Dec 18, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Sleg ding het Johan Viljoen op sy eerste besoek aan Nuweland oorgekom.
Johan, my niggie Elise se man, wat hierdie week kort na haar in Pretoria oorlede is, kon van daardie ontnugtering altyd met groot smaak vertel as jy hom uitvra.
Die onugtering was nie op die veld nie. Trouens, sy geliefde Rooibontes van Transvaal het daardie dag ‘n taamlik seldsame sege oor die Streeptruie van die WP behaal. Maar desondanks was sy beker bitter.
Die Viljoens het vir ‘n paar jaar van Pretoria Kaap toe geskuif. Dit was in die 70’s of 80’s. Hulle koop ‘n huis in Kommandeurstraat, Welgemoed, naby die hoek met Kommissarisstraat. Hy gaan maak kennis met die eienaar van die winkel op die hoek – wat nou ‘n Pick ‘n Pay is – en gou gesels hulle lekker rugby.
Johan spreek die wens uit om die Saterdag die Rooibontes op Nuweland te sien speel en die eienaar bied gul aan: Kom saam met ons. Hy en sy vriende het ‘n ekstra kaartjie en ‘n gaatjie in die voertuig.
Als verloop gesellig en aangenaam totdat die Rooibontes die voortou neem. Hoe meer Johan opspring en juig, des te stuurser raak sy gashere. Rustyd gaan loop hulle ‘n draai. En hulle kom nie terug nie.
Toe die eindfluitjie blaas weet Johan nie herwaarts of derwaarts nie. Hy val in by ‘n klompie wat skynbaar doelgerig iewers heen op pad is. Daardie “iewers” is toe die Foresters Arms Pub (ook bekend as Forries).
Dis al goed donker toe die telefoon lui en Elise in Welgemoed die smeekstemmetjie hoor: Jy sal my moet kom haal.
Eers weier sy volstrek. Watter kant is Nuweland? En die hotel met daardie snaakse naam? Hoe ry ‘n mens in hierdie wildvreemde plek? Hy kan dit mos nie van haar verwag nie.
Maar sy penarie sink in. Daar sit die arme man sonder geld by ‘n vreemde hotel in ‘n vreemde stad. Hy is verslae en verlore. En hy is immers haar eggenoot.
Toe gaan soek sy Nuweland. Dis laat toe sy na verkeerd ry hier en verkeerd ry daar uiteindelik by die hotel stop waar ‘n paar barmhartige Samaritane intussen vir die eensame Rooibont-ondersteuner ‘n dop of twee gekoop het.
Trouens, hy kuier toe al so lekker dat hy half vies is toe hy die bekende gesig by die kroeg se deur gewaar. Maar daar kry hulle tog toe koers huis toe, sy opnuut verdwaal en onseker en hy van geen hulp nie; babbel net oor die goeie rugby wat hy gesien het.
Teen middernag was hulle tuis in Welgemoed. Die surigheid het effens langer geneem om te wyk.
NASKRIF: Elise (82) is verlede Dinsdag taamlik skielik by haar huis in Pretoria oorlede. ‘n Erg verswakte Johan (87) het ses dae later gevolg.
Dec 15, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Dr. D.F. Malan het pas in 1948 premier geword toe op ‘n kermis van die verslane Verenigde Party in Windhoek op ‘n verkiesingsplakkaat met sy gesig daarop skyfgeskiet is.
Die storie was natuurlik voorbladnuus en is op die plakkate van koerante oral uitbasuin: “Sappe skiet op dr. Malan se foto”. Toe sny van die verkopertjies in Bloemfontein die onderste lyn weg: “Sappe skiet op dr. Malan”. Die koerant het daardie middag gevlieg.
Vir dekades was die koerantplakkaat en die koerant vinkel en koljander. Die verkoper op die hoek by sy pak koerante en ‘n plakkaat of plakkate teen lamppale of boomstamme om hom heen was ’n dinamiese deel van die stedelike landskap.
Hoe meer onverwags of skokkender die nuus op die plakkaat des te groter die straatverkope daardie dag, soos daardie ondernemende verkopertjies ‘n driekwart eeu gelede met hul stoute moedswilligheid in die Rosestad gedemonstreer het.
Die laaste paar jaar het plakkate en verkopers minder begin word. Plek-plek het dit verdwyn of feitlik verdwyn. Skuins voor Kersfees kom nog ‘n knou wanneer voorste papierkoerante soos Rapport en Beeld ‘n digitale koers inslaan. ‘n Onbekende leegheid wag ook in die strate.
Gelukkig bestaan talle beelde en skilderye van koerantverkopers in talle stede. In Johannesburg is byvoorbeeld ‘n mooi beeld deur Russel Scott in Von Brandisstraat wat deur die papervervaardiger Sappi ter ere van die koerantbedryf aan die stadsraad geskenk is. (Ek hoop hy is nog daar!)
Hope historiese nuusplakkate het darem ook in museums en elders behoue gebly. Op die digitale mediamuseum Mediamense.com is ‘n heerlike versameling om ‘n mens in te kan verkneukel, onder meer – ironies genoeg – ‘n profetiese Beeld-plakkaat van 3 November 1994: RAMP VIR KOERANTE VOORSPEL. Eina, en dit was 30 jaar gelede!
