
Bekerwenners in 1996. Die koerantesektor en Die Burger maak skoonskip. Ek, Jean le Roux en Ebbe Dommisse spog met ons trofees.
Jean le Roux se kinderlike opgewondenheid in die goue jaar 1996 toe Die Burger die Cape Argus se sirkulasie verbysteek om die markleierskap van die Wes-Kaap te verower, is een van vele herinneringe aan die uiters bekwame, toegewyde en innemende kollega wat met sy heengaan by my opkom.
Jean, oud-hoofbestuurder van Die Burger, is gisteraand in die Durbanville Medi-Kliniek oorlede ná kolon-chirurgie weens kanker – presies 425 dae ná die dood van sy sprankelende skryfstervrou en reismaat, Mariël, wat vir hom ‘n enorme slag was.
Jean was die laaste paar jaar van sy loopbaan hoofbestuurder van die suidelike koerante en later van die noordelike koerante wat Beeld ingesluit het. Dit is egter as generaal van Die Burger se voortreflike “offisierspan” in die 90’s dat hy in my oë veral uitgemunt het.
In 1996 het die koerantsektor wat my verantwoordelikheid was, die Nasionale Pers se DP de Villiers-trofee gewen – ’n gesogte huishoudelike prys vir die beste presteerder in die Pers. Dit is weens blink vertonings oor die spektrum, veral die wins wat snel opgeskiet het. Aan die begin van die ’90’s was die wins R6 miljoen. Gou was dit R20 miljoen. Toe word dit R40 miljoen. Daarna klim dit in 10 miljoene tot oor die R70 miljoen, nogal ’n aardige profyt daardie tyd.
In koerantgange is gejubel. Die Burger, ‘n pryswenner uit eie reg, was een van die hoekstene in hierdie era en Jean le Roux was ‘n rots van Gibraltar aan ons ander se sy.
In hierdie goue jaar vir koerante verwerf Die Burger voorts die markleierskap in die Wes-Kaap – ’n ideaal wat in ’n stadium amper onbereikbaar gelyk het. Sy weekdagsyfer styg tot 76 000 en sy Saterdagsyfer tot oor die 100 000. Om dié doel te bereik, is ’n tamaaie voorsprong van die Cape Argus stelselmatig weggevreet. ’n Jaar tevore was Die Burger nog 16 000 agter, twee jaar vroeër 28 000, en drie jaar vroeër 34 000.
Jean was ekstaties. In my studeerkamer pryk nou nog ‘n koffiebeker waarmee Die Burger die nuus uitgegalm het. Fred Mouton het vir die illustrasies gesorg.

Klink ‘n koffie: Die Burger word die markleier in die Wes-Kaap.
Vir nog ‘n Burger-prestasie in daardie tyd was Jean die dryfkrag. Die Burger (Oos), Afrikaanse spreekbuis vir die Oos-Kaap ná sluiting van Oosterlig in 1993, het naamlik sy sirkulasie in drie jaar verdubbel ‒ ’n unieke groeilyn in die geledere van alle Suid-Afrikaanse koerante.
Net ’n jaar later het Die Burger en Beeld hul Engelse mededingers nog ’n opstopper gegee. Hulle word die markleiers in die primêre fokusgroep vir adverteerders, die wit, bruin en Asiër-lesers, volgens Amps. Hul ontnugterde mededingers kon net in ongeloof hul wonde lek.
Jean se persoonlike rol om aan verskeie fronte so skouspelagtig deur te breek, was groot, soos sy gestalte. Hy het ‘n slag gehad met syfers en met mense. Hy kon die gordel styf trek as dit moet, maar was nie skaam om doelgerig te belê in ‘n saak waarin hy glo nie. En hy kon sy span as ‘n gedugte eenheid saam met hom neem.
Dat hy en sleutelmense in daardie span al die jare steeds elke drie maande saam gaan eet het, illustreer die gehegtheid wat daardie tyd geheers het.
Jean se eerste koerantspore was op Worcester met die Worcester Standard. In die 80’s het die Nasionale Pers die Standard gekoop. Jean het by Die Burger ingeval en dadelik sy merk gemaak. Ton Vosloo, oud-Persbaas, bestempel hom nie om dowe neute nie as ”een van die beste van die Persfamilie”.
Van die ink in sy are getuig die kritiese oog waarmee hy tot die einde sy koerant gelees het. Oor elke foutjie was hy gepynig nes toe hy die mantel gedra het. Op my selfoon lees ek met ‘n glimlag verskeie wrang kommentare as ‘n berig herhaal is – soos helaas soms gebeur – of iets anders skeefgeloop het.
As mens was hy joviaal, rustig en altyd vriendelik; ook geseënd met ‘n besonderse humorsin, meermale ten koste van homself. Hy kon met smaak die storie vertel van ‘n “kollegiale kenmekaar” op die stasie van Koeala Loempoer waar hy op ‘n trein na Bangkok staan en wag het.
‘n Medepassasier het vir hom alte bekend gelyk. Toe die man ook aaneen in sy rigting loer, staan hy nader.
“Meneer,”sê hy op Engels, “ek ken jou.”
“Ek ken jou ook,” sê die man.
“Ek kom van Kaapstad.”
“Ek kom ook van Kaapstad.”
“Ek werk by die Nasionale Pers.”
“Ek ook.”
“Aangename kennis. Ek is Jean le Roux van Die Burger. “
“Aangenaam. Ek is Jürgen Fomm van Tafelberg-uitgewers. “
Die twee het mooitjies kort tevore by ‘n Pers-ete langs mekaar gesit.
Ten slotte: ‘n waarderende woord oor ‘n kragtige sangstem. ‘n Hoogtepunt by Pers-geleethede was wanneer Jean en wyle Louis Fourie van Tydskrifte saamgespan het met die immer gewilde duet “Datte we toffe jongens zijn”.
“Toffe jongens” inderdaad.