Jan 18, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Almal bo ‘n sekere ouderdom is in die vertreksaal, wagtende op hul eie vlug/vaart om te vertrek. Van die gesegde kan kwalik ‘n treffender illustrasie bestaan as ‘n foto in die pamflet vir kollega Jean le Roux se gedenkdiens die week.
Die foto beeld hom uit op Rotterdam se hawe op pad vir ‘n vaart na Noorwee. Dit word ook op die dankieboodskap (hierby) afgedruk.
Uit daardie pamflet -‘n kunswerk uit eie reg- wil ek graag nog drie dinge deel.
Die eerste is ‘n goeie naam vir ‘n groepie afgetredenes wat ‘n saameet-klub bedryf, soos Jean en sy Burger-span van die jare 90 gedoen het. Hulle het hulleself die Romeo’s genoem: Retired Old Men Eating Out.
Nommers twee en drie is stories uit ‘n bydrae deur sy vriend en kollega Jas du Preez oor Jean se minder roemryke sportloopbaan.
Jas vertel hy het ‘n keer saam met Jean in ‘n gholfdag gespeel. Op die eerste bof – net voordat hulle afslaan – vra hy hulle aandag en kondig aan dat, soos hulle weet, hy nie ‘n wonderlike gholfspeler is nie. Dit irriteer hom egter as hy ‘n swak hou speel en almal doer kyk. Hulle mag maar lag.
Ná die derde bof kyk hy hulke aan en laat hoor: :”Ek het nie gesê julle moet julle slap lag nie!”
Jas deel voorts mee: Jean het vir sy skool se eerste span slot gespeel, maar nooit ‘n drie gedruk nie. ‘n Keer is daar ‘n lynstaan naby die opponente se doellyn. Hy kry die bal en sien ‘n oop doellyn voor hom. Hy draf deur vir sy eerste drie. Hy wou dit op ‘n klassieke manier doen en die bal met een hand neersit soos ‘n wafferse agterspeler. Ongelukkig druk hy die bal op sy voet en skop dit oor die doodlyn – en dit voor die hele skool.
As ek iets mag byvoeg, sou dit wees dat staatmaker Jean weg van die sportveld af baie skitterende bofhoue geslaan en talle keer agter die doellyn gaan kuier het. Hy was vir enige span baie punte werd, die ou grote met o.m. ook die wonderlike vermoë om vir homself te lag
Jan 18, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

‘n Storie in Vrye Weekblad (10/8)) oor ’n pypaansteker uit Noord-Korea laat my terstond in ‘n laai in my kroegie krap. Daaruit grawe ek ‘n groen aansteker met sy eie storie en twee verrassende raakpunte, weliswaar ietwat verroes, maar in goeie werkende orde.
Max du Preex, redakteur, vertel in sy blad van ‘n onderhoud 20 jaar gelede met prof. Pieter de Lange, oud-voorsitter van die Afrikaner-Broederbond, volgens my een van die belangrikste, maar ietwat miskende, figure in die vreedsame politieke oorgang van die land.
Duidelik het de Lange se realistiese insigte en mededelings ook vir Du Preez getref. Sy weergawe is onbesproke ewewigtig. Maar dit daar gelaat.
De Lange het Du Preez vertel van ‘n ontmoeting in Junie 1986 met Thabo Mbeki in New York by ’n konferense van die Ford Foundation. “Ek en Thabo het goed klaargekom. Ons is albei pyprokers. Ons kon toe ons pype opsteek.”
De Lange se pypaansteker wou nie werk nie, en Mbeki het sy pyp aan die brand gekry – met ’n aansteker wat pres. Kim Il-sung van Noord-Korea vir hom gegee het.
Die storie was die sneller wat my na my aansteker gaan laat soek het – so ‘n groenetjie met die logo van Umkhonto we Sizwe en ‘n 75 daarop, my present van die nimlike Mbeki. Die 75 is ter herdenking van die ANC se verjaardag. (Vanjaar is hy al 113!)
Ons was in November 1989 by ‘n konferensie in Parys wat deur Danielle Mitterand, Franse presidentsvrou, gereël is. By ‘n deftige onthaal – daar was elke aand een in ‘n ander paleis – staan ek en Mbeki en korswel. Hy kug-kug aaneen, en ek verklaar my besorgd oor die chroniese hoesie.
Dadelik belowe hy toe om minder te probeer rook, en gee vir my sy aansteker present: die groene.
Die einste Max du Preez het die plegtige oorhandiging opgemerk. Hy skerts toe hy gaan my by Doeane verklap. Ek bring ‘n ontstekingsmeganisme van die ANC die land binne!
Jan 18, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Niël Barnard, hoof van nasionale inteligensie in die kritieke dekade 80, was nie lief vir die pers nie. Lees maar sy boek!
Tog het hy Die Volksblad ‘n wonderlike wereldscoop besorg, en in die algemeen met persmense ‘n hartlike persoonlike verhouding gehandhaaf.
Die 75-jarige Barnard is pas op Gansbaai aan kanker oorlede.
Die scoop waarna ek verwys, is met die foto’s van die eerste ontmoeting tussen PW Botha en Nelson Mandela in Tuynhuis.
Die foto’s is deur PW se private sekretaris, Ters Ehlers met ‘n gewone mik-en-drukkie geneem. Dit het lank in ‘n laai stof vergaar. Toe vertel Niel my van die bestaan daarvan. Natuurlik kon die koerantman geen rus of duurte kry nie. Ten einde laaste oortuig ek vir Botha en via Kobie Coetsee ook vir Mandela in die gevangenis.
Die res van die land se koerante was maar afgehaal toe die Vrystaatse dagblad in die kleine Bloemfontein hulle scoop dat hulle stilstaan.
Barnard was altyd openhartig met ons redakteurs van die Nasionale Pers. Ek onthou spesifiek ‘n middagbraai by Ton Vosloo se huis in Wynberg met die naam Spy Glass Hill. Onder ander Ebbe Dommisse en Alf Ries was ook teenwoordig. Barnard het ons ingelig dat hy bekommerd is oor Mandela se gesondheid. Die man se enkels swel kwaai. Dit was twee dekades voor sy dood!
Ek onthou ook ‘n onderhoud met Barnard in sy kantoor in Pretoria waarin hy my waardevolle agtergrond-materiaal oor Mandela verskaf het. Op grond daarvan het ek ‘n ingeligte Willem-rubriek kon skryf en ook ‘n hoofartikel waarin geskimp is dat dit tyd is om Mandela vry te laat. Dit was nog voor Willem Wepener se oproep in Beeld wat oor die aardbol weerklink het.
Barnard en politieke beriggewer Alf Ries was as’t ware boesemvriende. Hulle het op dieselfde dag verjaar en het dit meermale saamgevier. ‘n Keer het Barnard Ries vir middagete na sy kantoor genooi. Kelners dra toe op skinkborde bedek met ronde blink deksels die gereg in: kreefsterte. Ries was allergies vir kreef. Eers weifel hy, maar toe besluit hy tog om Barnard in te lig.
Geen probleem nie, antwoord Barnard. Hy tel die telefoon op. Na ‘n lang ruk kom die plaasvervangende maal: hamburgers!
‘n Laaste persoonlike herinnering is van pogings om my in die jare 90 vir ‘n pos by die Departement van Inligting te werf. Die laaste gesprek hieroor was in Barnard se kantoor in Pretoria saam met Roelf Meyer. Gelukkig het Ton Vosloo ‘n stokkie daarvoor gesteek. So ‘n loopbaansprong sou nie vir die kanniedood-koerantman gedeug het nie. Barnard was egter vieserig.
Met sy dood betuig ek graag my persoonlike respek en waardering vir die man Niel Barnard wat as jong hoogleraar in staatkunde by die Vrystaatse Universiteit deur Botha raakgesien is en met die groot verantwoordelikheid van die land se veiligheid beklee is. In die uitvering van sy gedugte taak het hy ook internasionale respek verwerf.
Al het Niel nie van die pers gehou nie, was hy ‘n gewaardeerde vriend.
Foto: Die scoopfoto. Barnard staan in die middel.
Jan 8, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Bekerwenners in 1996. Die koerantesektor en Die Burger maak skoonskip. Ek, Jean le Roux en Ebbe Dommisse spog met ons trofees.
Jean le Roux se kinderlike opgewondenheid in die goue jaar 1996 toe Die Burger die Cape Argus se sirkulasie verbysteek om die markleierskap van die Wes-Kaap te verower, is een van vele herinneringe aan die uiters bekwame, toegewyde en innemende kollega wat met sy heengaan by my opkom.
Jean, oud-hoofbestuurder van Die Burger, is gisteraand in die Durbanville Medi-Kliniek oorlede ná kolon-chirurgie weens kanker – presies 425 dae ná die dood van sy sprankelende skryfstervrou en reismaat, Mariël, wat vir hom ‘n enorme slag was.
Jean was die laaste paar jaar van sy loopbaan hoofbestuurder van die suidelike koerante en later van die noordelike koerante wat Beeld ingesluit het. Dit is egter as generaal van Die Burger se voortreflike “offisierspan” in die 90’s dat hy in my oë veral uitgemunt het.
In 1996 het die koerantsektor wat my verantwoordelikheid was, die Nasionale Pers se DP de Villiers-trofee gewen – ’n gesogte huishoudelike prys vir die beste presteerder in die Pers. Dit is weens blink vertonings oor die spektrum, veral die wins wat snel opgeskiet het. Aan die begin van die ’90’s was die wins R6 miljoen. Gou was dit R20 miljoen. Toe word dit R40 miljoen. Daarna klim dit in 10 miljoene tot oor die R70 miljoen, nogal ’n aardige profyt daardie tyd.
In koerantgange is gejubel. Die Burger, ‘n pryswenner uit eie reg, was een van die hoekstene in hierdie era en Jean le Roux was ‘n rots van Gibraltar aan ons ander se sy.
In hierdie goue jaar vir koerante verwerf Die Burger voorts die markleierskap in die Wes-Kaap – ’n ideaal wat in ’n stadium amper onbereikbaar gelyk het. Sy weekdagsyfer styg tot 76 000 en sy Saterdagsyfer tot oor die 100 000. Om dié doel te bereik, is ’n tamaaie voorsprong van die Cape Argus stelselmatig weggevreet. ’n Jaar tevore was Die Burger nog 16 000 agter, twee jaar vroeër 28 000, en drie jaar vroeër 34 000.
Jean was ekstaties. In my studeerkamer pryk nou nog ‘n koffiebeker waarmee Die Burger die nuus uitgegalm het. Fred Mouton het vir die illustrasies gesorg.

Klink ‘n koffie: Die Burger word die markleier in die Wes-Kaap.
Vir nog ‘n Burger-prestasie in daardie tyd was Jean die dryfkrag. Die Burger (Oos), Afrikaanse spreekbuis vir die Oos-Kaap ná sluiting van Oosterlig in 1993, het naamlik sy sirkulasie in drie jaar verdubbel ‒ ’n unieke groeilyn in die geledere van alle Suid-Afrikaanse koerante.
Net ’n jaar later het Die Burger en Beeld hul Engelse mededingers nog ’n opstopper gegee. Hulle word die markleiers in die primêre fokusgroep vir adverteerders, die wit, bruin en Asiër-lesers, volgens Amps. Hul ontnugterde mededingers kon net in ongeloof hul wonde lek.
Jean se persoonlike rol om aan verskeie fronte so skouspelagtig deur te breek, was groot, soos sy gestalte. Hy het ‘n slag gehad met syfers en met mense. Hy kon die gordel styf trek as dit moet, maar was nie skaam om doelgerig te belê in ‘n saak waarin hy glo nie. En hy kon sy span as ‘n gedugte eenheid saam met hom neem.
Dat hy en sleutelmense in daardie span al die jare steeds elke drie maande saam gaan eet het, illustreer die gehegtheid wat daardie tyd geheers het.
Jean se eerste koerantspore was op Worcester met die Worcester Standard. In die 80’s het die Nasionale Pers die Standard gekoop. Jean het by Die Burger ingeval en dadelik sy merk gemaak. Ton Vosloo, oud-Persbaas, bestempel hom nie om dowe neute nie as ”een van die beste van die Persfamilie”.
Van die ink in sy are getuig die kritiese oog waarmee hy tot die einde sy koerant gelees het. Oor elke foutjie was hy gepynig nes toe hy die mantel gedra het. Op my selfoon lees ek met ‘n glimlag verskeie wrang kommentare as ‘n berig herhaal is – soos helaas soms gebeur – of iets anders skeefgeloop het.
As mens was hy joviaal, rustig en altyd vriendelik; ook geseënd met ‘n besonderse humorsin, meermale ten koste van homself. Hy kon met smaak die storie vertel van ‘n “kollegiale kenmekaar” op die stasie van Koeala Loempoer waar hy op ‘n trein na Bangkok staan en wag het.
‘n Medepassasier het vir hom alte bekend gelyk. Toe die man ook aaneen in sy rigting loer, staan hy nader.
“Meneer,”sê hy op Engels, “ek ken jou.”
“Ek ken jou ook,” sê die man.
“Ek kom van Kaapstad.”
“Ek kom ook van Kaapstad.”
“Ek werk by die Nasionale Pers.”
“Ek ook.”
“Aangename kennis. Ek is Jean le Roux van Die Burger. “
“Aangenaam. Ek is Jürgen Fomm van Tafelberg-uitgewers. “
Die twee het mooitjies kort tevore by ‘n Pers-ete langs mekaar gesit.
Ten slotte: ‘n waarderende woord oor ‘n kragtige sangstem. ‘n Hoogtepunt by Pers-geleethede was wanneer Jean en wyle Louis Fourie van Tydskrifte saamgespan het met die immer gewilde duet “Datte we toffe jongens zijn”.
“Toffe jongens” inderdaad.
Jan 6, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Knorrige oud-Rapport-lesers takel my gister oor ‘n “vreedsame” koppie Sondagkoffie oor hul verlies op Sondae. Oud-redakteurs, soos ekself, was te gedweë oor die ingrypende koerante-slagting wat tot die einde van Rapport en Beeld as papierkoerante, asook die einde van as Rapport, Beeld en Volksblad as PDF’s gelei het, verwyt hulle. (So asof ekself nie die verlies intens ervaar nie.)
In my verweer kon ek wys op die verklaring van veertien voormalige redakteurs oor vier dekades waarin hulle hul sterk teenkanting oor Media24 se ingryende planne met koerante uitspreek. Media24is gevra om sy besluite dringend te heroorweeg en geleentheid te bied vir wyer oorlegpleging en besinning.
Die 14 – en dit ag ek as van kritieke belang – het ook onomwonde die wens uitgespreek dat al die betrokke koerante as aparte entiteite in PDF-formaat op Netwerk24 moet bly voortbestaan.
Die omvang en betekenis van daardie eendragtige toetrede tot die debat is ongelukkig nie volledig raakgesien nie, glo ek.
Daardie 14 oud- redakteurs verteenwoordig die volle spektrum van amper vyf dekades van 1977 af. Dit was die eerste en enigste keer in die bestaan van die Nasionale Pers (later Naspers) van langer as ‘n eeu dat oud-redakteurs so kollektief optree – dus ‘n gedenkwaardige en unieke gebeurtenis.
Ook agter die skerms is hard gewerk aan meer as een inisiatief. Ek dink nie om hulle (ons) kwalik te neem vir die beperkte welslae en die gevolglike pynlike toedrag van sake is korrek en billik nie.
Die gesprek het my genoop om tuis te kom bestek opneem oor my eie bydraes in artikels en briewe oor die sluiting van koerante en PDF’s. Die bestekopname lyk soos volg:
Artikels in Rapport- Weekliks:
Die scoop is (nie) dood nie – 22/12/24
Koebaai koerantplakkaat: ‘n Onbekende leegheid wag nou in strate – 15/12/24
Ag nee, Koos, te veel word verswyg – 3/8/24
Koerante: sewe heildronke … en ‘n huildronk – 19/12/24
Hoekom my hart so bloei oor koerante – 4/12/24
Projek T en die verowering van die Noorde – 29/7/24
Herman le Roux se plakboeke vertel ‘Volksblad’ se storie – 22/11/24
Saluut aan loodsoldate van ‘Volksblad van weleer – 16/8/24
Volksblad: Dankie dat Volksblad kon wees – 20/12/24
Beeld: Koerant se lot is Pienaar gespaar – 20/12/24
Beeld: 2024 se reuseverliese vir Afrikaans – 28/11/24
Volksblad: Eer Volksblad met ‘n naam in Bfn – 16/9/24
Beeld: Verslind brieweblad eerste – 18/8/24
Volksblad – Samelewing sal armer wees sonder koerante – 26/7/24
Die Burger – Media24 moet Afrikaanse joernalistiek bly dien – 21/6/24
Volksblad – Netwerk24 moet Volksbladgemeenskap toegewyd dien – 20/6/24
Ook met die sluiting van Volksblad as papierkoerant vier jaar gelede het ek die pen in Rapport en die drie dagblaaie opgeneem. Verskoon my dat ek dit self sê, maar ek voel werklik nie dat ek ooit my gevoelens weggesteek het of my onbetuig gelaat het oor die treurige ontwikkeling nie. My vriende skuld my ‘n rustige koppie koffie en ‘n ekskuus. (Hoop hulle lees hier.)
Dec 30, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Jimmy, Rosalynn en Amy in 1976. Rosalynn is in November 2023 dood.
By die dood van Jimmy Carter, 100 jaar oud en krom van ouderdom, kan dit nie juis anders nie as dat ek 50 jaar terugedink: na die Amerikaanse presidentsverkiesing van 1976 toe Carter, grondboontjieboer van Plains, Georgia, tot my onbehae vir Gerald Ford ‘n goeie drag slae gegee het.
Met die verkiesing van die vir my bra oninspirerende Carter tot president was ek in die VSA: ‘n Niemangenoot aan Harvard in Cambridge, Masaschusetts. Ek het die veldtog op Amerikaanse TV gevolg. Dit was nogal ‘n sirkus met al die TV-debatte, ens.
Uitslagnag was ‘n groot gedoente in die Nieman-gemeenskap met drie TV-stelle – een op CBS, een op NBC, een op ABC – reuse-pizzas en ‘n bad vol Budweiserbier. Die Suid-Afrikaner en ‘n Mormoon uit Utah, Rod Decker, was die enigste “Republikeine” in ons Niemanklas. Namate die uitslae gewys het hoe die wind waai, het ek en Decker stiller geword. Die opgewonde oormag van Demokrate het ons ongenadiglik gekoggel.
John Painter van Portland, Oregon, was die voorbok. Hy het later ‘n vriend geword wat hard probeer het om my te oortuig dat ek vir my eie veiligheid en dié van my gesin na Amerika moet emigreer. Hy kon taamlik brutaal demonstreer hoe “hulle” my keel gaan oopsny!
Toe die aankondiging kom Carter is president, het die Nieman-kurator, James Thomson, van aandoening in trane uitgebars. Dit was die tweede keer in sy lewe dat hy gehuil het, het hy later verleë erken. Die eerste keer was met sy pa se dood. Later het hy ‘n jubelende artikel geskryf: Oh to be a Jimmy! Maar Carter was darem die eerste Demokraat wat die Withuis gehaal het in daardie dekade. ‘n Mens kan ‘n Harvard-Demokraat se trane verskoon.
‘n Toneeltjie wat my bybly, was op die dag van die inhuldiging. Op pad Withuis toe het Jimmy (oftewel James Earl Carter), Rosalynn en hul te-groot-vir-haar-skoene-dogter, Amy, die swart ampsmotor verlaat en hand-aan-hand in Pennsylvania Avenue afgestap, die klein snip van ‘n meisiekind “hopping and skipping between them”, soos die Amerikaanse media uitasem berig het.
Vir hulle was dit ‘n teken van plat op die aarde wees – vir my was dit ietwat vertonerig.
Nog iets wat ek van Carter onthou, is sy glimlag. Soos hy tande kon flits, was ‘n aardigheid. Die storie word vertel van ‘n Suid=Afrikaanse fotograaf wat op ‘n keer die stugge John Vorster gevra het om asseblief te glimlag. Hy antwoord toe: As jy tande wil sien, moet jy vir Jimmy Carter gaan afneem.
‘n Nogal vermaaklike omstredenheid was oor ‘n Playboy-onderhoud waarin hy erken het dat hy vele kere met begeerte na vroue gekyk en in sy hart owerspel gepleeg het. Sy vrou, Rosalynn, het maar net geswyg en liefies bly glimlag.
Uiteindelik het hy tog vir hom ‘n plek in die geskiedenis oopgekerf. In 2002 is hy met die Nobelprys vir vrede bekroon vir sy “untiring effort to find peaceful solutions to international conflicts, to advance democracy and human rights, and to promote economic and social development”. Dis nie elke Jan Rap en sy maat wat so vereer word nie.