Ook in die letterkunde is die plakkaat verewig. Skrywer-digter Pirow Bekker was ’n ruk in die 1960’s hoofsubredakteur by Die Volksblad. Hy kan met insig die sluier lig oor die daaglikse plakkaatskrywery in die kantoor van die senior assistent-redakteur (destyds Oom Bart Zaaiman wat later lank redakteur was).
Sy gedig “Peins oor ’n plakkaat” is in sy debuutbundel, Die Klip Sing (1965). Dit verskyn ook in André P Brink se Groot Verseboek van 2000. Die plakkaatskrywery was soms nogal ’n pynlike peins, veral as die nuus die dag skraps was.
Versamel om eerbiedwaardige Oom Bart se lessenaar was die nuusredakteur, die hoofsubredakteur en, as hy beskikbaar was, die tweede assistent-redakteur. Die hoofsub moes verslag doen oor sy stories op die voorblad: “Wat het ek op die voorblad / wat hom moontlik leen tot ’n plakkaat?”
Allerlei voorstelle is oorweeg. Zaaiman is nie maklik tevrede gestel nie. Hy had bepaalde voorwaardes oor wat mag en nie mag nie, hoewel hy tog ’n slag avontuurlik wou waag met die korter woord “dienders” vir polisiemanne. Hy is daaroor deur sy ondergeskiktes geveto.
Oor fatsoenlikheid was hy die hoofwagter op die mure. ’n Reël waaroor hy onverbiddelik was maar wat lank ophou geld het veral by die wilder ponies: “Bly asseblief net bo die nael / op ons bladsy een …” Íets soos “kaalgat dominee” (op ’n Son-plakkaat) sou hom stuipe gee.
Veral strofes in die blik van binne by die uwe vasgesteek: “Dit bly eenmaal onfeilbaar: vrees / dit laat die mens koerante lees.” Oor wat werklik die verkope kan laat val of styg kan selfs koerantmense immers onderling nogal debatteer. In redaksiekantore kom vurige meningsverskille oor nuuswaarde gereeld voor.
‘
n Joernalis van die 60’s, Jan Wessels, het oor die vraag selfs ‘n M.A. verhandeling geskryf – politiek op ‘n plakkaat werk nie, bevind hy nie verrassend nie – en niemand minder nie as D.J. Opperman verkondig van buite ‘n ander sienswyse as Beker van binne.
Opperman dig in sy bundel Joernaal van Jorik soos volg: Gee ontspanning, hou die massas dop;/ gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord, en stoot die sirkulasiesyfers op – nie dat ‘n mooi nooi of ‘n moord nie selfl ook vreesaanjaend kan wees nie.
Wat maak ‘n plakkaat uit eie reg onthoubaar? Gewis as ‘n reuse-risiko daaraan verbonde is. Die grootste waagstuk met ‘n plakkaat aan my bekend het vir ’n krisisnag gesorg vir die befaamde “Ysterman” Willem Wepener, wat redakteur van Rapport en Beeld was.
Dit was nog in sy Burger-dae in 1960, die jaar van die Sharpeville-slagting wat internasionaal opslae gemaak en die begin van die internasionale verset teen apartheid ingelui het. Die onrus het uitgekring na Langa en Nyanga by Kaapstad.
Die twee buurte sou op 30 Maart in ’n massiewe operasie om drie-uur die oggend deur ’n mag van 3 000 man omsingel word. Die inligting was uit ’n onberispelike bron. Maar hoe gemaak met die tydsfaktor? Drie-uur is vir ’n oggendkoerant met ’n groot plattelandse lesergebied veels te laat. Die rolpers vir die eerste uitgawe moet al teen elfuur draai.
Ná ’n stryd besluit Wepener, nuusredakteur: hy skryf die berig – onder ’n banier op bladsy een – en natuurlik ook die plakkaat asof alles reeds gebeur het. Sy spanningvolste nag breek daarna aan. Tuis wag hy op hete kole dat niks verkeerd loop nie. Hy maak geen oog toe nie.
Eers om 04:15 bel ’n fotograaf wat hy uit die bed laat haal het om langs die roete stelling in te neem: “Hulle was ’n bietjie laat maar is nou net hier verby.”
Verligting het oor hom gespoel. Maar hy het nie toe gaan slaap nie. Hy het vroeër Die Burger by die rolpers gaan haal. Dié is weer uitgehaal en die scoopberig oor en oor gelees. Op pad kantoor toe lees hy elke plakkaat teen elke lamppaal – ’n uiters dankbare man dat sy groot waagstuk reg verloop het.
Vir joernaliste staan ‘n plakkaat ook uit weens ‘n slim woordspel. Johanna van Eeden, stemmeredakteur van Netwerk24, onthou byvoorbeeld ‘n rugbyplakkaat uit 1997 toe die kwessie van geblikte leeus groot nuus was. Toe die die (plaaslike) Leeus daardie jaar teen die Britse Leeus van Martin Johnson uitgedraf het, het Pretoria News in haar woorde ‘n lieflike plakkaat in aanloop tot die wedstryd geskryf: CAN THE LIONS CAN THE LIONS?
