Jun 20, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Een brokkie Volksblad wat geen onsimpatieke direksiebesluit in die verre Kaapstad tot niet kan maak nie, is die waardige Volksblad-kamer by NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) se sierlike sandsteengebou in Pres. Brandstraat, Bloemfontein, waar waardevolle Volksblad-stukke van historiese belang ‘n tuiste gevind het.
Hoe onmeetlik bevoorreg is my geliefde koerant nie dat so ‘n heenkome vir hom bestaan: ‘n plek waar ‘n mens kan instap en alles om jou heen herinner jou aan die omgewing waar jy jare van jou loopbaan geslyt het, of waar die produk vervaardig is wat jy elke liewe dag (buiten Sondae) in jou huis verwelkom het; ‘n vaste deel van jou lewenservaring.
In 2023 was die voorreg van so ‘n besoek hierdie veteraan uit die vorige eeu beskore. In die die geselskap van gewaardeerde kollegas kon ek ‘n uur of wat doerie dae se goue tye by die koerant in die nimlike Volksbladkamer gaan herleef.
Hoe heuglik en sentimenteel was dit nie om op my ou stoel agter die lessenaar in te skuif waar ek 12 jaar lank gearbei het nie, omring deur boekrakke, banke en ander meubels uit my kantoor, asook allerlei gedenkwaardighede soos spesiale uitgawes, kosbare foto’s (onder meer van alle oud-redakteurs) en spotprente.
Die statige lessenaar van Birmaanse kiaat het ‘n lang geskiedenis. Dit was ook die lessenaar van dr. AJR van Rhyn (redakteur van 1923 tot 1948). Hy was aan die stuur toe ek as sesjarige in ‘n skakelhuisie in Kimberley aan my oupa se voete Die Volksblad begin “lees” het. Min kon ek toe dink dat ek in sy spore sou volg. In my era as redakteur (1980 – 1992) is die lessenaar tot sy huidige glorie vernuwe. Dit is deel van wyle kollega Jan Scholtz, ‘n meestervakman, se monumente by Volksblad.
Die ander meubels in die vertrek is swaar, donker sierade uit stinkhout, swarthout en eikehout. Die boekrakke het loodglasdeure. Die meeste stukke is onder toesig van Jan met sy hartstog vir hout of deur hom persoonlik gerestoureer met die omvattende opgradering van die ou gebou in 1986. Dié is verkoop en lyk bra bedremmeld.
Wat ook by NALN staanplek gekry het, is die oorpronklike Volksblad-gebou se karaktervolle dubbel-voordeur met sy delikate bolig, ‘n onvervangbare meesterstuk.
Die gashere daardie dag was Wyno Simes en Annelien Diedericks van NALN. Die Volksblad-span het bestaan uit ekself, twee van my hoofredaksielede, Piet Theron en Sarel Venter, die laaste redakteur van die gedrukte koerant, Gert Coetzee, en die huidige man in die saal, Dirk Kok wat die redakteur sal wees wat einde September de deure finaal toesluit. Mevv. Van Deventer, Theron en Venter was ook teenwoordig.
Kameras het natuurlik aanhoudend geklik soos die verskillende konfigurasies – HvD en hoofredaksielede , drie redakteurs, ens. ens – agter die lessenaar stelling ingeneem het. Die foto’s hierby is van my agter ”my” lessenaar met die Hennie van Deventer-trofee vir algemene redaksionele voortreflikheid in my hand. (Piet Theron was, terloops, in 1980 die eerste wenner daarvan), die drie redakteurs, Van Deventer, Coetzee en Kok, en die deur.
‘n Lewenservaring van enorme betekenis was dit vir hierdie 83-jarige koerant-verknogte. Ek is diep-diep dankbaar teenoor almal wat die herbesoek aan my wonderlike koerantdae – wonderlike Volksblad-dae veral – help moontlik maak het.
Ek is diep dankbaar teenoort NALN wat die historiese waarde van die koerant gesnap en vir hom die tuiste gegee het en vir kollegas Gert Coetzee en Constant Steyn wat met die afronding hande uit die mou gesteek het. Ek is ook dankbaar teenoor daardie gedugte boekeman prof, Petrus Nienaber vir sy versiendheid om ‘n museum soos NALN tot stand te help bring.
