Jun 9, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Hondmak wilde perde.
Sommer ‘n hele ent voor die afdraai na Kaapsehoop, bekoorlike wegvlugplekkie so 30 km van Nelspruit, kry jy die eerste groot bord wat waarsku: Pas op, hier loop wilde perde rond!
Gou ontdek jy: Kaapsehoop en sy perde is sinoniem. Die stringe gastehuise, eetplekkies, koffiewinkels, pannekoekhoekies, kuierkroeë verleen aan die dorp sy sjarmante ouwêreldse grasie, sy staproetes in die berge lok die stappersgarde, sy boomrykheid is ‘n verkwikking, maar sy perde is sy kroon – sy ereburgers soos iemand hulle al genoem het.
Party besoekers tref dit nie so gelukkig om hulle raak te loop nie. Toe ons die dorp – ook bekend op sy Nederlandse naam, Kaapsche Hoop – deur die valhek binnery, paradeer hulle egter vir ons in die smal straatjie. Twee lyk of hulle ‘n aalwynhappie geniet, a la die apies wat in Sabiepark vir my Tokkievrou soveel ergernis verskaf.Pleks dat ek dadelik foto’s neem. Dié takie bêre ek vir later … maar later is hulle toe nie meer waar hulle was nie. Dit vat gelukkig nie lank om hulle op te spoor nie . Teenaan ‘n vreemd moderne huis, heel uit koers met die oorheersende outydse boustyl, wei die spannetjie. Hulle is die rustigheid vanself, toon selfs tekens van romantiese inklinasies – op die oog af hondmak wildeperde.
My vinger het oortyd gewerk op die Canon se sluiter.
Kantoorstraat
Ontmoet Kantoorstraat. Kaapsehoop. Die geplaveide tweespoorstraatjie met sy boomrykheid in skitterende herfsgewaad het dadelik in hierdie besoeker se hart gekruip. Aan gunstelingstrate sal ek voortaan nie kan dink sonder dat Kantoorstraat ook in die prentjie kom nie.

Stylvolle straat.
Wat maak die prentjiemooi straat so treffend? Wel, dat dit so fotogenies is. Dit het styl, Die oorheersende indruk is een van ouderwetse sinkgeboutjies met ‘’brookie lace’’, klein ruitjies en loodglasvensters. Daar is ook moderner bousels. Maar die latere ontwerpe versteur nie die eenheid nie.
Trouens, dit lyk of een meesterontwerper hier agter alles sit. Daardie indruk van alles hoort bymekaar is ook die sukses van sjarmante Amerikaanse sprokiesdorpies soos Carmel in Kalifornië en, trouens, van die hele Martha’s Vineyard aan die Cape Cod-kus, Massachusetts.
Aan die bekoorlike Kantoorstraat kleef inderdaad iets Amerikaans. Daartoe dra by die bome in verruklike herfskleure getooi. Aan een – ‘n gedugte esdoring (maple), meen ek – het gade Tokkie minstens vyf warm kleure onderskei.
In Kantoorstraat is kuierplekke, gastehuise – selfs ’n kerkie aan die bopunt waar dit teen die berg vasloop. Die enigste ‘’kantoor’’ so ver ek kon sien, is De Wet Potgieter se Nagkantoor wat, soos ingeligtes weet, ’n kuierkroeg is en geen kantoor nie.
Van waar dan die naam? Party sal wil raai dit het iets met De Wet se Nagkantoor te doen. Ver verkeerd. Die straat is veel-veel ouer as Nagkantoor. My raaiskoot, waarop ek geld sal verwed, is dat dit ‘n reliek is uit Kaapsehoop se dae as goudmyndorp in die 1880’s toe spoelgoud ontdek is in ’n klein spruitjie wat deur die dorp vloei.Kaapsehoop was in daardie tye bekend as die Duiwelskantoor, Nou toe nou – wat ’n pragkantoor vir die ou kwaadstoker.
Nagkantoor
Niks klop die ware Jakob nie. Oor De Wet se Nagkantoor het ek al vele foto’s gesien en heelwat gelees. Eers as jy daar instap en ‘n biertjie saam met die baas knak, tref die waarde van die plek jou ten volle. Dis ‘n juweel van die koerantekultuur. Elke denkbare hangplek word benut vir kosbare foto’s en ander onvervangbare koerantmemorabilia.

Saam met die baas van Nagkantoor.
Van die stukke sal jy nêrens elders aantref nie. En elkeen het sy eie boeiende storie. Jy sou ure daar kon deurbring en deur nostalgie oorweldig word. Ek kry die arme De Wet net jammer. Elkeen met koerantbloed in die are wil natuurlik hier, daar en oral saam met hom (en sy hond, Potlood, natuurlik) poseer, Moet naderhand vervelig raak!
Dankie, De Wet, vir die kuiertjie wat die rolpers as’t ware weer in die 81-jarige se ore laat dreun het. Om ‘n lang storie kort te sny (soos redakteurs maar gewoond is om te maak): Ek kom weer … So hoop ek altans.
Jun 7, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In ‘n beroemde Suid-Afrikaanse misdaad is juwele ter waarde van sowat 250 000 pond sterling (nou sowat R5 miljoen) op 5 Desember 1955 uit mev. Bridget Oppenheimer se juwelekissie in hul herewoning, Little Brenthust, in Parktown. Johannesburg, gesteel. Die buit is in ‘n kussingsloop weggedra,
Toe mev. Oppenheimer (foto) haar verlies ontdek, het sy eers die polsie gebel, toe haar man. Daarna is die huishulpe ingeroep. Hulle was uit die veld geslaan.