Een van die beste plakkate wat hy gesien het was van die Daily Times in daai enkele jare dat hy ‘n papier-koerant was, meen oud-Beeld-joernalis Ferdie Greyling. Dit het gelees: CRITIC LIKES MOVIE! Dit was vir hom baie snaaks veral omdat hy op ‘n tyd in die kunskantoor gewerk het.
‘n Kollega wat naamloosheid verkies, onthou, tong in die kies, ‘n uitdagende plakkaat van die oorspronklike Vrye Weekblad: MIMI: MEER AS NET ‘N HEILIGE KOEI.
Marga Ley, oud-assistent-redakteur by Beeld, onthou een waarop sy “tot haar skande” ‘n spelfout gemaak het. Sy het babas met ‘n afkapkomma geskryf as baba’s. Geen haan het daarna gekraai nie.
Oor wat die sterkste nuusplakkaat van alle tye sou wees, heers in joernalistieke kringe buitengewone eenstenmigheid: Die Wederkoms.
Wanneer ‘n buiging na die plakkkaat gemaak word, moet die verkoper natuurlik nie vergeet word nie. Al was sy of haar rol relatief beskeie was in die fisieke teenwoordigheid op die hoek insgelyks ‘n integrale deel van die verkoopsproses ingesluit.
Uit my eie jare by Die Volksblad onthou ek die dae toe ‘n skare seuntjies – in ’n stadium iets soos 180 – met die varsgedrukte koerante die stad binnegevaar het om hul gebiede te bedien en hul hoeke te beman. As verslaggewer het ek ‘n keer oor daardie kortbroek-verkoopspannetjie ‘n storie geskryf. Party hartroerende stories van die nood by hul huise het ‘n vogtigheid in die jong koerantman se oë gebring.
Hoe meer koerante op ‘n bepaalde hoek verkoop is, hoe gesogter was die staanplek vanselfsprekend. Een hoek met status was op die hoek by die skoenwinkel Cuthberts in Maitlandstraat. Twee uitskieters wat daardie hoek in hul jeug hul eie kon noem, was wyle prof. Wynand Mouton, rektor van die UV en voorsitter van die SAUK, asook Frans Stroebel wat lank ‘n sleutelman in die Rembrandtstal was. Frans was ook ‘n kranige Kovsie-rasieleier.
Onder Mouton-bewind in die 40’s was dit bekend as “Nantie se hoek”. Geen indringer sou dit naby waag nie. Hy het laggend vertel hoe ‘n beskonke omie hom as onskuldige 12-jarige seun rondgejaag het as die nuus hom nie geval nie. Maar hy het goed geld gemaak: 12 sjielings en ‘n sikspens kommissie op ‘n dag. Eendag op ‘n reëndag het ‘n barmhartige samaritaan sommer 40 koerante by hom gekoop!
Dan was daar ook die afleweraars wat te fiets en met ander rygoed die koerant met bewame spoed en in alle weersomstandighede by intekenare se huise moes besorg.
Die rekord vir ‘n lang “dienstermyn” van een van die garde by Die Volksblad is iets soos sewe jaar. Dié rekord sal vir altyd deur ene Louis Slump gehou word. Die jong Louis het alles mooi opgeteken en sy “loopbaansyfers” is indrukwekkend: in die sewe jaar het hy 15 288 km (sic) op sy fiets agter 82 intekenare aangery.
Nou gaan daardie era ook verby. Helaas.
Dec 9, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Op ’n dag het ek ’n brief van Bybelkor ontvang, koelbloedig gerig aan “Geagte mnr. Van Deventer ‘Pens’”.
Waarop ek toe aan ds. Hans Linde, destydse uitvoerende direkteur, terugskryf: “U skryf aan my as … ‘Pens’. Ek kan kategories stel dat ‘Pens’ (met of sonder aanhalingstekens) nooit deel van my van was nie. Ek is ook onbewus van so ’n bynaam, hoewel dit uit ’n fisieke hoek nie misplaas sou wees nie.”
Toe ek die liewe ds. Linde nou die dag by ‘n begrafnis raakloop, onthou ek die gedoente glashelder. As iemand jou so aan die “pens”-velle beetgekry het, vergeet jy dit nie sommer nie!
Ewenwel, ná my reaksie skryf hy toe, in alle erns, terug: Die vlaggie ‘Pens’ verskyn agter meer as een naam op ’n adreslys, wat van ’n ander instansie ontvang is. Hy vermoed dat dit ’n aanduiding is dat die betrokke persoon ’n pensioentrekker is.
Inderdaad, ds. Linde, inderdaad! So was dit op ‘n adreslys van Nasionale Tydskrifte, wat daardie vabonde blykbaar aan die Kerk loop en smous het (seker ten duurste!).
En dis korrek: die vlaggie ‘Pens’ beteken wel pensioentrekker. Maar ek was darem nie regtig omgekrap nie, hoor!
Hoekom dit hier ophaal? Die sleutel is in die laaste lyntjie van die inleidingsparagraaf: dat so ’n bynaam vir die uwe “uit ’n fisieke hoek nie misplaas sou wees nie”. So was dit in 2002 toe daardie korrespondensie plaasgevind het. So is dit – spyt my waternat om dit te bely – op die datum van skrywe des te meer die geval.
Daardie bynaam sou inderdaad uit ’n fisieke hoek al hoe minder misplaas geword het. Jammer, geen foto hierby nie. Sensuur word om sensitiewe persoonlike redes toegepas.
Dec 4, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Wanneer die laaste koerante uitgespoeg is, als netjies in plek en presies gevou, en die reuse-rolperse kreunend tot stilstand knars – Beeld se rolpers in die nag van 19 / 20 Desember en Rapport s’n in die nag van 21 / 22 Desember – is twee indrukwekkende eras vir altyd verby.
Albei die gerespekteerde titels woel en werskaf al langer as ‘n halfeeu op die Afrikaanse werf. Hul wortels het diep in miljoene se leefwêreld ingedring. Geen vertakking van die samelewing kan hoop om onaangeraak te bly nie.

Tot siens, Volksblad.
By die dood van groot geeste van die woord soos Breyten Breytenbach, Hans du Plessis, Braam de Vries en Martie Retief so kort op mekaar se hakke behels hul verdwyning net nog ‘n luik in die Huis van Afrikaans wat finaal toegetrek word.
Oor die verlies vir taal, kultuur, ‘n goed ingeligte openbare mening en wat nie al nie is derduisende woorde gepraat en geskryf. Die onderwerp laat ek dus in hierdie skrywe links. Oor hoe diep dit my persoonlik raak – en hoekom so – het ek tog maar nog ‘n vir-oulaas-woord op die hart. Die woord is dalk te lank, te biografies, te egosentries, te wat ookal. Maar dis die reine waarheid en dit soek ‘n uitlaatklep.
Die voorloper in die aftakelingsproses was natuurlik Volksblad (voorheen Die Volksblad). Die koerant waar ek 12 jaar ‘n verknogte redakteur was en nog 12 jaar ander poste beklee het, het reeds vier jaar gelede as papierkoerant verdwyn en die digitale weg ingeslaan. Die verslaenheid, hartseer en pyn wat ek by daardie skeiding ervaar het, was intens. Nou, verdwyn hy selfs as PDF.
Met Beeld was die verbintenis korter en in die geval van Rapport ook minder regstreeks. Met hulle het ek nietemin ook heelwat sakke sout verslind. Die pyn tref nie net opnuut nie, maar ook wyer.
Beeld se buiging op 16 September 1974 en die wel en wee van sy vestigingsjare het ek as nuusredakteur en later assistent-redakteur op ‘n binnebaan meegemaak. Ná ‘n ietwat stadige begin weens diverse faktore het hy mettertyd die noordelike koerantmark volledig verower.
In 1983 het hy die enigste Afrikaanse dagblad in Johannesburg geraak; nie lank daarna nie in die ganse noorde. Hy styg uit tot die grootste Afrikaanse dagblad in die land en word mettertyd in vyf provinsies versprei: Gauteng, Mpumalanga, Noordwes, Limpopo en die Vrystaat.
Rapport swaai al van 1970 af die septer in die Afrikaanse Sondagmark. Van sy stigting in 1970 tot in 1974 het ek gereeld Saterdagaande in Bloemfontein as huursoldaat gewerk.
Sy opmars ná die aanvanklik ongemaklike, politiek-geïnspireerde samesmelting van die Nasionale Pers se Die Beeld en Afrikaanse Pers Beperk (later Perskor) se Dagbreek – ’n samesmyting, het die vermaarde redakteur Schalk Pienaar die geriefshuwelik genoem – was vinnig en dramaties.
In ‘n korte vier jaar behaal Rapport in 1974 – stigtingsjaar van Beeld – ‘n sirkulasie-hoogtepunt van 500 000; die eerste (en seker ook laaste?) Suid-Afrikaanse publikasie wat dit regkry.

Beeld 50.
My eie rol by Beeld begin op 11 Februarie 1974 met ‘n klein aankondiging in die bestaande dagblaaie. Drie maande later was die eerste nuusredakteur, tot barstens ingenome, sak en pak in Johannesburg. Huis was verkoop en gade, Tokkie, swanger met ons tweede kind, was swerwend tussen vriende.
In Junie reeds begin ‘n tweemanspan in die Old Arcadegebou in Markstraat (nou Albertina Sisulustraat) in die middestad om, soos Pienaar dit in sy rubriek in die eerste uitgawe elegant gestel het, “sake voltyds te organiseer”. Die aanvoerder was Johannes Grosskopf (redakteur) met my as adjudant.
Ons moes aan die werk spring om ‘n redaksie bymekaar te kry, ‘n aksieprogram op te stel, strategie uit te werk en ‘n duisternis ander voorbereidsels te tref. Die opwindende taak is naweke by die Grosskopf-huis in Linden oor ‘n glasie rooiwyn of twee voortgesit. Ons het Beeld geëet, geslaap … en gedrink.
Watter dinamiese werkplek saam met skitterende kollegas het Beeld nie geword nie. Die joernalistieke omgewing was energiek en opwindend.
Beeld en nuus was van die eerste dag af sinoniem. Of dit nou die Soweto-onluste was of die Inligtingskandaal, die raaiselagtige moord op die NP-kandidaat in Springs, dr. Robert Smit, en sy vrou, Cora-Jeanne, of ’n ongekunstelde Tukkie-meisie, Anneline Kriel, wat Mej. Wêreld word, die eerste Beeld-span sou berge versit om die storie te kry. As hulle hom het, sou hulle in eie idioom die “skouers oopmaak”.
