Jul 27, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Tarlehoet-bosberaad.
n Windjie stoot soms uit die noordooste as ek vuurtjie wil aansteek in Sabiepark. Dan gaan haal ek my verweerde blou windjekker agter die kamerdeur. Op sy bors is geborduur: Nasionale Koerante.
‘n Besoeker maak daaroor ‘n opmerking: “Jy loop met jou hart nie op jou mou nie, maar op jou bors.” Ter sprake op daardie oomblik is juis die slegte lot van koerante – ons albei se liefde.
Om krag aan sy woorde te verleen, gaan haal ek toe ook uit my kas my blou truitjie met Die Volksblad op die bors. Die trui is ouer as die windjekker; het hom al minstens 30 jaar. Lyk egter nog spiekeries.
In die kamer val my oog op die wekker voor my bed. Op hom staan die naam van die skenker: Die Burger.
Onbedoeld het in die bos ‘n taamlike versameling koerante-memorabila tot stand gekom, besef ek skielik. Dit noop my tot ‘n opname.
Vereers is dit boekrak toe. Al agt my koerantverwante boeke staan daar langs die bos- en wildtuinwerke, van Scoops en skandes (1993) tot Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord (2023).
Teen verskillende mure hang onder meer ‘n Saterdaghoofartikel in Die Burger van 24 Julie 1993, drie dekades gelede, oor my Scoops-boek. Skrywer was Charles Fryer, redakteur by Tafelberg. Die opskrif: Plesierige stories. Ek was/is ingenome met die eer aan my betoon.
Neffens hom hang die geraamde voor- en agterblad van my Volksblad-loopbaanboek Kroniek van ‘n Koerantman.
Elders teen ‘n muur is ‘n collage van boekevoorblaaie waarmee gaste by my 70ste verjaardag (3 Julie 2011) by Dale Schreuder, buurman op Melkbos, se restaurant in die Paddocks-sentrum in Milnerton, die Black Angus Grill, verwelkom is. Vier koeranteboeke is daarop – die twee genoemdes en ook In Kamera en Flaters en Kraters.

Afrikaans lewe!
‘n Beeld-herinnering is ‘n spotprent teen ons slaapkamermuur. ‘n Korpulente figuur met ‘n oop koerant in die hande (lyk bekend as ek in die spieël kyk) blaf in die telefoon: I wish to report a mistake. The Afrikaans press IS NOT DEAD. .
Die spotprent was in ‘n bedryfspublikasie n.a.v. ‘n sake-onthaal van Beeld op 6 Oktober 1993 by Gold Reef City in Johannesburg waar ek die spreker was. “Ons is miljoenêrs!” kon ek die aand “met vreugde” aankondig. Die verwysing was nie na geld nie; wel na die 1993-lesersopname deur die onafhanklike organisasie Amps. Daarvolgens het die drie dagblaaie van Naspers – Beeld, Die Burger en Die Volksblad – die eerste keer deur die miljoen-kerf gebreek met ‘n totale leserstal van 1 004 000 lesers.
“Vir die doemprofete sê ek vanaand: trek uit u begrafnisklere, gooi weg u kransies, laat die vonkelwynproppe klap dat ons kan partytjie hou,” het ek uitgeroep. My “teksvers” was Mark Twain se beroemde kabel aan die Associated Press oor ‘n premature doodsberig in 1897: “The report of my death was an exaggeration.” In die advertensiewereld was nie ‘n tekort aan oorhaastige “teraardebestellers” nie. Die nuwe politieke bedeling sou die doodsklok vir Afrikaans lui, is voorspel. Toe nie.
Van Die Volksblad is ‘n Kosbaarheid is ‘n geraamde spotprent en foto van ‘n hoofredaksie-saamtrek van 13 tot 17 September in Sabiepark en die wildtuinkampie Balule. Die Tarlehoet-bosberaad is dit genoem.
Op die spotprent (‘n gedokterde een van Fred Mouton deur Sarel Venter) is ons braaimeester Piet Theron doenig by die vuur. Die uwe, Sarel, Paul Marais en Herman le Roux bondel om hom saam. Kollega Jan Scholtz moes ook daar gewees het. Hy is kort voor die “beraad” skielik oorlede.
Op die foto is ons plus ons gades, ook Jan se weduwee, Marlene, wat op ‘n roerende geleentheid op ons stoep ‘n pragtige, swaar skinkbord uit Jan se werkwinkel namens die gaste aan ons oorhandig het. Die skinkbord pryk nou op Melkbos.