Van hom gepraat: by die toekenning van die Taalfeeskomitee se goue medalje aan Die Volksblad in 1974 het hy gesê: “Blaai jy deur Die Volksblad (soos sy naam toe was) se lêer oor die afgelope 70 jaar kan jy die Afrikaner se taal- en kultuurgeskiedenis hieruit opstel. Die Volksblad is ’n bron nie net vir die politieke geskiedenis nie, maar veral ook vir ons kultuurgeskiedenis. Dit is ’n goudmyn.”
’n Goudmyn – hoe verstom sou Prof. Petrus nie gewees het noe as hy moes weet dat hierdie goudmyn van die gees, soos sovele gewone goudmyne in die Vrystaatse aarde, in die jaar van ons Heer 2024 – presies ‘n halfeeu later – by die einde van sy pad sou kom en dat net die kamer by NALN sal oorbly?
Jun 20, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In vanoggend (20 Junie) se Volksblad kyk ek in ‘n lesersbrief terug en vorentoe:
Afskeid is nooit maklik nie. Om afskeid te neem van die handelsmerk (Die) Volksblad -‘n eeu lank ingegrawe in die volksiel van die Vrystaat en die sentrale hartland – is buitengewoon pynlik.
Die verlies is so omvangryk dat die instinktiewe reaksie is om in diepe ontsteltenis daarteen in opstand te kom, sondebokke te soek, te verwyt en blameer. Dit sou egter wees om die versene teen die prikkels te slaan, om ‘n ou Afrikaanse idioom af te stof.
Wat nou gebeur, is die voltrekking van ‘n lot wat onvermydelik in die lug was ná die skokbesluit in 2020 om die geliefde papierkoerant te sluit en vir solank as moontik op die syspoor van ‘n eie digitale platform voort te beur. Die skrif was by daardie voorlaaste kruispad al aan die muur.
Die uitdaging by die finale kruispad is om die donker dag met waardigheid te benader, nie instinkte te kaat botvier nie en nie net in bewoëndheid terug te kyk nie, maar ook doelgerig vorentoe, meen ek ná grondige nadenke oor die pakket ingrypende besluite wat deur Media24 aangekondig is .
Terugkyk op sy meer as ‘n eeu van diens aan ‘n gemeenskap waarmee hy soos geen ander koerant met geen ander gemeenskap nie verstrengel was, kan ons koerant met onverbloemde trots. In elke geskiedenis in elke sfeer is sy rol onuitwisbaar, van die kultuur tot sport. In sy verskillende formate het hy in opeenvolgende geslagte ‘n ingeligte openbare mening in stand help hou, as waghond gedien vir behoud van waardes, by kruispaaie koers help soek, in triomfe saamgejuig en in hartseer saamgetreur. Hy was ook ‘n broodnodige bastion vir Afrikaans. Sy lesers – in ‘n stadium oor 30 000 per dag – eer hom daarvoor.
Oor my eie verbintenis met die koerant in twee skofte van 12 jaar elk is ek innig dankbaar. Die ervaring was vervullend en verrykend. So beleef almal dit wat kon deel in die voorreg om as Volksbladders oor sy drumpels te stap, glo ek. Uit ons dankbaarheid kry ons versterking wanneer die tentakels van ‘n skouspelagtige nuwe tegnologie, die sweepklap van ekonomiese werklikhede en nuwe bestuursinsigte ons sanctum so revolusionêr binnedring soos nou.
Dankbaarheid moet ook betuig word dat Volksblad-lesers darem nie vir die wolwe gegooi word nie. Netwerk24 is immers sterk ingegrawe en glad geolie om, ten minste wat harde nuus betref, die groter vakuum wat ontstaan, te vul. Alle oë is op Netwerk24 gerig om die aflosstok met mening vorentoe te dra en die Afrikaanse joernalistiek in sy volle omvang met toewyding en kundigheid te bly dien soos die Volksblad-gemeenskap gewoond was om gedien te word.
Jun 15, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Op die voorblad van Albert Blake se afgewagte biografie oor Jopie Fourie pryk ‘n mooi foto van die jong Boererebel, let ek op. Ek wonder of Blake weet van die tyd toe dit onwettig sou wees en vir hom ‘n boete op die hals kon haal.