Die herinneringe aan daardie skof is van die beste van my lang loopbaan by die Nasionale Pers – die maatskappy wat my in 1957 – amper sewe dekades gelede – ‘n beurs gegee het om my as joernalis te bekwaam.
My leermeesters by Beeld was van die deurwinterdste koerantmense van hul tyd. Niks maar niks sou my beter kon toerus nie as daardie uitdagende vestigingsjare vir die uitdagings wat die redakteurskap van Die Volksblad my in die politiek onstuimige 80s sou bied. Dit glo ek vas.
Soos sy voorganger Die Beeld, is Rapport jare lank in Johannesburg, Bloemfontein en Kaapstad gedruk. By die twee “buiteposte” moes voordat die rolpers kon draai eers omvangryke redaksionele en tegniese afronding gedoen word. Groterige spanne huursoldate van Die Burger en Die Volksblad moes volgens (soms bra ingewikkelde) voorskrifte uit Johannesburg die koerant saamstel.
Ek was van die Die Beeld-dae af in 60’s ‘n gereelde medewerker in die Bloemfonteinse satellietkantoor, meesal in die hoofsubredakteur se stoel. Dit beteken dat alle foto’s, berigte en opdragte vir die Bloemfonteinse uitgawe deur my hande moes gaan. So is ek in die Sondagkoerante se werkinge ingesleur en het ‘n hegte band ontstaan wat tot vandag duur.
Vir Rapport het hierdie 83-jarige steeds ‘n buitengewoon sagte plekkie in die hart. Om periodiek ‘n artikel tot die vlagskip-bylae Weekliks by te dra, ag ek as ‘n baie spesiale voorreg. Sondae sonder hom saam met my oggendkoffie is byna ondenkbaar.
Die verbintenis met Beeld en Rapport bied uit eie reg ‘n goeie rede waarom hul lot my gemoed so beroer, meen ek. Dit is egter nie die enigste rede nie. Trouens, daardie tien jaar verdwerg teenoor die somtotaal van plus-minus 75 jaar van my pad met koerante (leeftyd met koerante) – dalk die een of ander rekord?
Reeds in die 40’s het ek in Kimberley Die Volksblad leer ken. Aan oupa Herklaas Visser se voete by sy wiegstoel in die hoek van die eetkamer by Diagonalstraat 10 het ek as sesjarige elke uitgawe, plat op my maag uitgestrek, van hoek tot kant deurgeblaai en hier en daar stukkies “gelees”.
In 1952 is die band geformaliseer. My ouers het hulle op Klerksdorp gevestig, en ek is koshuis toe op Potchefstroom om aan die Hoër Volkskool Latyn te neem ten einde advokaat te word. Maar in 1957 word ek die eerste leerlingredakteur van Volkies se jaarblad. Die koeël was deur die kerk. Ná die voorsmakie is alle advokaatdrome terstond begrawe.
Ma lees in Die Volksblad – wat pas ’n kantoor op Klerksdorp oopgemaak het – ’n brokkie raak oor beurse vir voornemende joernaliste. Ek doen aansoek, kry een en is daarmee na die Universiteit van Pretoria vir ’n algemene BA (later ‘n paar regsvakke by). Dit was voor die tyd van kommunikasiekunde en departemente van joernalistiek.
In Desember 1958 – ’n hele 62 jaar gelede – het ek as 17-jarige beurshouer met my koffertjie van Klerksdorp na Bloemfontein geryloop vir my eerste proesel vakansiewerk in Voortrekkerstraat 79 (vandag Nelson Mandelarylaan). Een van my herinneringe is die kennismaking op wyle Wiets Beukes, assistent-redakteur, se draaitafel in ons gemeenskaplike losieshuis met die Largo-gedeelte van Antonín Dvořák se Nuwe Wêreldsimfonie.
Die simboliek het my eers ná jare getref. Met daardie eerste wankelende tree in die werklike joernalistiek is inderdaad vir my ’n gans nuwe wêreld ontsluit.
In 1961 word ek redakteur van Die Perdeby, Tukkies se studenteweekblad (sowat enigste koerant op my pad wat – nou as PDBY – in gedrukte vorm voortbestaan!) Ek word toe al as so gesout geag dat ek die somervakansie op my eentjie in Welkom aflos toe die Goudveldse verteenwoordiger met langverlof gaan.
My formele toetrede tot die “nuwe wêreld” is in 1963 as verslaggewer. Ek word parlementêre verslaggewer, hoofsubredakteur en nuusredakteur voor die verplasing na Johannesburg in 1974. (As parlementêre verslaggewer het ek die Verwoerd-era as’ t ware in die voorste ry beleef en as jong hoofsubredakteur moes ek die moord op dr. H.F. Verwoerd op 6 September 1966 hanteer. ‘n Groter nuus-“storie” het nie in my dae oor my lessenaar gekom nie. )
In die ses jaar by Beeld vorder ek tot ajunk-redakteur en word ‘n droom bewaarheid toe ek in 1976 ‘n Niemangenoot word. Dit loop uit op ‘n verrykende sabbatsjaar saam met veral Amerikaanse maar ook ’n paar ander buitelandse joernaliste aan die Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts.