Maar van Jan is hier wel my kierie uit Transvaalse kiaat met die spoggerige vlakvarktand en ‘n lampie uit ‘n sekelbos-stomp wat hy uit my braaihout herwin het.

Ons ossewa-trofee.
Hier is ook ‘n geraamde foto van die (heelwat groter) hoofredaksie in 1986 by ‘n die replika van ‘n ossewa, geskenk deur die ATKV. Die Volksblad het dit verwerf met sy dekking van die simboliese Groot Trek. Dit is beoordeel as die beste van alle media in die land. Wonder waar is die waentjie nou.
Duidelik vergeet ek nie my koerante-agtergrond en -kollegas wanneer ek in die bos uitspan nie. Sal ook nooit nie, ondanks die droewe lot wat in ‘n mindere of meerdere mate op hulle almal wag, maar veral op Die Volksblad en Beeld.
Jul 27, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Gek na ‘n groen blaartjie.
Die blinkblaar-wag-‘n–bietjie het nie verniet in Engels buffalo thorn nie. Daardie dorinkies kan iou gaffel.
Tokkie vertel graag haar storie oor hoe sy die tweeling, Jacob en Thomas, kleintyd van die boom se geniepsigheid geleer het. By ‘n kleinerige blinkblaar-wag-‘n-bietjie by die ingang het sy altyd in toegelaat dat die dorings haar mou beetkry. Dan spreek sy die boom vermanend aan: “Nee, wag-’n-bietjie, ek kan nie nou wag nie. Ek gaan nou saam met Jacob en Thomas stap.” Dan kraai die twee.
Woensdag loop sy toe self ‘n potjie met ‘n klein wag-‘n-bietjie by die watergat. Sy werfskaf daar met die swembad se skepnet. Effens onversigtig, laat sy die fyn net in kontak met die dorings kom. Dadelik raak dit verstrik.

Braaihout was sis en hap.
Toe sy dit probeer loswikkel, raak sy nog onversigtiger. Die dorings gryp eers haar een hand; toe die ander. Daar staan sy toe: ‘n gevangene van die boom. Sy roep om hulp, maar ek kan nie dadelik reageer nie, want ek sit kaalvoet op die stoep.
Ongeduldig – nogal ‘n streep van haar en dalk van die meeste vroue – pluk sy haar hande en die net met een ruk los. Toe moet jy die bloed sien. My maag draai behoorlik toe ek haar bereik.
Gelukkig darem ‘n erger-as-wat-dit-lyk-insident. Maar albei van ons gaan die blinkblaar van nou af met groter respek behandel, dis nou maar wors.
(Dis hoekom Jakob die naam blinkblaar-wag-’n-bietjie borg by die WAT. Thomas borg jakkalsbessie en Christopher wildevy, )
Likkie, die likkewaan, het weer kom tong wys. (Wonder of dit die een is wat Jacob onlangs met die braaitang verwyder het.) Elke keer leer ons meer van die plat skubbedier met sy lang tong.

Toeskouer op veilige afstand.
Hy wag ons op die stoepmuurtjie in. Lekker plek om in die son te bank. Ook lekker naby aan die aartappelbos. Toe ons weer sien, lig meneer homself op en begin aan die enkele blaartjies wat oor is, te knibbel. Klaarblyklik lief vir ‘n groen blaar.
‘n Ander hebbelikheid ontdek ons ook. Hy skuifel na die hoop braaihout in die lapa toe en kamoefleer hom soos ‘n stomp knoppiesdoring. Mooi kyk om hom raak te sien. Onthou om volgende keer versigtig te vat, Kan ‘n ontnugtering wees as die hout begin blaas en na jou toe hap.
Hiënas was tot dusver skaars. Ons het hulle net gehoor. Uiteindelik het ons, ná amper drie weke, weer gesien ook. Dinsdag net so skrams-skrams en gisteraand drie (‘n ma en twee welpies) in Wildevylaan die Honda se lig. (Nagapies kom in getalle.)
Aan mensefront: weer lekker gekuier saam met Frik en Martie Nel en met die Le Roux’s van Centurion: Herman, Rina en Frans en Michelle Marais. Herman het, soos altyd, met ‘n sak vol boeiende plakboeke opgedaag. Sulke kuiertjies raak al hoe kosbaarder soos die lys rek van Sabiepark-vuurgenote wie se name op grafstene uitgekerf raak. Gustav Hoexter, Leonora Mouton en Winnie Dreyer het ons in kort rukkie ontval. Lukas van der Merwe (Mnr. Hardekool) is baie siek.
Jul 14, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Soos Israel se eerste vors, koning Saul, kop en skouers bo sy volk uitgetroon het, verdwerg Stormers-rugbyster Neethling Fouché die uwe op die foto wat Saterdag by Skukuza se golfklub geneem is. By ons is sy vrou, Janca, en hul oulike meisiekind, Lente.
Agter die foto is ‘n storie: my verbintenis Neethling se twee oupas. Die naam Neethling kom van ‘n kollega by Die Volksblad in die 60’s. Die van Fouché kom van ‘n bevriende Bloemfonteinse motorhandelaar met wie ek meer as een keer sake gedoen het.
Die kollega was Johan Neethling, my voorganger as parlementêre verslaggewer van Die Volksblad. Ek het hom in 1964 opgevolg.
Ons lessenare in die verslaggewerskantoor van Die Volksblad in Voortrekkerstraat, Bloemfontein (later Nelson Mandelastraat) was direk langs mekaar. (Johan het later na die onderwys teruggekeer en hoof van die Hoërskool Philippolis geword).
Die motorhandelaar was Buks, ‘n man wat veral Volkswagens verkoop het soos niemand anders nie. By hom het ek in 1980 met my aanstelling as redakteur van die koerant ‘n sjampanjekleurige Audi 200 gekoop. Die motor het my groot behae verskaf; altyd vir my gelyk soos ‘n slanke roofdier, gereed om grommend sy prooi plat te trek.
Vir gade Tokkie (die fotograaf) het ons by die nimlike Buks ‘n silwer Renault 5 gekoop, haar tweede. Haar vorige was geel en swart met ’n sondak – motortjies wat hul tyd vooruit was.
In April het ek op hierdie blad ‘n Volksblad-voorrry gekies “met drukkersink in hul are”: Neethling Fouché, Springbokstut, Dawie Theron, Springbokstut van die 80’s, en Piet Wessels, Springbokhaker van 1951/52.
Piet Wessels, haker (saam met Willem Delport) in Basil Kenyon /Hennie Muller se beroemde toerspan van 1951/52. Hy was ‘n lid van Die Volksblad se sportredaksie voordat hy nuusredakteur van The Friend geword en later naby Vanstadenrus voltyds gaan boer het.
Dawie Theron, later ‘n gedugte afrigter, is die seun van my kollega Piet Theron. Ek en Piet was nie net kollegas nie, maar studentemaats en woonstelmaats. Ek was seremoniemeester op sy troue met top-atleet Petro du Plessis. Dit sal ‘n oordrywing wees, maar ek kan amper daarop aanspraak maak dat Dawie voor my grootgeword het. Hy noem my Oom Hennie.
Vir Neethling Fouché het ek nog nooit ontmoet nie en sal ek seker ook nie, het ek toe geskryf. Toe net geweet dat hy die kleinkind is van oupa Johan. Saterdag, skaarsdrie maande later, kruis ons paaie egter toe in Skukuza. Verneem toe eers van die Buks-konneksie.
Via die Buks-konneksie kom ook ‘n Sabiepark-konneksie. Ry met Apiesdoringlaan suidwaarts rivier toe. By die laaaste uitdraai na links is die bordjie Umvunti. Wel, dis die Fouché’s se boshuis daardie, net om die draai van die Van Deventers se Tarlehoet in Wildevy.
“It’s a small world after all.”
Jul 9, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Ons klink ‘n glasie Nuy by die piekniekplek.
‘n Rede vir ‘n heildronk langs die Sabie ontbreek nooit. Basiese rede: net die vreugde van daar wees. Twee uitmuntende redes het hulleself pas aangebied. Vir eers is dogter Marisa Claassens se 50ste op Vrydag 5 Julie heeldag lank gevier. Ten tweede is ‘n glasie vonkelwyn geklink op die tydskrif Sarie wat op 6 Julie 75 jaar gelede as Sarie Marais haar elegante buiging gemaak het.
