DIPLOMATE IN DIEP WATERS – LETTERLIK EN FIGUURLIK

‘n Besoekende diplomaat wat nie kan swem nie op ‘n sinkende bootjie op die Zambesirivier terwyl SA sy gasheer is. Klink na die resep vir ‘n diplomatieke ramp.

Gelukkig is in die geselskap’n senior man van buitelandse sake (later gesant in België) wat nie net goed kan swem nie, maar ook nie skroom om sy klere in ‘n reddingsoperasie af te pluk  nie.

Die besoeker was dr.  Martinez de Alva van Urugay, wat saam met skandemaker Vittorio Carpio op ‘n VV-sending was om hulle oor aspekte van die Suidweskwessie te vergewis.

Die held was David du Buisson, een van die gashere saam met Brand Fourie, destyds ambassadeur by die VV. Hy was aan die einde van die petalje kaal in ‘n oewerboom.

Die gedagte om die rivier oor te steek, het half spontaan ontstaan op ‘n besoek aan die basis Katimo Mulilo – juis een wat Carpio nie kon meemaak nie weens sy voorliefde vir KWV waarvan ek elders vertel.

Die boot het behoort aan ene Boshoff, ‘n geheimsinnige skadufiguur in die storie. Hy was soos De Alva,  en hierdie optekenaar  van die geskiedenis, hulpeloos onkapabel in die water.

Piet Meiring vertel die storie in sy boek “Vyftig jaar op die voorblad” (Perskor, 1979) aan die hand van mededelinge deur betrokkenes.  Ek lees die boek nou met heelwat behae.

Lank storie kort: die bootjie het al op die heentog begin lek. Boshoff het gemeen hulle sal veilig wees as hulle roer.  Toe werk dit nie so nie.

Die boot sluk water en slaan om.  De Alva begin vinnig sink, nog sittende in die stoel wat in die boeg vir hom staangemaak is.  Boshoff klou aan die voorstewe vas en spartel in die krokodilwaters.  Brand Fourie swem vir sy lewe.  Pandemonium van die eerste water.

Toe tree Du Buisson  na vore as redder.  Hy duik diep en bereik De Alva.  Hy swem met hom na die boot se kant en gee  vir hom ‘n tou om aan vas te klou. Daarna snel hy Boshoff te hulp wie se vrou by die aanskoue van die gebeurde op die oewer flou geval het.

‘n Koerantman, ene Coetzee (waarskynlik Stoffel Coetzee van “The Star”) het intussen te midde van ‘n onaardse lawaai van plaaslike inwoners ‘n tweede boot (’n klein motorbootjie)  aan die gang gekry. De Alva,  Boshoff en Brand Fourie (‘n goeie swemmer)  word daarmee bereik en opgelaai.

En Du Buisson?  Hy  het rustig oewer toe geswem en hom kaal in ’n boom gemaklik gemaak. Sy klere het vroeg-vroeg gewaai om sy rol as menseredder te speel.

Meiring meen dit was ‘n “merkwaardige geskiedenis van mense wat kop gehou het, swemmers sowel as drenkelinge”.  Kan 60 jaar later nie van hierdie waarneming verskil nie.

De Alva was dankbaar en boetvaardig. “It was all my fault for asking to be taken on the river when I knew that I am no swimmer.”

Dr. HF Verwoerd wat toe eerste minister was, was nie geamuseerd nie.  Hy het die betrokkenes goed die kop gewas oor die onverantwoordelikheid om sonder ‘n goeie plan B met die hoë besoeker die rivier in Boshoff se lekkende boot aan te durf.

Tog jammer dat sulke brokkies lekker geskiedenis verlore gaan.  Kinders leer nie daarvan op skool nie.

KWV-DIPLOMASIE

Diplomaat verdrink in bad ná te veel KWV. Nee, dit was nie werklik ‘n koerantopskrif in die 60’s nie, maar dit was ampertjies.

Die diplomaat was die Fillipyn Vittorio Carpio wat aan die spits was van ‘n VV-vredesending oor die Suidweskwessie wat Suid-Afrika in 1962 besoek het,  en hom algou as KWV-entoesias betoon het.

Die insident in de bad was in Windhoek in die deftigste suite van ‘n hotel met ‘n buffet waarop ‘n aantreklike verskeidenheid drank en vrugte uitgestal was. Daardie uitstalling was so amper ambassadeur Carpio se ondergang.

Die vrugte het nie sy belangstelling gewek nie. Dadelik wou hy egter weet watter dranksoorte eie aan  die landstreek is.  Hy is ‘n bruisende beker bier aangebied, wat hy in enkele teue geledig het.

“Ietsie sterker?” het hy daarop  verneem terwyl sy oog liefderik op die bottel KWV-brandwyn bly talm.  Die kennismaking was ‘n geval van liefde met die eerste oogopslag, onthou Piet Meiring in sy boek “Vyftig jaar op die voorblad”   (Perskor, 1979).

Ambassadeur Carpio se geliefkoosde drinkding  was terstond ‘n glas brandewyn sonder water. Dit is vinnig gesluk en met ‘n volgende vervang.

Een  gevolg was ‘n langdurige babelaas en ook allerlei moleste, soos op ‘n bokspringende vliegtuig nadat hy saam met die brandewyn ‘n klomp piesangs ge-eet het. Soos maar gebeur, het hy bra onelegant van albei ontslae geraak.

‘n Tweede gevolg was dat hy weens wingerdgriep nie oral sy geselskap op alle besoeke kon vergesel nie.

Een aand het hy ternouernood in sy bad verdrink. Waarom hy onder die water ingegly het, kon niemand bepaal nie.  Dat die voorval nie KWV-onverwant was nie, is egter wyd geglo.

Die laaste twee dinge wat sy besoek in die politieke geheue  laat voortleef het, was sy vinnig ontkenning van ‘n verklaring met ‘n positiewe strekking wat hy onderteken het, en die bestelling van etlike kiste KWV om by sy ambassade in Kaïro afgelewer te word.

Sy ondertekening van die verklaring was onder dwang, het hy beweer.  Geen bewering is egter ooit gemaak dat hy vasgebind is en die KWV daarop in sy keel afgegooi is nie.

Die gerugmakende besoek het ook ‘n amper-verdrinking in die Zambesirivier van mnr. Carpio se spanmaat, dr. Martinez de Alva van Urugauy ingesluit.  Dit was ’n veel ernstiger insident wat groot diplomatieke opslae kon gemaak het.  Daarvan vertel ek later.

 

  • Die veelseggende skets is deur TO Honiball van Die Burger,

MAMMA, WAAR KOM OOM PIET SE NAAM VANDAAN?

Kom ons gesels verder oor die komediant, sanger, akteur, omroeper, komponis, draaiboekskrywer, goëlkunstenaar en buikspreker Piet Pompies. Vandag se tema: die oorsprong van die onderskatte vermaaklikheidskunstenaar se naam … ene wat nogal vir moedswillige misverstand vatbaar is.
Op die beste gesag het ek dit waaraan die amper legendariese grapjas – wat op 30 Desember 1992 op 70 in ‘n motorongeluk naby Grabouw gedood is – sy ongewone verhoognaam te danke gehad het: natuurlik aan die outydse pompie-toeters op sy bors. Hy het altyd daarmee op die verhoog lawaai gemaak. Toet-toet.
Kyk na die foto hierby: so ‘n toeter-affêring hang om sy nek. Kyk ook na die voorblad van sy dogter, Elsa, se boek oor hom by gister se plasing: ditto. Klink dus logies.
My bron vir hierdie verklaring is SAUK-TV. Kry die inligting op sy webblad. SAUK-TV bedank op sy beurt Marius de Vos van IFM 102.2 daarvoor.
Hierbo verwys ek na die moontlikheid van misverstand. Laat my dan aanknoop by ‘n mooi storie in Elsa se boek, “Piet wat Pompies was”.
Sy vertel van ‘n KKNK ‘n paar jaar gelede waar kondome met “stout” Afrikaanse name bemark is. Een van die produkte is die naam gegee Piet Pompies.
Die Van der Byl-kinders was opgeruk en wou met alle geweld prosedeer. Ma Betsie, ‘n wyse en verstandige vrou, het hulle gekalmeer. Die naam Piet Pompies het volksbesit geword, het sy geredeneer.
Buitendien: Pa Piet (Pieter) sou waarskynlik gevlei gevoel het dat sy naam op die manier verewig is!
(Op die SAUK-TV-webblad lees ek Piet (Pieter), aanvanklik ‘n klerk en later stasiemeester by die Spoorweë, in sy lewe ook eienaar van ‘n troeteldierwinkel en perdeslagter was. Amanda Botha het laat weet dat hy op skool op Jan van Riebeeck vir die eerste span rugby gespeel het. Waarlik ‘n man van vele ambagte en talente.)

