SPESIALE COMRADES VIR ‘N SPESIALE SKOOL

Louis Massyn tussen Legacy se kinders.
Die legendariese langasem Louis Massyn durf vanjaar sy 50ste Comrades-marathon aan – die eerste atleet in die geskiedenis wat die prestasie vermag.

Louis Massyn tussen Legacy se kinders.
Die legendariese langasem Louis Massyn durf vanjaar sy 50ste Comrades-marathon aan – die eerste atleet in die geskiedenis wat die prestasie vermag.

Alta Geldenhuys
Wie is nou die oudste lewende Nasperser? Met die heengaan van André Cloete was dit onder veterane van die maatskappy dadelik die vraag.
Die (waarskynlike) antwoord kan vir party ‘n verrassing wees: dis na my wete Alta Geldenhuys (94), weduwee van die minsame Kootjie Geldenhuys, oud-hoofbestuurder van Die Burger, wat die onderskeiding gehad het dat hy by drie koerante die bestuurshoof was, eers Oosterlig, toe Die Volksblad, toe Die Burger.
Alta was voor hul troue ná matriek vyf jaar lank, van 1947 tot 1952, self ‘n snelskrif-tikster by Oosterlig. Sy woon nou in die aftree-oord La Provence in Welgelegen, en is nog heel op en wakker.
Kootjie was bemind oor sy mensliewendheid. Sy voorslagvrou is van dieselfde stoffasie. Oor haar ingesteldheid vertel ‘n oud-Burgerman ‘n mooi storie. Hy het ’n Saterdagmiddag na ’n ander huis getrek. Die baas kom toe in die reën met ’n kommetjie sop, toebroodjies en ’n paar trossies druiwe by die nuwe adres aan. “Alta stuur dit, want dis maar altyd deurmekaar met ’n trekkery.” Hy het nie eens geweet sy ken hom nie.
André Cloete is gister op George oorlede. Die wellewende en wyd gerespekteerde André het in 1991 afgetree as hoofbestuurder van die reuse-tydskriftefabriek in Paardeneiland. Voor my tyd was hy Die Volksblad se fabrieksbestuurder in Bloemfontein.

Op die foto wat verlede jaar geneem is, is Alta saam met Andre Cloete in Plattekloof. Die gesinne Cloete en Geldenhuys was lewenslange vriende.
Hy was ook die oudste lewende wenner van die Phil Webermedalje, hoogste eerbewys van Naspers ter bekroning van ‘n voortreflike loopbaan; waarlik ‘n man uit een stuk.
Hy en sy twee voorgangers op die ouderdomsleer, Gert Terblanche en Wiets Beukes, was al drie Volksbladders. .Interessant dat Alta ook via Kootjie so ‘n konneksie het. Wie naasoudste is? Ek weet nie. Aubrey Smith, oud-fabrieksbestuurder van Die Burger en Die Volksblad, kan ‘n kandidaat wees.
Iets in Bloemfontein se water dalk?
Herman le Roux hou ‘n Volksbladlys op datum. Daarop is André (Slang) du Plessis (92) bo en Herman (89) self tweede Daan Rossouw (89), Pirow Bekker (89) en Paul Marais(88) blaas in hul nekke.

Drie Volksbladders wat geliefde rubriekskrywers by Beeld geword het: Tom Ferreira, Wilhelm Jordaan en Johan van Wyk. Die foto is deur Volksbladman Tobie Wiese by ‘n groot Beeldparty in Januarie in Kaapstad geneem.
‘n Moontlike laaste woord van my kant oor Beeld en Die Volksblad – die twee primêre koerante in my lewe – is hoe vrugbaar die een deur die ander bestuif is. Die rol van Die Volksblad, oudste koerant in die ou Nasionale Persgroep, in die bestaan van 50 jaar van die jongste, Beeld, was met een woord formidabel.

Plus-minus ‘n spanfoto van Saterdag se Beeldparty, hoewel onvolledig. Foto: Tobie Wiese. .
Vra Beeldmense wat hul koerant in sy te kort lewensloop van 50 jaar onderskei het. Die meeste sal sonder aarseling antwoord: sy magiese raakvat-manier om ‘n groot storie hard te slaan.
Legendaries is hierdie reputasie vir skouers oopmaak, wel; al uitskieter-eienskap is dit egter nie.
Saterdag by Welgemeend in Kaapstad het kollegas soos Barnard Beukman, laaste redakteur, Michelle van Breda, Jan-Jan Joubert en Arlene Prinsloo met passie ook ‘n hele rits ander eienskappe opgenoem – van sy klem op kwaliteit en sy altyd vernuwende politieke denke tot ‘n sekere hardekwasheid. Hy het hom deur niemand laat rondstamp nie.
Een dimensie het by Welgemeend sterk na vore gekom: sy kreatiwiteit. Opvallend vir haar was die stories oor hoe kreatief en mal letterlik almal in die redaksie gedink het oor hoe om hulle koerant te bemark – en almal dit gedoen het, van verslaggewers tot die redakteur. So het Elmari Rautench agterna opgemerk.
Elmari het presies die gedagte uitgespreek wat stilletjies ook by my opgekom het terwyl ons gasheer, Ton Vosloo, derde redakteur, aan die woord was.
Hy het op die tema voortborduur na aanleiding van ‘n foto van hom met ‘n bottel sjerrie voor die mond wat saam met dosyne ander ou foto’s aan ’n ”wasgoedlyn” was waarvoor Anet – altyd een vir verrassings – gesorg het. Dit is in 1980 geneem toe Beeld die feit gevier het dat hy Die Transvaler in die sirkulasie-wedloop verbygesteek het.

Die bottel mampoer.
Van een bottel na ‘n ander. Ton het daarop na ‘n bottel in sy hand verwys. Dit is iets kosbaar, het hy verklaar: ’n bottel mampoer van 1982. Dit is deur David Moolman namens die redaksie aan hom geskenk toe dit bekend geraak het dat hy Beeld moes verlaat om na Naspers in die Kaap te gaan. Beeld het toe al vier die Perskor-dagblaaie in Transvaal begrawe, of liewer, ”hulle het hulself met syferfontein in n mynskag verondeluk”.
Spotprenttekienaar Orin Scott het die etiket gemaak. Ton se gesiggie is daarop, Beeld se logo en die leuse: “Mampoer in sy moer”. Onderaan in n kringetjie is geskryf: “Baai-Baai Beeld – Hello Moonshine”.
Ton het die aanwesiges genooi om die bottel oop te maak en n slukkie te neem. Niemand was dapper genoeg nie.
David Moolman het Ton onthou. Hy was redaksielid (aanvanklik assistent-nuusredakteur) maar het gou die koerant se reklamemens geword. Hy het bv strokies met byderwetse slagspreuke laat druk en dit op motors se agternommerplaat laat plak. Dit het Beeld as nuwe koerant bewegend geadverteer.

Barnard, Ton en Tim – die drie redakteurs op die party. Foto: Tobie Wiese.
‘n Ander veteraan, Theuns Kruger, wat teenwoordig sou wees, maar toe uiteindelik nie kon kom nie, het in die eerste somervakansie aan die Natalse kus in 1974 in ‘n helikopter gevlieg en ballonne met slagspreuke afgegooi op die strande om Transvalers nie van die nuwe koerant te laat vergeet nie.
Theuns het ook die gevaarlike ding gedoen om met toue teen die Ponti-toring-gebou tot bo te klouter en n groot banier vas te aak met die woorde “Beeld soggens”. Sy hoop was dat TV in 1976 die banier sou oppik as hulle Ellispark daarnaby asfneem tydens n rugbytoets. Dit was hoe Beeld se span reklame bedryf het.
‘n Groot “oorstootdrie” was toe hyself op die gedagte kom van wat bekend geword het as die Minipot. Dit was ‘n kort blokkiesraaisel met vyf dae se vrae en en dan moes die lesers dit instuur, dws uit koerante knip. Beeld het yslike sakke vol inskrywings gekry, want elke week se wenner van R10 000 is Maandae aangekondig.
Die’ wedstryd het vlamgevat en verkope het reusagtig gespring. Hy het Vrydagaande met vol sakke inskrywings huis toe gery en Saterdae het sy dogter, Nissa, en haar Hoërskool Lindenmaats in sy studeerkamer die wenners uit die derduisende inskrywings uitgesoek.
Dit het Wimpie de Klerk en Die Transvaler omtrent vyf weke gevat om te besef hier is iets aan die gang by Beeld en toe begin hulle n soortgelyke spel. Dit het beteken die bestuurder, Eric Wiese, moes by hoofkantoor meer kontant vra. Dit het te erg geword, want die twee persgroepe het nou elke week duisende rande in die spel geplaas. Hulle het toe tot n vergelyk gekom en die spel gestop.
Maar die ware boodskap was: Beeld se sirkulasie het met meer as 30 000 in paar weke gegroei en Die Transvaler s’n nie. Na’ die spel het Beeld sy verkope-styging behou en die eerste Afrikaanse dagblad geword om 100 000 verkope oor ‘n sesmaande-gemiddelde te handhaaf.
Daardie jare kan nou onthou en gevier word as die goue jare van Afrikaanse dagblaie se groei en vestiging by die leserspubliek, het Ton verklaar. Daar was algemene instemming.

Groot stories word gesels.
‘n Vorige woord uit my hart oor die koerant Beeld wil ek graag vandag herhaal: dat ek nie weet van enige ander koerant waarin soveel mense soveel liefde gestort het nie. Daardie liefde vir hul koerant is gister by ‘n unieke totsiens-geleentheid in Kaapstad deur nagenoeg vyftig van hulle innig betoon.
Beeldmense van in hul 80’s; party kromgetrek en met kieries, en Beeldmense in hul fleur het in die Welgemeend-onthaalsentrum van die Hoërskool Jan van Riebeeck in die Tuine oor die begin – en einddae van Beeld van 1974 tot 2024 gekuier.
In die span wat aan die voet van Tafelberg met fyn happies en keurwyne, vertel en gesels hul geliefde blad gedenk het, was begeesterde bouers uit al vyf dekades van Beeld se bestaan. Elf pioniers van die stigting in 1974 was, was gister teenwoordig. Ook een bittereinder wat op die dek van die goeie skip Beeld was toe die laaste, droewige fluit op 20 Desember 2024 gegee is.

Tom (Dwarslat), Max en Julia

Van die pioniers.
Die elf pioniers was (in chronoliese volgorde): Johan Binneman (rekenmeester), René Bosch (kafeteria), George Boshoff, Johan Bruwer, Renéé Conradie , Ebbe Dommisse, Max du Preex, Harry Hill, Hennie van Deventer, Hannes van Zyl en Ton Vosloo (almal redaksie).
Ton, derde redakteur , en sy vrou, Anet, was die gulle gasheer en gasvrou. Anet, altyd kreatief, het die teenwoordiges verras met ‘n “wasgoedlyn” met foto’s uit hul Beeld-dae.
Die bittereinder was Barnard Beukman, laaste redakteur. Deur sy teenwoordigheid is dus ‘n voltooide kringloop van 50 jaar weerspieël – ‘n merkwaardigheid.
Barnard was een van drie oud-redakteurs by die byeekoms, saam met Ton Vosloo en Tim du Plessis. ‘n Vierde, Willie Kühn, sou kom. ‘n Mediese rede het voorgeval. Een hoofbestuurder was daar: Jan Malherbe.
Van redakteurs (en uitgewers) van ander publikasies was daar ‘n menigte – onder meer van Die Burger, Rapport, Volksblad, The Citizen, Vrye Weekblad, Sondag, Sarie, Huisgenoot, De Kat, Woman’s Value, Idees en Insig.
As redakteursfabriek het Beeld die joernalistiek inderdaad met briljante uitvoerprodukte verryk.
Drie veteraan-rubriekskrywers het saamgekuier: Wilhelm Jordaan (hy skryf Mens tot Mens wat later Deurloop geword het en nog later Van Alle Kante, reeds vir 38 jaar ononderbroke), Tom Ferreira (Dwarslat vir 13 jaar) en Johan van Wyk (Potjiekos vir 10 jaar). Wilhelm het iets soos 1 800 rubrieke agter die blad. Niemand het ‘n langer werkverhouding met Beeld nie.
’n Hele biblioteek van teenwoordige Beeld-skrywers/uitgewers/redigeerders se boeke kan ’n mens jou ook verbeel,

Egpaar Van Breda en Elsa Godden (Kruger).
Te midde van die harde werk het die liefde wel kans gekry om te blom. Minstens vyf egpare was teenwoordig: Dewald / Michelle van Breda, Fanie / Lisel Krige, Peter Masher / Laetitia Pople en Jan de Lange / Carolien Saayman /Tienie en Elkafrien Fourie.
Van die kollegas wat Suid migreer het, is verskeie al heen, onder andere Schalk Pienaar, Johannes Grosskopf en Salie de Swardt (eerste, tweede en vierde redakteurs), Jack Viviers, Ben van Rensburg en Piet Gouws, en redelik onlangs Martie Retief, Thys Odendaal en Jan Morgenrood.
Onder genooides wat nie kon kom nie – altesaam 29 – was Johan Holzapfel, Kerneels Breytenbach, Lisa de Swardt, Arrie Rossouw, Chris Karsten, Adriaan Basson, Waldimar Pelser en Joan van Zyl. Van drie kon geen spoor gevind word nie. Een is Orin Scott, eerste spotprenttekenaar.
Wat het die afwesige kollegas nie gemis nie! Soos Arlene Prinsloo, een van die later generasies, dit op Facebook stel: “Dit was ‘n lieflike kuier van oud-Beeldmense. Ons het gesels. Staaltjies uitgeruil. Na toesprake geluister en meegedoen nes ons kan en vreeslik oor die warm weer gekla! Wonderlike herinneringe. Wonderlike mense.”
(Hierdie is ‘n eerste aflewering van my kant. n Tweede volg eerlank. Foto’s hierby is deur Rene Bosch.)
Dat spioenbaas Niël Barnard op Gansbaai – Gansbaai! – te ruste gaan, wek herinneringe aan my eerste besoek aan daardie wyke.