BEELD: DAG DER DAE

“Heut’ ist der Schönste Tag in meinen Leben”, sing Joseph Schmidt in sy 1935-treffer.  Op skool in die 50’s aan Volkies, Potchefstroom, was die lied ‘n staatmaker op plate-aande in die skoolsaal.

Van ons Volkies van daardie era het gewonder en nogal daaroor kopgekrap hoe ‘n mens aan een dag uit die derduisende van ‘n gemiddelde lewe so ‘n unieke etiket kan omhang.

Toe kom Sondag 15 September 1974 – vandag (Sondag 15 September) 50 jaar gelede. Daardie dag is die dagblad Beeld – wat op Maandag 16 September sy buiging gemaak het –  effektief gebore,

Dit was dalk nie die “Schönste Tag” in my 83 jaar op aarde nie; wel ‘n uitsoekdag wat ek nooit sal vergeet nie met hope opwinding, spanning, afwagting, en ‘n mengelmoes van emosies wat in die kop gemaal het.

As nuusredakteur was die nuusinhoud van die koerant op my skouers. Ek en my span wat gelukkig voorslagte soos Jack Viviers en Max du Preez ingesluit het, is die mense wat sou moes rekenskap gee as ‘n mededinger ons die Maandag met ‘n plaaslike  (Transvaalse) storie sou platloop.

Sê nou net iewers was ‘n gesinsmoord of iets dergeliks wat lesers beroer en Beeld het dit misgevat?  Die vrees was vlak  in my gemoed todat ek Maandag vroeg-vroeg in Randburg stoep toe is om die Rand Daily Mail en Die Transvaler te gaan optel  en vinnig die opskrifte op hul voorblaaie te spoedlees.

Toe die heerlike verligting: ons scoop – Troepe oral op die (Mosambiekse) grens – wat politieke beriggewer Alf Ries by PW Botha losgewikkel het, was loshande die storie van die dag.

Waarom die bruisende opwinding?  Hier was ‘n droom besig om voor ons oë verwesenlik te word. Jare se beplanning, stryd en verbysterende uitgawes het tot ‘n hoogtepunt opgeloop toe adv. Lang Dawid de Villiers die rolpers se knoppie druk en die magtige masjien kreunend tot aksie oorgaan om van slierte skoon papier ‘n koerant te maak.

Ons spannetjie, ingedruk in die beknopte ruimte van die drukkery, was die pioniers wat ‘n historiese oomblik sonder weerga in die Afrikaanse koerantgeskiedenis beleef.

Verbeeldingvlugte, strategiese dinksessies, proeflopies – alles was iets van die verlede. Die uur van waarheid het geslaan.

Waarom die spanning? Wel, koerantmense sal weet.  Hulle weet immers dat ‘n koerant so goed soos sy kontakte is.  En hier was ons, die nuwe outjies op die hoek wat nog sulke basiese bronne soos die polisie, brandweer en lykhuise moes leer ken en bande vestig.

Rome word nie in ‘n dag gebou nie.  Vertroue moes oor ‘n tydperk gewen word en verhoudings moes tot stand kom.  Selfs die gevaar van doelbewuste bevoordeling van ‘n jarelange kontak was ‘n wesenlike gevaar. Die een hand was mos maar die ander.

Op die foto is ek en Johan Holzapfel, eerste hoofsubredakteur, die “verwagtende vaders” wat in die fabriek staan en kyk hoe die eerste voorblad deur dagskofvoorman André Smit geplak word. Dalk verbeel ek my, maar ek dink tog dat ons al drie se gesigte iets van die gewigtigheid van die oomblik verraai.

Watter loutere vreugde om dan vandag, 50 jaar later, daardie dag der dae in herinnering te roep en in kameraadskaplike kollegialiteit ook met al die generasies wat na ons gekom het, ‘n glasie vonkelwyn op ons geliefde koerant te klink. (Op die glasie is gegraveer: Beeld25.)

Hoe jammer oor die “druppel gal in die soetste wyn” op wat net ‘n jubelende feesdag  moet gewees het.  Maar daaroor praat ons liefs later weer.