PIET POMPIES – DIE MAN AGTER DIE ALIAS

Piet Pompies: Baie mense, veral van die nuwer generasies, reken waarskynlik dis sommer ‘n duimsuig-naam soos Jan Salie, Jan Rap, Piet Snot of die Daantjie van die kalwerhok wat in uitdrukkings en idiome in die volksmond voorkom.
My generasie se mense weet darem “mnr. Pompies” was ‘n mens van vlees en bloed: ‘n grapjas wat ook kon liedjies skryf en sing; ‘n voorste vermaaklikheidskunstenaar wat selfs ook radioprogramme gemaak en draaiboeke geskryf het. Ons onthou liedjies soos “Haar pa wou nie gaan slaap”, “Antjies die rooibruin hen”, “Kaboemielies” en “Sousboontjies”.
Maar slaan die meeste dood oor wie Piet Pompies werklik was. Trouens, tot verlede week was ek ook oor sy identiteit totaal in die duister. Toe gee Jakkie Groenewald, akteur en oud-joernalis, vir my ‘n boekie present met die titel “Piet wat Pompies was” (Malan-media, 2018) deur Piet se dogter, Elsa (Dixon) van der Byl.
Nou weet ek (dalk die eerste keer?) wie die man agter die alias Piet Pompies was: Pieter Carel Nicolaas van der Byl, ‘n spoorwegman wat tot stasiemeester gevorder het voor die verhoog-gogga hom gebyt het.
Piet is in 1922 gebore en het in die Depressiejare grootgeword. In die laat 1940’s het hy in Koffiehuiskonserte begin optree wat deur die destydse SAUK uitgesaai is – dit was vermaaklikheidsprogramme onder die titel “Vrolikheid in die Koffiehuis”.
Van 1950 tot 1962 het hy 12 jaar lank vir die destydse Springbokradio ‘n weeklikse halfuurlange program geskryf vir “Caltex Kaskenades”, waarin hy saam met Pip Freedman (onthou jy nog?) opgetree het. Hy was ook verantwoordelik vir die rolprent “Next Stop Makouvlei”.
Piet was vaardig met die pen. Afgesien van gereelde artikels in tydskrifte en koerante, het hy ook draaiboeke geskryf en selfs van die musiek daarvoor gekomponeer. In die jare toe hy radioprogramme geskryf en konserte gehou het, het hy ongeveer 280 liedjies gekomponeer en in 1952 het hy 14 plate gemaak. Hy is in 1992 oorlede.
(Toe ek die woorde van die vermaaklike “Haar pa wou nie gaan slaap” begin lees, kom alles meteens terug. Toets gerus jou geheue (effens verkort):
Die dogter van Tant Hessie was maar lank en skraal,
haar hare hang in lokkies en die kleur is vaal.
As ek vir haar gaan kuier en dis donkermaan
Dan gaan haal sy gou ‘n kersie en steek dit aan.
Haar pa wou nie gaan slaap …
Ons sit toe op ‘n bankie by die agterdeur,
sy vat toe aan my handjie om my op te beur.
Ons kyk toe na die sterretjies wat helder skyn,
toe sien ek ‘n beweging by die wasgoedlyn.
Ons sit toe by die hekkie in die groentetuin.
Ek druk toe sag ‘n soentjie op haar lippies fyn.
EK sien haar in my drome in ‘n mooi trourok.
Toe sien ek ook iets anders in die hoenderhok.
Ons dink toe aan ‘n plekkie in die vrugteboord,
Na ons lank gesels het, vra ek die ja-woord;
Sy glimlag toe vir my en ek was ingenoom.
Toe sien ons roer die blare in die perskeboom.
Die liewe tante nooi ons toe na die kombuis.
Sy sê toe: Nefie, goeienag en maak jou tuis
En toe ek later opstaan en my hoedjie vat …
Toe sien ek daar loer iemand deur die sleutelgat!)

WOERTS-WARTS IN SABIEPARK

Ruig, ruiger, ruigste. Ons verstom ons aan die omringende blaremure as ons op Tarlehoet se stoep ‘n ietsie geniet. Hemelhoog reik hulle soos wolkekrabbers. ‘n Kameelperd se kop gewaar jy ‘n vlugge oomblik tussen die takke. Dan is hy spoorloos. Die wildebeeste blaas-blaas iewers in ‘n blaretonnel, maar sien is verniet.

Die bloukuifloeries roep elke dag, maar bly onsigbaar; die nagapies is so bederf met die oorvloed kos in die veld dat vir die Van Deventer-tafel neus opgetrek word. Die naguiltjie hoor ons darem elke aand sing – pragtig.

Min wild kenmerk die paar dae in die bos. (Ekskuus Lorinda, maar ek sien ook weer geen duikers nie!)

Die swembad is ‘n lewensredder. Ek en Tokkie is in en uit die water terwyl die kwik in die laat 30’s vasval.

Die stabiele wi-fi danksy Brent se seinversterker is ‘n aanwins.  Reken, nie een keer in die TV-kamer gekom nie.

Onder die minnerige dieregaste was die veldlikkewaan.  Toe ek die knopneus-kalant met die ewe lank lyf en stert en dowwe, swart gevlekte skubbe teen die huis se klinkermuur sien opwoerts, is ek nie met behae vervul nie. Van die varanis albigularis oftewel veldlikkewaan se kirpatse het ek ‘n kaleidoskoop herinneringe, meesal vreugdeloos.
Die ergste was natuurlik toe ene dae lank in die huis gevangene was. Die toneel van wanhopige verwoesting was iets om te aanskou: gordyne wat in repe geskeur is, rame wat van mure af gestamp is, glasware wat onderstebo geloop en gebreek is en die hoop mis wat opgegaar het, het Kapous Mouton beskryf in kragwoorde wat ek nie vermoed het dat hy geken het nie.

Verskeie ander offensiewe om van indringers ontslae te raak, moes al geloods word. ‘n Keer was ‘n hele gesin van vier onder die gras ingewurm. ‘n Vanghok, telkens gelaai met vars gekookte eiers, het na dae van frustrasie beperkte welslae opgelewer.
‘n Keer het Brent een met ’n braaitang beetgekry net toe hy begin dekgras uitwoel.

Een amusante herinnering het ek darem ook. Een middag het dit skielik geklink soos ‘n haelstorm wat die dak (blik op gras) tref. Dis toe ‘n mannetjie en wyfietjie en die storie van die blommetjies en die bytjies. Wat ‘n kawolt. Die stemmige Leonora Mouton het amper van haar stoel geval toe ek haar meedeel: “Ons het vanmiddag seks op die dak gehad”.

Die huidige ou bak ook lekker in die sonnetjie by die agterste braai.  Sy voornemens is klaarblyklik onheilig en onheilspellend. Ons sal die badkamerdeur moet toe hou die volgende paar dae – as hy dalk daarin slaag om finaal deur te breek.
Vermeldenswaardig is dat Caroline Pols terselfdertyd teen bobbejane te velde trek oor die minagtende behandeling wat haar nuwe grasdak van sekelstert-avonturiers te beurt geval het. Die bos het ook maar sy uitdagings.