Polisiekolonel Ulf Boberg, Witwatersrande speurhoof, het self bevel van die ondersoek op hom geneem. In ‘n kort tyd was ‘n span speurders op die toneel. Die media is ingelig. Interpol, Scotland Yard en die FBI is betrek.
Niemand is ooit skuldig bevind nie. Die juwele is wel teruggekry nadat ‘n informant na vore gekom het. ‘n Ruim beloning is betaal.
Hierdie is ‘n kort opsomming van ‘n saak met vele intriges. Wat belangrik is, is egter hoe die Oppenheimers dit gehanteer het: dadelik polisie toe en oop kaarte met die media. Die polisie het op hul beurt ‘n internasionale net uitgegooi.
Hoe anders met die Ramaphosa-miljoene wat raaiselagtig voete gekry het. Ek wil net twee punte uitlig.
Een is dat die polisie en die Oppenheimers se openbaarmaking was soos ‘n mens sou verwag. Dit het hulle in beheer geplaas van die vloei van inligting na ‘n nuuskierige publiek via prominente banierstories in koerante, ens. Geen ruimte is gelaat vir skinderstories en allerlei stertjies nie.
Die tweede is dat die Oppenheimers hulleself onmiddelik geposisioneer het as bondgenote van die polisie en uit hul pad gegaan om te probeer help dat die skuldiges aan die pen ry. Dit is klaarblyklik die regte ding om te doen.
Cyril Ramaphosa het om raaiselagtige redes ongelukkig nie dieselfde reguit pad geloop nie. Daarom suspisies, fluisterstories en rokerige vuurtjies.
Hoe jammer.
Jun 2, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Johan op ‘n fiets. Hierdie een het ten minste ‘n saal. Met hom het hy as skoolseun koerante afgelewer.
Elke visterman kan vir jou ’n storie of twee vertel van die grote wat weggekom het. Sulke onheil tref nie net vistermanne nie. Pas is die nuus bekend gemaak van ons geskenkboek oor ons seun, Johan, se lewensreis met diabetes mellitus (Vyftig jaar op insulien – ‘n storie van hoop) of ‘n roerinkie kom in die ou man se geheue. ”Tokkie , weet jy watter storie wat moet in gewees het, het uitgebly? vra ek langs die vuurtjie . ‘’Nee, watter een?” ‘’Die Brandvleistorie.” ‘’Natuurlik.’’ Wel, te laat vir trane is dit. Maar hier is die storie – en dis ‘n riller.
Hoofstuk een: ‘n heerlike vakansietjie in Kgalagadi saam met Johan en Mariza so 15 jaar of wat gelede.
Hoofstuk twee: Op pad terug omring deur niks en met Brandvlei die volgende dorp op ons roete steek hul Land-Rover kop tussen die bene. Snelheidsmeter val van 120 tot 0 in ‘n smartlike sekonde. Olie oweral. Selfone is morsdood sonder teken van ‘n sein. Verslaenheid by al vier insittendes. Wat nou?
Hoofstuk drie: Ons bespied die omgewing met verkykers en sien in die verte iets anders as die kaal haaie niks van hierdie verlate stuk Karoo. Dit lyk soos dakke. Dakke beteken huise. Huise beteken mense. Mense beteken hoop. Maar hoe kom ons daar?
Hoofstuk vier: ‘n Motor wat beter dae geken het, verskyn uit die niet; hou stil. Ja, hulle het plek vir een. Dié kan saamry tot by die huise op die horison. Daardie een is toe Johan, die enigste vrywilliger.
Hoofstuk vyf: Op die grootpad teenoor die huisies klim hy uit. Stap ‘n taamlike ent en kom by die huisies. Dis plaaswerkers s’n. Die opstal lê ver doei kant toe, beduie hulle. Maar sien hy die fiets daar teen die muur? Ongelukkig nou nie ‘n saal nie, maar Johan kan hom leen.
Hoofstuk ses: Johan val in die pad, staan-trap die hele tyd en bid stilletjies. Sy kragte raak min. Voor hom sien hy ‘n huis maar sy blik raak wasig – ‘n seker teken van lae bloedsuiker. Om hom is niks. Wat kan hy doen? Maar net nog vinniger bly trap. Hy bereik die werf. Gelukkig staan die agterdeur oop. Sy bene swik onder hom. Val-val stort hy oor die drumpel. ‘’Ek is ’n diabeet,’’ prewel hy.
Hoofstuk sewe: Soms waak jou engele oor jou. Die boervrou was ‘n verpleegsuster. Sy herken die simptome en weet wat om te doen; jaag Johan ‘n klomp suiker in.
Hoofstuk agt: Ons ander drie sit in die kar en wag. Doodbekommerd. Weet van niks. Geen motor kom verby nie. Geen teken van lewe nie. Toe ‘n beweginkie voor in die pad. Dis, dank Vader, die boer se dogter en Johan in ‘n bakkie.
Hoofstuk nege: Danksy die boer se seinversterker maak ons kontak met ‘n gemeenskaplike vriend in die Kaap. Hy stuur dadelik sy dubbelkajuitbakkie. Word toe ‘n ontspanne aand doer in Brandvlei om ‘n gesellige vleisbraaivuur. Die Karoolam se tjoppies is so voortreflik dat Mariza voortaan al haar skaapvleis net by een plek koop.
Hoofstuk tien: Laataand sien ons ligte soek-soek op die grootpad. Ons bakkie. Uiteindelik vind die bestuurder die hek. Ons groet ons redders uit die nood soos ou bekendes. In die vroeë oggendure ry ons Melkbos binne.