Wat “Sarie” relevant maak, is dat “Maanlig op die Sabie’’ deur Tryna du Toit van die liefdesverhale was in die heel eerste Sarie Marais, moeder van die vrouetydskrif Sarie, wat op 6 Julie 1949 verskyn het. Die liefde bloei in Tryna se storie in die Skukuza-ruskamp van die Kruger-Wildtuin na allerlei teenspoed en misverstand – soos dit dikwels maar met storieliefdes gesteld is.
Selfs op ouderdom 83 en op meer as 50 besoeke aan Sabiepark lewer die bos nog nuwe ervarings op. Soos hierdie een:
Iets om te verklaar? vra die hekwag by die Krugerhek van die wildtuin
“Net die twee apies agterin,” antwoord skoonseun, Brent. Die “apies” het hulle maar die grappie ten koste van hulle laat welgeval.
Ma en dogter, Tokkie en Marisa, het daerem self verkies om daar te ry. Dit was nie manlike chauvinisme in aksie nie. En die Honda het nou maar eenmaal net gemakliker sitplek vir vyf. Ons was sewe vir die toggie Skukuza toe vir middagete.

Om op die stoep te sit en rugbytoets kyk terwyl die son eers die lug agter die rekenaarskerm rooi verkleur voordat die donkerte toesak, was ook ‘n eerste. Ons het ons “losie”genoem die Loftus-anneks. Gelukkig wen die Springbokke toe oortuigend. Die agternabraai sou niks lekker gewees het as die Iere bobaas was nie.
Nog ‘n eerste was kleinseun Jacob se netjiese Operasie Likkewaan met ‘n leertjie en ‘n braaitang. Die dierasie was briesend met sy lang tong flitsend toe toegang tot die grasdak hom ontneem word. Waar hy in die veld losgelaat is om ‘n nuwe tuiste te vind, het dit hom seker berou dat sy naels sy teenwoordigheid op die Harveyteels bo-op die gras aan die wakker seuns verraai het.
Om die tradisionele spanfoto b
y die Tarlehoet-naambord neem, moes ‘n vernuftige plan prakseer word. In die afwesigheid van iemand anders om die knoppie te druk, is ‘n kombuisstoel en ‘n koffer met die motorpad afgepiekel. Daarmee is ‘n heel doeltreffende “driepoot” vervaardig.
Wat die eerste keer saamgekom het bos toe, is kleinseun Christopher se indrukwekkende bergfiets. Daarmee is la-a-ang oefenritte voor ontbyt op die Hazyview-Krugerhek onderneem. Om die aftakeling van die fiets te aanskou voordat dit in ‘n enorme spesiale sak geprop is vir die vlug terug Kaap toe het hierdie ou man se oë laat rek.
‘n Troppie van 20 of meer njala-ooitjies het ons op ‘n wildrit saam met die driemanskap Jacob, Thomas en Christopher naby Lake Panic by Skukuza begroet. Nog nooit soveel van die oulike bokkies op ‘n hoop gesien nie.
En ons 2024-wintervakansie is vandag eers ‘n week oud.
Naskrif: Die nagapies kom soos vanouds en die bloukuiloeries is bedrywig in die rosyntjiebosse.
Jun 29, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Ses van laaste sewe redakteurs van Die Volksblad/Volksblad het die brief onderteken. Hulle is Hennie van Deventer, Johan de Wet, Paul Marais, Jonathan Crowther, Jo van Eeden en Gert Coetzee. Ainsley Moos (derde van regs) is reeds oorlede.
Veertien voormalige redakteurs van Die Burger, Beeld, Volksblad en Rapport – onder andere Ton Vosloo, Meneer Naspers oor vier dekades – spreek in ‘n brief hul sterk teenkanting uit oor Media24 se ingryende planne met koerante.
Hulle vra Media24 om sy besluite dringend te heroorweeg en geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning.
Die redakteurs spreek die wens uit dat al die betrokke koerante as aparte entiteite in PDF-formaat op Netwerk24 moet bly voortbestaan.
Hulle vra dat redaksies met voldoende hulpbronne bemagtig word om, soos in die verlede, diens aan die Afrikaanse leefwêreld in sy verskeidenheid te lewer.
Die oud- redakteurs verteenwoordig die volle spektrum van amper vyf dekades van 1977 tot nou. Almal nog in lewe en bereikbaar het hul gewig agter die brief ingegooi.
