KOSBARE OOMBLIKKE MET KOLLEGAS

So ‘n saamtrek van oud-kollegas soos hier Woensdag op Melkbos was, laat elke begenadigde wat dit kon bywoon met hope gewaarwordinge en sommer ‘n wavrag nuwe herinneringe.
‘n Veertigstuks gewaardeerde kollegas oor ‘n era van langer as 60 jaar het by ‘n skaapbraai hul liefde en lojaliteit jeens Die Volksblad uitgeleef in ‘n samesyn wat hul gemeenskaplike gebondenheid selfs nog sterker gesmee het.
Met die oudste oud-kollega teenwoordig, Herman le Roux, loop my paadjie van einde 1958 af toe ek my as beurshouer vir vakansiewerk in Bloemfontein aangemeld het.
Ek en Willie Kuhn was in 1965 en 1966 woonstelmaats, eers in La Gratitude, toe in Giel Conradiehof. Hy was die kosmaker. (Ek en Willie is op ‘n foto saam met Andre Brink.)
Ander veterane uit daardie tyd is Johan van Wyk, Wilhelm Jordaan en Pierre van Manen. Om saam vir ‘n foto van ons ses oudstryders reg te staan, was vir my een van die kosbare oomblikke van die okkasie.
Nog ‘n intense persoonlike oomblik was ‘n intieme eenkant-geselsie op ‘n bankie onder ‘n melkhoutboom met Johan van Wyk, geliefde skrywer van miljoene woorde in sy ikoniese rubriek, Stop van Myne. Hoe ‘n lang pad kom ons twee nie saam nie!
Om weer skouers te kon skuur met sulke beroemde skrywerskollegas soos Deon Meyer en Rudie van Rensburg het gesorg vir ‘n foto van groot waarde vir my argiewe. So trots dat hulle (en Chris Karsten) in my redaksie hul uitsonderlike loopbane begin het.
Natuurlik is ek ook trots op Henriette Loubser wat van groentjie-verslaggewer in my tyd tot huidige grootbaas by Netwerk24 gevorder het. In ‘n besige program het sy tyd vir ons ou klomp ingeruim en om geduldig die vrae van ‘n so ‘n verknogte aan papier en ink soos die uwe te beantwoord.
Om deur die jonger generasie van die VOG-groep (Volksblad-omgeegroep) met die GOG-beker (Grootste Opbouer van Gees vir die geleentheid) bekroon te word, was ‘n eer, ondanks die speelsheid daarvan en dalk ‘n stukkie tong in die kies.
Philip van Rensburg, kommandant van die fees, het die “beker” (kyk mooi) aan my oorhandig. Die plant wat hy vashou, is die VOG-groep se geskenk aan gasvrou Tokkie. Dit kry ‘n ereplek in haar binnetuin. ‘n klein heiligdompie met kabbelende fontein en al.
Aan die einde – wel, naby die einde – kon ek en Tom Ferreira ‘n Jagmeestertjie saam gebruik. Smaak altyd vorentoe, veral saam met ‘n opgeruimde kollega so vol kwinkslae soos Tom.
Herman le Roux het die foto geneem van die Van Deventer-spannetjie, pa, ma en dogter, Marisa Classsens. Sy het van Welgemoed oorgekom soos ‘n engel uit die bloute om met dit en dat te kom help.
En daarmee is die ou se spreekbeurt verby (verligte applous).

KWêLA OP DIE DUINE

Dinge op die duine

OOr Kyknet se 25 jaar gesels Murray la Vita en Marida Swanepoel vandag land en sand in Die Burger.  Geluk, Kyknet, vir ‘n kanaal wat met nul kykers begin het, het julle geroer om vandag so ’n betekenisvolle faset van die Afrikaanse leefwêreld te wees.

Mense kyk nie na Kyknet se programme nie. Hulle praat oor Kyknet.  Hulle loof en kritiseer.  Hulle kla oor herhalings en oor programme waarvan hulle nie hou nie.  Hulle bel mekaar oor en weer of stuur whatsapps oor programme wat hulle meen hul vriende nie durf misloop nie.

Om so ‘n gegons af te gee, is ’n pronkveer in die hoed. ‘n Vlugtige terugblaai deur Facebook-inskrywings en blogs as ek my naam en kyknet in die soekvenster tik, wys dat ek oor 25 jaar al ook ‘n gereelde kyker is; soms krities, soms instemmend, soms met ‘n pluimpie.

Vir sekere knorighede kry ek ‘n agterna-glimlag soos oor Kyknet se uitgelate advertensies in die spitspunt van die Covid-tyd. Ek haal die hele vieserige inskrywing aan: ”Voel jy die genade? Weke lank verduur ek al die Kyknet-advertensie gelate. Maar, goeie genade, is dit nie die toppunt van insensitiwiteit om jou eie beuel so te bly blaas terwyl ons almal bedeesd met geslote deure moet leef nie? Elke taboe van sosiale kontak word in die selfingenome beeldbouery by die venter uitgesmyt. Dit dans, dit wikkel, dit trippel. Dit druk en soen. Dit swaai en laat waai. Hedonisme op sy allerergste. Dalk moet Kyknet ‘n bietjie oor maatskaplike verantwoordelikheid in kritieke tye besin en sy indrukwekkende skeppende vermoëns liewer aanwend om die gemeenskap in ‘n krisistyd soos nooit tevore nie te ondersteun, te bemoedig en tot verantwoordelikheid aan te moedig.”

Programme wat veral by my wrewel uitgelok het – meer as een keer –  is die Boer-soek ‘n vrou-tipe.  Die ou man is maar ongemaklik oor hoopvolle meisies wat hulle so in die openbaar beskikbaar stel vir manlike skrutinering.

OOr Jan Braai het ek my mond uitgespoel oor die oorheersende rol van borge in ‘n stadium – o.m. elke denkbare gasbraaier – en Jan se soms ietwat oorgeesdrigtige bevordering van produkte wat sy naam dra. In ‘n  program uit München het hy aanhoudend gepraat van Munich. Dit het my erg irriteer.

Saam met Susan Booyens en haar span

Oor die sepies Sewende Laan en Suidooster het ek meermale saamgesels,  veral om raad te gee as die vryery in eersgenoemde skeefloop of my by die wellewende Mymoena te skaar oor haar man, Abe, se huweliksontrou destyds. Onthou julle?

Vir Kwêla lof gehad vir lekker onderhoude met o.a. Gary Player en insiggewende programme soos oor FW de Klerk.  Toe Coenie de Villiers klaarmaak, het ek hom gesalueer vir ‘n netjiese skof. Toe Hannes van Wyk ‘n ou skoolmaat toelaat om geld te vra vir haar seun se studies aan ‘n Switserse sjefskool was ek egter verontwaardig. Word dit nou ‘n bedelprogram?

Oor die Nuus het ek al heelwat gekla.  Tim du Plessis moes my ‘n keer daarop wys dat dit E-nuus se nuus is, nie Kyknet s’n nie. Dis maar ‘n grys area.

OOr Riaan Cruywagen se oumens-program, Kruppel-huppel of so iets, nogal geborg deur Avbob (Almal Vrek Behalwe Ons Boere), had ek telkens ‘n goeie woordjie – nie om die hondjie nie, maar die halsbandjie. Natuurlik is ‘n mens se ingesteldheid positief as jy so ‘n gawe kans kry om jou eie belange te bevorder. Mea ook culpa.

Eintlik wil ek vertel van my eerste eie Kyknet-ervaring.  Dit was 24 jaar gelede toe die kanaal nog in sy doeke was, toe nog bekend as Satelliet-TV.  Op 1 Februarie 2001 het Susan Booyens – borrelende mens – en ‘n span van Pieter Cilliersproduksies kom kuier om oor my hondeboek, ‘n Vriend vir altyd (Human & Rousseau, 2000), te gesels.  Het een keer in my lewe werklik soos ‘n ster gevoel en dit was nogal nie onaardig nie. Ons was in ‘n stadium tot op die duine met die TV-kamera op ‘n driepoot.

Die uitsending was net ses dae later, op Woensdag (ja Woensdag) 7 Februarie. Ander deelnemers daardie aand was o.a. prof. Erik Holm, sanger Jannie Moolman en kunstenaar Tertia du Toit.  Hoge geselskap.

Ek het die CD hier as iemand belang stel.  Nogal oulik vir my.  Moet weer vir die kleinkinders opkommander om te kyk.

 

SPITBRAAI, 20/11

Parkering is Woensdag op twee plekke beskikbaar: in Penguin Place (sic) voor die huis (boonste foto) en soort van langs die huis in Strandweg (onderste foto’s).  Die huis (die laaste een aan die linkerkant van die straat) se nommer is 11.

Penguin Place is die vyfde straat na links uit Charles Hoffe en Strandweg  (‘n singel) die derde en vierde.  Jy kry Visvanger, Flamingo, Strand, weer Strand en dan Penguin.

In Penguin Place is beperkte plek.  In Strandweg is ‘n openbare parkeerarea, groot oop ruimte; meer as voldoende plek. Onthou net, die wit huis is ‘n gastehuis.  Moet asseblief nie direk voor hom en sy hekkies parkeer nie.  Dan ook, parkering daar behels die oorsteek van ‘n taamlike stuk gras na my huis. Vir kollegas wat swaar loop,  sal dit nie deug nie.

Voorkeurbestemming vr hulle is Penguin Place (moenie nou ophou lees nie).

Die twee staanplekke voor die motorhuis is om goeie redes gereserveer vir Herman Toerien en Johan van Wyk.  Langs hulle moet Rudie van Rensburg intrek. Die ander plekke rond en bont – ook aan die oorkant van die straat – is vir ander kollegas beskikbaar.

‘n Derde opsie is dat Penguin Place net as aflaaipunt vir passasiers benut word met parkering daarna in Strandweg, ‘n Soort “drop and go”.

Vir Penguin-parkeerders sal die voorhekkie  oopstaan (lyk nou effens anders as op die foto).   Maar let wel: die voordeurklokkie sal onbeman wees.   Draai dus onmiddellik regs en stap al met die plaveisel af.  Ons sal ‘n pyl daar plaas.  Aan die onderpunt (seekant) is ‘n opening. Dit lei tot die voorstoep, die middelpunt van aktiwiteit.

Vir die nog ratser garde is my buurman Dale Schreuder se groot wit huis links op die onderste foto hul baken. Dis teenaan die see aan die Koebergkant  (dus nie die Tafelbergkant).  Tussen die see en die huis is ‘n hek wat beter dae geken het (onderste foto regs). Die hek verleen toegang tot ‘n baksteen-baan. Volg dit vir 20 meter verby ‘n klein hekkie en ‘n smal servituutstrook tussen pilare. Net daarna is ‘n groot skuifhek. Stap daar in.  Dis die terrein van die feestelikheid.

Patrolliemotors van die sekuriteutsfirma SRG sal van tyd tot tyd ‘n draai gooi.  Sluit nietemin tog maar die motor. Ons dorpie is relatief rustig, maar ‘n mens weet nooit.

Welkom by die Van Deventers.  As die wind waai; hy maak maar so as hy die nuk kry.