 

NATSTEEN-KAMERADE

Ons weet wat julle nie weet nie. Ons – ek praat nou van die spesie joernalis – weet watter vreugde ons uit ons beroep geput het.
Die naweek is daardie vreugde op genoeglike wyse ten toon gestel op die tweede Natsteen by De Wet Potgieter se Nagkantoor-kroeg op die idilliese Kaapschehoop met sy slierte mis, byt in die lug en sierlike wildeperde.
Daardie beroepsvreugde is ‘n gemeenskaplike een. Dit vra nie of jy van Naspers, Perskor of die SAUK kom nie. Net die belewenis maak ons almal kamerade.
By die mooie tradisie wat hier Augustusmaande op die berg wortel skiet, is dit die hoofdimensie waar oakal saamgebondel en gekuier is: op Nagkantoor se stoep, in die kapel by die boekebekendstellings, by die geesdriftige ondersteuning van die Bokke by ‘n groot skerm in ‘n volgepakte saal en by ‘n skaapbraai uit die boek met groot vure en gieters wyn.
Die boekefees was ‘n satelliet van die Innibos-kunstefees. Een van die boeke op die program was Beeld se jubileumboek, “Beeld50: Om ‘n groot storie hard te slaan”.
Barnard Beukman, redakteur, en Erika de Beer, samesteller van die boek, het boeiend oor hul breinkind gesels met Annemarie van der Walt van Kaapschehoop, oud-redaksielid en rubriekskrywer.
Die wete dat Beeld op sy laaste skof is, het swaar op almal se hart gerus. ‘n Begrafnis was dit egter geensins. Die vlag is eerder gehys op die dinge wat mooi en wat goed was oor ‘n veelbewoë 50 jaar – en dié is genoeg vir ‘n rak vol boeke.
Vir hierdie Beeld-pionier was dit ‘n emosionele oomblik toe al die Beeldmense aan die einde moes opstaan. Jy kon die trots oor hul wortels in hul houding sien. Flukse verkope is aangeteken.
Op die foto van die opstanery in die kapel is van links o.a. Annemarie van der Walt, Erika de Beer, Herman le Roux, Tim du Plessis, Barnard Beukman en die uwe,
Ander foto’s getuig van die gesellige saamkuier agterna, ook met nie-joernaliste wat saam kom fees hou het. Die braaivoorskoot wat Barnard vashou, is hierdie ou s’n. Niemand gaan dit by hom wegvat nie.

WAT ELKE BOMEMENS MOET WEET

Heldergroen nuwe blare en spatsels wit en geel blomme verklap dat lente in die Laeveld vasberade op pad is.

Die knoppiesdoring, sambokpeul en drolpeer is voor in die koor met hul blomme.  Rosyntjie-  en aartappelbosse wen die blarewedloop – altans so lyk dit van ons stoep af.

Met die boeiende ommeswaai in die natuur raak Tokkie opnuut verdiep in ‘n allemintige naslaanboek wat ons so ‘n jaar of drie gelede by een van die  outeurs present gekry het.

Die titel is “Trees and shrubs of Mpumalanga and Kruger National Park” – ‘n ware ensiklopedie wat geen boompie of struikie oorslaan nie, hoe beskeie ook al. Meer as 950 spesies word gedek en ryklik met kleurfoto’s en delikate sketse geïllustreer, maklik 2 000 of meer pragstukke.

Die outeur by wie ons ons kosbare eksemplaar present gekry het, is Ernst Schmidt, voorste gemmerboer van die kontrei. Hy is ook ‘n Sabieparker. Altyd lekker om by hom en Leonie in Jakkalsbessielaan te gaan inloer.

Om ‘n boom of struik te identifiseer, is ‘n gedugte taak, veral as hulle so volop is en so in bosformasie voorkom soos in hierdie wêreld.  Ernst (en sy mede-outeurs) se boek is ‘n gids sonder weerga.

Verskeie aspekte van die magistrale boek van 700 bladsye tref Tokkie so dat sy telkens my nader roep om te kom kyk.

Een is die magdom feite oor elke inskrywing. Vat nou maar die rooi-ivoor op p. 378.  Jy kom te wete wat die naam is in elke taal wat in die gebied gepraat word. Jy word ingelig die wetenskaplike naam, Berchemia zeyheri, kom van ‘n Duitse botanis, CLP Zeyher, wat van 1799 tot 1858 geleef het!

Dan volg die gewone boombeskrywing. Dan brokkies oor die wye aanwending, onder meer as enema vir rugpyn, en oor die eksklusiwiteit. Net die Zoeloe-hoofman mag sy knopkierie van rooi ivoor maak.  Dit is die patroon vir elke boom.

Hierbo is die drolpeer genoem.  Raadpleeg Ernst-hulle se boek en jy slaan jou hande saam oor die verskeidenheid: rotsdrolpeer, pienk drolpeer, gladde drolpeer, rivierdrolpeer, silwer drolpeer …  Tot ‘n pienke. Genugtig.

Uiters nuttig vir die boomliefhebber is ‘n seksie oor vir watter spesiale bome in watter streek opgelet moet word. Ons “nasionale boom” op Wildevy 154, Sabiepark, is die knoppiesdoring (knob thorn). Goed om te weet dat “ons boom” ook in die Mopanie-bosveld noord van die Olifantsrivier kenmerkend is.   Sal my nek daarvoor rek as ek ooit weer daar kom.