Die volledige brief hier onder is op 27 Junie 2024 per e-pos gerig aan Prof Rachel Jafta, voorsitter: Media24-direksie. met ‘n afskrif aan mnr. Ishmet Davidson, uitvoerende hoof, Media24:
Geagte prof. Jafta
Re Media24 se besluit rakende die algehele sluiting van Beeld en Volksblad asook die gedrukte weergawe van Rapport met ingang 1 Oktober 2024:
Ons rig dié brief aan u in ons hoedanigheid as oud-redakteurs van die Naspers/Media24-publikasies Die Burger, Volksblad, Beeld en Rapport.
Ons boekstaaf hiermee ons teleurstelling en ernstige kommer oor die gevolge van dié besonder drastiese ingryping, nie net vir gehalte-joernalistiek in Afrikaans nie, maar ook vir die breë Afrikaanse gemeenskap.
Ons verstaan die oorhoofse sakeredes. As oud-redakteurs weet ons maar te goed die kostes van druk- en verspreiding het onhoudbaar geraak. Ons besef ook die toekoms vir nuusmedia is digitaal en dat wêreldwyd die gedrukte media teen ‘n versnelde tempo digitaliseer. Elders ter wêreld oorleef sekere drukmedia steeds, ook in die VSA, hoewel Warren Buffet en Jeff Bezos onlangs nog daarin belê het. Dit ter syde.
Maar ons lewer ‘n ferm pleidooi vir die behoud van gehalte-joernalistiek in Afrikaans onder die vaandel van mashoofde wat oor dekades heen bekend en gerespekteer is in die Afrikaanse gemeenskap. Ons versoek ook dat al die geraakte titels op die Netwerk24-platform voortleef in PDF-formaat
Voorts vra ons dat Media24 se redaksionele spanne – wat mettertyd almal in die digitale sfeer sal werk – moet kan reken op dieselfde toewyding en hulpbronne as wat hul voorgangers in die druk-era van Naspers/Media24-direksies ontvang het.
Lede van die top-bestuur van Media24 gee nou in die openbaar te kenne dat geen verskraling sal gebeur wanneer die drukweergawes gesluit word. Maar hoe gaan dit moonlik wees as redaksionele poste afgeskaf word en begrotings gesny word op ‘n skaal wat nog nooit voorheen in Naspers/Media24 gesien is nie? Die waardeketting in die nuusbedryf – digitaal of gedruk – begin immers by bekwame redaksies wat met hulpbronne ondersteun word.
Sedert die stigting van Die Burger in 1915 was Naspers/Media24 se Afrikaanse koerante ‘n markplein vir idees, uitdagings, verkennende denke en om, in Ton Vosloo se woorde, “te publiseer vir ‘n voller samelewing”. Dis waar Afrikaanse mense met mekaaar stoei, stry, verskil en saamstem, waarná hulle meestal vorentoe beweeg. Tans is ons Afrikaanse titels een van die ruimtes waar wit en veral bruin Afrikaansspekendes bymekaar kom in een taalgemeenskap. Hierdie kultuurskat moet tot elke prys behoue bly. Daarby glo ons ‘n lewenskragtige, diverse Afrikaanse media, verbind tot die vooruitgang van die totale SA gemeenskap, is ‘n bate wat koestering verdien.
Ten slotte wil ons ons kommer betuig oor die verskraling van die Afrikaanse leefwêreld wat die beoogde planne sal meebring. In die grootste gedeelte van die land bestaan Afrikaans nie meer as ‘n regstaal nie. Afrikaans se status as ‘n volwaardige akademiese taal hang aan ‘n draadjie. Die Afrikaanse taal en kultuur verdien nie bywonerstatus in ‘n demokratiese Suid-Afrika nie.
Ja, daar is steeds Afrikaanse skole, Afrikaanse kunstefeeste, ‘n gerespekteerde teaterbedryf, Afrikaanse rolprente, ‘n dinamiese letterkunde, enkele Afrikaanse tydskrifte en die TV-kanale kykNET en Via. Maar al dié instellings funksioneeer in ‘n ekosisteem waarvan lewenskragtige Afrikaanse nuusplatforms die suurstof én die bloedsomloop is. Die afskaling van ‘n behoorlike nuusaanbod in Afrikaans, dus die verwatering van eerstehandse verslaggewing, sal ‘n domino-effek op die hele taalgemeenskap hê.