Van 1980 tot 1992 sit ek by Die Volksblad in die redakteurstoel – by dieselfde lessenaar van Birmaanse kiaat waarby dr. A.J. R van Rhijn gesit het toe ek en oupa Herklaas in die 40’s in Kimberley al lief vir Die Volksblad was. Dr. Van Rhijn was redakteur van 1925 tot 1948. Sy 23 jaar was die langste skof in die pos, met my 12 jaar die naasmeeste.

In 1992 skuif ek Kaap toe as uitvoerende hoof: koerante. Dit is weg van redaksionele vuur; dit verskaf tog wel ‘n verruimde koeranterol met eers net die dagblaaie, maar later ook Rapport en die nuwe aanwins, City Press, in my portefeulje. Selfs koerantekwessies oor maatskappygrense (en landsgrense!) kom op my tafel weens betrokkenheid by bedryfsorganisasies soos Printmedia SA (eers NPU) en die World Association of Newspaper Publishers (FIEJ).
e hoof: koerante. Dit is weg van redaksionele vuur; dit verskaf tog wel ‘n verruimde koeranterol met eers net die dagblaaie, maar later ook Rapport en die nuwe aanwins, City Press, in my portefeulje. Selfs koerantekwessies oor maatskappygrense (en landsgrense!) kom op my tafel weens betrokkenheid by bedryfsorganisasies soos Printmedia SA (eers NPU) en die World Association of Newspaper Publishers (FIEJ).
Amper 40 jaar nadat ek in 1958 as 17-jarige beurshouer by Die Volksblad in Bloemfontein ingestap het, trek ek einde 1997 op ouderdom 56 in die Perssentrum in die Heerengracht, Kaapstad, my kantoordeur vir oulaas agter my toe. Saam met my gaan die Phil Weberprys, Naspers se hoogste bekroning. My geesdrif (vir koerante) en elke fase van my loopbaan word in die commenatio beklemtoon.
Ja werklik, nooit in daardie amper 40 jaar het daardie “nuwe wereld” my verveel of het ek ooit aan my loopbaankeuse getwyfel nie.
Trouens, so verweef is koerante met die vesel van my DNA dat ek afgesit het na die WAT (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) op Stellenbosch toe om die woord “koerant” te koop. Dit is my eksklusiewe woord in die WAT en is veelseggend van my holistiese passie vir die koerant as entiteit.
Elke element het tot my loopbaangenot bygedra: mense, kollegas, spertye, en veral daardie eerste tintelende aanraking elke dag met die kraakvars produk, hetsy oor jou “scoop” op die voorblad, jou rol as sub, jou hoofartikel … of sommer net as leser in jou katel met die eerste koppie koffie langs jou. (Ek borg darem ook die woord “joernalis” nie-eksklusief. Dit is my klein hulde aan daardie spesiale spesie van “salaried eccentrics” (lord Thomson van Fleet se raak beskrywing) wat hul brood in my tyd by koerante – dubbel en dwars – verdien het.)
Dis dan my storie. Oordryf ek dalk die persoonlike rou, soos selfs uit welmenende kollegiale king al gesuggereer is? Die slotwoorde van Uys Krige se gedig Ken jy die see kom by my op: “Dan sê jy nog, Meneer, die vis is duur?” Dit onlok ‘n bittersoet glimlag.
Nov 29, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Volksblad-veterane op ons stoeptrappies.
Heil die leser.
Vrolikheid en verdriet het mekaar afgewissel in ‘n gebeurtenisvolle 2024 vir die Van Deventers.
In die jaar het ons feesgevier, nog vaarte onderneem, ‘n verkiesing beleef wat onverwags tot ‘n regering van nasionale eenheid gelei het en is ‘n fliek as’ t ware by ons voorstoep geskiet.
Ons is verdrietig gestem oor die kreeftegang van koerante. Vir staatmaker-papierkoerante beteken Desember ‘n hartseer-vaarwel. Die leemte gaan groot wees. Vriende wat ons vooruit is, sluit in studentemaats Cas Jacobs en Frits Gaum, Hans du Plessis met wie ons paaie heuglik in Amerika gekruis het, Bloemfonteinse kameraad Colin Hickling en matriekmaat Van Aardt du Preez. Probus het ‘n egpaar verloor: Johan en Duba van der Walt.

Ek en Ton Voloo vier Beeld 50.
In Augustus het ons die bekoorlike dorpie Kaapschehoop in Mpumalanga geniet met die bekendstelling van die Beeld 50 boek. Die koerant se halfeeu (tegelyk eerste en laaste) is op ‘n luisterryke Natsteen (unieke koerantpartytjie) by die Nagkantoorkroeg gevier. Vir die eerste nuusredakteur was die emosionele impak groot.
In November was ons bevoorreg om ‘n 40-stuks Volksblad-kollegas vir ‘n nostalgiese spitbraai op Melkbos te huisves. In die feestelike reünie was verskeie klein reünietjies opgesluit: studentemaats, woonstelmaats, lede van die of daardie spesialisredaksie, lede van die of daardie buitekantoor en – omdat in die geledere voorste skrywers is – kollegas wat saam die of daardie boekebekendstelling bygewoon het. Selfs ook heelparty lede van die “Has Beens”en “Never Beens” wat in die 80’s in ‘n onstuimige krieketwedstryd tussen ouer en jonger redaksielede kragte gemeet het.

Tokkie op die dek van die QM II.
Oudste veterane was Herman le Roux, al die pad van Centurion af, Wilhelm Jordaan, Johan van Wyk, die “Oom” van Stop, Willie Kühn, woonstelmaat in Bloemfontein, en Pierre van Manen.
In Februarie is ons met ons gunstelingskip, Cunard se Queen Mary II, van Kaapstad na Mauritius. In Maart is ons met die MSC Splendida na Walvisbaai. Ons het gedink dis vir oulaas. Dit was nie. In Maart is ons op pad Singapoer toe vir ‘n terugvaart na Kaapstad op Cunard se splinternuwe Queen Anne. Hoop maar die kragte hou.
Sabiepark is darem nie afgeskeep nie – ons was twee keer daar; in die winter amper vir die tradisionele drie maande soos in die eerste jare. Het o.m. ‘n spogfoto in Beeld van ’n swartkop-wielewaal by ‘n aalwyn in blom opgelewer,

HvD se swartkopwielewaal.
Rondom die afskeid van die papierkoerant en die pdf’s was daar heelwat hartseer – ook aksie.’n Sterk afwysende brief is deur 14 oorlewende koerantredakteurs aan Media24 se direksie gerig. Dit is ’n brief van historiese betekenis – die eerste keer sedert die ontstaan van die Pers in 1915 dat kragte so eendragtig saamgesnoer is.
Dit was nie heeltemal vergeefs nie. Weens die kollektiewe optrede van die redakteurs – asook druk uit ander oorde – het Media24 die aflegging van 66 redaksielede opgeskort. So is die geleentheid vir oorlewing van handelsmerke met hul eie landingsblaaie op Netwerk24 geskep.
Die koeranteverwikkelinge en ander onderwerpe het HvD druk aan die skryf gehou: hope atikels en nog meer briewe in Rapport, By, die dagblaaie en die tydskrif Plus 50, asook op Litnet Op www.hennievandeventer.co.za volg vars blogs kort op mekaar se hakke.

Ag nee, Koos .
Die vermeldenswaardigste bydrae is waarskynlik ‘n repliek in Rapport op ‘n Koos Bekker–artikel onder die opskrif: “Ag nee, Koos – te veel word verswyg”. Die stuk, soos gepubliseer, noem ek die Topolino-weergawe omdat dit in ‘n koue hoekie op die stoep van ‘n toe pizzaplek op Hazyview gepleeg is met ‘n kolonie katte as geselskap. Die plek se naam is Portolino.
Aan die boekefront was daar ‘n hoofstuk oor Sabiepark se kameelperde in Protea Boekhuis se bundel Hierdie land waarin 55 skrywers vertel wat hulle van Suid-Afrika bekoor of aangryp. Die kameelperdstorie is deur Nic de Jager op RSG voorgelees.
Aan die einde van die jaar het ‘n informele selfpublikasie, Water wat verby is, met ‘n beperkte oplaag die lig gesien. Die herinnerings van ‘n vol lewe borrel steeds uit.
‘n Kawolt van ‘n ander wêreld was dit toe internasionale fliekmakers op ons stukkie aarde toegesak het om ‘n aksierolprent te vervaardig. Op ons drumpel as’t ware: op die parkeerterrein hier neffens ons onder in Strandstraat. Twee helikopters en ‘n hommeltuig was gedurig in die lug. Hou maar dop vir die fliek Huntington met Glen Powell en Margaret Qualley. Dalk sien julle ons op die stoep staan en waai
’n Verbluffende wielesiklus is in September voltooi: van ‘n treppie (perdekarretjie) tot ‘n ten volle elektriese spogmotor. Met die treppie het Oom Danie du Plessis HvD as vyfjarige en sy weduweema, Baby, in die 40’s op Kaallaagte kom haal as hulle met die Oranje-Snel uit Kimberley aankom om te kuier. Met die elektriese kar het die 83-jarige (amper 84) kennis gemaak toe Johannes Moses van Naspers hom in Kusweg, Melkbos, vir ’n kort plesierrit met ‘n Volvo XC40 geneem het.
Die ou man het hom verwonder aan al die knoppies en nuwerwetsighede, die afwesigheid van ‘n enjin en die blitsige versnelling toe Johannes so effens vetgee. Van die perdekar (1946) tot die ossewa (in 1948 op ‘n plaas buite Kimberley) tot haas elke denkbare voertuig van die volgende sewe dekades plus is nou op sy lys.
Ja, die jare stapel op. Genadiglik raak die bulte nog nie te steil nie. TvD se hartpasaangeër verrig nou al twee jaar goeie en betroubare werk.

Dit woel op “Ons Plasie”.
Met die kinders is – by die uitdagings – ook veel wat positief is. Die Van Deventers se “boerdery”op die “plasie” aan die Grobbelaarsrivier op Oudtshoorn vorder fluks – daar is al ses skape – en Migael (nou al 18) tree na vore as hoenderboer wat heel wyd eiers lewer, ook aan die padstal Spensgoed.
Die eiers kom in allerlei kleure: groen, blou en pienkerig. Die henne wat hulle produseer, heet heel gepas Easter Eggers and Black Copper Marans. Hope olywe (van elders) word onder ‘n “Ons Plasie”-etiket gebottel.
Met toenemende onafhanklikheid trap Migael ook sy driewielfiets om op Prins te gaan perdry. Die Klein-Karoo is goed vir die gesin. Ons kuier oor Kersfees daar en sien uit om al die aktiwitete waar te neem.
Die Claassense is langasems soos min. Thomas (‘n tweedejaar in Eendrag op Stellenbosch) het pas die veeleisende UTCT (Ultra Trail Cape Town) aangedurf. Jy klim amper 2 000 oor 35 kilometer teen Tafelberg en Duiwelspiek. Broer Jacob (‘n inwoner van die buurkoshuis Helshoogte) het vroeër die 21 km-marathon by die Two Oceans kafgedraf, feitlik dag en datum ‘n jaar nadat Thomas dieselfe medalje om sy nek kon hang. Marisa spog met haar eie marathon-medalje.

Langasems van Welgemoed.
Brent en Christopher doen weer hul ding in die saal. Hulle is rondom die Skiereiland in die Kaapse fietstoer – al die tweede keer. Christopher ontpop hom al hoe meer as kranige bergfietsryer wat aan nasionale kompetisies deelneem.
Tussen ons: die verste wat die ou patriarg ooit gehardloop het, was ‘n 880 in 1957. Het dit as erg veeleisend en uitputtend ervaar!
Met die allerbeste Kers- en Nuwejaarswense.
Hennie en Tokkie van Deventer
Desember 2024
Nov 24, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Elke reünie van wie of wat ookal omsluit verskeie klein reünietjies van kleiner, intiemer groepies in die groter groep. By die Volksblad se Melkbos- reünie was verskeie sulke klein reünietjies: studentemaats, woonstelmaats, lede van die of daardie spesialisredaksie, lede van die of daardie buitekantoor en – omdat in die geledere voorste skrywers is – kollegas wat saam die of daardie boekebekendstelling bygewoon het.
Een reünietjie het veral vir pret én omstredenheid gesorg: van heelparty spelers wat in die 80’s betrokke was in ‘n interne krieketwedstryd wat vir kwaai vuurwerk gesorg het. Sesse het gereën soos wanneer Springbok Heinrich Klaasen die dag in ‘n T20 op dreef is. Onstuimigheid is veroorsaak oor ‘n element van die kookwater-kolfwerk wat enersyds as poets gesien is, maar andersyds as diaboliese taktiek.
Die spanne wat mekaar daardie middag op die Polisieveld in Parkweg, Bloemfontein, aangedurf het, het onderskeidelik bestaan uit ouer, meer senior redaksielede en jonger, meer junior redaksielede. Willie Kuhn het vir hulle die name uitgedink van “Has beens” en “Never Beens” (verskoon tog maar die Engels; eintlik was ons nogal gesteld op taalsuiwerheid).
Rudie van Rensburg – einste van o.a. Hans-faam – bring toe sy “nefie” saam om die “Never Beens” se ”span vol te maak”. Dis toe die “nefie” wat minagtend lostrek en veral die stadige balle van gewrigsdraaiers Hennie van Deventer (redakteur) en Herman le Roux (sportredakteur) met min ontsag behandel. Dit was ‘n hele kakofonie soos die balle die polisiekantoor se sinkdak tref.
Van Deventer en Le Roux stem oor vele dinge saam, maar verskil hemelsbreed oor wie se boulwerk die ergste verinneweer is. Goed, kom ons sê dan maar vredesonthalwe dit was myne. Ek aanvaar ook geredelik Herman het die meeste lopies vir ons span aangeteken, hoewel ek my eie kolfbeurt onrhou as een wat nie te versmaai was nie. Een ding wat ek my nie sal laat wysmaak of toegee nie, is dat ek die een is wat die kwaadste was toe “nefie” se identiteit halfpad deur sy verwoestende kolfbeurt uitlek.
Le Roux, ‘n gemoedelike man, was propperlies woedend. So kwaad het ek hom nooit tevore en ook nooit daarna gesien nie. Darem met goeie rede, sal ek vir hom in die bresse tree. Want sien, “nefie” se naam is toe Johan van Heerden, Vrystaatse krieketspeler en huidige krieketbaas. Vreemd soos dit kan klink, het niemand hom aanvanklik onder sy kriekethoed herken nie. Rudie van Rensburg het ons behoorlik met slap pap in ’n wip gevang.
Dit was 40 jaar gelede. Die wonde het genees en gemoedere het afgekoel. Maar wou-wou ek my nie vererg nie toe ek die blerrie onboetvaardige Rudie se kommentaar van Woensdag te hore kom. “Pleks dat hulle dankbaar was dat die “nefie” nie eens geboul het nie,” het hy glo met ‘n grynslag teenoor ander kollegas opgemerk toe hulle die epiese kragmeting – en die emosies daaromheen – oor ‘n glasie in herinnering roep.
Foto: Hennie van Deventer en Herman le Roux poseer mak soos lammetjies saam met die “vyand”: Rudie van Rensburg wat hulle op die krieketveld so sleg verneuk het, en sy mede-skrywer Deon Meyer.