Ton Vosloo het in daardie slagyster getrap. Rondom 1980 is hy in die Johannesburgse landdroshof met R1 000 beboet omdat Beeld in die bylae BY ‘n foto geplaas het van Fourie wat in 1915 tereggestel is deur Louis Botha se regering.
Die foto is sonder Vosloo se medewete geplaas. Hy is egter as redakteur van Beeld gedagvaar – dalk was Jimmy Kruger nog minister van justisie wat sy mes ingehad het teen koerante !
Vosloo het nie R1000 kontant by hom gehad nie en kredietkaarte was nie aanvaarbaar nie. Hy is selle toe geneem, vingerafdrukke geneem , maar hy kon darem Beeld se bestuurder, Eric Wiese bel wat duisend rand dringend van Doornfontein stad toe oorgestuur het om hom by die selle af te los.
Die boete van R1000 was die drumpel – indien dit meer was, sou Vosloo ‘n permanente misdaadrekord gehad het wat hom dalk in sy latere loopbaan as direkteur van maatskappye kon benadeel het!
Ekself moes in die 80’s by Die Volksblad ;n boete van R100 opdok oor ‘n foto wat By, ook sonder my medewete, van Dmetrio Tsafendas, moordenaar van dr. HF Verwoerd, geplaas het.
Gelukkig het tye in die opsig verander. Blake hoef nie ‘n boete – of, erger, die tronk – te vrees nie!
Jun 13, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Sommige reise is nie vir sissies nie. Konfrontasies met allerlei hardekwas gesagsfigure; vreesaanjaende vlugte op flentervliegtuie; senutergende busritte saam met hoenders en bokke; slapelose nagte in agtertangse hotels; ure se toustaan vir slegte kos van suspisieuse oorsprong dit, en baie meer, staan ewe onuitwisbaar in die geheue van elke avontuurlike reisiger ingegrif.
Teëspoed kan oral tref — ook op die gesofistikeerdste toeristeweë van die beskaafde wêreld. Sonder om sonde te soek, kan die arme toeris in allerlei penaries beland wat hom om die beurt wanhopig, gefrustreerd, verleë of die swernoot in maak.
In (naam van boek) het (naam van skrywer) die soet en suur van 25 jaar se eie reise en versamelde reisstories uit allerlei bronne opgeteken. Die leser word saamgenooi op dosyne vakansies en toere met ‘n koffer vol insidente om saam oor te lag of huil — maar beslis meer te lag as te huil.

As bogenoemde vir jou klink klink soos ‘n promosie vir die nuwe reisbundel van Quellerie, Draaie, swaaie en afdwaalpaaie, wag op jou ‘n verrassing. Dis die stukkie op die agterplat van my Oos-Wes-Reismoles! wat in 1998 – 26 jaar gelede – deur Human & Rousseau gepubliseer is. Die ontbrekende name is my boek s’n en my eie.
Ek kla nie, reismoleste is immers ‘n storiebron wat nooit uitgeput kan raak nie. Ek gaan self graag lees wat die span topskrywers opdis; gun hulle net die grootste welslae. Oos, Wes- Reismoles is in elk geval nie meer op die rak sodat ek kompetisie hoef nie te vrees nie Meld dit dus bloot net vir die interessantheid.
Jun 11, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
En die klomp handtekeninge? Almal Springbok-rugbyspelers s’n. Dis op ‘n geraamde spyskaart wat teen my kroegtoonbank in die woonkamer hang. Die oorsprong is die sogenaamde “Aand van die kapteins” in Kaapstad se Mount Nelsonhotel op Woensdag 24 Mei 1995, die vooraand van die Rubywêreldbekerroernooi van daardie jaar wat Joel Stransky later op Ellispark vir die Springbokke met ‘n roemryke skepskop beklink het.
Op daardie spyskaart is die handtekenminge van digby veertig oud-Springbokke wat die dinee bygewoon het. Kapteins wat geteken het, is Johan Claassen (my oud-onderwyser op Volkies, Potchefstroom), Avril Malan, Abè Malan, Roy Dryburgh, Tommy Bedford, Jannie Breedt, Tiaan Strauss, Mornè du Plessis, Nelie Smith, Dawie de Villiers, Basie Viviers, Naas Botha, Wynand Claassen, Stephen Fry, Piet Greyling, Hannes Marais, Theuns Stofberg, Des van Jaarsveldt en Divan Serfontein.
Die lys is nie naastenby chronologies nie en dalk onvolledig; party ouens se handtekeninge ontsyfer jy maar moeilik, veral namate ‘n kuieraand vorder! Maar dis ‘n gedugte lys, hoor! Dan spog my spyskaart boonop met die handtekeninge van rugbylegendes soos Frik du Preez, Mannetjies Roux, H.O. de Villiers, Ryk van Schoor, Tom van Vollenhoven, Okey Geffin en andere. Seker die oudste Springbok wat geteken het, is Flappie Lochner.
Die handtekeninge is versamel deur my vriend Herman le Roux wat op sy dag sportredakteur van Beeld en Die Volksblad was. Ons was tafelgenote. Hy het met ons spyskaarte van tafel tot tafel geloop en met sy kenmerkende deeglikheid niemand oorgeslaan nie. Net twee sulke volledig getekende spyskaarte bestaan, so ver ek weet: Herman syne en myne.
(Een Bok het net betyds geteken voordat die geselligheid van die saamkuier voor die ete hom ingehaal het en hy na sy kamer gehelp moes word. Ons noem maar nie die arme ou se naam nie.)
Oor die program: die seremoniemeester was die SAUK se Pat Tebbut, die tafelgebed is gedoen deur Dawie de Villiers en die sprekers was die Ierse losskakel Jackie Kyle, Jannie Engelbrecht, Dougie Dyers en Kepler Wessels. Op die spyskaart was gerookte salm, lamsboud en mokka-sjokolade. Die wyne was van Craighall.
Wat ‘n aand!
Jun 2, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Links is hy in sy wit erebaadjie van St. Andrews en regs is ons twee saam op ‘n spanfoto van Colin se Kallers
As brugbouer tussen gemeenskappe en vertroetelaar van gesonde verhoudinge het Colin Hickling nie sy gelyke gehad nie. Die eienskap het die opperste jintelman ’n uiters gewilde burgemeester van Bloemfontein in die 80’s gemaak en hom die eer besorg om as een van die eerste Bloemfonteiners van die Jaar gekroon te word.
Niemand was ook ‘n lojaler alumnus van die St. Andrews-skool nie en niemand ‘n lekkerder maat vir sy uitgebreide vriendekring nie as Colin Kenneth Hickling wat die naweek op 86 aan kanker oorlede is.
Ek eer hom as kaptein van die sosiale krieketspan Colin se Kallers wat epiese wedstryde teen Bill se bulle van Welkom gespeel het met die doel om gemoedelikheid tussen die twee stede te bevorder. In my studeerkamer op Melkbos is ‘n blokkie donker hout (embuiarig) waarop ‘n klein krieketkolfie van ‘n gelerige hout gemonteer is. Op ‘n koperplaatjie is gegraveer: Hennie van Deventer – Stigterslid – ‘Colin se Kallers’ – Met beste wense van jou spanmaats – 23 – 2 -92 (die datum toe ek Kaap toe is). Dit is iets waaraan ek waarde heg.
Ek eer hom ook as ‘n hegte vriend van Die Volksblad wat my kort na aanvaarding van die redakteurskap in 1980 gewerf het as eerste Volksblad-redakteur wat lid van die Bloemfonteinklub geword het. Hy was die vader van die gedagte om na sluiting van die koerant The Friend in 1987 die Engelse blokkiesraaisel na Die Volksblad te skuif.
Hy was die hart en siel van die Friday Club, ‘n gesellige saameet-broederskap van ‘n uiteenlopende leierskorps in die stad. Hy het ‘n Londense taxi besit waarmee lede van die Club in die 80’s allerlei avonture beleef het, o.m. ‘n ordentlike “pub crawl”.
Hy was Engelssprekend maar het Afrikaans so goed gepraat dat iemand eendag tydens ‘n Engelse toespraak verras verklaar het: “Ek het nie geweet Colin kan so goed Engels praat nie!”
Hy het ‘n kwarteeu of langer gelede ‘n agterkwart-amputasie ondergaan. Sy vrou, Barbara, het ‘n dokter hoor sê: “Why are they putting poor Colin through all this? Why don’t they allow him to die in peace?” Wat ‘n goeie, vrugbare kwarteeu het dit nie geword nie.
Ek salueer die wonderlike maat en treur saam oor die sagte stem, spitsvondige geselskap en ondeunde glimlag wat vir altyd weg is.