Koffiekapitaal (met apologie aan Jan Spies) was om op ‘n Saterdagoggend om sesuur op die stoep die eerste koppie boeretroos te geniet terwyl ‘n troppie njalas – imposante bul, twee ooie en ‘n klein-klein lam – in die digte struikgewasse rondom die huis wei. Skielik kom die bul dan in die oopte. En die kamera is binne…. Dis ‘n goeie toets vir iemand se ratsheid op 83.

Die ou groot bosnagaap kom redelik gereeld. Hy maak die tafel skoon. ‘n Honger hiëna sluip hoopvol om die braailapa rond.

Menslike kontak  was beperk tot die Presslys uit Skukuza en die Schmidts van Jakkalsbessie 50, Ernst en Leonie. Met Ernst se pa, Willem, het ek gemeenskaplike Natalse wortels: Vryheid, Dundee, Boshoek, Enyati, Hlobane…

In die lig van die temperature en ander dinge is vir die Presslybesoek ‘n boud vooraf op die Weber gaargemaak vir koue vleis en slaai.  Op die Maniebraaier was tjops vir die aand self.  Dit was die eerste keer dat ek twee braaipunte tegelyk beman   – albei relatief  suksesvol.

DANIES TRAP TONE

My twee vriende Danie Krynauw en Danie Krynauw het albei later (maar heelwat later) lekker gelag oor ‘n tonetrappery by hul eerste ontmoeting.
So ‘n ontmoeting die een of ander tyd was onvermydelik omdat albei in die Kaapse sosiale lewe aktief was.
Een Danie Krynauw (foto links) was burgemeester van Milnerton; die ander een in ‘n topbestuursposisie by die Nasionale Pers (foto regs).
Die kruising van paaie was by die een of ander doe van Trustbank, as ek reg onthou. Dit was in die tyd van dr. Jan Marais en die beroemde Trustbankmeisies met die byekorf-kapsels en stywe rompies.
Presies hoe dit gekom het, kan ek nie meer by een van die twee kontroleer nie. Die laaste kontrolepunt, Danie Krynauw van die Pers, is gister oorlede. Raadsheer Krynauw van Milnerton (later afgetree op Melkbos) is al enkele jare heen, ‘n slagoffer van Covid.
In elk geval, soos ek dit het, is die twee Krynauws en hul gades albei na die geleentheid in die hoë swart toring-gebou van die bank in Adderleystraat genooi. Kollega Danie en Kathleen het eerste opgedaag, hul tafelnommer op die tafelplan vasgestel en hul plekke gaan inneem.
Toe kom burgemeester Danie en Esbe. Hulle raadpleeg die tafelplan en daag by dieselfde tafel op waar Danie en Kathleen reeds hul sit gekry het.
Geen stoel by daardie tafel is oop nie.
“Jy sit op my plek, ” spreek raadsheer Krynauw kollega Danie streng aan.
“Ek sit nie op jou plek nie. Ek sit op my plek. Ek is Danie Krynauw,”antwoord kollega Danie strammerig.
“Dan’s daar ‘n mieks-up, want ek is ook Danie Krynauw en ek en my vrou moet by die tafel sit,”kom dit van eersgenoemde.
“Nie my skuld nie,” antwoord nommer twee.
Dalk was hy te vinnig op sy perdjie, het Danie van Milnerton later geredelik toegegee. Maar in daardie stadium was sy burgemeesterlike sensitiwiteite darem al erg aangetas.
“Kom,” sê hy vir Esbe, en daar trek die twee deur se kant toe.
Kommosie. Twee, drie Trustbank-gasvroue sien die uittog gelyk raak en storm op Milnerton se burgemeesterspaar af om die verleentheid ongedaan te maak.
Nou-ja, Danie en Esbe is omgepraat. Hulle is na ‘n ander tafel begelei. Danie Pers en Kathleen het skouers opgetrek en hul sit bly sit.
Die kos en wyn was van die allerbeste, het albei Danies berig. Kathleen en Esbe was instemmend.