Ons versoek dat die Media24-direksie die besluit ter sprake heroorweeg om geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning. Laat belanghebbendes toe om voorstelle te doen oor hoe die negatiewe impak van die besluit soos dit tans staan, teëgewerk of versag kan word. Oorweeg ook voorstelle van buite die maatskappy wat die lewe kan verleng van die gedrukte weergawes, al is dit tydelik. Dit sluit in gemeenskapskoerante.
Ons verneem graag u reaksie.
Met vriendelike groete
- Ton Vosloo Beeld 1977 – 1983
- Hennie van Deventer (Die Volksblad 1980 – 1992)
- Ebbe Dommisse (Die Burger 1990 – 2001)
- Johan de Wet (Volksblad 1992 – 1994; Beeld 1996 – 1999; Rapport 1999 -2001)
- Willie Kühn (Beeld 1993 – 1996)
- Paul Marais (Die Volksblad 1994 – 1999)
- Jonathan Crowther (Volksblad 1999 – 2009)
- Peet Kruger (Beeld 2001 – 2009; 2011 – 2013)
- Tim du Plessis (Rapport 2001 – 2008; Beeld 2009 – 2012)
- Bun Booyens (Die Burger 2010 – 2016)
- Bokkie Gerber (Rapport 2010 – 2012)
- Jo van Eeden (Volksblad (2012 -2015)
- Waldimar Pelser (Rapport 2013 – 2022)
- Gert Coetzee (Volksblad 2015 -2022)
Ton Vosloo, redakteur Beeld 1977-1983; besturende direkteur Naspers 1984- 1997; voorsitter Naspers 1997 tot 2015, ondersteun die brief met die volgende aparte verklaring:
As redakteur wat Beeld in 1983 geneem het tot die enigste Afrikaanse dagblad in die Noorde na die hewigste persstryd in die geskiedenis, het ek volle begrip vir die veranderende mediatoneel wereldwyd. SA loop ook deur en die leiers van Media 24 word daarmee gekonfronteer.
Ek het vertroue dat hulle in oorleg met Naspers se voorsitter Koos Bekker die uitweg sal vind wat Afrikaanse joernalistiek sal rig op die volgende fase van sy deurslaggewende bestaan.
Jun 29, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

In die lig van die ingrypende verandering in die landskap van Media24 se koerante wat aangekondig is, raak die vreemde lotgevalle van die jubileumboek Naspers 100: Kroniek van ’n maatskappy, sy mense, sy land en sy wêreld opnuut relevant, selfs insiggewend.
Die joernalis Dana Snyman het reeds in sy rubriek vanoggend in Die Burger en Beeld en in ‘n radiogesprek vlugtig na die boeksage verwys. Hier volg die konteks:
Kroniek was bedoel as ’n amptelike geskiedenis van Naspers om sy 100ste verjaardag in 2015 te vier, maar is weens interne botsings toe nooit gepubliseer nie.
Nege jaar lank vergaar die historiese boek – breinkind van Ton Vosloo en pennevrug van prof. Lizette Rabe – nou al stof. Dit is agter stewige slot en grendel, en die sleutel is in die hand van Koos Bekker, die man in Naspers se voorsitterstoel. Dit is Bekker wat teen Vosloo se grein in publikasie geveto het – en in sy weerstand volhard. Jy kan die veto natuurlik ook sensuur noem, en dit sal nie verkeerd wees nie.
Vosloo, oud-voorsitter en dinamo agter die boek, en opvolger Bekker, wat onder sy voorganger se beskutting vir die maatskappy ongekende rykdomme ontsluit het, het jare as bondgenote in gelid saamgestap. Oor die boek bots die twee bulle egter kop teen kop.
So ongelukkig is Vosloo oor die boek se lot dat hy al die ongewone gedoen het om ’n openbare pleidooi om ’n hartsverandering tot sy protégé te rig. Dit was vrugteloos. Die status van Naspers 100: Kroniek van ’n maatskappy, sy mense, sy land en sy wêreld bly dus onveranderd; dit is ’n geslote boek en gaan klaarblyklik geslote bly solank dit Bekker behaag – of totdat iemand ’n plan prakseer om die huidige toerniket-wurggreep te omseil.
Maar die troefkaart is in Bekker se hande. Kopiereg berus by Naspers – in ’n klousule, ironies genoeg, op inisiatief van Vosloo in die kontrak ingeskryf.