ANDER OU SE PAJAMAS

Die spreekwoord praat van anderman se skoene waarin jy nie graag sou wou staan nie. Ek het my eie gepatenteerde weergawe. Skoene word met pajamas vervang. Elke dag / hoor / sien ek iets in die media wat my dankbaar stem dat ek nie in die of daardie se nagkabaai wakker geword het nie, maar in my eie geruite broek en groen hempie wat van die een of ander uitverkopingrak kom.
Nou anderdag was dit Kamala Harris se slaapkleertjies wat ek ongraag vir my eie sou wou verruil. Hoe elegant lookal, sou dit kwalik haar droefheid en die pyn kon verdryf van die Troefkaart wat die Amerikaanse kiesers haar so genadeloos gedeel het.
Vandag is dit ene Patrick Kruger, Protea-krieketspeler, se pajamas wat ek vir homself gun. Hy met die diamant-oorkrabbertjie in sy oor en al het hom gisteraand teen Indie (waarskynlik) in Suid-Afrikaanse krieket-annale ingespeel (en hopelik uit die pan uitgespeel).
Sy onderskeiding is dat hy die meeste lopies vir die teenstanders laat lek het (soos hulle nou praat) in die twee bisarre beurte wat hy geboul het – 17,5 per beurt – en die minste lopies vir sy span aangeteken het – een lopie in twee balle. Het iemand al tevore so ‘n mamparra-vertoning in die groen en goud gelewer?
In een van sy rampspoedige bouleurte het Kruger met sy diamantoorkrabbertjie en al daarin geslaag om twee foutballe en drie wydlopers af te stuur. Ek vermoed selfs vir Koekenaap se tweede span sou dit ‘n rekord wees.
Kruger met sy diamant-oorkrabbertjie en al kies nien homself nie. Vir daardie ligte mistykie moet afrigter Rob Walter pa staan. Ai, hoe verlang ek nie na die goeie ou dae nie toe die beste span vir elke wedstryd gekies is: van toetsspanne tot skoolspanne en van rugby tot hokkie.
Met die “bou van diepte” en die skep van “skwads” glip ouens darem deur die net op ‘n manier wat niemand anders weet hoe nie buiten die afrigter wat span kies (of wat voorgese word hoe om die span te kies).
En lojale, patriotiese toeskuers langs die veld of voor die skerm moet maar die skandes blymoedig verduur. Nee, wragtig, so kan dit nie aangaan nie.

LENTE, HERFS – EEN MOOIER AS ANDER

Die skoonheid van die Amerikaanse herfs – die “Fall” – word hierdie tyd van die jaar elke dag op Facebook besing en met skildergatige landskapfoto’s’ bevestig.

Herfs in New England

My eie ervaring van die skone seisoen kom uit die herfs van 1976 in New England aan die ooskus. Gister vang ‘n pragfoto uit die Shenadoah-park in Virginia egter my oog (hooffoto links). Dis ewe verruklik.

Die Shenandoahpark onthou ek vir sy lente. Ons was bevoorreg om in die lente van 1995 per motor van New Orleans via Florida Boston toe te ry. Die blommeprag van die manjifieke dogwood (hooffoto regs) was oral, veral in Noord-Carolina en Virginia, waar dit die nasionale blom is, Atlanta waar hulle ‘n reuse-dogwoodfees hou, en in die wonderskone nasionale Shenandoah-park.
Die sogenaamde Skyline Drive van 105 myl (nie kilometer nie) deur die park Washington toe was ‘n prentjie. Die snelheidsgrens is 35 m.p.u. Omring deur soveel natjuurskoon voel jy nooit om die versneller dieper in te trap nie.
Ek kon nie die versoeking weerstaan om elke af en toe te stop om my vrou saam met die bloeisels af gte neem nie: ‘n karnallie tussen die kornoelies.
Terloops, ek verstaan nie mooi of kornoelie die regte vertaling van dogwood is nie. Is dit ‘n spesifieke dogwoord of die versamelnaam vir alle dogwoods? Dalk kan ‘n plantkundige help.
Washington DC self is natuurlik kersiebloeisel-wêreld – daar is in Maart ‘n “cherry blossom festival”. Kan ook nie woorde kry om hierdie historiese stad in sy lentekleed te beskryf nie.
Die fees vier, interessant genoeg, die geskenk van 3 000 Japanse kersiebome aan Amerika in 1912. Op sy beurt het Amerika toe in 1915 ‘n ewe getal Amerikaanse dogwoords aan Japan present gegee.
Moet erken, ek onderskei moeilik tussen die bloeisels, veral op ‘n afstand. Dis seker maar uit pure domheid.

NAAM IS FILEX, FILEX WHITE

Soos die ouderdom ‘n mens maar maal, besef ek en Tokkie ’n ruk gelede ‘n naam wat vir ons belangrik is, het ons albei ontgaan.
Dit is die naam van ‘n Bloemfonteinse pottebakker wie se sementbeeldjie van ’n knielende manlike figuur op ons stoep op Melkbos staan. Die rug is ‘n styfgetrekte bondel spiere.
Die beeld het in die 80’s in ons besit gekom toe die skepper sy huis aan ‘n Bloemfonteinse akademikus verkoop het …. Ene prof. Tienie. Tokkie was instrumenteel in die transaksie.
Oor prof. Tienie se van haak ons vas. Van Rensburg, dalk? Ook oor die straat is ons onseker: dis aan die onderpunt van Van Riebeeck naby Tempe, onthou ons. Dalk Van der Stel?
Toe maar die naam sal terugkom, troos ons onsself n.a.v. vorige ervarings. Maar die naam kom nie terug nie.
Dis ‘n saak vir die sosiale media, besluit ek. ‘n Blad met die naam Bloemfontein-herinneringe lyk die aangewese.
Dadelik gesels die Bloemfonteiners en oud-Bloemfonteiners saam.  Is die akademikus dalk Tienie Crous? Is die beeldhouer dalk Laura Rautenbach … of Daniella Geldenhuys … of Casper Steenkamp … of Pieter Lessing … of Jacques Fuller … of dalk ds. Dennis Oliphant (of sy vrou)?
Hoekom probeer ek nie die aktekantoor nie. Hier is die naam van ‘n gawe eiendomsagent wat dalk kan help. En so aan.
Uiteindelik tree Frans van der Hende, ‘n gewese buurman, toe tot die gesprek. Die straat is toe Drommedaris, nie Van der Stel nie. Die betrokke huis se nommer is 17a. Die akademikus was Tienie Barnard en die vorige eienaar was inderdaad ‘n beeldhouer. Prof. Barnard het by Klein-Brak of Groot-Brak afgetree, onthou hy.
Vername leidrade. Lig op die horison.
Ek bel vir prof. Piérre Theron van die UV wat hom in daardie geweste bevind. Hy en prof. Barnard was kollegas, maar sy kollega is ongelukkig reeds enkele jare gelede oorlede.
Piérre verwys my na ‘n ander kollega (studentemaat van my) wat nog in Bloemfontein woon, prof. Willie Paulsen. Willie en Tienie Barnard was vriende. Willie dink die dogter Riana dalk sal kan help. Was die vorige eienaar nie ‘n Hoffman nie, wonder hy.
Op die Bloemfontein-herinneringe-blad bly die mense saamgesels. Gift Labuschagne laat weet sy ken Riana. Sy sal haar vra.
Fetilik gelyktydig kom toe twee boodskappe:
Gift het Riana opgespoor. Sy bevestig die huis het oorheen aan ‘n pottebakker behoort. In die tuin was ‘n pottebakkersateljee. Die hele tuin was vol beeldjies en dinge, onthou sy.
Buurman Frans laat weet op sy beurt hy het by Pieter Joubert aangeklop, Dié ken toe die antwoord. Ons man se naam is Filex White. Sy kenteken was FX met ‘n klein x .
Toe ons die naam Filex White hoor, lui al die klokkies op Melkbos. Filex is inderdaad ons man. Ons gaan daardie beeldjie GROOT merk sodat ons nie weer kan vergeet nie.
Is ons nie dankbaar nie teenoor al die Bloemfonteiners vir al die raaiskote, al die wenke en al die heerlike brokkies. Dit bevestig net weer: dis ‘n gemeenskap soos min.
En hoe waardevol is daardie blad nie om waardevolle herinneringe op te diep, af te stof en te bewaar nie. Dankie, Victor Reitz.