Heerlik om die manjifieke boek so saam-saam op Tarlehoet se stoep te herontdek. Dankie weer eens, Ernst.

‘N RENOSTER BY OOM PAUL

Met renosters so skaars en in die suide van die wildtuin saamgebondel soos hulle is weens al die stropery, kan ’n mens nie verwag om sommer in ‘n japtrap die Vyf Grotes raak te loop nie. Op Donderdag 22 Augustus – ná sewe weke – kon ons eers ons telkaart voltooi.

Toe gelukkig nie net met ‘n renoster iewers doer in die veld nie.  Wel vlakvoor Oom Paul se granietbeeld by die Krugerhek. Vir ‘n groep jong buitelandse toeriste was sy teenwoordigheid ‘n bron van groot opgewondenheid. Almal het vir almal saam met die trofee ((hoewel horingloos) afgeneem.  Ekself het aanhou klik.

Wat ‘n Donderdagoggend was dit nie: eers ‘n reuse-trop buffels, maklik 1 000,  wat by die hotel Kruger Gate rustig die Sabierivier oorsteek, toe die Meneer by Oom Paul, en later ‘n erewag van ses kameelperde by Tarlehoet, asof op ‘n militêre parade met hul oë  stip op ons plek gerig. Alles in net onder die twee uur en binne vier kilometer van hier.

Wat sou die kameelperde so geboei het? Kan net raai.

By die hotel was dit ‘n uur lank net buffels, buffels, buffels. Van die swembaddek kon ons onbelemmerd dophou hoe hulle – swart soos tampans aan ‘n hoender (dankie,  Zsa-Zsa Pieterse) – skynbaar sonder einde uit die Sabi-Sand-wildreservaat aangetou kom en stadig deur die bos aan die oorkant van die rivier opgeslurp word.

Ná ‘n uur was die skouspel nog geensins verby nie, maar die skielike skraal windjie het dinge onplesierig begin maak. Hoe ookal, groot buffeltroppe het al vir skouspelagtige tonele en hope foto’s gesorg.  Geen vorige skouspel kon ons so lank aanskou nie.

‘n Netjiese bosbokram het tot Donderdag se vreugdes bygedra toe hy by ons  watergat kom drink. Dalk die pa van nou die dag se lammertjie? Ongelukkig het ‘n bobbejaan ook die middag die bobbejaanproef-deksel van die asblik (met ‘n vol swartsak) gelig …. Tokkie was min geamuseer.

SKILDERYE VAN KOERANTE

Terwyl die winde van verandering so sterk by koerante waai, is dit dalk nie ‘n slegte plan vir koerant-verslaafdes om ‘n skilder se dienste te bekom ten einde ‘n permanente herinnering te skep nie.
‘n Vriend stuur Sondag vir my die mooi skildery van ‘n koerantleser deur Coleen Shield (foto 1). Die eienaar is Hester van Rooyen, voorheen van die WNNR se rekenaar-afdeling en later vennoot in ‘n onderneming wat werk vir onder meer Danel, Transnet, Weermag en Telkom gedoen het. (Sy was een van die eerste mense wat in SA ‘n meestersgraad in rekenaarwetenskap gekry het – klaarblyklik ‘n slim vrou.)
Hester het die skildery jare gelede op ‘n uitstalling by die Dieretuinmeer by die skilder self gekoop. Die vriend se oog val toe daarop toe hy Sondag haar gas was by ‘n middagete en dink ewe bedagsaam aan Van Deventer.
Praat ‘n mens van koeranteskilderye, moet jy natuurlik nie Danie Marais s’n van ‘n Volksbladleser vergeet nie. Dit hang in Volksblad se kantore in Bloemfontein en is op die voorblad van die uwe se laaste boek, “Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord” (Naledi). Danie, nou van Langebaan, het dit as opdragwerk vir die direksie van die Nasionale Pers geskilder as geskenk aan Volksblad met sy eeufees in die goeie ou dae. Vir diegene wat al vergeet hoe dit lyk, sit ek ‘n foto by (foto 2).

AG NEE, KOOS (BEKKER)

Teenoor Rapport is ek dankbaar vir die geleentheid om vandag in sy vlagskip-bylae Weekliks met Koos Bekker in gesprek te tree oor die huidige koerantemoles en sy eiesinnige bydrae daaroor verlede week in dieselfde koerant. Die stuk, soos gepubliseer, noem ek die Topolino-weergawe omdat dit Woensdagoggend in ‘n koue hoekie op die stoep van ‘n toe pizzaplek op Hazyview gepleeg is met ‘n kolonie katte as geselskap. Die plek se naam is Portolino. Ook aan hom en sy bestuurder, Dawid, is ek dank verskudig vir akkommodasie terwyl my boskar by Chris Car & Truck versien is.