Mar 15, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Ken jy die sprokie van die kleure van die reënboog wat mekaar in ‘n epiese wedloop die stryd aansê?
Oor berge en deur dale jaag hulle mekaar: rooi, oranje, geel, groen, blou, indigo en pers, Dan is die een voor, dan die ander. Met die wenpaal in sig breek rooi weg.
“Rooi! Rooi!” bulder die skare. Rooi breek die lint. Hy kry die wennersmedalje om die nek.
Ken jy die sprokie nie? Moenie sleg voel nie. Al plek waar dit bestaan, is in die ou man se verbeelding.
Al van eergister af is hy egter begeesterd met rooi. Eers het die “bloedmaan:”gekom en gegaan. Toe breek 15 Maart aan: Tokkie se verjaardag. My vrou betree haar laaste jaar as 70-plusser. In 2026 rol die sewe om en word ‘n agt.
Rooi is natuurlik haar kleur. Vir haar het ek ‘n keer ‘n versie geskryf:
Tooi jou in rooi,
my rooibloedvrou,
om my vir altyd
aan jou voete te hou.
En tooi sy haar nie graag in rooi nie. (Onthou die rooi baadjie!) Hoe groter die okkasie, des te rooier trek sy aan. Die oorheersende prentjie van haar in my kop is as bruidsmoeder met die dieprooi vollengte-tabberd – veel rooier as die rooi van ‘n “bloedmaan”. Later skop sy hom uit. Dis nou langbroektyd – ewe rooi, ewe mooi.
Toe Tokkie 60 geword – ook al 19 jaar gelede – het wyle kollega Ollie Olwagen vir my ‘n stylvolle webblad ontwerp om daardie mylpaal te vier. Rooier kan ‘n webblad nie.
Nadat ek gewik en geweeg het, het die besluit maklik gekom: dis die regte illustrasie vir vandag. Dan dien dit sommer ook as hulde aan daardie uiters kreatiewe kollega wat enkele weke gelede ter ruste is.
Mar 12, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die nagemmer was dekades lank die konvensionele tegnologie vir daardie kleinste vertrekkie van ‘n huis, bekend as toilet, latrine, privaat, kleinhuisie en dies meer.
Dit was ook die heersende stelsel as die nood druk in my grootwordjare in die 40’s – buiten vir periodieke kennismakings met die nog onaangenamer puttoilet op besoeke aan diverse familie op plase en in die bos. Vir dié spesie had ek ‘n ewige aversie weens verskeie onplesierighede wat ‘n mens in jou broosheid om jou kon aantref: spinnekoppe, skerpioene, maaiers, knaagdiere, selfs slange.
Toe ek my verstand kry, in Kimberley, was die kleinhuisie onder die peperboom in die hoek van ons erf met die nederige skakelhuisie part en deel van ons bestaan. Die emmer is snags verwyder. Honde-pandemonium het die eksakte tyd aangekondig.
Vir nagtelike nood is die kamerpot aangewend. In een sitting het my eerste wisseltand glo in so ’n potjie beland. Arme tandemuis!
Rede vir die ongewone herinneringe is die herontdekking van ‘n sterstelsel vir toilette van ‘n berese Britse egpaar. Hulle klassifiseer die geriewe op hul pad volgens ’n sterstelsel (eintlik gebruik hulle toiletrolle pleks van sterre) wat nogal met SA standaarde ooreenstem.
Vyf rolle beteken ‘n voortreflike gerief stil, skoon, ruim, goed toegerus, bevorderlik vir meditasie.
Vier beteken jy hoef nie bekommerd te wees oor moontlike steurnis, siekte of ongerief nie.
By drie is al ‘n klein insinking in kwaliteit. Papier is soms afwesig, die deurslot werk nie altyd nie, die waterwerke is wisselvallig.
Twee rolle deug in ‘n noodgeval. Water spoel dikwels nie en altyd met ‘n vreesaanjaende gerammel in die pype. Lastige insekte kom voor en nare graffiti ontsier die afgeleefde mure
Eenrol-toilette is bedoel net vir ernstige noodgevalle as geen ander alternatief hom voordoen nie. Die plekke is vervalle, die nare aroma is permanent. en elke besoek is ’n uitdaging vir jou wilskrag.
In my 84 jaar en twee maande tot op datum het ek bepaald met al vyf soorte kennis gemaak. Die detail hou ek liewer vir myself.
Met die leeftyd se ervaring kom egter die hoogste waardering vir die soort gerief waarmee n mens deesdae in jou eie huis en by ordentlike openbare aandoenplekke bederf geraak het.
Nie almal van ons het 16 badkames soos Harry en Meghan op hul eksklusiewe landgoed doer naby Hollywood aan die Amerikaanse weskus nie, maar twee is amper vir ons generasie die mees basiese norm.
Dit bring mee die gerusstelling van relatiewe privaatheid, die voordeel van gelyktydige gebruik en die gemoedsrus wat ‘n bekende omgewing waarin jy volkome tuis en onbedreig voel, jou besorg.
As jy jou buite jou eie domein bevind en noodwendig op ander se gasvryheid (as dit die regte woord is) moet staatmaak, kan jy jou maatstawwe aansienlik hoër stel as eers.
Ek tel my onder diegene vir wie ‘n gedeelde badkamer/toilet buite die klein gesinskring iets is wat tot elke prys vermy moet word. Dit is helaas nie altyd moontlik nie. Dan moet jy vat wat jy kry met allerlei verleenthede en ‘n verlies aan waardigheid nie uitgesluit nie.
Soos op ‘n vliegtuig. Op ‘n Boeing of ‘n Airbus is daardie areas waar jy die rye piepklein holtetjies ingeryg sit, vir my atyd beklemmend.
‘n Mens voel mos of alle oë jou volg en alle ore gespits is vir aksie daarbinne. Die onvermydelikheid om op ‘n lang vlug ‘n paar besoeke daar af te lê – en die noodverklappende toustanery wat dit soms meebring – het dalk in my onderberwuste ‘n rol gespeel is waarom pas van ‘n reis weggestap is waarvoor ek aanvanklik nogal aansienlike gretigheid opgebou het.
Hoe ouer ‘n mens word, hoe minder het jy egter krag vir vermybare spanning. En – dit moet ek nou maar van die hart kry – vir my is daar hoegenaamd niks ontspannends nie om in ‘n klein metaalhokkie kilometers bo seespieël teen 700 km/h voort te snel , welwetende dat ‘n dosyn ongeduldige ander pasassiers wens jy wil klaarkry.
Die blote gedagte maak my benoud. Dan bly ek liewer tuis.
Mar 5, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Frans klink ‘n glasie (?) met Tokkie van Deventer op ‘n Probuskuier by Penguin Place 11. Pieter Jacobs skud net sy kop.
In 1995 het ‘n wildvreemde Frans en Lourette Ellis hulle uit Oos-Kaapland op Melkbosstrand kom vestig. In dertig jaar het hulle gewaardeerde Melkbos-juwele geword wat die gemeenskap in vele opsigte gedien en verryk het. Nou skuif hulle aan Mosselbaai toe.
By die Probusklub. ‘n vriendskapsklub vir afgetredenes waar die joviale paar diep spore getrap het, is gister van hulle afskeid geneem. Die oudste lewende pionier, Henri van Biljon, het hulle gehuldig as “Probusvriende so uit die boek”, altyd gewillig, om te help en planne te maak vir uitstappies; “ware diep vriende van wie die herinneringe altyd by ons sal bly”.
Hulle was ook tuisonthalers en gashere soos min, het Henri tereg gemeld – “vriende met wie lekker gesels is oor wat verby is, oor mense wat ons geken het en oor al die plesier en plekke wat ons gesien en beleef het.”
Almal al saamstem: hulle is werklik mense wat hulle hart en siel in die klub gestort het. Waar interessante of avontuurlike dinge gedoen is, was die twee meesal op die voorpunt.
Frans verlaat die klub as chronologies die naasoudste aktiewe lid en na vele skofte as ‘n ankerlid in die komitee. Lourette wat een van die eerste vrouelede was, is die entoesiastiese ondernemer wat veral die laaste twee jaar – maar ook al tevore – die voortou geneem het om dosyne uitstappies te organiseer: toere, konserte en diverse ander feestelikhede.

Lourette klink ‘n glasie met Barbara Nel op ‘n Probus-uitstappie op Blaauwberg. Die twee verjaar saam.
Waar was ons nie oral toe die huppel in die stap nog daar was nie? Namibië, Kgalagadi, Krugerwildtuin, Oos-Kaapland – om net ‘n paar te noem. Ons het gevlieg, gevaar, trein gery of in konvooie met bussies en ons motors die pad aangedurf. En die Ellisse was sonder uitsondering ‘n dinamo.
Buite Probus het hulle bekendheid verwerf as jarelang eienaars van die Melkbosch-gastehuis in Mostertstraat. Frans het lank ’n suksevolle eiendomsagentskap bedryf. Na aftrede het hulle gewig ingegooi by die Woonwaklub en met ‘n gerieflike ryhuis die wêreld platgery.
Die Probusklub is ‘n borg van die woord “kuier” by die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT). Dis nie om dowe neute nie, soos hierbo blyk. In die egpaar Ellis is daardie gesellige kuier-element vergestalt.
So 15 jaar gelede het ek oor mede-Probuslede versies geskryf. So het Frans (en Lourette) se versie gelui:
Dis louter plesier as Frans Ellis jou pêl is;
En jy nog boonop by Lourette ook in tel is,
Dan kan jy reken op goeie wyntjies en kos
Só lekker kuier die Ellisse se pêlle mos!
Dis werklik hoe ons Frans en Lourette sal onthou – as van die lekkerste pêlle om saam mee te kuier. Hoe vreemd sal dit nie wees nie om dit vorentoe sonder hulle te doen.
Feb 24, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Ollie op dreef op ‘n afskeid vir joernalis Aat Kaptein (regs). Kyk uit vir ‘n jong Bart Zaaiman.
‘n Keer is prima ballerina Margot Fonteyn ná ‘n opvoering in die Bloemfonteinse stadsaal onder blomme toegegooi. ‘n Kort eenreëlkop (opskrif) is vir ‘n voorblad-stoepberig vereis. Ollie se skepping: “‘n Blom-Fonteyn”.(‘n Stoep was die storie onderaan die blad.)
Niemand het ‘n beter kop gehad as die woordsmid sonder weerga as dit kom by die die skryf van kort, kernagtige en gevatte koppe nie … of, soos ‘n ander kollega dit gestel het, sonder veel kopkrap kon hy skitterende koppe skryf.
Ollie was ook die koerant se eie “kabaretster”, die siel van afskeide en diverse okkasies met gevatte rympies en liedjies wat hy spontaan kon optower. Sy “Die siel van die mier is nou hier” het ‘n soort legendestatus by tydgenote verwerf. Toe hy Kaap toe is het hy almal verstom deur sy hele afskeidstoespraak van ‘n rol telekspapier af te sing.

Subkantoor; ek en Ollie op ons poste.
Van die verre herinneringe wat opgediep is by ‘n Volksblad-fees op Melkbos in Desember was van liedjies wat in die aanbreekjare van die 60’s in die subkantoor gebore is. Een waarvoor ek na al die dekades steeds ‘n besonderse affiniteit het, is die Siek-liedjie van Ollie en Paul Marais op die meesleurende wysie van ”Somewhere in France with You” – beginnende by “Her two blue eyes, two blue eyes. keep smiling at me …”
Dis ‘n muishond met ‘n vleiswond / En psigosikose
Dis ‘n bloedhond met ‘n bloedklont / En koronere trombose
Dis ‘n mank skisofreen – met ‘n versteende been / En die oom in die boom het tragoom.
Selfs hierdie toondoof, onmusieklike ou man word beweeg om sy heupe ritmies te swaai. Sing saam – in die stort of waar ookal. Dis net lekker.
Die geboorte van een Ollieliedjie onthou ek of dit gister was. Ek was hoofsubredakteur en was nog op soek na een lekker storie om dit daardie dag ‘n goeie voorblad te maak. Volgende oomblik: hier’s hy. Dis ‘n storie van ‘n aangrypende olifantdrama in die Addopark wat pas per teleks opgedaag het van die destydse susterskoerant in die Baai, Oosterlig.
Sub gou, Ollie, sê ek (wat hoofsub was) vir my regterhand, Lekker storie, sê Ollie toe hy begin lees. Inderdaad. Voorbladstof van die eerste water.

As subs plesierig raak: ek, Paul en Ollie.
Ouma, ‘n gedaan ou olifantkoei in Addo, is deur die leierbul, Hapoor, ‘n genadedood toegedien. Die vorige paar dae was Ouma al slingerend. Genoeg is genoeg, het Hapoor besluit. Agter ‘n bos het hy een van sy lang ivoortande diep in haar hart gedruk. Met haar bloed druppend van die tand, het hy van agter ‘n bos tevoorskyn gekom.
Daarop lei hy die trop na Ouma en rangskik hulle om die karkas. Hy het hulle as ‘t ware uitgedaag om sy daad te bevraagteken. Geeneen het nie. In die stroewe ritueel wat gevolg het, het elkeen aan die karkas geruik en opsygestaan. Haar seun Lanky het alleen oorgebly vir ‘n doodswaak.
Nog dieselfde middag het Ollie oor Hapoor en Ouma ‘n liedjie gemaak: ”Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot ….” In plesierige oomblikke het ons span subs oor ‘n bier (ná werk natuurlik) graag Ollieliedjies soos dié aangehef.
Ollie se skeppende talente het geen einde of ophou geken nie.

Ollie se webblad vir Tokkie60
Hy het hom as ondersoekende joernalis onderskei en het ’n deurslaggewende rol gespeel om die storie van Racheltjie de Beer as ‘n Suid-Afrikaanse variasie van ’n ware Amerikaanse insident te ontmasker.
In sy aftrede het hy ook begin om uitstekende politieke briewe aan koerante te skryf – soms in “immaculate English”.
Toe gade Tokkie 60 geword – ook al amper 20 jaar gelede – het Ollie vir my ‘n stylvolle webblad ontwerp om die mylpaal te vier.
Daar was waarlik net een Ollie – duplisering van sulke enorme kreatiwiteit in een mens is eenvoudig nie moontlik nie.
Feb 21, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Op Moedertaaldag onthou ek ver-ver terug die eerste aand, iewers in 1959, toe ek ‘n nog jong Mimi Coertse in die Aula op die Tukkiekampus O boereplaas hoor sing het:
O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.
Al dwaal ek heel die wêreld rond,
waar so gelukkig, so gesond?
O boereplaas, geboortegrond!
Jou het ek lief bo alles.
O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.
Die wêreld, rykdom, prag en praal
kan jou verlies my nooit betaal.
O moederhuis, waar ooit so tuis?
Jou het ek lief bo alles.
O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Van al die tale wat ek hoor,
niks wat my siel ooit so bekoor.
O moedertaal, o soetste taal!
Jou het ek lief bo alles.
Feb 20, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Max du Preez se Vrye Weekblad groet vandag ‘n derde keer. Hierdie keer is dalk finaal. Sy geldsake is eenvoudig te beroerd.
Of ‘n mens nou met die blad se sienswyses saamgegaan het nie, moet jy benadruk: die verlies van elke publikasie laat ‘n leemte en moet betreur word. Vir Afrikaanse lesers is dit skok op skok nadat ook Rapport en Beeld in resente tye pad gevat het.
Ek deel graag ‘n minder bekende stukkie geskiedenis oor die eerste ondergang van die blad wat in 1988, drie jaar nadat die Rand Daily Mail daarmee heen is, sy buiging as super-verligte weekblad gemaak het.
Sy ondersoekende joernaliste – moet Max du Preez nie onderskat nie! – doen toe plek-plek uitstekende werk met deurvorsende joernalistiek, soos die onthulling van die Vlakplaas-skandaal (iets waaroor ons hoofstroom-blaaie nie rede het om op trots te wees nie.) Maar sy aggressiewe, disrespekvolle politieke aanslag verower nie die mark nie.
In 1993, ná net vyf stormagtige jare, loop dinge vir hom sleg skeef – juis toe ‘n mens kon verwag het dat ‘n koerant van daardie aard se dag nou aangebreek het.
Wat doen die Nasionle Pers toe? Hy skink nie vonkelwyn en verlustig hom in Vrye Weekblad se penarie nie, maar loods vanuit die Perssentrum in die Heerengracht ‘n klandestiene reddingspoging.
‘n Senior oud-amptenaar, Jan Prins, word dadelik na Johannesburg gestuur om die terminale pasiënt te gaan ondersteun. Die Pers het al die koste gedra en Jan boonop ‘n salaris betaal.
Selfs dié pogings kon ongelukkig die ondergang nie uitstel of keer nie. Soos bekend, moes Vrye Weekblad vroeg in 1994 sy deure sluit – die eerste keer.
‘n Naskrif op ‘n ligter noot oor Du Preez se eie metodes van geldwerwing vir sy publikasie . Dit was soms bra onortodoks. In sy biografiese ontboeseming, Pale Native: Memories of a Renegade Reporter (Zebra Press, 2011) vertel hy byvoorbeeld sonder skroom van ‘n kuiertjie met ‘n kinkel by ‘n eensame, ryk weduwee. Hy moes as’t ware “sing for his supper” maar hy is nie onbeloond met leë hande huis toe nie.