Oor die vreemde verloop van die sage rondom die nie-publikasie van ’n troetelprojek op sy laaste skof skryf Vosloo self openhartig in sy memoires, Oor grense (Jonathan Ball, 2018). Die feesboek-turksvy word onder meer ook insiggewend in Ebbe Dommisse se Fortuine – Die Wel En Wee Van Afrikaner-magnate (Jonathan Ball, 2021) en TJ Strydom se Koos Bekker’s Billions (Penguin Random House, 2022) aangesny. Hulle sien sake redelik eenders.
Naspers se geskiedenis oor 100 jaar se intieme saamleef met die Suid-Afrikaanae hartklop moet fassinerende inligting ontsluit. In die stadium weet egter net Rabe, Vosloo en Bekker – en dalk ’n paar ander – wat in die feesboek staan. Nie een praat uit oor die inhoud nie.
Bekker maak egter geen geheim van sy mening nie: dat die boek se aanpak, na sy mening, te eng is. Aan Dommisse het hy dit so gestel: “Ek meen die gebeure word geskets bloot uit ’n Afrikaner-perspektief, terwyl daar later verskeie strome by die Naspers-rivier aangesluit het wat nie uit die Afrikaner-bron van 1915 ontspring het nie.”
Die woorde bevestig wat die kardinale geskilpunt klaarblyklik is: die boek se openhartige terugblik op die koppeling van die maatskappy se koerante met Afrikaner-nasionalisme van sy stigting af. Die Burger en Die Volksblad het albei ’n lang geskiedenis as amptelike mondstukke en bondgenote van die Nasionale Party. Die Beeld, Rapport en Beeld se bande was losser, maar was tog in mindere of meerdere mate in dieselfde dampkring.
Die eerste spitwerk vir die boek is vier jaar voor die eeufees in 2015 gedoen. Vosloo, toe uitvoerende voorsitter en ’n man met ’n hart vir dié soort sake, is in 2011 met ’n voorstel na die direksie dat prof. Rabe, hoogleraar en hoof van die departement joernalistiek van die Universiteit van Stellenbosch (ook ’n oud-redakteur van die tydskrif Sarie), die ambisieuse projek aanpak. Die direksie het ingestem. Vosloo se idee was ’n gesaghebbende historiese werk in Afrikaans en Engels.
Die deeglike Rabe het vier jaar lank per kontrak met Naspers die geskiedenis omvattend nagevors en te boek gestel. Vosloo, self ’n oud-joernalis wat meer as 40 jaar se geskiedenis persoonlik meegemaak het (en heelwat van die geskiedenis self geskep het) was haar klankbord. Geen ander span as Vosloo en Rabe kon daardie rolle beter vertolk het nie.
Bekker was aanvanklik nie ongeneë vir ’n jubileumboek nie. Maar in 2014, op ’n sabbatsjaar aan die vooraand van sy aanvaarding van die nie-uitvoerende voorsitterskap (sy tweede sabbatsjaar by Naspers), het bedenkinge klaarblyklik by hom posgevat. Drie afgesante – almal “inkommers” in die Bekker-era van ná 1998 – is na Vosloo gestuur om hom te probeer swaai om weg te stap van die boek-idee: Cobus Stofberg, ’n studentemaat van Bekker, later ’n vertroueling en mededirekteur van Naspers; Steve Pacak, finansiële direkteur, en Gillian Kisbey-Green, maatskappysekretaris.
Geeneen van die drie kon aanspraak maak op ’n diepgaande kennis van die “ou” Naspers nie. Soos te wagte kon wees, kon hulle nie by die gedugte Vosloo hond haaraf maak nie.
Bekker het egter nie die stryd gewonne gegee nie. Toe hy in 2015 met ’n nuwe hoed en die nodige gesag die tuig weer opneem, het hy sy voet dadelik dwars gesit. Hy stuit publikasie, het hy Vosloo luiters ingelig. Een rede vir die drastiese stap, volgens Vosloo, was Naspers se duisende swart werknemers. As die maatskappy se verlede van Afrikaner-nasionalisme opnuut oopgekrap sou word, sou hulle dit, na Bekker se oordeel, negatief beleef.
