VETGESMEERDE BLITSKOERANT

n Sportskrywer se kopie is in ‘n blik aan ‘n tou uit die hoofpaviljoen van die stadion na ‘n wagtende verslaggewer laat sak. Hy is ore in die nek per motorfiets daarmee kantoor toe. Films is per bode met ‘n bromponie van die veld af kantoor toe gestuur.

Die laaste berigte is regstreeks oor ‘n telefoon uit die persbank aan die vinnigste tikster op kantoor gedikteer. Langs haar het ‘n senior redaksielid gestaan en dit velletjie vir velletjie persklaar gemaak. Oomblikke later was dit in die drukbuis op pad settery toe.

Metodes soos hierdie moet vir die moderne joernalis primitief klink. Slegs die druk van ‘n knoppie laat dinge mos deesdae met die spoed van weerlig gebeur.

Met sulke “primitiewe” metodes het Die Volksblad egter in die jare 70 roem verwerf met sy blitsuitgawes ná rugbytoetse in die Vrystaatstadion. Terwyl rugbygangers nog sukkel om uit die verkeer tuis te kom, kon hulle al tot hul verbasing die spesiale koerant met die vuurwarm nuus oor die middag se groot wedstryd by ‘n swerm koerantverkopertjies koop.

Presies wie se idee dit was, kan ek nie onthou nie. Maar voor die toets tussen die Springbokke en die Franse op 12 Junie 1971 was ons almal skielik vuur en vlam vir so ‘n projek: die sportredaksie wat die spilpunt van die operasie was, die nuusredaksie wat belangrike ondersteu-ningsdienste moes verskaf – die vinnigste tikster was nie ‘n tikster nie maar ‘n redaksielid met towervingers (Georjane Oberholzer) – en die fabriek, van die settery af tot by die rolpers, wat soos ‘n geoliede Rolls Roycemasjien moes loop.

Dit was ‘n onberispelike spanpoging sonder weerga; een van die “aangenaamste en opwindendste dae in sy tyd by Die Volksblad” vir sportredakteur Herman le Roux op wie seker die kwaaiste druk was om met die blaas van die eindfluitjie sy hoofberig af te rond.

Iemand het die horlosie dopgehou en aangeteken dat die koerant presies 22 minute ná die einde van die wedstryd op straat was – net soveel minute soos die punte wat die Springbokke aangeteken het in hul wentelling van 22-9. Van die uitgawe met die opskrif “Bokke sit hul segetog voort” is 9 176 eksemplare verkoop.

In vaktydskrifte is dit beskryf as “‘n ongelooflike prestasie in die perswese”. Die maandblad van die druk-kersbedryf, South African Printer, het sy artikel aangebied onder die opskrif: “The match winner”.

Vier jaar daarna het Die Volksblad sy wedloop teen die horlosie in nog ‘n vinniger tyd afgelệ. Op 21 Julie 1975, weer ná ‘n toets teen die Hane, het die koerant ná ‘n verstommende 16 minute van die rolpers gekom. Die banieropskrif was: “Pragsege vir SA”. Die koerant het ‘n omvattende beeld van die wedtryd in woorde en talryke foto’s gebied.

Vir die publiek was veral die fotobeeld (foto’s: Lappies Labuschagne, Kas Dreyer, en andere) net te wonderlik. Onthou daar was nog nie televisie nie; net Gerhard (Spiekeries) Viviers oor die radio en dan die koerant. Van die klein haakplekkies van 1971 is in 1975 uitge-skakel. Soms slaan die weerlig egter waar ‘n mens dit die minste verwag. ‘n Fotograaf moes op ‘n spesifieke tyd kantoor toe vertrek met film. Daar is die hek toe gedurende die tweede helfte gesluit. ‘n Bode met ‘n bromponie moes tot die redding kom.

Met die spesiale uitgawe van 16 Augustus 1976 oor die tweede toets tussen die Springbokke en die All Blacks het 17 minute verloop voor die verskyning van die koerant. Die opskrif was “N.S. maak dit 1 – 1”. Vooraf is drie verskillende baniere en plakkate gereed gemaak: een vir ‘n Springboksege, een vir ‘n All Black-oorwinning en een vir ‘n gelykop-uitslag.

Die Volksblad se spesiale uitgawes was nie tot rugby-toetse beperk nie. Ná die Curriebekereindstryd tussen die Vrystaat en Noord-Transvaal op 27 September 1975 was die oogmerk nie om ‘n rekord te verbeter nie, maar wel om ‘n nog deegliker koerant sowat ‘n halfuur ná die wedstryd te koop aan te bied.

Toe breek die vleuel Pierre Spies die Vrystaters se harte met ‘n drie in die doodsnikke. Die arme Herman le Roux moes kophou en wikkel om in die persbank sy storie ingrypend te herskryf.

Ná ‘n halfuur was die koerant uit met die opskrif: “Bloues is weer bo”. Ek wat as toeskouer uit Johannes-burg gekom het vir die wedstryd, het vir my een gekoop en my verwonder aan my kollegas se koelkop-professionaliteit. Ek het besef hoe verslae hulle moet voel.

O GITS, MENEER MOTORREDAKTEUR

Die Volksblad het gedugte motorredakteurs soos Ben van Rensburg en Fred Schnetler gehad. Voor Ben het so ‘n pos nie bestaan nie. Tussen Ben en Fred was die pos vakant. Vir bekendstelling van nuwe modelle – gewoonlik ‘n luisterryke en luukse bederf-okkasie – het die nuusredakteur in sulke tye sy span deurgekyk. As jy lyk of jy kan doen met ‘n blaaskans is die mantel jou tydelik omgehang.
So kry die jong Van Deventer in 1967 (dalk 68) sy eerste vername kans as “motorredakteur” met die bekendstelling van die Volkswagen Variant, die bekende “seekoeineus”-model wat daardie dekade in sedan- en stasiewavorm sy buiging in Suid-Afrika gemaak het. Ek koop selfs vir die uitstappie ‘n nuwe elegante safaripak en bypassende langkouse (foto). Aitsa, jong man!
Die spannetjie motorskrywers het Nelspruit toe gevlieg en die eerste nag in die aangename Sabie River Bungalows (nou die Sabie River Sun) net buite Hazyview met spanbou deurgebring. Lekker gebraai en tot laat in die gesellige kroeg slimstories uitgeruil. Een ding was gou duidelik: die manne ken hul karre. Ek het tjoepstil geluister.
Die volgende oggend is ons by die Numbihek in Krugerwildtuin toe, twee-twee per motor. (Die Krugerhek was toe nog net ‘n toekomsdroom). Ek en die noukeurige Andrew Marais van Die Burger was spanmaats, hy (op sy aandrang) agter die wiel en ek met die voorvinger op die padkaart.
Van Numbi is ons na Skukuza. Daarna is die reis voortgesit via Onder-Sabie tot by die Krokodilbrughek. Olifante oweral.
Via die Lebombogrenspos by Komatipoort is die
stoet Variants na die kontinentale Lourenco Marques (vandag Maputo), waar die groep in die Hotel Cardozo tuisgegaan het. Nou nie heeltemal so spiekeries soos die beroemde Polana nie, maar ook glad nie te beteuterd nie.
Ek onthou ‘n flambojante seekos-dinee met die
beste Suid-Afrikaanse wyne. Die y

 

slike Mosambiekse garnale het goed afgegaan. Op die spyskaart was ook ‘n krap met ‘n wilde smaak. Die lelike affệre met die kraalogies het ek net eenkant toe gekrap.
Die Saterdagmiddag sou almal terugvlieg Johannesburg toe. Almal minus die uwe. Ek sou die terugtog per motor aandurf. Reëlings is getref dat ek ‘n kar by Ben van Rensburg, toe by die nuwe Sondagkoerant Die Beeld, in Linden gaan aflewer. Hy en sy gesin sou die volgende dag daarmee met vakansie vertrek.
Middagete was skaars verby toe ek groet, dapper die Variant se sleutels vat en my koffertjie in die Cardozo se parkeergebied in die kattebak gooi. Toe ek die sleutel draai, gebeur niks. Twee, drie keer probeer ek met stygende paniek. Absoluut niks.
Ek suiker terug eetsaal toe, kry ‘n man van Volkswagen en verduidelik die onverwagte komplikasie met die splinternuwe voertuig. Verbaas, vergesel hy my na die onwillige Variant. Hy wikkel aan die ratkierie en skakel die kar aan. Die enjin vat dadelik en dreun egalig.
Nou wat de drommel? Die verduideliking was nogal ‘n verleentheid. Dit was die waarnemende motorredakteur van Die Volksblad se heel eerste kennismaking met ‘n outomatiese ratkas. Die stomme man was salig onbewus van die feit dat die motor in “park” moet wees om die enjin te kan aktiveer. O gits.

ODE AAN DIE ROLPERS

My geliefde koerant, Die Volksblad, se verdwyning uit die hoofstroom van gedrukte koerante was vir my vanjaar ‘n diepe hartseersaak. In my verjaardagboekie “Koerant” / 80 wei ek daaroor uit. In Volksblad vandag verskyn my “Ode aan die rolpers”, wat ‘n hoofstuk in daardie boek is.   

Oor ‘n rolpers kan ‘n woordkunstenaar ‘n gedig skryf. Oor hoe massief hy is, hoe verbysterend vinnig hy loop, hoe hoor en sien vergaan terwyl hy dreunende die duisende klaar koerante in ‘n kits netjies voor jou uitspoeg.

By Volksblad was ons bevoorreg om fabriek en redaksie onder een dak te hê. By koerante soos Die Burger en Beeld is hulle in geboue ver van mekaar. Die afronding van ons produk kon ek en ander redaksielede dus telkemale in verwondering aanskou.

Ons het die indrukwekkende Goss-pers ook graag vir gaste gaan wys. Om hul meevoering te beleef as die koerante so snel en kant en klaar van die pers kom, was deel van die bekoring. Om vir hulle ‘n kraakvars koerant in die hand te stop, was soos om ‘n kleuter te bederf.

Ek het self graag die koerant by spesiale geleenthede onder die by die rolpers gaan inwag. Te veel keer om op te noem.

Telkens is ek opnuut getref deur die gladde sinchronisasie van tegniek, konkas vol ink, yslike rolle papier en vakmanskap. Ek het stil staan en luister na die egalige musiek van ‘n rolpers op volle vaart, en my aan die skouspel vergaap: die gevlegde papier wat in ingewikkelde patrone seepglad hul bane deur die ingewande van die metaalreus vind om wonderbaarlik koerant te word.

Wanneer jy die koerant oopvou, die verslawende aroma van die drukkersink nog skerp in jou neusgate, is elke berig, elke foto en elke advertensie presies op die regte plek. Die kleure is perfek ingestel. Die koerant is gereed vir die lesers wat wag.

Opwindende dae was daar gelukkig te veel om op te noem. Dalk die opwindendste dag – beslis die dag met die meeste toeskouers op elke moontlike staanplek in die drukkery – was die verskyning van die eerste volkleurkoerant – op 24 Maart 1983 met die inwyding van die nuwe Goss. Soos die koms van ‘n nuwe baba was dit. Hoe trots en ingenome was ons Volksbladders nie.

Ons profetiese opskrif daardie dag was: “Swart verpleegsters in wit hospitale”. Nie almal was ingenome met die vooruitsig nie! Ook nie met die keuse van hoofberig nie. Dit is op my rekening, en soos Winston Churchill mag ek seker maar sê: “I have not always been wrong.”

Nog ‘n dag vir die geskiedenisboek was 4 Maart 1991. Ons koerant het die dag van gleuwe verwissel. Hy het, soos sy susters, ‘n oggendkoerant geword. Ek het ‘n foto waar ek, Philip van Rensburg, nuusredakteur, en Nols Nieman, hoofsub-redakteur, gretig die eerste oggend-Volksblad by die rolpers opraap. Ou Nols – ‘n ware pionier met elke modernisering – is helaas jonk dood.

Sal ek die dag vergeet toe ek en Naas du Preez, nuusredakteur, by die rolpers afgeneem is – tamaai breëbors oor ons “wêreld-scoop”: “Zola bly”? Ons had die eksklusiewe mededeling in haar eie handskrif. Maar toe ons ons oë uitvee, hôl sy al weer in Londen. La donna e mobilè…

My hele eerste skof van 20 jaar in Bloemfontein en ‘n hele paar jaar van die tweede skof was die settery net onder die redaksie: ‘n see van yslike linotipe-setmasjiene met hul onophoudelike klik-klik-klik-geluid. Dit was soos die setters die berigte wat op die boonste verdieping op tikmasjiene geskep is met vuurwarm lood in kolomwydte stafies herskep. Wanneer jy by die voordeur instap, was die besige settery jou eerste visuele indruk.

Opskrifte is uit ‘n kas vol verskillende letters van elke grootte in stawe gepak en in loodvorm gegiet. Vir werklik groot stories – soos die moord op dr. Hendrik Verwoerd op 6 September 1966 – is houtletters gebruik – die heel grootste in ons besit. “Dr. Verwoerd vermoor” was die reuse-banier.

Dan moet die drukkersduiwel net nie met die naam kom lol nie. Opskrifte is in spesiale vormpies uitgepak. Soms is dit agterstevoor gedoen. Wat op aarde beteken “Erg skitter Dicky Brob”? Ruil die twee stukke lood om. A-a-a, “Dicky Broberg (bekende atleet) skitter”!

Saam met die berigte is die opskrifte op die sogenaamde “steen” – ‘n soliede sementblad – volgens die subredakteur se bladplanne ingepak. By die vernaamste laaste bladsye het subs bygestaan om hier en daar te verstel. By die voorblad was dit die hoofsub se taak. Ek het die takie in my hoofsubdae baie geniet, buiten die dag toe my trui in ‘n roller beland wat dit toe halfpad van my lyf af in ‘n drom swart ink intrek. Dit was permanent onbruikbaar.

Wanneer die blad van die steen af gaan, was hy uit die redaksie se hande. Nadat dit geproeflees is (‘n span spesiale proeflesers met arendsoë) is dit na die stereo-afdeling. Hier is eers ‘n karton-flong of -matrys van die blad gemaak. Die matrys/flong wat hittebestand was, is in ‘n silindervormige gietmasjien geplaas. Gesmelte lood is dan daarop gegiet. By ‘n sogenaamde “router” is die silindriese lood-“bladsy” wat so gemaak is, se hoër oppervlakke weggesny voordat dit rolpers toe gaan.

Ai, waar is daardie dae en daardie wonderlike tegniese kollegas? Baie is natuurlik lank voor die papierkoerant op 7 Augustus langboompies toe is, al lank vooruit. Die laaste ongetwyfeld TD (Oom Pottie) Potgieter op ouderdom 93 op 18 Mei. Hy het in 1945 as setter by Die Volksblad begin.

Die nag van 6 Augustus toe die gedenkuitgawe – die laaste breëbladuitgawe – gedruk is, het die enigste twee van die ou garde wat nog oor is, Mossie Mostert en André van der Nest, die Goss gaan beman. Albei is nou in bestuursposte by Novus Print, maar het as vakleerlinge by die rolpers begin toe dit nog deel van Volksblad as filiaal was. Sou meer as ‘n pennie vir hul gedagtes betaal het!

VERRASSING IN VOLKSBLAD

In Volksblad en op Netwerk24 kry ek toe vanoggend n lekker verrassing – ‘n vriendelike artikel deur my vriend en staatmaker-kollega Sarel Venter, ‘n vorige adjunk-redakteur. So skryf Sarel oor my aanstaande 80ste en die boekie waarmee ek dit vier:

Aan die vooraand van sy tagtigste verjaardag het nog ‘n boek van Hennie van Deventer die lig gesien. Sy twintigste in byna 24 jaar sedert sy aftrede as hoof: koerante van Naspers (stet), nadat hy onder meer 12  jaar redakteur van Die Volksblad was.

Hy het oor ‘n verskeidenheid temas geskryf: van outobiografiese werk en koerantsake tot mense, humor, diere, reiservarings.

Sy koerantverbintenis is vir hom onuitwisbaar.  Om saam te val met sy naderende verjaardag (3 Januarie 2021) verskyn ‘n gedenkboek,  Koerant.  Dit is ‘n selfpublikasie met voorlopig ‘n beperkte oplaag, versorg deur De Novo Boeke, wat dit ook as e-boek aanbied.

In die boek van 215 bladsye is die rou oor Volksblad se lot – einde as gedrukte koerant  –  nog vars. Hy probeer nie sy hartseer verbloem nie. Dit bied die  kapstok vir die boek. Die rou is ‘n vlammetjie wat ‘n groter vuur aansteek. In sowat 50 essays skryf hy nie net met hartseer nie, maar ook met hartstog en humor. Talryke eie herinneringe en anekdotes is in hierdie terugblik opgeteken – oor Volksblad, maar ook oor mense, kollegas, ander koerante en die koerantwese in die algemeen.

 

Hoekom woel hy nog so op 80?  Eenvoudig omdat “kommunikeer” die lewe vir my sin gee.  Ek sit maklik agt uur per dag voor die rekenaar.  Ek skryf twee blogs, deel gedagtes op Facebook, werk tussenin aan artikels en boeke.  Wat anders?  Daarsonder sal ek opgeskeep wees met myself.   Ek pak nie veel ander dinge aan nie.  My hande is dom. Maar my geprese “geesdrif” soek ‘n uitlaatklep.  Daardie uitlaatklep is skryf, debatteer, saam gesels, tred hou met die nuus, kommentaar lewer…

 ‘n Fokus in hierdie boek?  My groot passie en eerste liefde: die koerant in al sy dinamiese fasette.  Ook onvergeetlike karakters  agter die skerms. En hope humor. Sonder ‘n sin vir humor sal ‘n koerantmens moeilik  oorleef.

Geliefkoosde nuusonderwerpe?  Alles wat nuus is. Versot op politiek,  op sport (buiten skopboks), op menslike stories (“human interest”),  en op elke ander nuusonderwerp.

Sy hebbelikhede?  Ander moet liewer oordeel.  Ekself is bewus van ‘n kort lont. Altyd agterna jammer en verleë as ek ‘n vloermoer gegooi het. Lief vir humor/kwinkslae/rympies.

Sy voorliefdes? Ek het drie groot passies:  koerant, die bos,  reis (veral  vaar). Hy borg die woord “koerant” eksklusief by die WAT. Minstens vyf van sy boeke het koerantonderwerpe.

Die bos?  Hy is gek na Sabiepark, waar hy ‘n boshuis net langs die Krugerwildtuin het.  Verkies selfs – tot die verbystering van vriende – die hitte van die somerbos (Desember/Januarie) bo die “Kaapse Dokter”. Sy nuwe bosboek (Mei 2021) sal die sesde oor dié onderwerp wees.

Reis? ‘n Interessante reis was in Rusland in Gorbatsjof se tyd.  In sy Niemanjaar by Harvard het  hulle Amerika platgery.  In die laaste jare het hy verslaaf geraak aan  vaar. Onvergeetlike vaarte was met die Queen Mary ll na Sydney en met die MSC Musica langs die ooskus van Afrika tot in Venesië. (Dis alles in sy boek Na verre hawens.  Jare gelede het hy ook ‘n humorboek oor reis geskryf: Oos, Wes – Reismoles).

Hy het ‘n vierde voorliefde: musiek, alle musiek, buiten kletsrym en Afrikaanse oornag-treffers (“bokkie,sokkie,frokkie”).   Tien jaar lank het hy vir vriende vir Kersfees CD’s geskenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, ens.  Hy en Tokkie het die snitte saam uitgesoek.

Sy afkeure:  Hy haat moderne brabbel-Afrikaans, en kastige “ondersoekende joernaliste” wat ‘n “nuwe Suid-Afrikaanse geskiedenis”  uit hul duime suig. Moet ook nie dink hy sal afval eet en simpel TV-sepies en –storietjies kyk nie.

Hoogtepunte in sy lewe:  Die redakteurskap van Die Volksblad op 39 in 1980. Dit het ‘n ambisie verwesenlik wat hy van sy eerste dag by die koerant gehad het.

  • Nieman Fellowship aan Harvard 1976/77 – ‘n plek wat drup van tradisie en karakter.
  • Phil Weberprys, Naspers se hoogste eerbewys, in 1997.
  • Sy bydrae om die beswaddering oop te vlek van ministers Magnus Malan, Barend du Plessis en John Wiley in Tafelberg se prulboek “The Lost Boys of Bird Island” met agt kritiese briewe in koerante.
  • Drukmedia SA se lewenslange Genootskap (Felllowship) – die eerste aan  ‘n Afrikaanse mediamens in 1998.

Teleurstellings:  Die  keldering van Volksblad as gedrukte koerant.  (In Koerant brei hy uit op die tema). Nog ‘n teleurstelling was die latere besluit om Volksblad se Kunsmark  nek-om te draai.

Ten slotte ‘n paar dinge waarvan hy die vader is:  Pendoringprys vir Afrikaanse advertensies, die hoog aangeskrewe Nat Nakasa-prys vir joernaliste (wat toegeken is aan joernaliste wat oor Covid-19 geskryf het),  die Matrieknooiwedstryd, die Kunsmark en die Bloemfonteiner van die jaar-wedstryd.

Drukmedia SA het sy verering van Van Deventer so gemotiveer: “Hennie van Deventer holds a reputation of great stature both within the local industry and within the newspaper publishing fraternity across the globe.  He is recognised for his wisdom, his diplomacy  and naturally for his contribution to print media in South Africa over a considerable number of years.”

TOT SIENS, OU VOLKSBLAD

Natuurlik bêre ek ‘n laaste uitgawe van Volksblad. Die koerant van 8 Augustus 2020  – opskrifte: “Einde van ‘n era – Die laaste gedrukte uitgawe van Volksblad” – hou ek saam met ander versamelstukke in ‘n verslete aktetas van buffelvel in my studeerkamer.  Die koffertjie self is simbool van ‘n era wat verby is. Dit staan ongebruik daar sedert my aftrede einde 1997.

Oor waar die heel laaste Volksblad beland het, wonder ek. Het iemand op die gesogte eksemplaar beslag gelê om hom as kleinood te bewaar? Gaan hy in ‘n glaskas  teen ‘n muur kom? Is hy doodgewoon in ‘n pakkie saam met ander koerante gebind en by ‘n winkel of kafee vir R10,20 aan ‘n onwetende koper verkoop?  As ek in Bloemfontein was – nie 1 000 kilometer ver op Melkbosstrand nie – sou ek graag my hande op hom wou lê.

Ek sou graag in die drukkery wou wees terwyl die digitale meter van die massiewe litografiese Goss-pers die laaste eksemplare aftel en die werklikheid by al die teenwoordiges insink: “As hy nou stop, dan stop hy.”

Dit sou ‘n somber oomblik gewees het; ‘n oomblik van tasbare stilte en skielike doodsheid – toe die weë skei van die Goss en die koerant waarvoor hy in beter dae spesiaal gekoop is sodat hy sy beeld van “Vaal Boertjie” kon afskud en met moderne volkleur-mededingers in voorkoms saamgesels.

Ek, dosyne huidige en gewese Volksbladders oral oor die land en ‘n menigte verknogte lesers sluk maar swaar aan die einde van die papierkoerant. Nà 116 jaar – hoeveel uitgawes, hoeveel rolle papier, hoeveel konkas ink? – het die gedrukte Volksblad meteens ‘n gister-ding geword. ‘n Ander toekoms wink. Die era van nuus op die slimfoon, tablet en rekenaarskerm het aangebreek vir baie wat nie daarvoor lus of gereed is nie.

‘n Vriend van baie jare, Andrew Murray, het die teenwoordigheid van gees gehad om nog ‘n element van die slothoofstuk van ons Volksblad soos ons hom geken het, te verewig.  Toe die koerant oudergewoonte vroegoggend in Albrechtstraat, Bloemfontein, deur die hek op sy motorpad beland, is hy gewapen met sy kamera by die voordeur uit.

Op die geplaveide oprit het die klein bondeltjie, netjies opgevou en met ‘n toutjie vasgebind, soos elke ander oggend gewag.  Al verskil: dit was nie net nog ‘n oggend nie.  Dit was die laaste een. Andrew se kamera het geklik. Oomblikke later het ek, aangedaan, die e-pos op my rekenaar oopgemaak.

Die eensaamheid van die klein koerant op die groot motorpad was ‘n neerdrukkende beeld.  “Verlorenheid” sou jy die foto kon noem as jy daarvoor ‘n naam sou soek soos vir ‘n kunswerk.

Ek het die foto op ‘n paar plekke op sosiale media gelaai – tog ironies, die rol van die nuwe tegnologie in die proses om oor oue te rou.  “Bekyk die toneeltjie goed. Dit is iets wat jy nooit weer sal sien nie,” het ek met stygende bewoënheid by die foto geskryf.

Verder: “Die hartseer-toneeltjie het ‘n knop in Andrew se keel en ‘n traan in sy oog gebring, skryf hy. Ook in myne hier op die verre Melkbosstrand”

 Nie net vir die redaksie, produksiepan, bemarkers en lesers was die uitgawe van 8 Augustus 2020 ‘n totsiens-koerant nie. Natuurlik ook vir die knape wat vroeg opstaan om die nuus vroegdag by intekenare se hekkie of op die voorstoep te besorg.

Koerantverkopers by verkeersligte in Bloemfontein, Kimberley, Welkom en elders was die oggend vir oulaas op hul pos. Daarna het hulle stil-stil verdwyn, elkeen in sy eie rigting. Nuusplakkate, so lankal ‘n permanente faset van die stedelike landskap, het tegelyk van die lamppale verdwyn en saam met die gedrukte koerant museum toe verhuis. Relieke van ‘n tyd wat verby is.

Plek-plek is daardie laaste oggend by verkooppunte lang trane gestort. Soos by die boeremark. Die rapport wat afleweraars en verkopers met hul vaste klandisie opgebou het, was in baie gevalle ‘n hegte een, en vir sommige was die afskeid soos van eie familie.

“Afskeid is ‘hartseer en aaklig’” was die voorbladopskrif van die gedenkuitgawe wat op Vrydag 7 Augustus verskyn het, en wat vanselfsprekend ook ‘n plek in my aktetas met spesiale memorabilia vind.

Hóé hartseer en hóé aaklig.

Aan die ses oud-redakteurs wat nog in lewe is,  is die geleentheid gebied om in die gedenkuitgawe ‘n afskeidsboodskap te skryf. Myne eindig ek met die woorde: “Laat Heer U seën steeds op hom daal.”

Ryke seën van Bo  – dit is my innige en opregte wens vir Volksblad in sy nuwe digitale gedaante op die Netwerk24-platform.