In vanoggend (20 Junie) se Volksblad kyk ek in ‘n lesersbrief terug en vorentoe:
Afskeid is nooit maklik nie. Om afskeid te neem van die handelsmerk (Die) Volksblad -‘n eeu lank ingegrawe in die volksiel van die Vrystaat en die sentrale hartland – is buitengewoon pynlik.
Die verlies is so omvangryk dat die instinktiewe reaksie is om in diepe ontsteltenis daarteen in opstand te kom, sondebokke te soek, te verwyt en blameer. Dit sou egter wees om die versene teen die prikkels te slaan, om ‘n ou Afrikaanse idioom af te stof.
Wat nou gebeur, is die voltrekking van ‘n lot wat onvermydelik in die lug was ná die skokbesluit in 2020 om die geliefde papierkoerant te sluit en vir solank as moontik op die syspoor van ‘n eie digitale platform voort te beur. Die skrif was by daardie voorlaaste kruispad al aan die muur.
Die uitdaging by die finale kruispad is om die donker dag met waardigheid te benader, nie instinkte te kaat botvier nie en nie net in bewoëndheid terug te kyk nie, maar ook doelgerig vorentoe, meen ek ná grondige nadenke oor die pakket ingrypende besluite wat deur Media24 aangekondig is .
Terugkyk op sy meer as ‘n eeu van diens aan ‘n gemeenskap waarmee hy soos geen ander koerant met geen ander gemeenskap nie verstrengel was, kan ons koerant met onverbloemde trots. In elke geskiedenis in elke sfeer is sy rol onuitwisbaar, van die kultuur tot sport. In sy verskillende formate het hy in opeenvolgende geslagte ‘n ingeligte openbare mening in stand help hou, as waghond gedien vir behoud van waardes, by kruispaaie koers help soek, in triomfe saamgejuig en in hartseer saamgetreur. Hy was ook ‘n broodnodige bastion vir Afrikaans. Sy lesers – in ‘n stadium oor 30 000 per dag – eer hom daarvoor.
Oor my eie verbintenis met die koerant in twee skofte van 12 jaar elk is ek innig dankbaar. Die ervaring was vervullend en verrykend. So beleef almal dit wat kon deel in die voorreg om as Volksbladders oor sy drumpels te stap, glo ek. Uit ons dankbaarheid kry ons versterking wanneer die tentakels van ‘n skouspelagtige nuwe tegnologie, die sweepklap van ekonomiese werklikhede en nuwe bestuursinsigte ons sanctum so revolusionêr binnedring soos nou.
Dankbaarheid moet ook betuig word dat Volksblad-lesers darem nie vir die wolwe gegooi word nie. Netwerk24 is immers sterk ingegrawe en glad geolie om, ten minste wat harde nuus betref, die groter vakuum wat ontstaan, te vul. Alle oë is op Netwerk24 gerig om die aflosstok met mening vorentoe te dra en die Afrikaanse joernalistiek in sy volle omvang met toewyding en kundigheid te bly dien soos die Volksblad-gemeenskap gewoond was om gedien te word.