Dit sou ook die aandag van die ANC-regering onvriendelik op die maatskappy kon vestig. Gereguleerde besighede, soos die Multichoice-groep se geldkraan in sub-Sahara-Afrika, DSTV, en digitale ondernemings, kon in die gedrang kom, het Bekker, aldus Vosloo, gevrees. Vosloo het vasgeskop. Bekker se standpunt is verkeerd en sy vrese oordrewe, het hy betoog. Naspers se herkoms is algemene kennis. Maar so ook die hervormings wat die maatskappy van 1984 af in eie geledere teweeg gebring het, asook sy “gewillige en hoopvolle inskakeling” by die nuwe, demokratiese Suid-Afrika. Niks kon Bekker egter oortuig nie, en Vosloo se hande was afgekap.
In Februarie 2016, ’n jaar ná die eeufees, het Vosloo Naspers ná ’n uitmuntende loopbaan as redakteur, besturende direkteur en uitvoerende voorsitter gegroet. Sy afskeid was ’n glansryke dinee in die koloniale Mount Nelson-hotel aan die voet van Tafelberg. Met die gaste se aankoms is deftige dasse, strikdasse en serpe met afbeeldings van spesiale koerantvoorblaaie aan hulle uitgedeel – ’n ironiese weerspieëling van juis daardie historiese bagasie wat Bekker so ongemaklik maak. Van die mans het, aandpak ofte nie, daar en dan hul formele dasse met die nuwes vervang. Of Bekker die voorbeeld gevolg het, het ek ongelukkig nie opgelet nie.
In sy gemoedelike afskeidstoespraak het Vosloo die slepende warm patat versigtig geopper. Sy beroep op sy opvolger om sy teenkanting te laat vaar, het geen kik uitgelok nie. Ná die toespraak het Vosloo na Bekker oorgestap en ’n geselsie aangeknoop. Het hy hom in die verleentheid gestel met die beroep om ’n groen lig, wou Vosloo hoflik weet. Nee, het die enigmatiese Bekker geantwoord – en net geglimlag.
“Ek respekteer sowel Ton as Lizette en werk al jare lekker met albei. Oor die boek wat Lizette as ’n ‘amptelike geskiedenis’ van die maatskappy wou publiseer, verskil ons egter beleefd,” het hy in 2019 aan Dommisse gesê. Hy noem dat Naspers besighede (groot en klein) in 120 lande het.
Kan die boek wel nog gepubliseer word? Bestaan so ’n kans? Strydom is in sy boek hieroor nie positief nie. Hy stapel trouens die getuienis op oor hoe die “ou” geskiedenis van die Nasionale Pers vir Bekker maar altyd ’n lastige albatros was wat hy graag in sakebelang volledig sou wou afwerp.
Selfs van die naam Nasionale Pers sou hy in sy geheel weggestap het as die vorige direksie nie ’n stokkie daarvoor gesteek het en die huidige kompromie, Naspers, nie bereik is nie, meen Strydom.
My sienswyse stem ooreen met Strydom s’n. ‘n Mens kan wel tog wonder of die kruispad wat die koerantwese nou bereik het, Bekker nie dalk tot ander insigte oor die historiese waarde kan bring nie. Die tafel is immers gedek vir so ‘n soort boek, nou amper meer as met die eeufees.
As hy gaan volhard dat die boek tot elke prys onder die hoed gehou gaan word, wil ‘n mens die hoop uitspreek dat ’n slim gaping gevind word om die Rabeboek – al is dit ten minste vir ’n beperkte gehoor – verby die enigmatiese Bekker te smokkel.
Naskrif: Die maatskappy – voorheen die Nasionale Pers Bpk. – is in 1915 uit die nood van Afrikaners ná die verwoestende Anglo-Boereoorlog (1899 tot 1902) gebore. Aanvanklik was Die Burger, “kind van smart en hoop”, sy enigste koerant – soos hy nou weer gaan word as die andersoortige Son buite rekening gelaat word.
Later het Die Volksblad, Beeld, Rapport, City Press en andere, asook, tydskrifte en boeke gevolg. Op 12 September 1994 is die maatskappy as die Nasionale Pers op die Johannesburgse Effektebeurs genoteer. In 1998 het die naam Naspers geword.
In 2000 is al Naspers se koerante, tydskrifte en uitgewerye – as’t ware die ganse ou Nasionale Pers – onder een sambreel geplaas: die nuwe entiteit Media24 wat nou in die beoogde herstrukturering afgetakel word. ’n Naelstring is behou na Naspers wat ’n globale reus met hope vertakkings geword het.
(Vir die artikel is sterk gesteun op ‘n hoofstuk uit my jongste boek “Elke dag ‘n mooi meisie en ‘n moord”, Naledi 2023.)