in die koerant is immers met sorg afgebaken en moet eerbiedig word. Sela.
Twee aspekte wil ek egter noem om die afwyking dalk effe rustiger te beoordeel as kollega Sakkie – en die uwe en seker baie ander koerantmense – se instinktiewe afgryse.
Een is dat advertensies die rekeninge betaal en dat daardie prominente advertensie die adverteerders seker ‘n arm en ‘n been moet gekos het. As koerante so sukkel om te oorleef dat gerespekteerde titels soos Rapport, Beeld en Die Volksblad nie meer in druk verskyn nie, is dit laat in die dag. Om Die Burger – en sy lojale lesers – daardie lot te spaar, moet ons ons dalk maar klaarmaak vir meer sulke avontuurlike geldmaak-pogings – of ons daarvan hou of nie.
‘n Tweede is dat oor die plek van advertensies en die volume daarvan nog maar altyd ‘n toutrekkery was. Een opskudding wat ek veral onthou, was in die 90’s toe wyle Naas du Preez, ironies genoeg ‘n oud-redaksieman, uit die nasionale advertensiekantoor die nuutjie van “eiland- advertensies” aan redaksies wou verkoop. Dit is advertensies wat rond en bont tussen die nuus sou staan, baie soos die hamburger-advertensie in Die Burger. Naas se idee is verwerp. Hy sou gister breed geglimlag het.
Laat ons ook nie vergeet nie dat tot in 1932 (meen ek) geen nuus op die voorblad van Die Burger verskyn het nie. Dit was eksklusief advertensies se plek. Kyk foto 2 van Die Burger se eerste voorblad in 1915.
Toe ek koerante van binne leer ken het, in die laat 50’s, was die voorblad gelaai met nuus. Advertensies se plek was vasgemessel. Langs die mashoof was twee “oortjie”- advertensies aan weerskante en regs onder op die blad ‘n dubbelkolomadvertensie. Die eerste pogings om daardie dubbelkolom ‘n driekolom te maak, is deur ons redaksiemense met hand en tand beveg. Die advertensiemense het uiteindelik gewen. Later het advertensies in die ongewoonste groottes daar begin opduik.
Wanneer presies die “oortjies” gesneuwel het , kan ek nie onthou nie. Met die verskyning van Beeld in September 1974 staan die mashoof egter skoon en trots alleen – geen “oortjies”nie. Kyk foto 3. Teken dit aan as ‘n veldslag wat deur redaksie gewen is.
Eras kom en gaan dus – en dit geld ook nuushantering. My kennismaking met koerante was toe die strewe sterk was om as sg. “newspaper of record” gereken te word. Jy moes enigiets maar enigiets in ‘n bepaalde uitgawe kon gaan naslaan. Ook die voorblad was die ene opskrifte. Vyf of ses meerkolommige stories was aan die orde. Daarby ‘n rits enkelkolom-“toppies”.
My voorganger as redakteur. Oom Bart Zaaiman, was lief vir baie “toppies”. Vir hom was hulle “rosyntjies”. Hy hou na my wete die rekord vir ‘n hoofsubredakteur met iets in die 20 berigte op die voorblad. Kollegas wat nie sulke sterk “rosyntjie”-mense was nie, het dit agter sy rug “bokdrolletjies” genoem.
Die voorblad was min of meer volgens ‘n vaste struktuur; ‘n hoofberig, tweede d/k, driekolom onder die blok en “stoepie” was vaste spyse. D/k staan vir dubbelkolom. ‘n “Stoepie” was oor vier kolom of meer onderaan die blad, hoofsaaklik ‘n ligte (dalk humoristiese) storie. Later het die klem meer op tipografie begin val. Inhoud is opgeoffer vir voorkoms , meen ek.
Deesdae kry ons – wat nog bevoorreg is om ‘n papieroerkoerant te lees – soms ‘n voorblad met net twee stories en ‘n klompie verwysings na binne, die sogenaamde ”lusmakers” of “aptytwekkers”. Ons het sulke goeters in my
dae “plugs” genoem.
Wat is my punt? In Engels: “The times they are a-changin”, soos Bpb Dylan sing. In Afrikaans: “Niks is so seker soos verandering nie.”
Het die era van Naas du Preez se “eiland- advertensies”dalk nou ‘n dekade of meer na sy dood aangebreek? As dit het. dan het dit, al stuit dit tradisionaliste teen die bors. (Lees Sakkie se brief by https://www.netwerk24.com/…/hamburger-burger-is…
Deel dit: