Louis Massyn tussen Legacy se kinders.

Die legendariese langasem Louis Massyn durf vanjaar sy 50ste Comrades-marathon aan – die eerste atleet in die geskiedenis wat die prestasie vermag.

‘n Vreugde in die Van Deventerkring is dat die 74-jarige Massyn sy drafskoene op Sondag 8 Junie vanjaar aantrek ten bate van die NPO Binah en Legacy Centre op George – ’n skool vir kinders met outisme wat deur skoondogter, Mariza van Deventer, gestig is. Kleinseun Migael is ‘n alumnus.
‘n Groot mediabekendstelling vind vanoggend by die skool in Denneoord, George, plaas. Koerante, sosiale media, TV en radio is verteenwoordig. Massyn is self teenwoordig om sy storie te deel.
En wat ‘n storie is dit nie. Net in die Comrades het hy al iets soos 4 300 kilometer afgele – van Melkbosstrand tot Sabiepark en terug. Hy spog met ‘n beste tyd van 6:25:00 in 1981.
Wat die Twee Oseane betref, vat-vat hy ook aan die 50-tal. In die wedloop het hy al oor die 2 500 km afgedraf.
Dan spog hy met n hand vol ínternasionale medaljes vir deelname aan van die bekendste marathons ter wêreld in Amerika, Japan en elders. Die woord “legende” word maklik oordryf. Hy kwalifiseer werklik om so genoem te word.
En nou koppel hy sy naam aan Mariza se skool waarin Tokkie ook ‘n aandeel het. Die Van Deventers is opgewonde. Ons vra mooi: basuin die boodskap so wyd as moontlik uit, asseblief: Louis Massyn is ons held.
Deel dit: